Sondag 4. Barmhartig of Regverdig?

Vraag 9: Doen God die mens dan nie onreg aan as Hy in sy wet van hom eis wat hy tog nie kan doen nie?

Antwoord: Nee, want God het die mens so geskep dat hy dit kon doen. Maar die mens het homself en sy hele nageslag as gevolg van die aanhitsing van die duiwel en deur moedswillige ongehoorsaamheid van hierdie gawes beroof.

Vraag 10: Wil God hierdie ongehoorsaamheid en afval ongestraf laat bly?

Antwoord: Nee, glad nie; inteendeel, sy toorn is verskriklik sowel oor die erfsonde as oor die sonde wat ons self doen: Hy wil dit in die tyd en in die ewigheid met ‘n regverdige oordeel straf. Hy het immers gesê: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie.

Vraag 11: Is God dan nie ook barmhartig nie?

Antwoord: God is wel barmhartig; maar Hy is ook regverdig. Daarom eis sy geregtigheid dat die sonde wat teen die allerhoogste majesteit van God gedoen is; ook met die swaarste straf gestraf moet word – dit is met die ewige straf aan liggaam en siel.

Inleiding

Die mens is in sonde gebore en kan daaraan niks verander nie. Die mens kan God nie uit sy eie kies of doen wat Hy van ons vra nie. In Romeine vra Paulus dan …hoe kan Hy ons nog blameer?! Ons kan dan nie anders nie!  Daar is sekerlik wel mense wat in hul lewe kies om goeie dinge te doen eerder as slegte dinge, d.w.s hulle het goeie morele standaarde.  Om egter vir God te kies en om te kies om die goeie te doen om God te verheerlik en nie jouself nie, is buite die mens se bereik. Hoe kan God dit van ons verwag, as ons na die sondeval eenvoudig nie daartoe in staat is nie?

Ons skeppingsdoel

Die mens is geskape om God te verheerlik en om Hom te geniet – verewig. (Westminster belydenis Vraag 1). Wat sal jy daarvan dink as jy ’n persoon vra om jou huis te bou en hom al die materiaal gee om dit te klaar te maak, net om na ’n paar maande terug te kom by jou erf sonder dat enige huis gebou is? Tot jou verdere ontsteltenis, sien jy dat al jou boumateriaal weg is.  Ontsteld, beskuldig die bouer jou verder dat jy onredelik is om te verwag dat hy die huis moet klaarmaak sonder enige boumateriaal: “Hoe kan jy dit van my verwag?!” Is dit nou jou skuld of die bouer s’n dat al die boumateriaal weg is?

Hierdie analogie wys op die eienaar, God, en die mens as bouer.  Daar is geen skuld aan God se kant nie. Hy het die mens perfek gemaak sodat hy/sy hul skeppingsdoel kan bereik. Alle skuld moet voor die deur van die mens geplaas word. Tog wil die mens van die begin af iemand blameer. Adam blameer die vrou en die vrou blameer die slang. Gen. 3:13  Daarop sê die HERE God aan die vrou: Wat het jy nou gedoen? En die vrou antwoord: Die slang het my bedrieg, en ek het geëet. Dink jy werklik dat God nie geweet het wat die slang gedoen het nie? God wil weet wat Eva gedoen het. Sy moet verantwoordelikheid aanvaar vir haar optrede. In 1 Timoteus 2:14 staan geskrywe: En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom. God kom staan voor jou lewe en vra: “Wat het jy gemaak met wat ek jou gegee het?” Niemand sal enige verweer hê nie. Ons kan nie die vinger na enige iemand anders wys nie.  “Ons was ongehoorsaam”, is al wat ons kan pleit.

Straf

Die aanvaarding van my skuld gaan my nie van die straf kwytskeld nie. Die sonde moet gestraf word. Daar is geen manier dat God regverdig kan wees en geregtigheid kan laat geskied sonder om die mens te straf vir hul oortredings nie. As ’n regter ’n man wat iemand vermoor het onskuldig verklaar sal niemand sê dit was ’n regverdige uitspraak nie. Almal sal uitroep dat dit onregverdig is. God is absoluut Regverdig en daarom kan Hy nie optree in stryd met Sy karakter nie. Elke sonde sal dus regverdig gestraf word. Daarom as jy nie onder Sy ewige oordeel wil staan nie moet jy elkeen van Sy gebooie ten volle onderhou en nakom. Jas 2:10  Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword.

Enige sonde is ’n oortreding eerstens teen God. Daarom is die straf ’n ewige straf wat geen einde het nie a.g.v. ’n oortreding teenoor ’n ewige God.

Barmhartigheid

Wat beteken die woord barmhartigheid? Barmhartigheid beteken om nie die straf te ontvang wat jy verdien nie. God is ook volgens die Skrif barmhartig. Een van die eienskappe waarmee God homself aan Moses beskryf is Barmhartigheid. Eksodus 34:6  En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy geroep: HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou.” Die vraag ontstaan dan: “Hoe kan God regverdig sowel as barmhartig wees?” Anders gestel: “Hoe kan God ons vryspreek van wat ons verdien en ter selfde tyd  regverdig wees?” Die verhaal van Josua, die hoëpriester, wat voor God staan illustreer hierdie situasie goed. Sagaria 3:1  Daarna het Hy my Josua, die hoëpriester, laat sien, terwyl hy voor die Engel van die HERE staan, en die Satan aan sy regterhand staan om hom aan te klae. Die duiwel het tereg as hy Josua aankla, want Josua staan voor God en sy toestand word uitgebeeld deur die vuil klere wat hy aan het. Sagaria 3:3  En Josua was bekleed met vuil klere, terwyl hy voor die Engel staan. Dit beeld ons elkeen se toestand voor God uit. Ons is skuldig en vuil. Daar is geen manier dat ons kan vrykom van die straf wat ons verdien nie. Tog gebeur die ongelooflike! God sê vir die engel om die vuil klere van Josua af weg te neem en vir hom nuwe klere aan te trek. God verklaar verder dat Hy al sy skuld weggeneem het. Sagaria 3:4  Daarop het Hy aangehef en gesê aan die wat voor Hom staan: Neem die vuil klere van hom weg. Toe sê Hy vir hom: Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem, en Ek beklee jou met feesklere. Hoe is dit moontlik?

‘n Verlosser

In Kolossense word die antwoord gegee. Kolossense 2:13-14  En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael. Eenmalig en volkome is dit gedoen. Ons vuil kleed het Jesus aangetrek en sy kleed vir ons gegee. Luister hoe Jesaja profeteer het wat sou gebeur: Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Jesaja 53:5.

 In die Bybelse tyd is ’n plakkaat met jou oortreding bo jou tronksel gehang. As jy jou vonnis uitgedien het, is die plakkaat vir jou gegee en nou was dit soos ’n trofee wat bewys het dat jy die prys betaal het. Op die plakkaat is geskrywe τετέλεσται (tetelestai) wat volledig betaal beteken. Johannes vertel ons dat Jesus se laaste woorde aan die kruis was: “tetelestai”,  wat vertaal is as volbring. Johannes 19:30  En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee. Ons skuld is betaal ten volle!

Slot

In hierdie Sondag se vrae word ons gebring van ’n skuldige gevangene, hopeloos en sonder die wil en vermoë om iets aan ons toestand te doen, na ’n vry gekoopte koningskind, dankbaar en skoon voor die genadetroon van ’n barmhartige God. Rus hierin, leef hieruit en verheerlik Hom.