Vraag 29: Waarom word die Seun van God genoem: Jesus, wat Verlosser beteken?
Antwoord: Omdat Hy ons van al ons sondes verlos en by niemand anders enige saligheid te soek of te kry is nie
Vraag 30: Glo die mense wat hulle saligheid en heil by die heiliges, by hulleself of iewers anders soek, ook in die enigste Verlosser, Jesus?
Antwoord: Nee, maar hulle verloën met die daad die enigste Verlosser as Heiland, Jesus, alhoewel hulle met die mond in Hom roem. Slegs een van twee dinge is immers moontlik: of Jesus is nie ‘n volkome Verlosser nie, of die wat hierdie Verlosser met ‘n ware geloof aanneem, het in Hom alles wat vir hulle saligheid nodig is.
Inleiding
“Een weg, een waarheid, een lewe – Jesus.” Dit is die Naam wat aan ons as mens gegee is, waardeur ons na God kan gaan. Nie Mohammed of Maria of Buddha of Inner self en spirituele “enlightenment” nie. Nee, Jesus Christus, ons Verlosser. Die Een wat gekom het om ons te red van ons sondes. Die engel maak aan Josef bekend dat Maria “sal ‘n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” Mattheus 1:21. In Hebreeus sou sy naam Josua wees. Die naam wat ook beteken Verlosser. Josua die man in die Ou Testament wat die volk deur die Jordaan geneem het na die beloofde land.
Jesus die persoon
Daar is geen ander naam gegee waardeur die mens verlos kan word nie. Handelinge 4:12 En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie. Natuurlik is dit nie die naam Jesus of Josua wat red nie, maar die persoon van Christus, die tweede persoon van die Drie-eenheid. So baie kere val mense vas by die name van God i.p.v. om die betekenis van die naam te verstaan. Die krag of verlossing lê nooit in die naam nie, maar in die persoon. As dit in die naam was, sou elke persoon wat Josua of Jesus genoem word die verlosser kon wees. Daar was net een Josua wat die volk uit die woestyn gelei het na die beloofde land net soos daar net een Jesus is wat ons verlos van die woestyn van sonde tot die beloofde land, die nuwe Koninkryk. Die gelowige verstaan maar net te goed dat uit ons eie ons onsself nie sou kon red nie. Johannes 15:5 Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. Dit is soos ’n iemand wat in slik sand vasgeval het en al dieper insak hoe meer hy/sy probeer om uit te kom. Al is dit ’n goeie metafoor, skiet dit nog steeds vêr te kort om ons toestand uit te beeld soos wat dit in die Bybel uitgebeeld word. Die Woord van God maak dit duidelik dat ons nie net in slik sand vasgekeer is nie, maar ook dood is. Dus is daar geen manier van redding uit die sand nie en al sou dit wonderbaarlik deur iemand kon plaasvind sou ons nog steeds dood wees. Dit verg ’n wonderwerk van lewe. Efesiërs 2:1 En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes.
Jesus die deur
Hy is ons middelaar. Die enigste Een wat God en mens kan versoen. Tussen die mens en God was daar altyd ’n skeiding. Hierdie skeiding was visueel gedemonstreer deur die voorhangsel in die tempel. Daarom as Jesus sterf aan die kruis word die voorhangsel middeldeur geskeur. Markus 15:38 En die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur van bo tot onder. Waarom van bo na onder? Wel, omdat die redding van God af gekom het en nie deur die mens nie. God moes die skeiding afbreek. Daarom mag ons nou in die heiligdom ingaan. Hebreërs 10:19-20 Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees.
Jesus die weg
Dit is so belangrik om duidelik vir mekaar te sê dat daar geen ander weg is nie. Johannes 14:6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. Vandag word hierdie absolute waarheid deur relativisme bevraagteken en deur sommige as arrogant gesien. Hoe durf ons dink dat net ons manier van nader tot God reg is? Antwoord – want ons is! Punt. Net soos wat 2 + 2 = 4 is en altyd sal wees of dit jou nou ontstel of nie! Dink jy werklik dat Jesus die God/mens die lyding van die kruisiging sou deurgaan as daar enige ander weg was. Ons kan aan geen persoon vashou vir ons hoop op verlossing nie. Geen ouer of familielid gaan jou redder wees nie. Geen kerk kan jou redder wees nie. Indien jy dit dink, verloën jy Jesus as enigste Verlosser en verklaar jy Sy kruisdood as onvoldoende. Niks wat jy doen, kan vir jou redding betaal nie. Jou werke kan jou nooit red nie. Efesiers 2:8-10 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.
Enige iemand wat dus vashou aan iets wat hy/sy gedoen het vir hulle redding is absoluut verlore. Baie probeer met die een hand aan Christus se verlossingswerk vashou en met die ander hand aan hulle werke. Die Bybel verklaar dat self ons beste werke soos vuil klere is. Jesaja 64:6. As gelowiges bely ons dat ons goeie werke doen omdat ons gered is, maar dat die goeie werke niks met ons redding te doen het nie. Goeie werke is ’n uitvloeisel van dankbaarheid in die gelowige se lewe. Efesiërs 2:10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel. Ons roem kan dus net wees in Hom. 1Korintiers 1:30-31 Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing. Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem. My dankbaarheid is teenoor Hom, want in Hom het ek die Lewe en dit in oorvloed!
Jesus ons Here
Óf Christus is alles in ons lewe óf HY is niks. Óf Hy is ons enigste Redder óf Hy is nie ons redder nie. Óf Hy is ons Vredemaker óf ons het geen vrede nie. Kolossense 1:19-20 Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis—ek sê deur Hom—die dinge op die aarde sowel as die dinge in die hemele.
Óf Jesus is Here or jou lewe, óf Sy naam beteken vir jou niks. Die naam Jesus, Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – leidsman na die beloofde land.
