Vraag 98-99.Net U begeertes!

Vraag 98: Wat is gebed?

Gebed is om ons verlange en behoeftes met God te deel, in ooreenstemming met Sy wil, in die naam van Christus, saam met die belydenis van ons sonde en dankbare erkenning vir Sy genade en goedheid.

Vraag 99: Watter reël het God gegee vir die manier waarop ons bid?

Die hele Woord van God is behulpsaam om ons te begelei in die korrekte manier van bid, maar die spesiale reël kan gesien word in die gebed wat Christus sy dissipels geleer het, nl. die Onse Vader.

 Inleiding

Vanaf die eerste inskrywing in hierdie reeks oor die Westminster Confession was dit duidelik dat die wese van die Godsdiens ’n verhouding met ’n lewende God is. Ons het begin deur te sê dat die mens se doel op aarde is om God te verheerlik en om Hom te geniet. Iets wat slegs gedoen kan word binne ’n liefdes verhouding. Wie hierdie God is, wat Hy van ons verwag en wat Hy vir ons kom doen het, het duidelik geword in die weke wat verby is. Nou kom God weereens na die mens en sê: “Praat met My”

God ons Vader

Gebed is nie ’n klomp reëls wat ek moet nakom om met God te kommunikeer nie. God openbaar Homself aan ons as die Vader. In die komende weke gaan ons in diepte hierdie gedagte van God as ons Vader bespreek. Die term “Vader” is ’n woord wat betekenis vir die mens op ’n baie diep vlak het. Niemand kom na sy/haar Vader met ’n stel reëls wat nagekom moet word voordat ek met hom kan praat nie. Die enigste reël wat wel van belang is, is dat jy werklik moet besef dat Hy jou Vader is en met die nodige respek, erns en liefde na Hom moet kom. Nêrens word daar reëls in die Bybel gegee waarvolgens ’n kind van die Vader moet bid sodat hy/sy gehoor sal word nie. Daar behoort ook nooit die gedagte by die kind te wees, dat as ek sekere sinne gebruik ek sal ontvang waarvoor ek gevra het nie. Dit is vir my baie interessant hoe mense baie keer dink dat God soos ’n mens dink. Terwyl die Bybel onomwonde sê dat God nie soos die mens is nie. Jesaja 55:8  Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Ons weet dat sommige mense goed reageer op vleitaal en as ons iets van hulle wil hê sal ons die gesprek begin deur eers vir hulle bietjie heuning om die mond te smeer. So dink ons dat as ons iets van God wil hê ons eers vir Hom moet vertel hoe wonderlik Hy is, met ander woorde – ons begin met lofprysing! Vertel vir God hoe wonderlik Hy is en jy sal ontvang wat jy wil hê! Gebruik die volgende woorde en jy sal ontvang – amper soos die genie in die lamp waar jy net die lamp reg vryf en die genie kom te voorskyn of ’n tipe towerspreuk en *tjieng* – jy het jou wens. Wat se onsin en Godslastering?

As Kind van God kom ek na Hom as my Vader – dit is persoonlik. Ek hoef nie iemand anders se rympies en formules uit boeke oor gebed te memoriseer om met Hom te praat nie.

My begeertes

Die vraag  word baie gevra: “Mag ek my begeertes met die Here deel?” Wel, wat ek eerstens moet onthou is dat God my begeertes ken nog voor ek dit aan Hom bekend gemaak het. Mattheus 6:8  Moet dan nie soos hulle word nie, want jul Vader weet wat julle nodig het voordat julle Hom vra. Hoekom wil Hy dan hê dat ek daaroor moet bid? Filippense 4:6  Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. God wil hê dat ek deur gebed bely dat alles in my lewe afhanklik is van Hom. Dat ek in gebed my begeertes vir Hom gee en daarmee bely en Hom dank dat Sy begeertes vir my die beste is. Die oomblik as ek dit verstaan en daarvolgens bid word die eerste gedeelte van die vers waar in my lewe, nl. dat ek oor niks besorg is nie.

Het jy al ooit gedink wat sal gebeur as jy elke keer ontvang dit waarvoor jy gevra het. Hoeveel van ons kan terug kyk oor ons lewens en sien waar dit wat die Here vir ons gegee het soveel beter was as dit waarvoor ons gevra het. Daardie man/meisie of werk wat jy so graag wou hê – en waar die Here se planne anders was. Dankie, Here daarvoor!

Ons kan baie keer die uitvloeisel in ouerhuise sien waar kinders net ontvang wat hulle begeer en die ouers in die diens van die kinders se sogenaamde geluk geplaas word. Die realiteit is dat hierdie kinders nooit gelukkig is nie. Daar is ’n oomblik van geluk met die ontvang van hulle begeertes met ’n ewige leegheid wat daarmee saamkom.

Dit is egter nie net aardse dinge waarna ons verlang nie, maar ook soms dat pyn en hartseer van ons weggeneem moet word. God wat die mens gemaak het, weet egter wat vir ons die beste is. Dr. Paul Brand, wat lank met Melaatse pasiënte gewerk het, verduidelik in sy boek die belangrikheid van pyn. Melaatse pasiënte wat hulle ledemate verloor, verloor dit nie as gevolg van melaatsheid nie, maar eerder as gevolg van ’n simptoom van melaatsheid. Wat word hiermee bedoel? ’n Melaatse persoon se senuweepunte gaan dood en daarom kan hy/sy geen pyn meer voel nie. Indien hulle hulself seermaak of wond, ervaar hulle geen pyn nie en om dieselfde rede sal hulle die wond nie versorg nie. Hulle kom nie agter as hulle hulself per ongeluk raaksny of hul toon stamp of hulself verbrand nie. Die gevolg hiervan is dan dat die lede mate ontsteek en gangrene veroorsaak, sodanig dat dit geamputeer moet word. Dr. Brand gaan dan vêrder om te verduidelik hoe belangrik pyn vir ons lewens is, ook op ’n geestelike vlak. Sonder pyn is daar nie lewe nie. Sonder pyn is daar nie ’n waardering vir dit wat ek het nie. Ons gaan nie vêrder oor hierdie onderwerp uitbrei nie, maar gebruik dit net om te illustreer dat God, wat alles weet, nie pyn uit die wêreld of uit my lewe sal wegneem nie. Ook pyn is nodig  in my geestelike groei.

As Kind van God erken ek dat Hy beter weet as ek en dat ek, as Sy kind, niks meer begeer as dat Sy wil  in my lewe moet geskied nie.

Die Woord

Ons weet dat ons gedagtes nie God se gedagtes is nie. Ons weet dat ons deur Jesus Christus nou tot die Vader kan nader in gebed en so met God as ons Vader kan praat. Ons kan aan Hom ons diepste begeertes en behoeftes uitspreek, wetende dat Hy wat die beste vir ons weet dit sal laat geskied wat vir ons geestelike groei die beste is. Ons wil Hom dank en eer en aanbid soos wat Hy dit waardig is en soos wat Hy wil hê ons dit moet doen. Deur die eeue kan ons sien hoe mense afgode aanbid het op allerhande snaakse maniere en gebruike. Ons God is die enigste God wat Homself aan die mens openbaar het en dit duidelik gemaak het hoe Hy aanbid wil word.

Ons as mense sou nooit God kon verstaan, al is ons verstaan net gedeeltelik, sonder God wat homself aan ons openbaar het nie. Die beeld van Jakob se leer verduidelik hierdie gedagte baie goed. Jakob droom en sien ’n leer wat in die Hemel ingaan. Die engele loop op en af en bo-aan die leer is God. Die Bybel leer dat die wet deur engele aan ons geopenbaar is. Handelinge 7:53  julle wat die wet deur die beskikkinge van engele ontvang het en tog nie onderhou het nie! Al was dit deur engele moes God nog steeds die engele stuur om dit te openbaar. Die Nuwe Testament vind ons weer ’n beeld van ’n leer, maar die keer is die beeld ’n bietjie anders. Johannes 1:52  En Hy sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, van nou af sal julle die hemel geopend sien en die engele van God opklim en neerdaal op die Seun van die mens. Die Seun, die Logos, het God aan ons kom openbaar. Die Ou en die Nuwe Testament is die openbaring vanuit die Hemel  wat God se wil en plan is. Daarom is dit  van kardinale belang dat as ek bid ek die Woord gebruik as riglyn in my gebedslewe. Hiermee bedoel ek dat jou kennis van God, dit wat jy uit die Woord leer en  jou kennis van die Vader deur Jesus Christus, moet jou gebedslewe lei. Daniel is ’n goeie voorbeeld van ’n man wat in ooreenstemming bid met God se Woord. God belowe deur die profete dat Hy Israel vir sewentig jaar in ballingskap sal stuur. Ons vind dat Daniel aan die einde van die sewentig jaar in gebed tot God gaan en belydenis doen namens die volk vir hulle sonde en vra dat God hulle sal vergewe. Die hele gebed kan gelees word in Daniel 9. Ons bid in nederigheid, in diepe afhanklikheid, in eerbied – soos Jesus ons leer. Ons bid met ’n vaste hoop en kan vashou aan elke belofte –  soos wat die Bybel ons leer. Ons bid vir vertroosting met ’n vaste wete ons God is in beheer – soos die Bybel ons leer! Ons vra vir innerlike vrede en nie wêreldse vrede nie – soos wat die Bybel ons leer. Om te bid vir iets wat jy weet volgens die word verkeerd is, is sinneloos, bv. as jy weet God is teen egskeiding, moenie bid dat God jou sal vrede gee as jy dit wil doen nie. Bid eerder dat die Here jou sal Help om jou huwelik te versterk.

Slot

Gebed leer my dus om wat God van ewigheid af bepaal het, te aanvaar en my knie te buig voor Hom wat die beste weet. Ek leer God se gedagtes ken en hoe meer Sy gedagtes oor my vloei hoe meer word Sy gedagtes my gedagtes. As  gelowige verstaan ek dat gebed my verander en nie die ewige onveranderlike God verander nie. Tog gebruik die Here die gebede van sy kinders as deel van sy almagtige plan en voorsienigheid (Vraag 11) Dit deel van ’n wonderlike verhouding met ’n Vader wat Sy kinders lief het en in ’n verhouding met hulle wil staan.

“Praat met My”

 

Ons sal in die volgende week aan die hand van die Onse Vader gebed in diepte bespreek en hoe die Onse Vader elke faset van gebed aanspreek.