Vraag 102. Waarvoor bid ons in die tweede versoek?
In die tweede versoek (wat, Laat U koninkryk kom, is) bid ons dat Satan se koninkryk verwoes mag word, dat die koninkryk van genade uitgebrei mag word en ander en onsself ingebring en bewaar mag word daarin; en dat Christus se koms en die koninkryk van heerlikheid gou mag kom.
Inleiding
Ons verklaar met hierdie versoek dat God se Koninkryk SAL kom. Daar is geen miskien daaraan verbonde nie, geen miskien dat dit dalk nie sal kom nie. God se Koninkryk bestaan alreeds en niks, geestelik of fisies, kan dit vernietig nie. Wat word dan met hierdie versoek bedoel?
Die Kerk
Die Kerk is deel van hierdie Koninkryk wat Christus kom vestig het. Jesus sê vir sy Petrus: En Ek sê ook vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Mattheus 16:18. Die rots is natuurlik nie Petrus nie, maar Jesus self. Sy Kerk/Gemeente sal nooit oorwin kan word nie. Ons verstaan ook as Sy kinders dat niks ons sal kan skei van Hom nie. Romeine 8:38-39 Want ek is versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie. Die Koninkryk van God op aarde word voorgestel deur Sy kerk. Ons besef maar terdeë dat hierdie Koninkryk nie in sy volheid gekom het nie en dat dit nog onderworpe is aan die aanvalle van Satan en sy magte. Tog kan ons verseker weet dat die ware Kerk van Christus nooit uitgewis sal kan word nie. Die Ware kerk, ek en jy as Sy kinders, kan rus in die wete dat al is hierdie aardse lewe nog vol versoekings en tekortkomings is ons geestelik alreeds deel van ’n Ewige Koninkryk. ’n Koninkryk wat in Sy volheid sal kom die dag as Jesus Christus ons kom haal.
Die owerste van die wêreld
In die gebed spreek ons ook ons begeerte uit vir die finale vernietiging van Satan en sy magte. As gelowiges is ons deel van die oorwinning van Satan. Openbaring 12:10-11 Toe hoor ek ‘n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag. En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie. Satan is oorwin deur Christus, maar hy word elke dag in hierdie wêreld oorwin deur ons lewens wat getuig van Christus, deur Christene wat nie gebuig het of buig vir die versoekings van die duiwel vir aardse glorie of gemak nie, maar wat bereid was/is om alles, selfs hul lewens prys te gee vir Hom. Hierdie getuienis, waarmee ons die wêreld ingaan bou God se Koninkryk in hierdie wêreld. Ons weet egter dat die Satan toegelaat word om te heers totdat Christus finaal gaan terugkom. Die Satan is die owerste van hierdie wêreld. Johannes 14:30 Ek sal nie veel meer met julle spreek nie; want die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie.
Hemelse Koninkryk
Die gelowige besef terdeë dat hierdie wêreld of regerings nie deel vorm van Sy koninkryk nie. Die grootste fout wat gelowiges kan maak is om hulle redding in ’n regering of instansie te soek. Ons is nie deel van ’n aardse koninkryk nie, maar van ’n Hemelse Koninkryk. Hierdie is nie ons tuiste nie. Soos Petrus sê in 1Petrus 2:11 Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel. Hoe maklik begin ons as gelowiges om vas te hou aan die aardse dinge en baie keer is dit dié dinge waarvoor ons sal lewe en sterwe i.p.v. God se Koninkryk. Ons werk in hierdie Koninkryk soos Daniel kon werk onder die Babiloniërs en die Mede en Perse – met ’n besef dat ek aan ’n ander Koninkryk behoort. Aardse koninkryke gaan almal tot ’n val kom. In die beeld wat Nebukadnesar sien, waarin elke deel van die beeld verteenwoordigend is van ’n spesifieke koninkryk, lees ons aan die einde in Daniel 2:34-35 U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ‘n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het. Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het ‘n groot rots geword wat die hele aarde gevul het. God bring alle aardse koninkryke tot ’n einde en die klip waardeur dit gedoen word is Christus. Die groot rots is Sy Koninkryk wat uit Hom en deur Hom tot stand sal kom.
Jesus se gelykenisse oor Sy Koninkryk begin elke keer met: “die Koninkryk van die hemel kan vergelyk word met…” In van die gelykenisse word ons opgeroep om te werk in Sy Koninkryk as bevoorregtes wat deur Hom geroep word om deel te vorm daarvan. Watter ongelooflike voorreg om nie net deel te word van die Koninkryk nie, maar om ook te kan arbei in die Koninkryk. Van die gelykenisse vertel ons weer dat hierdie Koninkryk sal groei. Dit word vergelyk met ’n vrou wat suurdeeg in die meel in werk en hoe dit deur die deeg versprei. Ons as gelowiges is die suurdeeg wat die wêreld beïnvloed. Al lyk dit min, of is dit soos die mosterdsaad die kleinste van die sade, laat God dit groei en het ons lewens ’n inpak in die wêreld. God laat die kleinste mosterdsaadjie groei tot ’n groot boom waarin die voëls van die hemel kom nesmaak in sy takke. God se geestelike Koninkryk, ons, is dus die beskerming van baie in die wêreld. Of ons is soos sout wat ’n bewarende effek op die wêreld het. 1 Johannes 5:4 Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof. Sonder gelowiges sal die wêreld totaal in sonde verval onder die Satan se mag. Die Kerk oorwin die Satan se boosheid deur die oorwinning wat Christus alreeds behaal het te leef en te verkondig.
As Hy weer kom
Ons as gelowiges kan nie wag vir die dag wanneer die Koninkryk is sy volheid sal kom nie. Daar is die hele tyd in ons lewe die besef dat daar ’n alreeds en ’n nog nie is, wanneer ons van die Koninkryk praat. Ons wil hê almal moet die evangelie hoor, want ons wil Sy Koninkryk uitbrei, maar ons weet ook dat as almal gehoor het die volledige sal begin. Mattheus 24:14 En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom. Ons besef dat as burgers van God se Koninkryk het ons alreeds die duiwel oorwin. Hy het niks aan ons nie. Hy kan dalk ons aardse burgerskap hel maak, maar dit is tydelik – ons behoort alreeds in die Hemel. Hy kan ons dalk laat val, maar hy kan ons nie vernietig nie. Ons is vir hom verlore. Christus het ons alreeds duur gekoop as burgers van Sy Koninkryk. Ons het vrede en kan in Christus se oorwinning rus. Tog het die finale Koninkryk waarvan die Bybel praat ’n vrede en rus wat alle boosheid, intern en ekstern, uitsluit. ’n Rus van die aardse stryd teen die sonde van binne (die vlees) en die sonde van ander in die wêreld.
Slot
As ek bid “Laat U Koninkryk kom” vra ek God om my te help om deur my getuienis van Jesus Christus, in my woord en daad, ander in te bring in Sy Koninkryk. Ek vra my Vader om my te help om die lig en sout en koeltebome te wees vir ’n wêreld waarin Satan nog steeds die owerste is. Ek vra God om my te help om te besef dat ek ’n burger is van ’n ewige Koninkryk sodat ek nie vasgevang word deur die duiwel se versoekings vir eer in hierdie aardse, tydelike koninkryk nie. Sodat ek bemoedig kan word as ek dalk val of as die hartseer en pyn van hierdie wêreld te veel word. As ons dus bid vir Sy Koninkryk wat moet kom spreek ons ’n afwagting uit wat sê: “Here hierdie is nie my tuiste nie, Here ek verlang dat U moet kom. Ons wat alreeds deel is van die Koninkryk verlang om by U te wees en alles van die Koninkryk volledig te ervaar…” Openbaring 22:20 Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus!
