Vraag 32 Koning, priester en profeet

Waarom word jy ‘n Christen genoem?

Antwoord: Omdat ek deur die geloof ‘n lid van Christus is en daardeur deel aan sy salwing het sodat ek sy Naam kan bely, myself as ‘n lewende dankoffer aan Hom kan toewy  en in hierdie lewe met ‘n vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry en hierna met Christus in ewigheid oor alle skepsels kan regeer.

Inleiding

Wat beteken die naam Christen? Vir sommige mense beteken dit net jy is Westers. Jy behoort nie aan een of ander Oosterse of Moslem geloof nie. Vandag is elke tweede persoon in die Weste ’n Christen. Deesdae moet mense dit duidelik maak met nuwe byvoeglike naamwoorde dat hulle nie net in naam Christene is nie. Mense noem hulself, wedergebore/bekeerde Christene, asof daar ’n ander tipe Christen bestaan?! Die naam Christen beteken jy is ’n volgeling van Christus en Hy woon binne jou. Jy het deel aan Sy salwing en is dus ook ’n priester, profeet en koning in God se nuwe koninkryk.

1 Petrus 2:9  Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig. 

 Profeet:

Om profeet te wees beteken om Sy naam te bely, om te bely dit wat ons van die Profeet ontvang het. Die stem van God in die Ou testament, wat Sy profete. Ou-Testamentiese profete het die boodskap van God ontvang en moes dit aan die volk profeteer. Vir ons as gelowiges is God se boodskap net so duidelik, want dit is opgeteken is Sy Woord. Ons het nie nodig om oor enige iets te wonder nie.  Mense is deesdae onseker oor God se boodskap, omdat die sogenaamde “profete” van ons tyd die boodskap so verdraai het om by die kultuur aan te pas. Die evangelie was egter nog altyd teen die kultuur. Dit was nog nooit die populêre boodskap nie. Die rede hiervoor is dat dit teen die mens se vlees is. Die profeet moet die kanker van sy tyd identifiseer en dit aanspreek. Profete was nog altyd dapper mense, sonder vrees vir mense en hul opinies. Vreesloos en onbeskaamd oor hul boodskap. Hulle was ook nooit versigtig nie. “Tel nou mooi jou woorde, want  jy wil nie graag iemand ontstel nie”, het vir hulle geen betekenis nie. Enige iemand wat dink so suutjies trap, diplomatiese, wolletjies rol manier is ’n Bybelse manier om dinge te doen, het nog baie om te leer. Johannes die Doper sien Fariseërs na hom toe aankom om gedoop te word. Dit klink goed – as mense Sondag na jou kerk toe stroom, reg? Mattheus 3:7  Maar toe hy baie van die Fariseërs en Sadduseërs na sy doop sien kom, sê hy vir hulle: Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is? Dit is nie die tipe boodskap waarmee jy die kerk vol maak nie. As hy voor Herodes staan, vertel hy hom dat sy huwelik met sy broer se vrou ’n euwel is. Natuurlik, so ’n boodskap laat jou in die tronk beland. Dit was niks vreemd vir die Kerk nie. As Hebreërs die volgelinge van God beskryf sê hy: Ander weer het die proef van bespottinge en geselinge deurstaan, ook van boeie en gevangenis. Hulle is gestenig, in stukke gesaag, versoek, deur die swaard vermoor. Hulle het rondgeloop in skaapvelle en in bokvelle; hulle het gebrek gely, hulle is verdruk, mishandel— die wêreld was hulle nie werd nie—hulle het in woestyne rondgedwaal en op berge en in spelonke en skeure in die grond.  Hebreërs 11:36-38. Elke gelowige is hiertoe geroep en as jy stilbly, in jou tyd, rakende jou kultuur se spesifieke kanker, verloën jy Hom en sal Hy jou ook verloën. Mattheus 10:32-33  Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is. Ons probeer soms van die moeilike kwessies in ons samelewing wegskram deur ons kamstig besig te hou met allerhande ander “geestelike” goed. As jy egter besig is om te veg op enige plek anders as daar waar die geveg op die oomblik die felste is, is jy besig om jou medebroers en susters in die geveg in die steek te laat en meer as dit – jy is besig om die Bevelvoerder te verontagsaam.

Ons sien egter die gevolge van die moderne mens se wegbeweeg van God se absolute morele waardes en standaarde. Ons is soos Elia wat die vervulling beleef van die waarskuwing wat God gegee het aan enige iemand wat probeer om Jerigo te herbou. 1Konings 16:34  In sy dae het Hiël, van Bet-el, Jérigo opgebou; ten koste van Abíram, sy eersgeborene, het hy sy fondament gelê, en ten koste van Segub, sy jongste, sy poorte opgerig, volgens die woord van die HERE wat Hy deur die diens van Josua, die seun van Nun, gespreek het. Elia verskyn dan voor die koning en kondig die straf van God aan oor die hele volk a.g.v. hulle sondes. Die gevolge van sonde is baie keer baie duidelik sigbaar. Hier is dit die taak van die profeet (elke gelowige)  om mense te vertel dat God gesê het dit sal so wees. Romeine 10:9 As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.

Priester:

Die Christen is ook ‘n priester. Ons offer ons lewens op vir Jesus ons Here. Neem jou kruis op en volg my. Romeine 12:1  Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. My lewe word ’n offer vir Hom. Vanaf wedergeboorte eindig my eie begeertes en verander dit na die begeertes van God, daarom sê Jesus dat ons ons kruis moet opneem en Hom moet volg. Die kruis beteken dat ek moet sterf in myself – daagliks. Paulus stel dit soos volg: Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins. Filippense 1:21. Hierdie offer word ’n lieflike geur vir die wat deur God uitverkies is en ’n doodsreuk vir die wat bestem is vir die ewige verderf. Deur my lewe kan ek ander na God toe lei of ander aankla van hul sonde. Sommige sal my daarvoor bedank en ander sal my daarvoor wil kruisig. So volg ons in die spoor van die ware Ewige Hoëpriester, Jesus Christus.

Koning:

2Ti 2:12  As ons verdra, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën. Jesus vertel ’n gelykenis van drie diensknegte wat geroep word  om voor hulle meester, wat vir ’n ruk weggegaan het om sy koningskap te ontvang, te verskyn. Hierdie man wat die koningskap sou ontvang is Christus. Hy roep dan elke dienskneg en vra dat hulle verslag moet gee van wat hulle gedoen het met wat hy aan hulle toevertrou het. Die eerste een het met die een pond tien ponde gemaak, waarop die meester hom beloon met: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede. Lukas 19:17. Die apostels word belowe dat, omdat hulle alles verlaat het en Hom gevolg het, hulle ook ’n beloning sal ontvang. Mattheus 19:28  En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel. Net ingeval jy dink dit is net die apostels wat hierdie beloning sal ontvang, volg hoofstuk 20, waar dit duidelik gemaak word dat almal wat in die wingerd gewerk het, dieselfde sal ontvang. In Openbaring word ons weer vertel dat ons krone gaan dra en op trone gaan sit. Ons moet onthou dat ons nog steeds voor die Lewende God sal neerval en ons krone voor Hom sal neersit, want Hy alleen is dit waardig. Openbaring 4:9-11  En elke keer as die lewende wesens heerlikheid en eer en danksegging gee aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, val die vier en twintig ouderlinge neer voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe, en werp hulle krone voor die troon en sê: U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.

In Mattheus 19 word ons vertel dat die apostels oor Israel sal oordeel. Net so gaan ons as gelowiges  ook eendag oordeel oor die engele. 1Korintiers 6:3  Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?  In hierdie gedeelte wys Paulus die gelowiges in Korinte tereg,  omdat hulle nie verskille tussen mekaar kon uitsorteer nie.  Hierdie konsep is vir baie van ons te veel om in te neem, dat ons, as nietige mense, saam met Christus sal regeer, saam met Hom sal oordeel en saam met hom sal deel wees van Sy koninklike heerskappy en priesterdom! Ons sal verheerlik wees – verheerlik  van hier waar ons nou  nog as nietige sondige mense elke dag teen ons eie sondige natuur moet veg.

Slot

As Christen het ek deel aan Christus en dus aan sy salwing. Hierdie salwing word bevestig deur die werking van die Heilige Gees en gee ons die krag om al hoe meer aan Christus se beeld gelyk te word. Leef met krag hieruit – Jy is uitverkies tot ’n koninklike priesterdom en geroep as profeet van God in hierdie donker wêreld, Leef so!