Sondag 8 Vader, Seun en Heilige Gees

Vraag 24: Hoe word hierdie artikels ingedeel? Antwoord: In drie dele: die eerste handel oor God die Vader en ons skepping; die tweede oor God die Seun en ons verlossing; die derde oor God die Heilige Gees en ons heiligmaking.

Vraag 25: Terwyl daar maar tog net een, enige Goddelike Wese is, waarom praat jy van drie, naamlik die Vader, Seun en Heilige Gees? Antwoord: Omdat God Hom so in sy Woord geopenbaar het dat hierdie drie onderskeie Persone die enige, ware en ewige God is.

Inleiding

Die Drie-Eenheid is voorwaar nie ’n maklike begrip om te verstaan nie en sodra jy dink jy verstaan dit, dan besef jy net, dit is vêr bo my menslike begrip. Hoewel die woord Drie-eenheid of “Trinity” nou wel nooit in die Bybel voorkom nie, word dit duidelik uitgebeeld op verskeie plekke in die Skrif. As sodanig moet ons eenvoudig ons knie buig en aanvaar dat as die Woord so sê, is dit so. Vandag is daar baie nuwe tendense in die “Christelike” geloof wat Jesus Christus se Goddelikheid bevraagteken, asook mense wat die Persoon van die Heilige Gees wil verander na net ’n krag van God, in plaas van deel van die Drie-Eenheid. Ons gaan in hierdie inskrywing spesifiek kyk na waar God in die Skrif as die Drie-Enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, uitgebeeld word. Kom ons begin met die tekste wat toon dat daar meer as een persoon in die Godheid is.

God is Een

Dit is duidelik vanuit die Skrif dat daar net een God is. Die aanhaling in die Ou Testament wat deur godsdienstige Jode geken word as die “Sjema Jisrael” en aangehaal word, is in Deuteronomium 6:4  Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE. Die direkte vertaling van die Hebreeuse teks is: Luister Israel, Here(Jahwe) ons God is een Here(Jahwe). Die Nuwe Testament bevestig hierdie gedagte. Efesiërs 4:6  een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is1Korintiers 8:4  Wat dan die eet van die offervleis aan die afgode betref, weet ons dat ‘n afgod niks in die wêreld is nie, en dat daar geen ander God is nie, behalwe Een. Nie net is Hy een God nie, maar daar is ook geen ander god nie. Jesaja 44:6  So sê die HERE, die Koning van Israel en sy Losser, die HERE van die leërskare: Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste, en buiten My is daar geen God nie. Paulus skrywe dat mense wat ander gode aanbid eintlik besig is om duiwels te aanbid. 1Korintiers 10:20  Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie. Dit is dus baie gevaarlik om te dink dat dit goed is om met mense van ander gelowe saam te bid. Ons kan saamwerk vir die goeie in die gemeenskap waarin ons leef, maar ons kan nooit alle gelowe as dieselfde beskou of dink dat daar enigsins ’n vergelyking is tussen ons God en ander gelowe se gode nie. Daar is net een God en Hy het Homself openbaar in die Skrif.

God is Drie

Die vraag ontstaan dan, dat as dit een God is, hoekom praat ons van die Vader as God, die Seun as God en die Heilige Gees as God? Weerspreek ons nie onsself as ons sê daar is net een God en tog praat ons van drie persone as God nie? As ons praat van die drie persone van die Godheid is ons nie besig om te sê elke een is God op sy eie nie, maar dat daar drie persone is, maar net een God. Van die eerste vers in Genesis word vir ons gewys dat hierdie een God na Homself wys as: “Ons”. Genesis 1:26  En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.

God se grootheid is oneindig en daarom is die gedagte aan drie persone in ’n oneindige God geen weerspreking nie. Net omdat ons nie die verstandelike vermoë het om die volle omvang te verstaan nie, maak dit nie dat dit wat God aan ons openbaar het vanuit Sy Skrif minder waar nie. Ons kan nie eers die omvang van die heelal, die kompleksiteit van die skepping verduidelik nie, hoeveel minder is dit vir ons met ons beperkte kennis om die ewige God wat alles geskep het ten volle te verstaan. As Hy kommunikeer is dit op so ’n manier dat ons plat koppies dit kan verstaan. Dit wat ons wel verstaan en ondersoek bring ons by die besef van hoe wonderlik Hy is. Waar ons kom by gedeeltes wat ons totaal oorbluf, bring dit ons in aanbidding rakende die grootheid van die God wat ons aanbid.

God, die Vader en God, die Seun

Daar was nog nooit rakende die Vader as God  ’n dispuut in die geskiedenis nie. Dit is nog altyd aanvaar dat die Vader God is. Die groot debatte wat ontstaan het, was of Jesus werklik God is. Die leer van die kerk deur die eeue was altyd dat Jesus die Seun van God is, al was daar stemme van buite die Kerk wat dit probeer weerspreek het. In die vierde eeu het die kerk ’n baie sterk standpunt rakende die Vader en die Seun se eenheid uitgespreek. Dit beteken nie dat die kerk eers toe dit begin glo het soos sommige beweer nie. Die Kerk kan ons sien uit die skrywes van die apostoliese vaders(begin van tweede eeu) dat hulle van die begin af Jesus as God verkondig het. Verder wys die Bybel ons ook baie duidelik dat Jesus God is. Kollossense 1:15-17 Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte—alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand. Jesus word dus beskryf as die Skepper van alles en dit is reg deur die Bybel duidelik dat die Skepper God is. Hierdie gedeelte vertel ons verder dat Hy alles vir homself geskep het en heers oor alles en ook dat alles, selfs die kleinste deeltjie in die skepping tot die grootste ster, sal ophou bestaan sonder Hom. As dit nie die beskrywing van God is nie dan weet ek nie. ’n Wonderlike gedeelte wat die eenheid van die Vader en die Seun aandui is in Johannes 10:30  Ek en die Vader is een. Die woord vir is, is in die Grieks nie in die enkelvoud nie, maar in die meervoud. Hoe duidelik is dit nie? Van die ander gedeeltes wat Jesus verklaar as God, is in ’n vorige blog inskrywing. U kan gerus die bespreking van vraag 5 van die Westminster belydenis lees:Net een God (Vraag 5)

God, die Heilige Gees

Maar die Heilige Gees is ook God. Hy is nie net ’n onpersoonlike gees of krag nie. Nee, Hy word identifiseer as die gestuurde van die Vader en die Seun. Hy was ook in die begin van die skepping teenwoordig. Genesis 1:2  En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. Dat Hy ’n persoon is word ook uitgebeeld in Handelinge as Petrus vir Ananias en Saphira sê hulle het vir die die Gees gelieg en net die volgende vers word dit herhaal dat hulle gelieg het vir God. Handelinge 5:3-4  Toe sê Petrus: Ananias, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou? As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir GodHier word die Heilige Gees nie net as ’n persoon beskryf nie, maar ook God genoem.

Slot

Ons praat van Een God maar drie persone! Drie persone wat voor die grondlegging van die aarde volkome liefde in hul midde gehad het. Volkome eensgesindheid, volkome vrede. Verder het hulle ’n raadsplan bedink waarin hulle hierdie eenheid wou deel. Die skepping is beplan, die verlossingsplan is bedink en God se kinders is uitgekies om deel te wees van hierdie wonderlike eenheid in Jesus Christus, wat ons as kinders van God sou koop en die Heilige Gees wat ons as sodanig sou verseël. Die Vader wat ons sal liefhê met dieselfde liefde wat  hy vir Christus het. Johannes 17:23  Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het.

Ons God  het die hierdie wonderwerk bewerk, al verstaan ons dit nie ten volle nie.

Ons God – Vader, Seun en Heilige Gees !