Vraag 31: Waarom word Hy Christus, wat Gesalfde beteken, genoem?
Antwoord: Omdat Hy deur God die Vader bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf is tot ons hoogste Profeet en Leraar, wat aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekend gemaak het; tot ons enigste Hoëpriester, wat ons met die enige offer van sy liggaam verlos het en met sy voorbidding gedurigdeur by die Vader vir ons intree; tot ons ewige Koning, wat ons met sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing wat verwerf is, beskerm en bewaar.
Inleiding
Jesus is die Messias, die gesalfde. Elke persoon in die Ou Testament wat deur God geroep is, is gesalf deur die Gees vir sy spesifieke taak. Dit is voorspel dat die Een wat sou kom, die Messias, deur die Gees gesalf sou word. Psalm 45:8 U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid. Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle. Jesaja 61:1 Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ‘n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis. Hierdie gedeeltes word bevestig in die Nuwe Testament. Hebreërs 1:9 U het geregtigheid liefgehad en ongeregtigheid gehaat; daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle. Lukas 4:18 Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees.
Profeet en leraar
Moses vertel die Israeliete dat God ’n profeet soos Hy na hulle sal stuur. In Handelinge 3 bevestig Petrus dat dit verwys het na Jesus. Deuteronomium 18:15 ‘n Profeet uit jou midde, uit jou broers, soos ek is, sal die HERE jou God vir jou verwek; na Hom moet julle luister. Die Messias sou ’n Profeet wees wat sou lei soos Moses die volk gelei het. Hy sou spreek: ”So sê die Here Here” en die volk moes na Sy woorde luister. Jesus word in Johannes geopenbaar as die Woord van God. Elke keer as Jesus gepraat het, was dit God wat praat. Hy is die Een waardeur God in vlees met ons kom praat het. Hebreërs 1:1 Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun. God praat vandag nog met ons deur Sy Seun, deur Sy Woord. Jesus se letterlike woorde, soos wat dit opgeteken is in die Evangelies, maar ook deur die res van die Skrif wat deur God geïnspireer is. Hier praat ons nie net van die Nuwe Testament nie, maar ook van die Ou Testament wat heenwys na Christus. Op die Berg van Verheerliking was Moses en Elia by Jesus. Hierdie twee figure beeld die hele Ou Testament uit – die wet (Moses se eerste vyf boeke) en die profete. Hierdie verskyning openbaar dat alles in die Ou Testament na Jesus gewys het. Dan kom daar ’n wolk, wat jou as leser herinner aan God wat saam met Israel deur die woestyn gewandel het in die vorm van die wolkkolom en vir wie hulle moes volg. Uit die wolk kom die stem wat sê …Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom! Markus 9:7. Hy is die Profeet waarna ons moet luister. Sy Woord moet ons gehoorsaam.
Hoëpriester
Die hoëpriester is aangewys deur God. Die hoëpriester het hierdie taak gehad solank as wat Hy geleef het. Dit was nie ’n werk waar jy kon uittree nie. Jou taak was verby as jy gesterf het. Jesus se Hoëpriesterskap is egter vir ewig. Hy is die hoëpriester, nie uit die geslag van Aaron nie, maar wel uit Melgisedek – ’n Hoëpriesterskap wat geen einde het nie. Psalm 110:4 Die HERE het gesweer, en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek. Die Hebreërs skrywer bevestig, onder die leiding van die heilige Gees, dat Jesus die vervulling van hierdie profesie is. Die hoëpriester was die een wat tussen God en mens moes staan. Net so is Jesus, as ons Hoëpriester, die een wat elke dag vir ons intree by die Vader deur sy volmaakte versoeningsoffer. Hebreërs 7:25 Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.
Jesus is nie net ons Hoëpriester nie maar ook self die volmaakte offer. Die offer is aangewys deur die priester. Dit is vervul toe Johannes die doper, die seun van ’n ma en pa wat uit die geslag van Aaron kom, na Jesus gewys het en gesê het: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” Johannes 1:29.
Jesus, omdat Hy geen sonde het nie, het nie nodig gehad om vir Homself ’n offer te bring nie, maar is self die volmaakte offer vir ons sondes. Hebreërs 7:27 wat nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir dié van die volk nie. Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het.
Koning
Elke Koning moes gesalf word. Saul en Dawid, die eerste konings van Israel, is gesalf deur Samuel, die hoëpriester. Sy aanstelling het van God gekom. Net so is Jesus as Koning gesalf, maar deur God self. In Psalm 2, wat oor Christus praat as hierdie Koning, word gesê: Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg. Psalm 2:6. Vers 7 en vers 12 bevestig dat dit oor die Seun van God gaan wat die Messias koning sal wees. Psalm 2:7 Ek wil vertel van die besluit: Die HERE het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. Psalm 2:12 Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam.
Samevatting
Die profeet en leraar kom openbaar die karakter en wil van God. Dit is vervat in die Skrif. Uit die Skrif besef ons dat ons nooit naby God sal kan kom nie en die offer stelsel van die Ou Testament kom wys ons dat ’n volmaakte offer vir ons sonde nodig is. Keer op keer lees ons egter van hoëpriesters wat faal en hoe die offers nie kan red nie. Hierdie offers wat later net lippetaal en uiterlike skyn word, terwyl harte kliphard teen God verhard is. God skryf later dat die mens se valse offers Hom walg en dat hy gehoorsaamheid en nederige harte soek. Dan kom die Messias, die volmaakte Hoëpriester, wat net een keer, volkome versoening sou bring, omdat Hy homself as perfekte offer in ons plek kom offer het. Ook eindig Sy hoë priesterskap nie en tree Hy nog steeds vir ons in by God. Nou kan ons tot God nader, omdat ons skoon gewas is deur die finale offer – die Messias. Nou wil ons, en kan ons, deel wees van hierdie nuwe koninkryk, waarvan ons Profeet en leraar, Hoëpriester en Offerlam, ook ons Koning is…
En ons verlange is na ’n goeie koning. Geen regering kan vergelyk word met die regering van ’n goeie koning nie. Elke regeringstelsel is gedoem tot ’n mislukking. Ons sien die gevolge van demokrasie waar die meerderheid besluit wat in ’n land mag en nie mag gebeur nie. As die meerderheid (dit sal altyd op aarde so wees) goddeloos is, sal die besluite al meer en meer die goddelose verval weerspieël van die mense wat God nie in die stelsel wil hê nie. Hoe verlang ons nie na die dag wat ons ten volle die Nuwe koninkryk van die Goeie Koning sal betree nie?
Slot
Die gelowige is nie in vrees vasgevang nie, maar opgewonde. Die gelowige bely dat hy/sy nou alreeds deel is van ’n koninkryk wat nie met fisiese oë aanskou kan word nie. Johannes 3:3 Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Ons weet dat ons Koning oor ons lewens regeer en ons sal beskerm en bewaar. ’n Bewaring wat veroorsaak dat ons as sy diensknegte nooit verlore sal gaan nie. Filippense 1:6 omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus. Wat is belangriker as dit? Hy sal ons ook beskerm van die aanvalle van die Satan en het ons ten volle toegerus met ’n wapenrusting sodat ons elke dag kan staande bly in ons oorlog. As Jesus aan die einde van Sy bediening op aarde sy dissipels uitstuur sê hy aan hulle …En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen. Mattheus 28:20
Ons het Jesus nodig om vir ons die pad na God toe te wys – Ons profeet en leraar.
Ons het Jesus nodig om vir ons in te tree by God – ons Hoëpriester.
Ons het Jesus nodig om ons sonde weg te neem met ’n versoeningsoffer – Ons Offerlam
Ons het Jesus nodig om oor ons te heers, ons te beskerm en te bewaar – Ons Koning!
