Vraag 6: Het God die mens dan so sondig en verkeerd geskep?
Antwoord: Nee, God het die mens goed en na sy ewebeeld geskep. Dit beteken: in ware geregtigheid en heiligheid, sodat hy God sy Skepper reg kon ken, Hom van harte kon liefhê en saam Hom in die ewige saligheid kon lewe om Hom te loof en te prys.
Vraag 7: Waar kom hierdie verdorwe natuur van mens dan vandaan?
Antwoord: Van die val en ongehoorsaamheid van ons eerste ouers, Adam en Eva, in die paradys. Daar het ons natuur so verdorwe geraak dat ons almal in sonde ontvang en gebore word.
Vraag 8: Is ons so verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie en tot alle kwaad geneig is?
Antwoord: Ja, behalwe as ons deur die Gees van God weergebore word.
Inleiding
Goed – so nou het ons uit die vorige inskrywings duidelik besef dat ons toestand voor wedergeboorte ellendig is. Nou, net soos wat die mens maar is, wil ons weet wie se skuld dit dan is? Dit is tog sekerlik nie ons eie skuld nie?! As dit nie ons skuld is nie, dan moet dit God s’n wees. Hoekom het hy ons so gemaak dat ons in hierdie ellendige toestand beland het? Het Hy ons dan so sondig en verkeerd geskep?
God maak nie foute nie
Die fout is nooit aan God se kant nie. Hy het die mens gemaak sonder enige sonde en geskep na Sy beeld. Die mens het dus verstaan wat reg en verkeerd is, het alles gedoen net soos God dit bepaal het, was in alles gehoorsaam aan God en sonder enige sonde. As gevolg van hierdie toestand was daar onverhinderde kommunikasie tussen God en mens. Elke keer as God na hulle toe gekom het, kon hulle met God vrylik gesels. Die mens kon God reg ken, omdat God homself aan die mens openbaar het en uit hierdie verhouding sou liefde spontaan vloei vir hierdie God wat hom gemaak het. Die mens, sonder kennis van wie God is, sal God nooit liefhê nie. Hoe meer die mens God leer ken het hoe meer sou lofprysing en aanbidding ook spontaan voorkom. God het die mens dus perfek gemaak. Sonder enige sonde. Om volmaak te wees gaan egter verder en sê dat, nie net is ’n persoon sonder sonde nie, maar sy begrip en kennis van God is volmaak en daarom sal jy nooit sonde doen nie. Adam en Eva het dus die keuse gehad om sonde te doen al dan nie. Hul kennis van God was nog nie volmaak nie, want hulle het ’n leuen van die Satan oor God geglo, nl. dat Hy sou jok. Hulle is ongehoorsaam aan God se bevel en deur hierdie sonde val die hele mensdom.
Die Sondeval
Alles verander met die sondeval. Kommunikasie is verbreek a.g.v. die mens se sonde. Die vermoë om met God vrylik te kommunikeer is verloor. Die mens het die vryheid gehad om te kies tussen reg en verkeerd. Dit was die laaste keer wat die mens in die toestand was om die goeie te kies. Hierdie vermoë het die mens na die sondeval verloor. Die mens is dus nie meer in staat om op sy eie God te kies nie. Die sonde van Adam, as die verteenwoordiger van alle mense, het veroorsaak dat elke mens deurtrek is van sonde van geboorte af. Romeine 5:12 Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het. Dit is duidelik vir elke ouer dat sy/haar kind in sonde gebore is. Hiermee stem die Skrif ook ooreen. Psalm51:7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang. Van kleins af kom daardie “eie ek” en my eie wil baie sterk na vore. Baie mense dink dit is onregverdig dat hulle die gevolge van Adam en Eva se sonde moet dra. Adam en Eva is perfek gemaak. Daar is nie trappe van vergelyking as dit by die byvoeglike naamwoord “perfek” kom nie. Indien jy perfek geskape sou wees, sou jy dieselfde as hulle doen. Jy kon nie meer perfek as hulle wees nie. Ons sou dus net soos hulle sondig. Indien hierdie antwoord vir jou bietjie vaag is en ja, ek weet dit is vir ons moeilik om te verstaan, dink daaroor dat God alreeds voor die skepping van die mens die Reddingsplan bewerk het. Nog voordat ons geskape is, het God geweet dat die mens sou sondig en dat Hy sy Seun sou stuur as Redder vir die mens. Handelinge 2:22 Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus, die Nasaréner, ‘n man deur God vir julle aangewys met kragte en wonders en tekens wat God deur Hom onder julle gedoen het, soos julle ook self weet— Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring. Dit word verder bevestig deur die uitverkiesing wat voor die grondlegging van die wêreld gemaak is. Openbaring maak dit ook verder duidelik dat, as gelowiges, ons name in die Boek van die Lewe geskrywe is. Openbaring 13:8 En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie. Lees die vers weer en kyk of jy sien in watter boek ons name opgeskryf is? Ja, ons name is voor die grondlegging van die wêreld in die boek van die Lam opgeskryf. Dit veronderstel dat daar ’n Lam sou wees!
Die Redding
God in Sy Almag het geweet dat die mens sal sondig. Die vraag hoekom Hy dan die mens gemaak het word oor en oor beantwoord in die Woord: Op grond van Sy genade en liefde. God wou hê ons moet beleef wat in die Drie-eenheid in ewigheid altyd beleef word – volmaakte liefde en gemeenskap.
Is ons nou so verdorwe dat ons glad nie in staat is om iets goeds te doen nie? Sal ons vir ewig geneig wees om net die kwaad te doen? Ja, behalwe wanneer God deur Sy Gees ons “weer oor maak.” Hierdie gevalle toestand word weer herstel deur wedergeboorte wat deur God geïnisieer word. Efesiërs 4:24 en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. Die sonde bedek die wêreld se oë en hulle sien Hom nie soos Hy is nie en daarom is daar by hulle nie ontsag vir Hom nie. Hierteenoor staan die gelowige waarvan 2Korintiërs 3:18 sê “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.” Hoe meer Adam en Eva God sou leer ken het hoe meer sou hulle Hom loof en aanbid. Dit wat waar was vir Adam en Eva is nou ook waar vir die gelowige vandag. Dit word moontlik gemaak alleen deur die werking van die Heilige Gees waarvan die vorige vers in 2Korintiers 3 getuig. 2Korintiers 3:17 Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. Ons word dus in staat gestel om die goeie te doen deur God se werking in ons lewens. 2Korintiers 3:5 Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God.
Slot
Die skuld vir ons sonde lê by ons. Wanneer ek en jy besef dat die verantwoordelikheid van ons verkeerde dade nie oorgeplaas kan word op iemand anders nie – nie jou broer of suster, of ouers of onderwysers of regering of Adam en Eva nie, maar dat dit eindig by jou raak die skuldlas ondraaglik swaar. Is daar dan niemand wat my kan help om dit te dra nie? Christus kom nie om jou te help om dit te dra nie, nee hy kom en neem jou sonde op Hom, betaal jou skuld en maak jou vry. Hy neem die las heeltemal weg! Verder gee Hy jou Sy Gees om jou te leer om God volkome te ken, sodat jy Hom van harte kan liefhê en die ewigheid saam met Hom kan lewe om Hom te loof en te prys. Die bron van ons redding lê by God!
