Vraag 104: Waarvoor bid ons in die vierde versoek?
In die vierde versoek (“Gee ons vandag ons daaglikse brood”), bid ons dat ons deur God as vrye gawe genoegsame deel mag ontvang van die goeie dinge in hierdie lewe en dat ons sy seën daarmee saam mag geniet.
Inleiding
Die antwoord van die Westminster belydenis is soveel meer as wat ’n mens aanvanklik dink. As ons dink aan daaglikse brood is die eerste gedagte aan kos, dat God vir ons sal voorsien van genoeg kos om ons daagliks te voed. As kinders van God weet ons al dat God se sorg veel verder strek as net voedsel en die meeste van ons sal dadelik ander maniere van sorg koppel aan hierdie versoek. Ons moet egter duidelik besef dat hierdie versoek volg op “Laat U Naam geheilig word, Laat u koninkryk kom en laat U wil geskied” Vir ons om ten volle die betekenis van hierdie versoek te verstaan is dit nodig om te weet wat die “goeie dinge” is waarna die antwoord verwys. As die eerste drie versoeke ’n realiteit in jou lewe is, sal jy besef dat die goeie dinge in hierdie lewe is om God se seën te geniet. Sonder die seën van God in jou daaglikse lewe sal selfs dit wat die wêreld sien as “goeie dinge” sonder blywende of volhoubare waarde wees. Onder goeie dinge in hierdie lewe tel ons beslis voedsel, huisvesting, gesondheid, werk, liefde, sekuriteit, ens. en dit is waarvoor ons in die vierde versoek vra, maar sonder die ware “Brood van die Lewe”, Jesus Christus, sal dit geen betekenis hê nie.
Afhanklikheid
Verstaan ons as Westerlinge nog wat dit beteken om te vra vir ons daaglikse brood. Besef ons nog wat dit beteken dat ons afhanklik is van God vir die basiese dinge in die lewe. Die vraag na “daaglikse brood” dui ten eerste op die basiese behoefte van kos. Baie mense is van gedagte dat die kos op hul tafel verdien is deur hul eie harde werk, hulle eie vermoëns, maar met hierdie gebed, bely die kind van die Here dat nie eers die kos op sy tafel uit eie verdienste is nie, maar ’n geskenk van God. Die Bybel wil ons leer dat wat ek het van my kroontjie(my verstand) tot my toontjie (my fisiese gesondheid en vermoëns) het ek te danke aan God. Ons verklaar dus met hierdie versoek ons totale afhanklikheid van God vir alles in hierdie lewe. Indien ons dan “basiese voorregte” soos voedsel ontvang, maak dit ons dankbaar teenoor die Een wat dit voorsien het, eerder as om ons op te blaas as die een wat alles self bereik en vermag het.
Ek bely verder dat Hy nie net vandag vir my sal sorg nie, maar elke dag vir die res van my bestaan op aarde. God wil hê dat ons moet lewe van dag tot dag en nie bekommerd moet wees oor môre nie. Mattheus 6:25 Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe—wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam—wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? In dieselfde gedeelte word vir ons daarop gewys dat Hy vir die voëls en die blomme sorg wat nie naastenby so belangrik is soos ons wat die kroon van sy skepping, die mens, is nie. Die Israeliete in die woestyn word deur God voorsien van manna. Hy belowe hulle dat hulle elke dag manna sal ontvang solank as wat hulle in die woestyn is. Tog vind ons dat die Israeliete nie op God vertrou nie en nie net manna vir een dag bymekaar maak nie. Hulle was bang dat daar nie môre weer manna sal wees nie en het te veel bymekaargemaak en dit probeer stoor net vir ingeval daar nie môre weer voorsiening is nie. Die wurms het toe die manna laat sleg word. Hulle wou self sorg vir môre en nie in afhanklikheid van God leef nie. Dit was ook die probleem met die ryk man wat sy skure vergroot het en gesê het: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik. Lukas 12:19. Sy probleem was nie sy skure wat hy vergroot het nie, maar eerder sy eiewaan dat hy gedink het dat hy met al sy besitting sonder God kon klaarkom. Die probleem is dus nie om vir môre te beplan nie, maar wel om al jou vertroue op jou eie planne te sit. Daar moet altyd die verstaan wees dat alles wat ek het, ek van God ontvang het en dat Hy, net soos wat hy dit gegee het, dit weer kan wegneem. My sekuriteit is God en nie enige aardse besittings of persoon nie.
Dankbaarheid
Ek bely verder dat ek tevrede is met wat ek op hierdie stadium in my lewe het. Paulus kon skrywe dat hy in elke situasie in sy lewe, in oorvloed en gebrek, tevrede is. 4:11 Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is. Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ons moet in alle omstandighede dankbaar wees teenoor God wat in beheer is van vandag. Die mens se grootste probleem is dat hy/sy hom/haarself gereeld in môre of verder in die toekoms bevind – besig om hom/haar te bekommer. God roep my op om elke dag saam met Hom te wandel. Hy is die God wat Homself bekend stel aan ons as die EK IS. Hoe baie keer verloor gelowiges hulle vreugde omdat hulle of in gister of in môre hulleself bevind. Waaroor is ons bekommerd en hoeveel van ons vrese het al ooit ’n werklikheid geword? Ons is meestal bekommerd oor die toekoms. God is die God van vandag en van môre en Hy is in beheer. Hy gee jou genoeg om vandag te hanteer. Los môre vir Hom. As ek bid: “Gee ons vandag ons daaglikse brood” bely ek dat die God wat vandag sal sorg ook die God is wat vir môre sal sorg.
Rykdom
Die grootste gevaar vir ons is om onvergenoegd te word of om ’n drang te hê na rykdom. 1Timoteus 6:9-10 Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor. Dit is min dat jy ’n persoon wat ryk is hoor sê: “ Ek het meer as genoeg.” Die mens hunker altyd na nog meer. Prediker 5:9 sê Hy wat geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie, en wie rykdom liefhet, nie van inkomste nie; ook dit is dan tevergeefs. Besitting en geld hou nie vir altyd nie en is van korte duur. As jy dit najaag sal jy alles wat belangrik is verloor en leeg wees al het jy baie besittings. Daarom moet elke gelowige dankbaar wees as hy/sy klere en kos het. 1Timoteus 6:8 Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.
“Ons”
Net soos in die begin van die Onse Vader bely ek dat ek, as individu, deel vorm van die Kerk. As ek bid vir ons daaglikse brood is ek ook besig om te bid vir die daaglikse brood van my mede broers en susters in Christus. Die oomblik wat ek nie besorg is oor my mede gelowiges se “daaglikse brood” nie, hou ek op om hierdie gebed te internaliseer. Die vorige drie versoeke is dan vir my onbelangrik en daarmee maak ek die vierde versoek ’n selfsugtige gebed vir eie gerief en belang. My mede gelowiges se behoeftes is ook in my gedagtes as ek my behoeftes voor Hom bring. Ek het net so die begeerte dat hierdie gebed in hulle lewens sal waar wees as wat ek dit in my lewe wil waar hê. Hier word ons opgeroep om vir mekaar te sorg en om te sien na mekaar. 1Timoteus 6:17-18 Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet; dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam. Ons vra die Here om ons te help om die nood om ons raak te sien en om bereid te wees om van ons “brood” met ander te deel. God is ONS Vader en Hy voorsien aan ONS ons daaglikse brood. Die brood wat jy ontvang is daar om ook ander te voed.
Slot
Daar is soveel dinge waarvoor ons elke dag kan dankbaar wees. Dinge wat ons uit God se hand ontvang, maar wat ons as vanselfsprekend aanneem. Soveel goeie dinge wat ons kan geniet en met ander kan deel. Soveel dinge wat ons liggaamlik sowel as geestelik voed. Die behoefte van kos, klere en sekuriteit is fisiese behoeftes waarin God elke dag voorsien. Dank God daarvoor, maar meer nog – leef vreesloos in die wete dat God weet wat jy nodig het nog voor jy daarvoor kan vra. Hierdie gebed is ’n verklaring van jou totale afhanklikheid van, en dankbaarheid teenoor ’n liefdevolle Vader wat in die Hemel is, Wie se naam Heilig is, Wie se Koninkryk sal kom en Wie se Wil sal geskied.
