Sondag 1 Troos want jy verstaan…

Vraag 2: Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe? Antwoord: Drie dinge: Ten eerste, hoe groot my sonde en ellende is; ten tweede; hoe ek van al my sonde en ellende verlos word en ten derde hoe ek God vir so ‘n verlossing dankbaar moet wees.

Inleiding:

Ons vind in die Bybel die gelykenisse van die skat wat deur verskeie persone gevind word. Dit is vir die persoon wat dit vind soveel werd dat hy alles sal verkoop om dit te bekom. Die skat is die Blye Boodskap – die Evangelie van Redding deur Jesus Christus. Wat maak ’n skat kosbaar of waardevol? As ek iets besit wat geen verandering in my lewensomstandighede gaan bring nie, kan dit hoe waardevol wees – vir my is dit betekenisloos. ’n Skat beteken rykdom, hetsy finansieel of emosioneel, vir die een wat die skat besit andersins is die benaming daarvan verkeerd. Net so moet ’n troos rus en vrede (saligheid) bring, andersins is dit geen troos nie. Ons weet dat die troos vir hierdie lewe is om aan Jesus Christus te behoort, maar vir ons om die volheid van hierdie troos te ervaar moet ons eers hartseer wees. Ons moet die waarde daarvan besef en ons moet opreg daarvoor dankbaar wees.

Besef hoe groot my sonde en ellende is

Wie is jy, daar waar niemand jou sien nie, daar in jou gedagtes, diep in jou siel? Vir die meeste mense is introspeksie nie die lekkerste tydverdryf nie. Om die waarheid te sê ons vul ons dag met “lawaai” net om weg te kom van daardie stilte wat sê “Ek ken jou” Baie mense probeer omseil wie hulle werklik is. Ons probeer altyd onsself in ’n beter lig plaas. Ons probeer verskonings maak vir die verkeerde wat ons doen en vergelyk ons dikwels met ander: “Almal doen dit” of “Ten minste is ek nie so sleg soos …….” nie. Dink bietjie hoe sal jy lyk as dit wat jy vandag gedink het op die voorblad van ’n koerant gedruk moet word, of dit wat jy gister gekyk het of in iemand anders sê oor gefluister het? Charles Spurgeon het gesê as iemand sleg van jou dink moenie kwaad raak nie, want jy is slegter as wat hy dink.

Hierdie gedagte is vreemd vir die wêreldling. Ons word vandag vertel hoe wonderlik ons is en die ergste van alles is dat hierdie beeld tot in kerke vir ons voorgehou word. Die boodskap is dat dit omstandighede is wat mense of goed of sleg maak. In onlangse navorsing van Ligonier is die stelling aan mense gemaak dat elke persoon ’n bietjie sondig, maar dat die meeste mense natuurlik goed is, waarop jy moes sê of jy saamstem of daarmee verskil. Slegs 27 persent van Evangeliese Christene het met die stelling verskil. Waarom het ons nog die evangelie(blye boodskap) nodig? Hoekom is dit enigsins ’n Boodskap waaroor ons opgewonde kan raak as ons onsself by die skoenveters kan optrek?

In Jesus se dae was die Fariseërs die verpersoonliking van hierdie denke. Hulle het hulleself as goed beskou. Die voorbeeld van die Fariseër wat bid saam met die tollenaar illustreer hierdie denke van die Fariseërs baie goed. Lukas 18:11  En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie—rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Luister baie mooi na die Fariseër se gebed. Eerstens glo hy in God. Hy erken verder dat die rede hoekom hy beter as ander is alles te danke is aan God. Die Fariseër se probleem is dat hy nie besef dat ons maatstaf nie ons medemens is nie, maar wel God. God se reinheid is die standaard waarvolgens ons regverdigheid bepaal. 1Petrus 1:16  omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig As Hy die standaard is hoe vêr skiet ons dan te kort? Daarom sê Jesus: “Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering”. Markus 2:17. Dit sê Hy aan Jode wat moes verstaan het dat niemand regverdig is nie.  Jesaja 64:6  En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind. Job 4:18  Kyk, in sy dienaars stel Hy geen vertroue nie, en by sy engele ontdek Hy dwaling. Elifas, Job se vriend, laat Job weet dat die mens hom/haarself nooit kan regverdig nie, want tot die engele kan nie met God se standaard vergelyk word nie. Job 4:18 … en by sy engele ontdek Hy dwaling.

Sommige mense se sondes lê aan die wêreld ontbloot en hulle dra die gevolge daarvan in mense se negatiewe reaksies teenoor hulle. Dit klink dalk vreemd, maar soms is dit ’n voorreg om jouself so ontbloot in ander se afkeur te sien. Ander se sondes is weggesteek en die wêreld maak dit vandag maklik om ’n masker voor te hou. Die Woord van God kom egter en ruk hierdie masker af in die spieël van die wet. Sien jouself! Kyk en kyk goed. Jy ellendige, hartseer mens – het ’n Verlosser nodig!

 Hoe kan ek van my ellende verlos word?

As jy eers jouself gesien het vir wie jy waarlik is, smag jy soos ’n wildsbok na waterstrome. Nie rykdom, mooi klere, goeie werke of enige ander redder kan jou skoonmaak nie. Baie mense probeer dit sonder sukses. Dan kom die uitroep: “Help my Here. Hoe kan ek vrykom en verlos word van my sonde?” Jy kom vry van jou sonde deur te glo in Jesus Christus en Sy versoening vir jou aan die kruis. Deur genade, in geloof in Christus alleen. Die realiteit van die Verlossing wat plaasgevind het deur God self wat mens geword het en die straf in my plek kom dra het en die Verlossing vir my kom bewerk het, is die begin van die Ewige lewe. Met hierdie wete kan ek die troos volkome ervaar. Die verstaan dat God se plan van ewigheid was om my te verlos deur die Seun van God. Dit is die enigste manier tot verlossing. Johannes 14:6  Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. 

Dankbaar

In die proses van geestelike ontwaking, as ek God leer ken soos Hy Homself vanuit die Skrif openbaar, volg daar ’n dankbaarheid wat elke dag saam met my kennis van die Skrif groei. As ek werklik my toestand van sonde besef en besef hoe wonderlik dit is wat Christus vir my kom bewerk het, volg ’n lewe van dankbaarheid wat sigbaar word in my gehoorsaamheid aan die Vader waaraan ek nou behoort. Die verhaal van die vrou wat Jesus se voete salf, word die verhaal van elkeen van ons. Omdat ons weet hoe baie ons vergewe is, het ons Christus baie lief en volg ons dade uit ons geloof dat ons nou vry is en waarlik aan Hom behoort

Slot

As jy sê dat jy ’n kind van God is, vrygekoop deur Jesus Christus, het jy ’n troos vir hierdie lewe. ’n Troos wat ons vrede en rus en ware geluk bring. As jy hierdie troos nie het nie, verstaan jy nie ten volle wie jy was en wat jy nou in Christus is nie. Hierdie troos word ryker en voller hoe meer jy Jesus leer ken. Dit is die Ewige lewe.  Johannes 17:3  En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.

Dankie, Jesus.