Vraag 100. Wat leer die eerste gedeelte van die Onse Vader ons?
Die eerste gedeelte van die Onse Vader (wat is, Onse Vader wat in die Hemel is, ) leer ons eerstens om nader aan God te kom met ’n heilige ontsag en met vertroue, soos kinders na hul vader wat gewillig en in staat is om hulle te help; en tweedens, dat ons saam met en vir ander moet bid.
Inleiding
Vader, Pa, of Pappa … hierdie is woorde wat diep emosies wakker maak by elke mens. Elke persoon weet presies hoe ’n perfekte pa moet wees en optree – of jy nou een gehad het of nie. Ons weet. Woorde soos “vertroue, sekuriteit, eer, sorg, ondersteun, onderrig, aanmoedig, onvoorwaardelik, tug, liefde, dra, koester, voorbeeld, integriteit, sterk, standvastig (en jy kan nog vele opnoem) kan gekoppel word aan hierdie woord.
God is ons perfekte Vader
Die Onse Vader begin met die gedagte dat God ons Vader is. Hy is nie almal se vader nie, maar wel die skepper van almal. “Vader” dui op ’n intieme verhouding wat God het met ’n spesifieke groep mense – sy kinders. Baie het die idee dat die vaderskap van God net in die Nuwe Testament voorkom. In hierdie blog wil ek begin om die leser deur die Ou Testament te neem en te wys hoe die Ou Testament vol is van die Vaderskap van God en hoe dit deur baie metafore uitgebeeld word.
In Deuteronomium word Sy Vaderskap gekoppel aan die Een wat die volk Israel ’n volk gemaak het. Deuteronomium 32:6 Durf julle dit die HERE vergelde, o dwase en onwyse volk? Is Hy nie jou Vader wat jou geskape het nie; het Hy jou nie gemaak en jou toeberei nie? Dit is Hy wat Abraham, Isak en Jakob gekies het. Hy word ook as ’n vader uitgebeeld wat sy kinders onderrig. Deuteronomium 8:5 Erken dan in jou hart dat die HERE jou God jou onderrig soos ‘n man sy seun onderrig. God word verder uitgebeeld as ’n Vader wat sy seun dra en vir hom sorg. Deuteronomium 1:31 en in die woestyn, waar jy gesien het hoe die HERE jou God jou gedra het soos ‘n man sy seun dra, op die hele pad wat julle getrek het, totdat julle tot by hierdie plek gekom het.
In Jesaja word Israel weer uitgebeeld as God se seuns en dogters. Isa 43:6-7 Ek sal sê aan die noorde: Gee! en aan die suide: Hou nie terug nie! Bring my seuns van ver, en my dogters van die einde van die aarde af, elkeen wat na my Naam genoem is en wat Ek geskape het tot my eer, wat Ek geformeer, wat Ek ook gemaak het. Ons kan nie anders as om in die ritme van hierdie vers die hartklop van die Kerk te hoor nie. Mense oor die hele wêreld wat Hy geroep en geformeer en na Sy naam genoem het.
Die Vader van Christus
Daar is ook gedeeltes in die Ou Testament wat heenwysings na Christus is en in die Nuwe Testament bevestig word. Vergelyk Hosea 11:1 Toe Israel ‘n kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep met Mattheus 2:15 En hy was daar tot die dood van Herodes, sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet: Uit Egipte het Ek my Seun geroep. As God ’n uitspraak oor Salomo maak verbind die Nuwe Testament hierdie uitspraak met Christus. 1 Ch 17:12-13 Hy sal vir My ‘n huis bou, en Ek sal sy troon bevestig tot in ewigheid. Ék sal vir hom ‘n vader wees, en hy sal vir My ‘n seun wees, en my goedertierenheid sal Ek van hom nie laat wyk soos Ek dit onttrek het aan hom wat voor jou gewees het nie. Die eerste gedeelte, met verwysing na die tempel, vergelyk die tempel wat Salomo kom bou het met die nuwe tempel wat Christus kom oprig het. Die tempel wat Salomo sou bou kon nie in heerlikheid vergelyk word met Christus wat na homself wys as die tempel nie. Jesus sou dan die ou tempel afbreek en in drie dae (met sy opstanding) die nuwe tempel (nl. sy liggaam) opbou. Die tempel het ook ’n verdere betekenis dat Christus deur sy sterwe ons as die Kerk sy tempel kom maak het en daarin kom woon het. Die tweede gedeelte van die teksvers, met verwysing na God se Vaderskap, word aangehaal in Hebreërs 1:5 Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer? en weer: Ek sal vir Hom ‘n Vader wees, en Hy sal vir My ‘n Seun wees?
Mede broers em susters
In die Ou Testament word God as die vader van Israel of ’n individu in totaal vyftien keer gebruik teenoor die meer as 165 kere wat dit net in die evangelies gebruik word. Jesus het hierdie metafoor ten volle vir ons kom openbaar en ’n werklikheid gemaak. Ons word vertel dat ons deur die Vader aan Christus gegee is. Joh 6:37 Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie. Die Vader is die Een wat ons getrek het na Hom. Joh 6:44 Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag. In Jesus se kruisdood is ons sondes vergewe en het ons toegang tot die Vader. Hierdie is ’n wonderlike voorreg, nl. om te weet dat ek, as Sy kind, te alle tye na Sy troonkamer in die Allerheiligste kan kom en vrye toegang het om met Hom te praat. Die Onse Vader roep ons op om van hierdie geleentheid gebruik te maak as aangenome kinders en mede broers en susters van Christus. As ons in gebed na Hom gaan is dit met geloof dat Hy vêr meer kan doen as wat ons ooit kan dink. Eph 3:20 En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk. Ons geloof is ook gevestig daarop dat Hy groter insig het en beter weet wat ons nodig het as wat ons ooit sal weet. Daarom rus ons in die Vader se wysheid en antwoorde in ons lewens. Die gedeelte, dat Hy in die Hemel is, laat ons besef dat Hy die gans andere is en dat Hy heilig is. Dus kom ons na Hom met ’n heilige ontsag en met vertroue dat Hy die krag het om ons te help en met vertroue dat Hy baie beter weet as ons.
Dit bring ons by die “Ons” gedeelte van die Onse Vader. Ek verstaan dat ek deel is van ’n familie van gelowiges deur alle eeue wat deur die wêreld versprei is. Ek verstaan dat God elke een van sy kinders ewe lief het en dat hy my ook oproep om hulle lief te hê. 1 Jn_4:20 As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? Daarom as ek in gebed tot die Vader gaan is dit ook om te bid vir my familie in Christus as individue, maar ook as eenheid nl. Sy Kerk. Elke gelowige verstaan dat ons deel vorm van die bruid van Christus en daarom nooit aan onsself los van die Kerk kan dink nie.
Slot
Om ’n vader te hê is wonderlik. Om ’n aardse pa te hê wat ons lief het en versorg en ondersteun is ’n voorreg wat nie almal het nie. Aardse pa’s is mense met foute en gebrekkige kennis en mag. As aangenome kinders van God in Christus, het ons egter ’n volmaakte Vader, almagtig en alwetend. Besef ons werklik hoe bevoorreg ons is? Ons hoef nooit beangs of onseker te wees nie – ons kan vertrou dat ons Hemelse Vader ons sal vashou en versorg.
