Vraag 1 Heidelbergse Kategismus

Sondag 1 Vraag 1: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Antwoord: Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe (a) nie aan myself (b) nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort (c). Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal (d) en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos (e). Hy bewaar my op so ‘n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie (g). Alles moet inderdaad tot my saligheid dien (h). Daarom verseker (i) Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe

Inleiding

Die lewe is moeilik. Alle mense sterf. Dit is feite. Dit geld vir alle mense, gelowig en ongelowig. Die Heidelbergse kategismus  begin met ’n antwoord op hierdie werklikheid. Net soos die Westminster Belydenis wat begin met die vraag na ons doel op aarde, wil die Heidelbergse kategismus gelowiges se oë rig op die troos van ons bestaan. Ons behoort aan Jesus Christus!

Troos

Dit is belangrik om te let op die woord “troos”. Alle mense gaan op een of ander stadium in hul lewe troos nodig hê. Indien jy ongelowig is en hierdie wêreld is al waaroor dit vir jou gaan, is daar vir jou geen troos wanneer dinge hier verkeerd loop nie. Hoe troos mens gewoonlik iemand wat hartseer is? Jy wys die persoon na iets beter, iets om na uit te sien. Jy laat die persoon spesiaal, gekoester en veilig voel. Die moeilikste persoon om te troos is ’n ongelowige, want jy kan net jouself aanbied om hierdie rol te vervul. Jy wat self onderworpe is aan swakhede en die seisoene van die wêreld. Vir die gelowige is die troos egter vas en seker. Jy is spesiaal, want jy behoort aan Jesus Christus. Hy het jou verlos van jou eie sonde en sal jou vashou te midde van die sonde van ander en die verganklikheid van hierdie wêreld.

Verhouding met God

Die belangrikste verhouding wat ons kan hê is ’n verhouding met God. Jesus Christus kom maak hierdie verhouding moontlik. Hy het ons verlos van ons sonde. Ons behoort aan Hom en in Hom het ons vrye toegang tot die Vader. Hy het ten volle vir my betaal en dit was nie ’n goedkoop prys nie.  1Korintiers 6:20  Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort. Ek het dit as ’n troos dat as Hy hierdie prys met Sy lewe betaal het, Hy my ongelooflik lief het en dat die prys ten volle betaal is. Hierdie verhouding met God sal uitvloei in my verhouding met my medemens. 1Johannes 4:11  Geliefdes, as God ons so liefgehad het, behoort ons ook mekaar lief te hê. Die troos dat ek aan Jesus Christus behoort maak my vry van die slawedrywers van hierdie wêreld – vry van die konstante druk om jouself aan ander te bewys of om wêreldse sukses te bereik – om jou naam in die wolke te skryf. Jou naam is alreeds gegraveer in die palm van die Een wat die wêreld regeer en wat jou so lief het dat Hy bereid was om vir jou te sterf. Hierin moet my vertroue en my vreugde geplaas word. Dit behoort jou vry te maak om ander lief te hê sonder naywer en jaloesie en jou te vul met nederigheid en dankbaarheid. Die bewustheid dat ek nie aan myself behoort nie verander my hele lewens uitkyk. Ek is ’n slaaf van Christus en niks is vir my belangriker as Hy nie. Filippense 1:21  Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins. Die gelowige moet hom/haarself voortdurend afvra of dit die manier is waarvolgens hulle lewe. Is Christus jou troos? Is Christus jou roem?

Die geestelike oorlog

Ek het ook die troos dat ek van die duiwel en sy heerskappy verlos is. Eph 2:1-2  En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk. Die hele wêreld is onder die heerskappy van die Satan geplaas totdat Christus weer sal terugkeer en die duiwel finaal in die hel gewerp sal word. Ons is dus nie meer slawe van die sonde en die duiwel se heerskappy om te doen wat hy wil hê nie. Ons is vrygemaak en word verklaar as oorwinnaars deur Christus wat ons die krag gee. Ons het verder ook die versekering dat niks wat hy kan doen ons kan skei van die liefde wat daar in Christus is nie. Romeine 8:38-39  Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie. Jy hoef nie vir die brullende leeu bang te wees nie.  1Petrus 5:8  Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. Daar is nie ’n vloek of ’n binding of ’n besetenheid wat jy hoef te vrees nie. Die Een wat binne-in jou woon is sterker as die een wat probeer om jou te vernietig. 1Johannes 4:4  Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is. Watter vreugde en troos is dit nie vir die gelowige nie?!.

 Fisiese realiteit

Die kategismus wil ook vir ons daarop laat let dat God in beheer is van alles wat gebeur in my lewe en dat alles gebeur ter wille van my geestelike groei. Romeine 8:28  En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Ons sê baie keer voorspoedige nuwe jaar of gelukkige nuwe jaar. Die puriteine het gesê geseënde nuwe jaar. Hiermee het hulle bedoel – mag elke ding wat hierdie jaar gebeur vir jou tot geestelike groei wees. Geluk is nie gesetel in ’n fisiese “lekker gevoel” nie, maar in die wete dat elke ding wat in my lewe gebeur daar is om my nader aan die Here te bring – die bron van ewige geluk! Selfs as Hy my tug is dit sodat ek sonde sal verlaat en leer om gehoorsaam te wees. Hebreërs  12:10  Want húlle het ons wel ‘n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word. Enige iemand wat ’n vrees het en wonder watter slegte dinge God nou weer oor my pad gaan stuur, verstaan nie die liefde wat God vir hom/haar het nie. Hoe anders sou Paulus kon leer dat God se genade vir hom genoeg is as hy nie ’n doring in sy vlees ervaar het nie.? Job 13:15  Kyk, al wil Hy my ombring—ek hoop op Hom; ek sal tog my wandel voor sy aangesig bepleit.  Geen haar sal sonder Sy toestemming van jou kop afval nie. Dit is ons troos! In siekte, in armoede, in hartseer, in teleurstelling, in bekommernisse, ja, in alle storms van die lewe, kyk na Jesus en vind jou troos in die feit dat jy aan Hom behoort.

Onsekerheid

Die grootste vrees vir die meeste mense is seker die dood. Die onsekerheid oor wat presies met jou gebeur as jy sterf. Hoe kan ek verseker weet dat ek die ewige lewe gaan beërwe en dat ek gered is? Ook hierin word ons getroos. As Sy kind het ek die sekerheid deur die Gees wat in my woon dat ek die ewige lewe besit. 2Korintiers 1:22  wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het. Die Gees is dus die bewys dat ek gekoop is en aan Hom behoort, dat ek kan uitroep “Abba Vader”.  As ek die Heilige Gees se werking in my lewe ervaar gee dit my die versekering dat ek aan God behoort. Die sekerheid van die Heilige Gees se teenwoordigheid in my lewe word deur die kategismus geïdentifiseer as die gewilligheid om die Woord van God te doen en die feit dat ons ook in staat gestel word, die krag ontvang, om dit te doen. Filippense 2:13  want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae. As jy dus nie die begeerte het om God se Woord te gehoorsaam nie kan jy nie bely dat die Gees in jou leef nie. Al is daar ’n stryd teenwoordig in my lewe, is ek nuutgemaak en het ek nou die begeerte om God te gehoorsaam. Romeine 8:8-9  En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie; julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.  As my enigste troos is dat ek aan Hom behoort is dit ’n berusting dat Hy met my sal besig bly totdat Hy my kom haal. Die goeie werk wat Hy in my begin het – sal Hy enduit voer tot die dag wat ek my laaste asem uitblaas en my oë oopmaak in Sy teenwoordigheid. Die gelowige sterf nooit nie. Ons het alreeds deel aan die ewige lewe en daarom is die troos dat ons “in lewe en in sterwe” aan Jesus Christus behoort. Ons weet dat ons in Christus is en daarom geregverdig voor God sal staan.

Slot

Ons hoef niks in hierdie lewe of in sterwe te vrees nie. Ons hoef nie ongelukkig of bekommerd te wees oor enige iets, fisies of geestelik, nie. Al is die lewe moeilik – ons het ’n troos – ons behoort aan Jesus Christus ons Verlosser!