Vraag 105: Waarvoor bid ons in die 5 de versoek?
Antwoord: In die 5de versoek (“Vergewe ons ons sonde, net soos ons ook ons skuldenaars vergewe”), bid ons dat God, om Christus ontwil, ons vryelik sal vergewe van al ons sondes en ons word aangemoedig om dit te vra, omdat ons deur God se genade, in staat gestel word om uit die hart uit, ander te vergewe.
Inleiding
Vergifnis is een van daardie dinge wat almal nodig het om te ontvang en te gee. Dit kan gesien word as die losmaak van ’n slawe ketting wat ons bind aan die verkeerde wat ek aan iemand gedoen het, of wat iemand aan my gedoen het. Dit is die uiteindelike genesing van ’n wond – daar is altyd eers die pyn. Enige persoon wat al nodig gehad het om iemand te vergewe – al is daardie persoon soms jy self – sal weet dat dit nie maklik is nie. Daar is al legio sogenaamde “selfhelp” boeke geskryf oor die onderwerp en sinne soos “vergewe maar nie vergete” is ou clichés. Die belangrikste om egter te onthou is dit: “Elke sonde is teen God en teen Hom alleen” Voor ek nie besef dat ek vergifnis nodig het van die Lewende God nie, is enige vergifnis wat ek van mense wil ontvang, of wat ek iemand anders wil aanbied, leeg.
Sonde teen God
Wanneer ons deur die heilige Gees lewende gemaak word om die grootheid van God raak te sien, is een van die eerste gewaarwordings wat daarop volg hoe vêr ons te kort skiet van God se Heiligheid. Die gelowige is terdeë bewus van sy/haar afhanklik van die vergifnis van God. Sonder sy vergifnis is daar geen hoop vir ons in hierdie lewe en die een hierna nie. Daar is geen manier om te vergoed of terug te betaal vir die verkeerde wat ons doen teen die Lewende God nie. As ons sondig verstaan ons dat dit altyd eerstens teen Hom is wat ons oortree het. Nadat Dawid met Batseba gemeenskap gehad het en Uria dood gemaak het om alles toe te smeer, kom Natan na hom toe en ontbloot sy sonde. Dawid bely sy sonde dan in Psalm 51 deur te erken dat hy teen God gesondig het. Psalm 51:6 Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou. Daarom verdien elke sonde die ewige straf, want dit is ’n oortreding teen die ewige God. As ek iemand anders te nagekom het en ek wil dit regstel, vra ek om vergifnis en probeer daarvoor vergoed. Gestel ek het iets van iemand gevat wat nie aan my behoort nie, sal ek dit probeer vervang of dalk terugbetaal. As ek besef dat ek teen God gesondig het, weet ek dat daar geen manier is wat ek daarvoor kan vergoed nie. My vergifnis hang totaal af van God se genade. Ons verstaan dus dat ons nie na God kan gaan en vir Hom vra om ons te vergewe op grond van iets wat ons gedoen het of nog sal doen nie. Daniel tree in namens die volk wat weggevoer is in ballingskap en bid dat God hulle sal vergewe nie op grond van iets wat hulle na die tafel kan bring nie, maar op grond van wie Hy is. Daniel 9:18 Neig u oor, my God, en hoor, open u oë en aanskou ons verwoeste plekke en die stad waar u Naam oor uitgeroep is; want nie op grond van ons geregtigheid werp ons ons smekinge voor u aangesig neer nie, maar op grond van u grote barmhartigheid. Ons kan alleen aan die kruis vasgryp en smeek dat op grond van Christus se soen verdienste, ons sonde vergewe sal word. Ons kan dit doen met volle vertroue in Sy beloftes dat Hy ons sal vergewe as ons met ’n ware berou na Hom toe kom. 1 Johannes 1:9 As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. Aan die kruis het Hy al ons sonde gedra en die straf wat ons moes ontvang het Hy gedra. Jesaja_53:5 Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
Dankbaarheid
Hoe dankbaar behoort die gelowige nie te wees as ons besef ons is vergewe nie? So baie persone wat bely dat hulle gelowiges is, gaan so ligtelik met sonde om, dat jy kan sien dat hulle nie ’n besef het van wat sonde Christus gekos het nie. Ek het al gehoor dat iemand sê hy/sy gaan iets doen wat hulle weet sonde is, want “God sal my mos vergewe”. Dit is Godslastering! Ek glo nie iemand wat waarlik ’n kind van die Here is, kan so praat nie. Ware berou, bring ware vergifnis en diepe dankbaarheid. As Maria Magdalena Jesus salf met olie en huil op sy voete en sy voete afdroog met haar hare, as ’n openbaring van haar dankbaarheid teenoor Hom, staan Simon veroordelend na haar en kyk. Hierdie Simon was volgens die Bybel ’n melaatse man voordat hy deur Jesus genees is. Hoe moes hy nie haar dankbaarheid verstaan het nie?! Jesus vertel dan vir Simon ’n verhaal. In die verhaal het twee manne skuld – die een baie en die ander min. Albei se skuld word egter deur hul skuldeiser afgeskryf. Nou die vraag aan Simon: “… sê nou, wie van hulle sal hom die meeste liefhê?” Lukas 7:42. Hierop antwoord Simon dat die een wat die meeste skuld gehad het sekerlik die dankbaarste sal wees en Jesus beaam dit deur te sê dat die waarvan baie vergewe is, het baie lief. Die grootste gevaar lê daarin dat jy kan dink dat jou sonde wat vergewe is minder is as iemand anders sin. Jou sonde is teen die ewige, oneindige God en dus maak dit nie saak wat die sonde is nie dit is oneindig groot. In wiskunde is enige getal gemaal met oneindig, oneindig. Daarom is daar geen plek in die familie van gelowiges vir individue wat dink dat hulle beter is as ander gelowiges nie.
Vergewe ander
My eie sondebesef is bepalend in my vergifnis teenoor ander wat my te na kom. As ek verstaan hoe groot my sonde is, is die sonde van ’n individu teenoor my so klein in vergeleke daarmee. As Petrus vir Jesus vra of dit genoeg is as hy ’n persoon sewe keer vergewe wat teen hom sondig, antwoord Jesus: Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe. Mattheus 18:22. ’n Jood het geglo dat jy niemand meer as drie keer moet vergewe nie. Petrus probeer hier eintlik wys dat hy genadig is om sewe keer voor te stel. Jesus wil nie ’n getal voorstel nie, maar wel ’n dankbare hart wat bereid is om iemand elke keer te vergewe as hy/sy daarvoor vra. Hierdie hart kan alleen gebore word uit ’n gelowige wat besef dat hierdie getal klein is in vergelyking met die hoeveelheid kere wat ek teen God sondig en na Hom gaan om my sonde te vergewe.
Die waarskuwing wat na die Onse Vader volg, is dat as ons nie ander vergewe nie sal die Here ons ook nie vergewe nie. Mattheus 6:14 Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Dit klink dalk baie hard, maar dit volg logies uit alles wat Christus ons kom leer. As jy ’n wrok teen mense hou of iemand nie vergewe nie, wil God hê jy moet weet dat Hy jou ook nie sal vergewe nie. Hoekom nie? Want jy besef nie jou eie sonde teen ’n oneindige God nie en het dus nie ware berou nie. Jy besef nie die offer wat deur Christus vir jou betaal is en waardeur jy vergifnis ontvang het nie en daarom is jy nie dankbaar nie. As gelowiges word ons opgeroep om ander te vergewe soos Jesus vir ons vergewe. Efesiërs 4:32 Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.
Wat is vergifnis?
Ons lees in die Bybel dat God ons sonde vergewe en nie weer daaraan dink nie. Dit word verwyder so vêr soos die ooste van die weste. Dit is verby – weg. Psalm 103:12 So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. God ken die mens se hart en weet wanneer berou eg is. By ons is dit egter anders, omdat ons die harte van mense nie ken nie. Elke persoon wat al deur iemand seergemaak is, van ‘n skinderstorie tot die geweld van ’n moord of verkragting, sal weet dat hierdie tipe vergifnis by die mens ’n feitlike onmoontlikheid is. Die pyn word weggebêre en elke nou en dan kom dit na die oppervlak om ons weer te slaan met agterdog en selfs wraakgedagtes. Sommige Psalms word vir jou so mooi – nie as gevolg van die vertroue en berusting wat Dawid in die Here vind nie, maar as gevolg van die roepe na vergelding teen sy vyande.
Vergifnis is nie daar om wat iemand teen jou gedoen het af te maak as: “Toemaar dit is niks nie” Jy jok gewoonlik vir jouself en moet dit oor en oor doen om so ’n oppervlakkige vergifnis ’n realiteit te probeer maak. Nee – jy kan eerlik erken dat jy seergekry het – dat dit verkeerd was, maar dat jy die persoon vrymaak, met ’n hart wat erken dat jyself deur Christus vrygemaak is. Jy moet besef dat jy dieselfde potensiaal het om iemand seer te maak en moet God vra om, deur Sy genade, jou te help om dit nooit te doen nie. Ons stryd is nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die bose magte in die lug en daarom help dit om die persoon te sien net as die instrument van die bose. Vergifnis is nie ’n blindelingse herstel van vertroue en vriendskap nie, maar ’n vrymaak van kwade gevoelens en wraakgedagtes. As ons bv. kyk na Dawid en Saul, sien ons hoe Saul Dawid om vergifnis vra, nadat hy besef het dat Dawid sy lewe gespaar het in die spelonk. Dawid vergewe hom, maar elkeen gaan daarna sy eie gang. Dawid trek nie nou terug paleis toe en alles is weer soos voorheen nie.
Slot
Ware vergifnis is om te besef wie jy is en dat jy baie vergewe is. Dit is om te besef dat jy God se vergifnis elke dag nodig het en dat jou sonde nie teen mense is nie, maar teen God. Ware vergifnis is om dankbaar te wees en jou dankbaarheid te laat uitvloei in jou verhoudings met ander. Dit is om verby jou eie pyn te kyk na die pyn van ’n ander siel wat Jesus se Verlossing net so nodig het as jy. Jesus Christus het die pyn aan die kruis verduur om vergifnis vir ons te bewerkstellig. Jou pyn is niks in vergelyking met dit waardeur Hy gegaan het vir jou nie. Ware vergifnis is om jou pyn te verander in gebed vir die een wat jou te nagekom het, sodat God in die persoon se lewe dit kan bewerkstellig wat Hy wil.
Ware vergifnis is om in God se plan te rus…
