Vraag 94-95: Wat is die doop en aan wie moet dit bedien word?
Antwoord: Die doop is die sakrament van toelating tot die kerk op aarde, waarmee die was met water in die naam van die Vader, Seun en Heilige Gees, die identifisering met Christus, die aandeel in die voordele van die verbond van genade en die belofte om God s’n te wees, verteenwoordig en verseël.
Die doop kan nie bedien word aan enige iemand wat nie ’n lid van die kerk op aarde is nie, totdat hulle hul geloof in Christus en gehoorsaamheid aan Hom bely. Baba’s van gelowige ouers (een of albei) wat hul geloof in Christus en gehoorsaamheid aan Hom bely is, as gevolg van daardie rede, binne die verbond en moet gedoop word.
Inleiding
Soos alreeds in die vorige inskrywing behandel is, is dit baie belangrik om te besef dat die doop slegs ’n teken is, ’n teken dat iemand aan die volk van God behoort. Hierdie teken dui op die verbond van genade waarmee God homself die God van, in die Ou Testament, Israel en, in die Nuwe Testament, sy Kerk verklaar. Dit is n teken wat bedien word aan sy Kerk en het slegs betekenis vir iemand wat verklaar dat hul geloof in God het en gehoorsaam aan Hom sal wees. Daarbuite is dit sinneloos en betekenisloos.
Wat beteken die woord doop.
Daar is twee woorde in die Grieks vir doop.
Die twee Griekse woorde wat as doop vertaal kan word, is Βάπτω (Bapto) en βάπτιζo (baptizo). Daar is ’n resep van die 2 de eeu wat die verskil tussen hierdie twee woorde goed illustreer. Die resep verduidelik hoe om gepekelde komkommer te maak. Die komkommer moet in warm water gedoop word (Bapto) en daardeur afgewas word en daarna gedoop (Baptizo) word in die asyn oplossing, waar die asyn nou letterlik deel van die komkommer word. Al twee moet gedoop word maar die een doop is slegs ’n afwassing terwyl die ander doop die komkommer permanent verander. Daarom kan Paulus die woord doop gebruik in 1Korintiers 10 waar niemand aan enige water geraak het nie en mense tog gedoop is. 1Korintiers 10:1-2 Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see. Deurdat die volk Moses gevolg het, het hulle hulself identifiseer met hom en daarom word hulle deel van Moses se volgelinge. As sy volgelinge het hulle deur die see gegaan en die wolk gevolg wat hulle uitgelei het uit slawerny. Daarom moet ons baie versigtig wees om nie die teken te verhoog i.p.v. dit waarvoor die teken staan nie.
Gedoop met wat/wie?
As ons ons laat doop, word ons gedoop in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Ons verklaar met die doop dat ons vervul is met Hom. Johannes 14:20 In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle. Of soos Paulus tereg sê Galasiërs 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het. Daarom word die doop in verband gebring met die dood. Romeine 6:3-4 Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ‘n nuwe lewe kan wandel. Daarom is dit nie net water wat op my kop gekom het of oor my gespoel het nie, maar ’n verklaring wat gemaak word dat ek nie meer leef nie, maar dat Christus my lewe oorgeneem het. Jesus roep dan ook sy volgelinge op om hulle kruis op te neem en Hom te volg. Die volg van Jesus is die aflê van jou ou lewe, die identifisering met Christus en die vervulling met Hom wat jou hele lewe transformeer. My DNA was soortgelyk aan die van ’n wurm totdat ek gesterf het in Christus en as ’n skoenlapper ontwaak het. Die doop verklaar dus dat daar ’n afsterwe was van die oue en dat ek saam met Christus opgestaan het uit die dood. Die doop verklaar verder ook dat ons skoon gewas is van ons sonde deur die bloed van Jesus Christus. Handelinge 22:16 En nou, waarom versuim jy? Staan op, laat jou doop en jou sondes afwas, terwyl jy die Naam van die Here aanroep.
Wie kan dan gedoop word?.
Met die verloop van tyd het dit baie duidelik geword dat die wat Moses gevolg het en in die see en die wolk gedoop is nie almal werklik volgelinge van Moses was nie. Hulle dade het gewys dat hulle Moses nooit werklik gevolg het om God hulle God te maak nie, maar omdat dit op daardie stadium vir hulle voordelig gelyk het. Stefanus getuig voor die Jode hoe Israel nog altyd ’n hardnekkige volk was en nooit werklik God gevolg het nie. Handelinge 7:42-43 Maar God het Hom afgewend en hulle oorgegee om die leër van die hemel te dien, soos geskrywe is in die boek van die profete: Julle het tog nie aan My slagoffers en offers gebring gedurende veertig jaar in die woestyn nie, o huis van Israel? Ja, julle het die tent van Molog opgeneem en die ster van julle god Remfan, die beelde wat julle gemaak het om hulle te aanbid. En Ek sal julle anderkant Babilon wegvoer. Hulle was dus altyd besig om ’n afbeelding van God te maak en te aanbid. Baie individue in die kerk is nog steeds besig met die aanbidding van ’n afbeelding van wie God is. Dit gaan nie oor wie God is en dat ek saam met Christus gesterf het en nou nie meer leef nie, maar ’n verwagting en afwagting van ’n god wat in my diens is en solank hy doen en maak soos ek sê sal ek hom dien.
Die doop word bedien aan elkeen wat bely dat hy/sy in geloof Jesus Christus as hulle verlosser aanvaar het en dat Hy hulle Koning is.
Hoekom aanvaar ons dan dat babatjies en kleintjies gedoop mag word voordat hulle so ’n getuienis kan lewer? Dit is belangrik om altyd te onthou waarvan die doop ’n teken is. Dit is ’n teken van God se verbond met sy Kerk. Die Kerk wat bely dat hulle in Hom glo en Hom sal gehoorsaam. Nou is dit belangrik om God se handeling met die mens van die begin af te bestudeer. Ons bely dat ons ’n God aanbid wat nooit verander nie. Hebreërs 13:8 Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. Ons het in die vorige blog gesels oor die besnydenis en hoe dit ’n teken was van Abraham se geloof in God. Ons het ook gesê dat die teken van ons geloof in God in die Nuwe Testament, die van die doop is. God verklaar in die Ou testament in Genesis 17:7-10 dat God Sy verbond met Abraham in stand sal hou. God vra in die Die Ou Testament dat ’n kind van agt dae besny moet word – dit wat ’n teken van geloof sou wees. Hoe kon hierdie kind dan die belydenis maak dat hy/sy geglo het? Wat wou die besnydenis vir ons van al Abraham se slawe en kinders vertel? Dat hulle saam met Abraham God sou volg in geloof. Die kleintjie sou in hierdie geloofsverhouding grootword en deel wees van die verbond wat God met die mens gemaak het. Die verbond wys nooit na die mens nie, maar na die God wat met mense ’n verbond kom maak het. Daarom vind ons dat die verbondsteken, net soos met Abraham in die Ou Testament waar almal in sy huis besny is, (Genesis 17:23 Daarop neem Abraham sy seun Ismael en almal wat in sy huis gebore is, en almal wat met sy geld gekoop is, almal wat manlik was onder die mense in die huis van Abraham, en hy het die vlees van hulle voorhuid nog op daardie selfde dag besny, soos God met hom gespreek het.) net so in die Nuwe testament plaasvind. Handelinge 16:14-15 En ‘n vrou met die naam van Lídia, ‘n purperverkoopster van die stad Thiatíre, ‘n godsdienstige vrou, het geluister; die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is. En toe sy en haar huisgesin gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: As u oordeel dat ek in die Here glo, kom dan in my huis en bly daar. En sy het ons gedwing. Die woord in die Grieks vir huisgesin is οἶκος(oikos) wat ’n uitgebreide gesin beteken en wat tot die slawe in die huis ingesluit het. As die engel vir Kornelius sê om manne na Petrus te stuur gee die engel die volgende boodskap vir Kornelius: hy sal woorde tot jou spreek waardeur jy en jou hele huis(oikos) gered sal word. Handelinge 11:14.
Net so word ons vertel van die tronkbewaarder wat in die middel van die nag tot bekering gekom het ook gedoop is, maar nie net hy nie, hy en sy hele huis. Hand 16:33 En in dieselfde uur van die nag het hy hulle geneem en hulle wonde gewas, en hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense. Hy word ook in die vorige vers vertel dat as Hy glo sal hy en sy hele huisgesin gered word. Handelinge 16:31 Toe sê hulle: Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin(oikos). Dit is natuurlik dieselfde woorde wat Jesus gebruik nadat Saggeüs ’n openbare getuienis maak dat hy sy lewe wil verander. Lukas19:9 Toe sê Jesus aan hom: Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom, aangesien hierdie man ook ‘n seun van Abraham is. Die vraag wat in elkeen van die bogenoemde voorbeelde beantwoord moet word is, het almal belydenis in die huise gedoen en is hulle toe gedoop? Was almal in die huishouding volwassenes of was almal op ’n ouderdomme waarop hulle self belydenis van geloof kon doen?
Die probleem wat ons in die Weste het, is dat ons nie werklik die huisgesin ervaar soos in die tyd van Jesus nie. Gelowige ouers kan en moet hul kindertjies laat doop, omdat God hulle van die begin af as deel van sy kerk op aarde sien. Die verbond met die gelowige ouer sluit die hele huisgesin in en die ouer beloof om sy kind te leer en groot te maak in die weë van die Here. Die gelowige ouer glo dat deur hul toegewyde gebruik van die gewone instrumente van genade (die prediking van die woord en die sakramente) wat God vir Sy Kerk gegee het, God Sy belofte aan hul kinders sal vervul.
Die teksvers wat die argument teen die doop van babas en kleintjies wat in ’n gelowige huis grootword ’n doodsteek gee is 1 Korintiërs 7:14 Want die ongelowige man is geheilig deur die vrou, en die ongelowige vrou is geheilig deur die man; want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig. Die eerste twee voorbeelde van “heilig” is werkwoorde. Dit beteken dat God die eggenoot van die gelowige afsonder en met hom/haar werk solank as wat hy/sy met die gelowige getroud is. Die derde “heilig” is ’n byvoeglike naamwoord. Dit beskryf dus die kind se toestand. As Paulus aan die gemeentes skrywe en hy hulle heiliges noem, gebruik hy ook die byvoeglike naamwoord. Hy sê dan ook verder dat die kinders onrein sou gewees het, maar nou is hulle heilig. Elke kind wat dus gebore word in ’n huisgesin waarin nie een van die ouers gelowiges is nie, is dus onrein. Indien daar egter een gelowige ouer is, is hulle heilig. Dit is wie hulle is, nie wat hulle sal word nie. As hulle dus heilig is en elkeen wat heilig is aan die Gemeente van Christus behoort, hoekom sou jy dan nie hierdie kinders wou doop nie? Net soos Isak deel gehad het aan die verbond en deel was van die volk van God, net so is kinders van gelowiges deel van die verbond in Christus en deel van die volk van God.
Ons probeer baie keer hierdie verstaan kragtens die realiteit wat ons om ons sien, nl. kinders van sogenaamde gelowige ouers, wat gedoop is, maar wat geen verhouding in hul lewens met Jesus Christus het nie. Ons moet altyd onthou om nooit Bybelse waarhede te probeer toets aan die sondige realiteit rondom ons nie. Ons het geen idee wat in mense se harte en dikwels in hul huise aan die gang is nie. God se belofte is waar. As dit lyk of dit nie is nie, is die probleem by die mens en nie by God en Sy beloftes nie.
Slot
“Heilige” kinders word groot in huise waar pa of ma of albei gesterf het in Christus en nou lewe vir Hom en dit veroorsaak kinders wat vroeg in hulle lewens ook self die keuse maak om vir Christus te sterwe en vir Hom te lewe. Die doop word dan die bevestiging van sy/haar lidmaatskap aan die Kerk op aarde.
