Vraag 103: Waarvoor bid ons in die derde versoek?
Antwoord: Met die derde versoek (“Laat U wil geskied op die aarde, net soos in die hemel”) bid ons dat God, deur Sy genade, ons die krag sal gee en gewillig sal maak om Sy wil te ken, te gehoorsaam en dat ek myself daaraan sal onderwerp in alle dinge, net soos die engele is, in die hemel
Inleiding
God se wil, sal geskied! Met hierdie versoek bid ons dat ons God se wil sal leer ken en as ons dit leer ken het, ons daarin sal leef. Hoeveel keer hoor ons die vraag op iemand se lippe: “Wat is God se wil vir my lewe?!” Dit is vir sommige ’n nimmereindigende soeke asof dit in misterie omring is en ons moet raai of wonder of tekens ontsyfer totdat ons dit op ’n manier kan uitvind. Ons soek tekens en sit soos Gideon vliesies uit om seker te weet of ons moet trek of bly, moet trou of nie, watter werk om te aanvaar of selfs watter kar ek moet koop. Die rede hiervoor is gewoonlik omdat ons nie God se wil soek nie, maar my eie wil of dit wat ek glo vir my die beste gaan wees. Die geheim van God se wil lê egter in die daaglikse wandel met God. Dit is gesetel in ’n verhouding met ’n Vader wat Homself aan ons openbaar het deur Sy Seun in Sy woord.
God het Sy wil openbaar
Die godsdienste van die volke rondom Israel het ’n klomp afgode gehad wat hulle aanbid het. Hulle het nie geweet wat die afgod wou hê of wat dit kwaad of gelukkig gemaak het nie. Met enige ramp was die gevolgtrekking dat die gode kwaad was en dat offers gebring moes word om die wraak van die afgode tot bedaring te bring. By die God van Israel was dit anders. Van die begin af wil Hy ’n verhouding met die mens hê. Hy openbaar Homself aan die mens en maak Sy wil aan hulle bekend. As ons praat van Sy wil praat ons nie van Sy geheime wil nie. Deuteronomium 29:29. Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet. Daar is sekere dinge wat ons nie sal weet voordat ons eendag by Hom is nie. Ons sal eendag ten volle ken soos ons ook geken word. 1Korintiers 13:12 Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is. As ons praat oor Sy wil praat ons oor dit wat aan ons openbaar is deur Sy Woord.
God se wil vir my lewe
Die vraag word baie gevra: “Wat is God se wil vir my lewe?” As ons hierdie vraag ontleed ontdek ons dikwels dat daar ’n valse denke rondom God weggesteek is in hierdie vraag. Wat bedoel ek hiermee? Ons het die idee dat God wil hê dat dit met ons hier op aarde net goed moet gaan en dus volg dit logies dat ons moet uitvind wat Hy wil hê ons moet doen – watter plan ek moet volg, sodat alles sal verloop volgens God se “spesiale goeie” plan vir my lewe – my ten goede. Moet ek links gaan of regs? Waar lê die beste geleenthede? Ons denke rondom God is egter verkeerd. Ja, God het my as sy kind lief en sal alles laat meewerk ten goede, maar vir my siel en Sy koninkryk.
Ek wil dit probeer verduidelik aan die hand van ’n voorbeeld. ’n Paar jaar terug moes ons as gesin ’n nuwe kar koop. Ons kon egter nie ’n nuwe kar bekostig nie en om tweedehands te koop is maar altyd ’n risiko. Jy kry oneerlike mense en as jy nie baie van karre weet nie is jy maar eintlik uitgelewer aan die genade van die motorhandelaar. So wat doen ons? – Ons bid: “Here laat U wil geskied en lei ons om die regte kar te koop” Wat meeste mense eintlik bedoel is: “Asseblief, Here, moenie dat ons ’n kar koop wat ons baie probleme gaan gee nie!” Ons koop toe ’n kar en vertrou dit was God se wil dat ons die spesifieke kar moes koop. Ons het egter meer probleme met daardie kar gehad as nog ooit tevore! Nou die vraag – was dit God se wil dat ons daardie spesifieke kar moes koop of het ons verkeerd gekies? Wel, God het dit toegelaat en is in alles soewerein. As mens leef ons in hierdie wêreld en maak ons keuses. Ons is nie robotte nie. Maar steeds gebeur niks op aarde buite God se wil nie. Natuurlik was dit God se wil. In hierdie “slegte” situasie het ons met mense in aanraking gekom waarmee ons nooit anders in aanraking sou kom nie. Die manier waarop ons die hele situasie elke keer hanteer het, was ’n getuienis van Jesus se liefde. Ons kon getuig van Jesus en het geduld geleer en ja – geld verloor en later ’n ander kar gekoop! Die punt is dit – dit maak nie saak watter kar ons gekoop het nie. Het God geweet ons gaan daardie kar koop? – Verseker, want Hy is soewerein en weet alles. God se wil gaan daaroor dat ons in elke situasie, goed of sleg, Hom sal verheerlik. Ons kom weer terug na Vraag 1 van die Westminster belydenis wat sê dat ons doel is om God te geniet en te verheerlik vir ewig.
Soms staan jy voor ’n kruispad en jy moet besluit links of regs? Die antwoord is enige kant – solank jy in die rigting waarin jy stap God verheerlik en Hom geniet. Dit gaan dus nie oor wat vir jou die beste is nie, maar dat jy in jou daaglikse handel en wandel of jy nou links of regs gegaan het, leef volgens die geopenbaarde wil van God.
Die geopenbaarde wil van God
Niks in my lewe is per toeval of per ongeluk nie. Die God wat die gelowige aanbid is soewerein in alles. Elke talent wat ek ontvang het kom van Hom, die ouerhuis waarin ek gebore is, of die plek waar ek grootword. My taak is om met alles wat Hy my gegee het Sy naam te bely en groot te maak. Dit is om my beroepskeuse voor Hom te bring in gebed en te bely dat, meer nog as geld of enige iets anders, my beroepskeuse Sy naam sal verheerlik. Hy is ook die Een wat alles laat meewerk ten goede. Romeine 8:28 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. My gebed dus is dat die Here my sal help om alles wat in my lewe plaasvind te sien as gebeure waarvan Hy in beheer is. Ek kan bid dat Hy vir my ’n man/vrou sal gee wat aan die brand vir Hom is, wetende dat dit Sy wil is dat ek met ’n gelowige moet trou. 1Co_7:39 ‘n Vrou is deur die wet gebonde so lank as haar man lewe; maar as die man ontslaap het, is sy vry om te trou met wie sy wil, maar net in die Here. Hiermee saam bely ek ook dat as Hy nie ’n huwelik vir my bestem het nie, ek dit met vreugde sal aanvaar. Mattheus_19:12 Want daar is persone wat onbekwaam is om te trou, wat van die moederskoot af so gebore is, en daar is persone wat deur die mense onbekwaam gemaak is, en daar is persone wat hulleself onbekwaam gemaak het ter wille van die koninkryk van die hemele. Wie dit kan vat, laat hom dit vat. Ek weet dat ek ’n God het wat my meer lief het as wat ek ooit kan dink en daarom kan ek myself onderwerp aan Sy wil.
Soek God se wil. Jesus is die absolute voorbeeld van die soeke van Sy Vader se wil al weet Hy die wil van Sy Vader sal baie lyding vir Hom veroorsaak, dat dit bepaal het dat Hy die sonde van ons op Hom sou neem. Daarom kan Hy in Getsémané Sy begeerte uitspreek terwyl Hy vra dat Sy Vader se wil bo Sy eie begeertes sal wees. Mattheus 26:39 En Hy het ‘n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.
Die Woord van God is baie duidelik oor wat God se Wil in sekere situasies is. Die lys is te lank om op te noem, maar dink maar aan die Tien Gebooie wat ons ook al hier behandel het. Die vraag is baie keer nie of ons Sy wil ken of nie, maar of ons onsself daaraan sal onderwerp. In sommige situasies is dit nie so duidelik nie, maar die Here beloof ons dat Hy altyd by ons is en ons in staat sal stel om te weet wat om te sê en te doen sodat Sy naam verheerlik sal word. Weereens – nie dat dinge die beste vir my sal verloop nie, maar sodat Sy naam verheerlik sal word! Dit is dan die wese van ons versoek in die Onse Vader gebed as ons vra: “Laat U wil geskied”
Slot
Soek ek regtig Sy wil vir my lewe in alles? Sy wil, al beteken dit dat dit die teenoorgestelde is as wat ek graag wil hê? Die gedagte dat ons wil hê Sy wil moet geskied soos in die Hemel is dat ons Hom wil gehoorsaam soos die Engele Hom gehoorsaam in alles. Die gewilligheid van die Engele om gereed te wees om Sy opdragte uit te voer moet by ons ook teenwoordig wees. Psalm 103:20-21 Loof die HERE, sy engele, kragtige helde wat sy woord volbring, in gehoorsaamheid aan die stem van sy woord! Loof die HERE, al sy leërskare, sy dienaars wat sy welbehae doen! Net so behoort sy kinders op gereedheid te staan met vreugde en aan die wêreld verklaar dat God se wil soveel beter as my eie wil is.
“U bestuur my lewe Here. Laat U wil geskied”
