Vraag 3-5 Kan ek die wet hou?

Vraag 3: Waaruit ken jy jou ellende? Antwoord: Uit die wet van God.

Vraag 4: Wat eis die wet van God van ons? Antwoord: Dit leer Christus ons samevattend in Matteus 22:37-40: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelyk staan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

Vraag 5: Kan jy dit alles ten volle nakom? Antwoord: Nee, want ek is van nature geneig om God en my naaste te haat.

Inleiding

Ons enigste troos in lewe en in sterwe is om aan Jesus Christus te behoort. Om hierdie troos ten volle te ervaar moet ons eers tot die besef kom van wie ons is en wie God is. Ons moet besef dat ons ellendige mense is. In hierdie era van selfverheffing, erkenning en herhaaldelike bevestiging van jou waarde as mens, klink die boodskap van die mens se ellendige toestand soos die skuur van bordkryt op ’n swartbord. Die meeste mense druk hulle ore daarvoor toe in absolute afgryse. Hoe durf jy hierdie boodskap aan mense bring? Die boodskap is egter waar en belangrik, want daarsonder kan ons nie tot die heerlikheid wat daar in Christus is kom nie. Die vraag is egter nie so seer dat dit waar is nie, maar hoe om hierdie boodskap te verkondig in hierdie tyd van die verheerliking van die mens?

 Die Wet van God

Die Wet van God ontbloot my vir wie ek werklik is. Daar is geen manier om verby die wet te stap sonder dat jy diep gewond is rakende jou sonde en ellende nie. Romeine 3:20  aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sondeEk ontdek hoe skuldig ek is voor God. Dit is egter baie belangrik om te besef dat ook hierdie openbaring slegs deur God kan plaasvind. Hoeveel mense sit in kerke waar die wet al vir jare elke Sondag as deel van die liturgie voorgehou word. Dit word egter gebruik om ons buurman mee te beoordeel en om beter te voel oor die feit dat ons darem nie steel, of moor of owerspel pleeg nie. Die verhaal van die rykman wat na Jesus kom met die idee dat hy ’n goeie man is, illustreer hierdie feit so goed. Jesus hou vir hom die wet voor as ’n maatstaf om te bepaal of hy ’n goeie mens is. Die man se antwoord op Jesus se vraag of hy die hele wet onderhou is positief. In hierdie man se oë is daar nie een deel van die wet waaraan hy skuldig is nie. Sy lees van die wet is oppervlakkig. Jesus ken egter sy hart en laat hom diep in die spieël van die wet na homself kyk. Jesus druk op die kanker in sy lewe, deur te begin by die eerste van die tien gebooie  – en dit maak seer! Het jy God meer lief as enige iets anders in jou lewe? Lukas 18:22  En toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom: Nog een ding ontbreek jou—verkoop alles wat jy het, en verdeel dit onder die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê; kom dan hier, volg My. Gaan verkoop alles wat jy het en volg my. Is jy bereid om God te gehoorsaam al kos dit alles wat jy het. Ons ken almal die einde van die verhaal waar die jongman hartseer wegstap. Die man is ontbloot. Hy is gewond en moet dit óf bely óf wegstap van die een voor wie Hy ontbloot is –  die Woord wat mens geword het. Wanneer God jou ontbloot, wanneer die woorde van die wet lewend word in jou lewe en ’n lig word wat die vuil en gemors duidelik maak, moet jy met jouself eerlik wees oor wie jy is kragtens die heiligheid wat God verlang. Judas was net so ontbloot nadat hy Jesus verraai het. Hy was ook bedroef soos die ryk jongman en ontbloot vir wie hy werklik is. Die ryk jongman en Judas was hartseer. Daar is nou net twee opsies: Of jy vind jou troos in Christus of jy probeer dit regmaak op jou eie. Ongelukkig, net soos die ryk  jongman, vlug Judas nie na Christus wat hang aan ’n stuk hout nie, maar in Judas se geval na ’n ander boom om homself aan op te hang en vry te kom van sy skuld.

Die eise van die Wet

Die Tien gebooie is in diepte behandel in die inskrywings oor die Westminster belydenis, maar ons gaan vinnig na die samevatting van die wet kyk. Jesus vat die Wet saam in twee gebooie, nl. liefde vir God en liefde vir ons naaste. Die wet vereis in die eerste drie gebooie, wat saamgevat word in liefde vir God, dat niks belangriker moet wees in jou lewe as om God lief te hê nie. Die liefde “met jou hele hart” beteken die plek waar jou emosies gesetel is. Jou emosies word geplaas onder die beheer van God. Jou liefde vir God dryf jou om alles wat jy ervaar en beleef onder sy beheer te plaas en geen emosies word bo jou liefde vir God gestel nie. Die emosionele liefde word gevoed deur “met jou hele verstand.” Daarom groei die emosionele liefde soos wat jou kennis van God toeneem. “Met jou hele siel” veronderstel jou hele lewe. Hierdie drie komponente is onlosmaaklik deel van mekaar. Emosionele (harts) liefde sonder enige ware kennis van die objek van jou liefde is soos ’n persoon wat verlief raak op ’n TV karakter. Dit is net ’n gevoel en verdwyn gewoonlik soos mis voor die son die oomblik as jy die persoon regtig leer ken of as dit jou iets begin kos.

Hoe ek voel of wat ek dink moet altyd ondergeskik wees aan “liefde met my hele siel.” Ek neem elke gedagte gevange en evalueer my denke op grond van God se Woord en nie God se Woord op grond van my denke nie. Dieselfde geld vir my gevoelens. As die Woord sê ek moet  my vyand vergewe, gaan doen dit – op grond van gehoorsaamheid en nie op grond van of ek vergewensgesind voel of nie. My denke of emosies kan nooit gebruik word om te bepaal of dit wat God sê reg of verkeerd is nie. 1Korintiers 1:19  want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak.

Die tweede gebod vat die ander 7 gebooie van die tien gebooie saam in die woorde: “Jy moet jou naaste liefhê soos jyself” Geen mens kan voor hierdie gebod staan en sê dat hulle dit maak nie. Om jou man of vrou lief te hê soos jouself is al klaar onmoontlik, wat nog te sê om jou vyande lief te hê! Mattheus 5:44  Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê. Van die dag wat ons gebore is, gaan dit oor jouself. Ek, myself en myne. Jy sien dit die beste in ’n kind van twee jaar, wat alles wil hê vir hom/haarself. Hoe ouer mense word hoe meer leer hulle om hierdie instink mooi te verdoesel onder allerhande goeie gedrag wat meer aanvaarbaar is vir die wêreld. Maar elkeen weet dat hierdie monster elke nou en dan sy verskyning maak. Geen mens kan op sy eie vrykom van die eie ek nie. Ons kan nie een van hierdie twee gebooie ten volle nakom nie. Romeine 8:7  omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. Hierdie gedeelte stel dit mooi, ons kan nie God se wet nakom nie. Dit is juis hier waar God my wil bring deur die wet, by die plek dat ek erken ek is ’n sondaar en daar is geen manier dat ek myself kan red nie. Galasiërs  3:24  Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.

Slot

Jou pad na geluk begin met hartseer en ellende. Dit eindig in heerlikheid! Dit begin deur te kyk in ’n spieël wat duidelik, met Geestes oë verhelder, vir ons wys hoe vêr ons te kort skiet. ’n Spieël wat duidelik die kontras tussen hoe ons moet lyk en hoe ons lyk weerkaats. Ons het ’n Redder nodig en ons vind Hom in heerlikheid aan die kruis van Golgota. Dieselfde spieël weerkaats nou Sy heerlikheid soos wat hy elke dag meer en meer in my lewe sigbaar word.

Wat ’n Troos, wat ’n Redder!