Vraag 96-97 Die Heilige Nagmaal

Vraag 96: Wat is die Nagmaal?

Die nagmaal is ’n sakrament waarin, deur die gee- en neem van brood en wyn volgens die instelling deur Christus, Sy dood geproklameer word. Die wat dit in erns aanneem is deur geloof (en nie deur die mond op ’n fisiese manier nie) deelgenote aan Sy liggaam en bloed, met al die voordele vir hul geestelike voeding en groei in genade.

Vraag 97: Wat is noodsaaklik om die Nagmaal reg en in erns te ontvang?

Dit is nodig dat dié wat die Nagmaal reg en in erns wil ontvang hulself sal ondersoek, om vas te stel of hulle verstaan wat die doel en betekenis van die Nagmaal is, of hulle geloof het om deur Christus gevoed te word, of hulle berou het oor hul sondes en ’n liefde en hernude gehoorsaamheid aan Christus verlang. Om op enige ander manier na die Nagmaal te kom, sal oordeel oor hulself bring.

Inleiding

Dit is vandag duidelik dat sommige kerke in hul leerstellings dwaal rondom die gebruik van die Nagmaal. Uit die geskiedenis van die Kerk blyk dit duidelik dat sekere denominasies ’n ander betekenis aan die Nagmaal heg as wat die Woord ons leer. In die Rooms-Katolieke kerk byvoorbeeld word die brood werklik Jesus se liggaam en die wyn werklik sy bloed. Daarom mag niemand, behalwe die priester aan die brood of wyn raak nie.  Die priester offer Jesus opnuut vir dié teenwoordig by die Katolieke Mis. Watter verskriklike gedagte dat Jesus elke keer weer geoffer word aan die hand van die priester? Die Woord leer tog duidelik dat Sy offer eens en vir altyd genoeg was! Hebreërs 7:27  wat nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir dié van die volk nie. Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het. By die Lutherane is Jesus nie werklik die brood en wyn nie, maar Hy is om, met en onder die brood en wyn. Die reformatore het geglo dat Jesus nie liggaamlik teenwoordig is by Sy mense nie, maar wel  geestelik teenwoordig is deur die bediening van die Heilige Gees.

Sommige kerke dwaal weer deurdat hulle allerhande tradisionele rituele vasgelê het waarvolgens die nagmaal bedien moet word. Die tipe brood, “wyn”, ouderdom van diegene wat dit mag gebruik ens.

Dan kry ons ook dat sommige mense  die nagmaal verhef tot iets wat red, wat vinnig op ’n sterfbed gedoen word asof daar een of ander magiese krag in die brood en wyn is. (Nie dat daar enigsins iets meer verkeerd is indien dit om die regte redes gedoen word nie). So ook is daar diegene wat dit so ligtelik doen dat ons sommer beskuit in tee doop en dit as Nagmaal verklaar.

Ware betekenis

  1. Ter herinnering:

As ons na Jesus se instelling van die Nagmaal kyk kan ons duidelik sien waarom Jesus wou gehad het dat ons die Nagmaal moet gebruik. Lukas 22:19-20  Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis. Net so neem Hy ook die beker ná die maaltyd en sê: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word. Die rede hoekom gelowiges die Nagmaal moet gebruik is dus om hulle te herinner aan wat Christus kom doen het. Die gelowige word herinner aan die kruisiging elke keer as hy/sy die Nagmaal gebruik. Hoe wonderlik dat Jesus gewillig Sy lewe geoffer het vir ons aan die kruis. Johannes 10:17  Daarom het die Vader My lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer te neem.

  1. As voeding

My geloofslewe word gevoed elke keer as ek die Nagmaal gebruik en daaraan dink wat dit vir my persoonlik, en vir die gemeente as geheel, beteken. Hy het in my plek gesterf, sodat ek die Lewe kan hê en dit in oorvloed. Deur Sy bloed is ek gewas en staan ek skoon voor die Vader. Romeine 5:9  Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn. Net soos wat die brood en wyn deel word van my liggaam, so het ek deel aan Christus en verklaar ek myself dood vir die sonde en lewend deur Sy bloed alleen. Die lewe is nou Christus en die sterwe wins. Hierdie gedagte voed my en anker my weer aan die Rots en die kern van die Evangelie, nl. die kruisdood en opstanding van Jesus Christus! Watter wonderlike gedagte as ek die Nagmaal gebruik?! Dit het dus nie te make met die fisiese ervaring of dat ek iets fisies ontvang nie.

  1. Oproep tot berou en hernude liefde en gehoorsaamheid.

Dit is belangrik om te besef dat die Nagmaal geen betekenis het vir ongelowiges nie. Indien jy dit gebruik sonder om erns te maak met die betekenis daarvan is dit vir jou ook net ’n leë ritueel. Die Nagmaal herinner ons ook aan ons sonde wat die kruisiging van Jesus noodsaaklik gemaak het. Daarom kom ek met diepe berou na die Nagmaal tafel. As ek weet daar is ’n sonde waaraan ek vashou, moet ek dit bely en laat staan. Ek moet regmaak daar waar ek mense te nagekom het, om vergifnis vra en vergifnis aanbied aan mede gelowiges met wie ek dalk in ’n rusie of verskil betrokke was. Ek moet myself bereid verklaar om deel te word aan Christus in Sy sterwe en as ’n nuwe mens op te staan en in gehoorsaamheid en liefde vir Hom te lewe. Daarom is die Nagmaal nie iets wat ons vinnig besluit om om die braaivleisvuur te doen nie, maar iets wat deeglike ondersoek van die gelowige oor sy eie lewe verg.

Wanopvattings

Van die grootste probleme vandag in kerke is hoe ligtelik mense  met die nagmaal omgaan. Hier wil ek weer beklemtoon dat ons nie bedoel dat die brood en wyn mistieke waarde of werklik Jesus se liggaam en bloed is, en dit daarom met ontsag hanteer moet word nie. Dit is alreeds hierbo bespreek dat die betekenis tot geestelike versterking strek as gevolg van dit waaraan die nagmaal ons herinner. Male sonder tal het ek al gehoor van jongmense wat praat van hulle dranklisensies wat hulle ontvang het met hulle belydenis aflegging. Ander maak grappe oor die nagmaal en die gebruik daarvan. Dit is godslasterlik! Die nagmaal kan nooit as iets ligtelik beskou word nie, want dit is ’n herinnering aan ’n dure prys wat deur ons Koning betaal is sodat ek vrygekoop kan word. Dit roep ons op om in erns ons lewens in oënskou te neem en onsself af te vra of ons lewens in ooreenstemming is met die prys wat daarvoor betaal is. Is ek dankbaar vir wat Hy gedoen het en sien ek sonde werklik in die ernstige lig wat ek daarna moet kyk. Romeine 6:6  aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.

In die gemeente in Korintiërs is die Nagmaal op ’n onwaardige wyse gebruik met ernstige nagevolge vir diegene wat dit gedoen het. In 1 Korintiërs 11 word die hele verhaal vir ons vertel. In die gemeente was daar ryk en arm gelowiges. Die rykes het hulle vol geëet en het hulle dronk gedrink. 1 Korintiërs 11:21  Want as julle eet, gebruik elkeen eers sy eie ete; en die een het honger en die ander is dronk. ’n Mens kan skaars glo dat die gemeente in so ’n kort tyd so afvallig kon raak. Om dronk te raak, wat duidelik ’n sonde is, en dit selfs by die samekomste van gelowiges!?1 Korintiërs 6:10  Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. 

Daar was ook geen eenheid in die liggaam van Christus in die plaaslike gemeente nie en die heiligheid van die Nagmaal is as niks geag nie. Elkeen was net bekommerd oor sy eie fisiese behoeftes. Die straf van God was baie duidelik oor die gemeente. 1 Korintiërs 11:29-30  Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ‘n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie. Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap. Wat ’n vreesaanjaende gedagte? God is ’n Heilige God en laat nie met Hom speel nie. God waarsku ons ook dat as ons Sy kinders is en ons is besig met sonde sal Hy ons tug. Hebreërs 12:6  want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. Nee, as ons na die Nagmaal kom is dit in erns oor die betekenis van hierdie sakrament en waartoe dit my oproep. Ons bely dat God nie net by ons teenwoordig is in die Nagmaal en eredienste nie, maar in elke deel van my lewe. Ons is nou die woning van die lewende God. Johannes 14:23  Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.

Slot

’n Herinnerings maaltyd aan die prys wat vir ons sondes betaal is, ’n voedsel tot geestelike groei, ’n feesmaal saam met familie in Christus – dit is die Nagmaal. Kom ons gebruik hierdie sakrament met hernude erns en dankbaarheid soos wat Christus dit ingestel het.

Dit is my liggaam – neem, eet en dink daaraan dat dit vir jou gebreek is

Dit is my bloed – neem drink, dink daaraan en glo dat Sy bloed gevloei het tot ‘n volkome versoening vir al ons sonde.