Vraag 20: Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het? Nee; maar slegs die wat deur ‘n ware geloof in Hom ingelyf word en al sy weldade aanneem.
Vraag 21: Wat is ‘n ware geloof? ‘n Ware geloof is nie alleen ‘n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar nie, maar ook ‘n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk, naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het.
Vraag 22: Wat moet ‘n Christen glo? Alles wat in die evangelie aan ons beloof word en wat die artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof ons in hoofsaak leer.
Inleiding
Sonder ware en opregte geloof sal niemand die ewige lewe beërf nie. Die vraag is egter wat is ware en opregte geloof. Jy kan ware geloof hê in ’n leuen. Jy kan ook opreg glo dat iets gaan gebeur, gaan kyk maar net na die hoeveelheid mense wat goedgelowig glo dat die wêreld op aanspraak van een of ander selfverklaarde profeet gaan eindig. Net om die volgende dag wakker te word en alles, behalwe die datum, is nog net soos gister. Die reddende geloof waarvan die Bybel praat is geloof in Jesus Christus. Nie net geloof dat Hy histories bestaan het nie, maar dat hy waarlik God is en gekom het om ons met God te versoen deur Sy kruisdood. Dit gaan egter nog verder. Jy moet glo dat Hy die Here is, nie net oor die heelal nie, maar oor jou!
Geloof is nie net ‘n kennis nie.
Dit is so ironies dat die duiwel sekerlik van die meeste kennis van Jesus het. Hy ken ook die Skrif en haal dit lekker uit konteks aan om sy agenda te pas. Jy kan egter alles weet wat in die Woord staan en nog steeds verlore gaan. Die Fariseërs en die skrifgeleerdes was mense wat kennis gehad het, maar tog het dit geen verandering in hulle lewens te weeg gebring nie. Nikodemus is in goeie voorbeeld. Hy het die Ou Testament geken en tog, as Jesus hom vanuit die Ou Testament leer, verstaan hy nie. Johannes 3:10 Jesus antwoord en sê vir hom: Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie? Hoe maklik kan die Bybel net vir jou ‘n intellektuele oefening wees. Jy gebruik dit om vir ander te wys hoe slim jy is en hoe baie jy weet, maar dit het geen inslag in jou eie lewe nie. Dit is dus net kop kennis. Ek weet van mense wat die vrug van die gees na mekaar kan opnoem (Galasiers 5:22 Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.) en alhoewel dit sekerlik goed is, is die vraag nie hoe goed jy dit kan opnoem nie, maar of dit sigbaar is in jou lewe!?
Jy kan saam met ander sê: ”Ja ek glo. Ek glo alles wat die Bybel sê.” Jakobus praat van sulke mense as hy in Jakobus 2:19 sê: “Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder”. Dink jy nie die duiwels glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het nie? Jy kan seker wees hulle weet dat dit ’n feit is en tog verander dit niks aan hulle nie. Dit is die probleem van baie in die kerk. Daar is mooi belydenisse, maar is dit ‘n realiteit en verander dit jou manier van lewe? Lewe jy asof Hy opgestaan het? Lewe jy asof Hy die dood oorwin het?
As jy kyk na die apostels en eerste gelowiges na Jesus se Hemelvaart, kom jy agter dat die opstanding ’n realiteit in hulle lewens geword het. Daar was geen vrees meer nie. Hulle was nie bang om te sterf nie. Kyk na Stefanus se reaksie voor dié Raad wat hom aangekla het. As hy ervaar dat hulle kwaad raak gaan hy net verder voort sonder om te aarsel of bang te wees vir die konsekwensies. Hy het geglo en dit was duidelik te sien is sy optrede.
Geloof is nie blind nie
Hebreërs 11: 1 is die definisie vir wat geloof is. Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. Beteken dit dan ons geloof is ’n blinde geloof in die onbekende? Verseker nie. Dit is kennis en vertroue! Kennis in wat die Woord ons leer aangaande alle aspekte van God. Al sien ons nie met ons fisiese oë nie, is daar ‘n vaste sekerheid dat dit die waarheid is. Hierdie vaste vertroue is ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. Hierdie vertroue sal uitvloei as Godsvrug in jou lewe en sal weer vir ander, en jouself, ’n bewys word van ware geloof. Jou manier van lewe is ‘n bewys of jy werklik glo wat jy sê. Ons kan nie sê dat ons glo in iets of iemand waarvan ons geen kennis het nie. Dit is dus duidelik dat soos wat ons kennis van God toeneem, in ons verhouding met Hom en in die bestudering van Sy Woord, sal ons geloof in Hom ook toeneem. Dit is voorwaar die werking van die Heilige Gees in elke kind van God se lewe. Soos wat ons in gehoorsaamheid wandel, word die Here al hoe meer “sigbaar”. Hoeveel van ons kan getuig hoe die Woord van die Here ’n werklikheid geword het, soos wat ons dikwels in moeilike omstandighede in gehoorsaamheid saam met God geloop het en Sy hand in ons lewe tasbaar ervaar het. Dit is bakens in enige gelowige se lewe, wat opgerig moet word as monumente vir die tye wanneer ons twyfel of ons geloof beproef word.
Geloof is aksie
‘n Voorbeeld van hierdie tipe geloof is in Abraham se lewe. God kom na Abraham op ‘n ouderdom van 100 jaar en sy vrou is 90 jaar oud. God sê vir Abraham dat hy in kind gaan hê. Wat was die bewys dat Abraham geglo het wat God vir hom belowe het? Kyk na Rom. 4: 18-20. Hy het teen hoop op hoop geglo dat hy vader sou word van baie volke volgens wat gesê was: So sal jou nageslag wees. En sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe toestand van die moederskoot van Sara nie. En hy het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie, maar hy is versterk deur die geloof en het aan God die eer gegee. Abraham het nie gelet op sy eie liggaam of die van sy vrou, wat volgens haar ouderdom nie meer kinders kon hê nie, nee Abraham het by sy vrou gaan slaap, wetende dat as God iets belowe dan kan hy dit glo.
Hoe sal ons leef as ons werklik glo dat God soewerein is en absoluut in beheer is van alles. Dat Hy alles sal laat meewerk ten goede vir die wat Hom lief het. Maak nie saak wat die politieke situasie in die land of jou gesondheid of enige ander situasie waaroor jy geen beheer het nie, lyk nie. Solank jy aan hierdie wete vashou met ’n vaste en seker geloof is jy geanker teen enige storm.
Geloof is integriteit
Dit is daar waar ek alleen is en ek dink niemand sien my nie wat dit wat ek werklik glo geopenbaar word. Ananias en Saphira se geloof is geopenbaar toe hulle gedink het dat niemand hulle sien nie. Hulle kon maar die geld vat wat hulle ontvang het vir hulle huis en vat dit wegsteek. As ek in ‘n krisis beland word dit wat ek glo aangaande God geopenbaar. Praat kan almal en almal sal vir jou vertel hoe goed die Here vir hulle is, terwyl dit met hulle goed gaan. Dit is wanneer geloof nie meer maklik is nie, wanneer dit voel of alles uitmekaar val, dat ons besef dat ware geloof ’n gawe is wat onderhou word deur die Heilige Gees. Jakobus1:6 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God. Wat dink die wêreld van jou God as hulle na jou lewe kyk. As jy praat? Jou optrede?
Geloof is seker
Sommige mense bid, maar glo nie werklik nie. Jakobus 1:6 Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voort gesleep word. ’n Persoon is een oomblik vol vreugde en die volgende oomblik in sak en as. Om in geloof te bid is om te weet dat God in beheer is en dat Sy wil vir my lewe die beste is. Geloof gaan ook verder. Ek is seker van God se genade. Hy het vir my sonde gesterf en volkome versoening vir my bewerk. Efesiërs 2: 8. Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God. Ek is vry om nooit weer ‘n slaaf van sonde te word nie. Dit is vir my gegee as ‘n geskenk wat ek nooit sal kan verdien nie. Watter vreugde sal in my lewe voortvloei as ek dit glo.
Slot
Ware geloof is in die waarheid. Die waarheid wat verkondig word in die Woord oor wie God is, wie ons is en wat God vir ons kom doen het. Jesus Christus is die waarheid. Die Jesus wat verkondig word in die Evangelies en nie die Jesus van die hedendaagse populariteit kultus nie. Hierdie is ’n reddende geloof – kennis van, en vertroue in, Jesus Christus, onse Here en ons Verlosser!
