Vraag 26: Wat glo jy as jy sê: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde? Antwoord: Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus, wat die hemel en aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep het en deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en regeer, ter wille van sy Seun Christus, my God en Vader is. Op Hom vertrou ek so dat ek nie daaraan twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie. Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander, omdat Hy dit as ‘n almagtige God kan, en ook as ‘n getroue Vader, wil doen.
Inleiding
Wat glo ons as ons sê dat ons in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van alles, glo? Ons glo Hy is Almagtig – ja, dat alle mag aan Hom behoort. Ons glo dat HY in Sy almag ALLES gemaak het – ook vir jou en my. Dan glo ons verder dat hierdie Almagtige Skepper God, ons Vader is. Hoe gelaai is hierdie stellings nie?
Daar is ’n doel
Die vraag na waar alles vandaan kom en die sin van die lewe loop hand aan hand. As jy glo dat alles per ongeluk was en toevallig ontstaan het, is daar geen doel en dus geen sin in die lewe nie. Met hierdie noodlot beskouing kan elkeen net sy bes doen om op aarde te oorleef, maar aan die einde kom alles tot niks en is alles betekenisloos. As gelowiges glo ons absoluut die teendeel! Ons glo in ’n God wat alles geskep het en dit goed geskep het. Alles in die skepping besing die heerlikheid van God en maak Hom groot. Die pragtige natuur met al die fantastiese kleure van die voëls, diere en visse. Die wysheid waarmee Hy alles gemaak het, elkeen geskep het en geplaas het in die habitat waarvoor hy gemaak is. Alles is beplan in die fynste besonderheid, alles getuig van ’n Skepper, groter en wyser as wat ons ooit kan verstaan. Alles in hierdie Skepping is afhanklik van Hom. Die Psalmdigter stel dit so mooi in Psalm 104. Psalm 104:27-30 Hulle almal wag op U, dat U hulle voedsel kan gee op die regte tyd. U gee dit aan hulle, hulle tel dit op; U maak u hand oop, hulle word versadig met die goeie. U verberg u aangesig, hulle word verskrik; U neem hulle asem weg, hulle sterwe en keer terug tot hul stof. U stuur u Gees uit, hulle word geskape; en U maak die gelaat van die aarde nuut.
Die gelowige glo dat God hierdie wêreld geskep het in ses dae. Nie net word dit aan ons vertel in Genesis nie, maar dit word ook bevestig in Eksodus. Eksodus 20:11 Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig. Hoe weet Moses dat dit die tydperk was waarin alles geskep is. Kyk gerus na vers 1 van Eksodus 20. Eksodus 20:1 Toe het God al hierdie woorde gespreek en gesê. God het nie net die tien gebooie vir Moses deurgegee terwyl hy 40 dae op die berg met God was nie. Moses kon die eerste vyf boeke skrywe omdat God alles aan hom openbaar het. Jesus bevestig ook dat Moses die skrywer was. Markus 12:26 En wat die dode betref, dat hulle opstaan—het julle nie gelees in die boek van Moses, in die gedeelte oor die doringbos, hoe God vir hom gesê het: Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob nie? Alles het plaasgevind soos God dit beplan het in ’n bepaalde tyd en alles met ’n bepaalde doel.
God is steeds betrokke
God is net so betrokke vandag as wat Hy was by die skepping van alles. Hy het nie net geskep en alles aan die natuurwette oorgelaat nie. Nee, Hy bestuur en beheer alles wat gebeur op hierdie aarde. Niks is buite Sy beheer nie. Mattheus 10:29 Word twee mossies nie vir ‘n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie. Nie ’n enkele regeerder of persoon in gesag is daar sonder die beheer van God nie. Romeine 13:1 Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel.
Hierdie God is my Vader moontlik gemaak deur Jesus Christus, wat vir my persoonlik sorg. Hy weet alles van my. Psalm 139:2-4 U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, HERE, U ken dit geheel en al. Hy ken my verlede en my toekoms en Hy regeer in my hede. Daar is niks wat ek op my eie kan doen of in staat is om te doen sonder Hom nie. Daarom kan ek selfs my beplanning doen met ’n intense bewustheid dat Hy in beheer is van alles. Ons as gelowiges verklaar in alles dat ons afhanklikes is. Jakobus 4:13-15 Kom nou, julle wat sê: Vandag of môre sal ons na dié en dié stad gaan en daar een jaar deurbring en handel drywe en wins maak— julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn. In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen.
Die gelowige weet dus dat Sy Liefdevolle Vader, wat in beheer is van die groot heelal, ook in beheer is van sy/haar lewe. Maak nie saak in watter situasie ek beland nie, ek weet dat, nie net is my Hemelse Vader in beheer nie, maar Hy sal alles wat gebeur, self die slegste omstandighede of gebeurtenis, gebruik tot my beswil en dus die verheerliking van Sy naam. Romeine 8:28 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Die psalmdigter kon getuig dat die teëspoed van die regverdige baie is maar dat God ons red uit almal. Psalm 34:20 Menigvuldig is die teëspoede van die regverdige, maar uit dié almal red die HERE hom. Die Gelowige verstaan dus dat ons deur baie moeilike situasies, wat deur God beskik is, sal gaan en dat God met ons is, ons lei en beskerm binne elke omstandigheid.
Ek vertrou Hom
Hy het bestem dat Sy Seun, Jesus Christus in alles moet verheerlik word. Hy is die Vader wat sy seun of dogter in Sy groot arms dra. Die veiligheid wat jy as kind ervaar het toe jou pa jou opgetel het en van die motor bed toe gedra het as jy in die motor aan die slaap geraak het. Ek kan onthou hoe baie keer ek gemaak het of ek slaap, omdat dit so lekker was dat my pa sy groot arms om my gevou het en my gedra het. Daar was nie een oomblik ’n vrees dat ek gaan val nie – dat Hy my gaan los nie. Jesaja skryf vir die volk Israel en vertel hulle van hierdie God. Jesaja 46:3-4 Luister na My, o huis van Jakob en die hele oorblyfsel van die huis van Israel, julle wat deur My gedra is van die moederskoot af, opgeneem is van die geboorte af; en tot die ouderdom toe is Ék dieselfde, ja, tot die grysheid toe sal Ek julle dra; Ék het dit gedoen, en Ék sal julle opneem, en Ék sal dra en red.
Hierdie Vader wat ek my Vader kan noem is die een wat alles beplan het voor die grondlegging van die wêreld. Hy is die een wat my as gelowige so lief het dat Hy Jesus Christus, Sy Seun na die wêreld gestuur het. Hy is die God wat belowe ek sal jou nooit begewe en nooit verlaat nie. Hy roep vir Josua om die volk te lei met die opdrag: Deuteronomium 31:8 En dit is die HERE wat voor jou uit trek; Hy sal met jou wees; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie; jy mag nie bevrees of verskrik wees nie. Waarvoor vrees jy!
Slot
Hy is die enigste, almagtige God. Die Heerser van die heelal. Die beskikker van alles en ja, Hy ken jou naam. Nog meer as dit – hy het jou vooruit bestem om gebore te word en om Sy kind te wees. Hy is jou Vader en weet van elke traan en pyn. Hy weet van elke haar op jou kop en sal vir jou sorg. Hy breek nooit Sy woord nie en kan nie verander nie. Jy kan op Hom vertrou. Verklaar vandag saam: Ek glo in God die Vader, die Almagtige Skepper van hemel en aarde – en wees nie bevrees nie.
