Sondag 10. God se voorsienigheid!

Vraag 27: Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?

Antwoord: Die almagtige en oral teenwoordige krag van God, waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer dat lower en gras, reën en droogte, vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte, rykdom en armoede en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom.

Inleiding

In hierdie moderne eeu, waar ons voel dat ons alles moet kan verduidelik en waar ons sin van “regverdigheid” gebou is op menseregte eerder as op God se morele standaard, het die soewereiniteit van God, vir sommige sogenaamde Christene, amper ‘n verleentheid geword. Ons voel verplig om alles wat nie aan die nuwe standaard van “liefde” voldoen nie, te probeer verduidelik. Hoekom word mense siek? Hoe kan ’n liefdevolle God dit toelaat? God is onregverdig! As God in beheer is, hoekom lyk dinge dan soos dit lyk? Omdat ons dinge nie verstaan nie en omdat God nie aan ons verwronge standaard van liefde en regverdigheid voldoen nie, kom hulle tot die gevolgtrekking dat God nie in beheer van alles is nie en dat alles wat menslik “mooi, liefdevol en regverdig” is van God af kom en die res is die duiwel se skuld. Watter vreugde of berusting mense uit hierdie denke kry, kan ’n mens net wonder. Is daar regtig hierdie kosmiese stryd aan die gang waar God sommige kere wen en ander kere die duiwel die oorwinning behaal. Is dit werklik wat die Woord ons leer?

God is soewerein

Die Woord leer ons van een God, almagtig en soewerein. In Jesaja verklaar Hy  dit oor en oor. Jesaja 46:9-11  Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen; wat ‘n roofvoël roep uit die Ooste, die man van my raad uit ‘n ver land; soos Ek dit gespreek het, sal Ek dit ook laat kom; Ek het dit voorberei, Ek sal dit ook doen. Met God se krag word alles op aarde en in die Hemel onderhou en Hy regeer oor alles. Die volgende gedeelte in Handelinge vertel ons van hierdie God wat in beheer is van alles. Handelinge 17:25-28  Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee. En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons God het niks van die mens nodig nie. Daar is geen mens wat kan roem dat hy/sy iets vir God na die tafel toe kan bring nie. Alles is alreeds syne en selfs jou asem het jy van Hom af ontvang. Hierdie is ’n vreemde gedagte vir die mens van die 21ste eeu wat dink dat hulle onmisbaar is, tot alles in staat is en alles verdien wat hulle het. Nee, ons is nietige wesens wat een oomblik daar is en die volgende oomblik ons asems uitblaas. Die vraag wat ons eintlik moet vra is wat die Psalmdigter vrawat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?” Psalm 8:5.

Die Woord van God leer ons dat God alles in die natuur bestuur. Dit is nie dat die wolke heel toevallig bymekaargekom het en toe het dit begin reën nie. Nee, God laat dit reën en Hy laat dit reën oor die goeie en die slegte. Mattheus 5:45  sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges. Ons moet niks as vanselfsprekend aanvaar of maak asof ons goedheid iets veroorsaak het nie. As kind van die Here besef ek dat ’n Groot en Alwetende God, wat my Vader is, alles beheer en bestuur. Jeremia 5:24  en hulle het nie in hul hart gesê nie: Laat ons tog die HERE onse God vrees, wat reën gee, vroeë reëns en laat reëns op hulle tyd, wat vir ons die vasgestelde weke van die oes in stand hou. Op die regte tyd sal Hy gee. Sý regte tyd. Die tyd deur Hom bepaal. Dan buig ek my knieë voor die Een wat beter as ek weet wanneer en hoe dinge moet plaasvind. Die God wat soewerein is.

Wat van siekte en lyding?

Kom ons wees eerlik. Ons vlees wil nie glo dat pyn, lyding, siekte en geweld deel van God se plan vir ons lewens of die lewens van ander kan wees nie. Dit rym nie lekker met ons siening van God nie en dit maak dit moeilik as ek my geloof aan ’n ateïs moet verduidelik. Die alternatief, dat hierdie dinge van die duiwel kom, is egter veel erger. Dit laat by jou ’n patetiese god wat soms wen en soms verloor teen die duiwel. Dit stel die duiwel gelyk met God. Indien jy glo dat alles net gebeur, sonder dat God of die duiwel daarby betrokke is, verval jy weer in fatalisme en is daar geen sin in enige iets nie. As gelowige glo ons die Woord en die Woord leer ons dat ook siekte van God af kom. Ons verstaan nie altyd die redes of God se plan nie, maar kan vashou aan die wete – daar is ’n plan. En dit my ten goede!

Wat sê die Woord? Is dit so dat siekte van die duiwel kom en gesondheid van God? Partykeer verwonder ek my dat individue wat aanspraak daarop maak dat hulle die Skrif ken dit kan glo. Deuteronomium 32:39  Aanskou nou dat dit Ek is en dat daar geen god naas My is nie; Ek maak dood en maak lewend, Ek het verbrysel en Ek genees; en daar is niemand wat uit my hand red nie. Die woord verbrysel in die konteks druk die teenoorgestelde van genees uit. As Miriam sondig kom God na haar en raak haar aan sodat sy melaats word. Dieselfde gebeur met die teken wat God aan Moses gegee het om vir die mense te wys dat God hom stuur. Exodus 4:6  En die HERE het verder vir hom gesê: Steek tog jou hand in jou boesem. En hy het sy hand in sy boesem gesteek; en toe hy dit uittrek, was sy hand melaats, soos sneeu! Die Israeliete moes dus verseker geweet het dat God die een is wat melaats maak anders sou daar geen rede wees dat God die teken vir Moses gee nie. As siekte van die duiwel kom wie sou hulle dan gedink het, het Moses gestuur? God vertel verder vir Moses dat elke “gestremdheid” ook van Hom afkom. Eksodus 4:11  En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie? Die gestremdheid is in aanhalingstekens aangesien ons leer in die verhaal van die blinde man in Johannes 9 dat “Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.” Johannes 9:3. God moet verheerlik word in alles in my lewe.

’n Dankbare lewe

My siekte en gesondheid, my gebreke en talente moet gaan oor ’n God wat alles uit genade skenk. God wil hê dat ek Hom moet prys in alle omstandighede. 1Thessalonicense 5:18  Wees in alles dankbaar, want dit is die wil van God in Christus Jesus oor julle. Kan ons getuig dat dit ons uitkyk op die lewe is. Watter vreugde sal daar nie in my lewe wees as ek regtig dit glo nie. Sal ek bekommerd wees? Sal ek moedeloos wees? Verder moet ons as gelowiges ook bely dat ons grootste probleem is dat ons so baie keer dink dat ons beter verdien as wat ons uit Sy hand ontvang. Ons ondankbaarheid is hierin gesetel. Job kon nadat hy al sy besitting en sy kinders verloor het getuig:  …Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek daarheen terugkeer. Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd! Job 1:21 

Slot

Niks gebeur dus per toeval of per ongeluk nie. Spreuke 16:33  In die skoot word die lot gewerp, maar elke beslissing daarvan kom van die HERE.  Ek hoef ook nie in vrees te lewe vir die duiwel nie, want hy is alreeds deur God oorwin. Hy kan niks doen sonder dat God dit toelaat nie. Nee, my God beheer en bestuur alles wat oor my pad sal kom en omdat ek weet dat Hy my lief het, kan ek vreugde in alles ervaar. Selfs dit wat ek nie verstaan nie.

Hy is nie net die Skepper van alles nie, maar ook die een wat alles onderhou en in standhou. Hebreërs 1:3  Hy, wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord van sy krag.

Wees verseker, die Een wat al die sterre se name ken,  ken ook jou naam. Hy sluimer of Hy slaap nie. Hy voorsien.