Vraag 91-93 Dit versterk my geloof.

Vraag 91-93. Hoe word die sakramente effektiewe instrumente tot verlossing? Wat is ‘n sakrament? Wat is die sakramente van die Nuwe Testament?

Antwoord: Die sakramente word effektiewe instrumente tot verlossing nie omdat hulle enige mag op sigself het of die persoon wat dit bedien sekere magte het nie, maar deur die seën van Jesus Christus en die werking van die Heilige Gees in die wat dit in geloof ontvang. Die Sakramente is Heilige instellings deur Christus, waardeur, met visuele tekens, Christus en die voordele van die nuwe verbond voorgestel, verseël en toegepas word op gelowiges. Die Sakramente van die Nuwe Testament is die Doop en die Nagmaal, wat die Besnydenis en die Pasga van die Ou Testament vervang.

Inleiding

Die God wat ons geskape het, wat presies weet wat die mens nodig het en hoe om ons te help en te herinner aan wat Hy vir ons gedoen het, het vir ons visuele tekens gegee om ons telkens aan Hom en Sy Verbond met ons te herinner. Hierdie tekens het slegs betekenis vir gelowiges en is leeg en sinneloos vir die wêreld, al kan hulle dalk vir die skyn daaraan deelneem. Die skrywers van die Westminster Belydenis het egter ook geweet dat mense maar te geneig is om afgode te dien en wou seker maak dat ons duidelik verstaan wat die verskil is tussen ’n teken en dit waarna die teken wys, die Een wat die teken ingestel het en die een wat dit aan ander gelowiges bedien, sodat ons nie later die teken of die een wat dit bedien verafgod nie. Dit is dan ook juis wat vandag in sommige kerke gebeur. Die Doop het die redder geword in plaas van die Naam waarin ons gedoop word. Die Nagmaal het die werklike kruisiging van Jesus Christus geword en die eet van die brood en drink van die wyn is nou hoe ons werklik deel word van Jesus i.p.v. die inwoning van die Heilige Gees wat ons na Sy beeld verander. Die twee sakramente word in die volgende vrae volledig behandel, maar met hierdie inskrywing wil ons die doel en betekenis van sakramente vir die Kerk duidelik maak.

Die Bediening van die sakramente

 Die Evangelie is en moet sentraal wees, nie die sakramente nie. In die vroeë kerk was daar baie vinnig ’n stryd oor wie die sakrament bedien het, want dit het om een of ander rede vir die ontvanger meer eer gegee. Paulus skrywe aan die Korintiër gemeente en wys hulle skerp tereg omdat hulle so geredeneer het. Hy wys hulle ook daarop dat Hy net ’n paar mense in hulle gemeente gedoop het, maar dat dit nie sy primêre doel is nie. 1Korintiers 1:17  Want Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie verydel mag word nie. Vir baie in die Kerk is hierdie ’n harde woord. Ons verkondig die blye boodskap van Verlossing van ons sonde deur Jesus Christus.

Die Doop wys heen na wat plaasgevind het in wedergeboorte en die Nagmaal na Christus se kruisdood. Die grootste gevaar vandag nog in die Kerk is dat die ware betekenis van die sakramente verlore gaan en  soos reeds gesê, word die teken self belangriker as die betekenis. Om dit maklik te verduidelik kan ons dink aan die teken wat gebruik word om aan te dui hoe om by die hospitaal te kom. Hoe dom sou ons ’n persoon beskou wat by die bord gaan staan en wag om gehelp te word asof hy by die hospitaal is? Ons sou vir die persoon wou sê dat die bord ’n teken is of wegwyser na die hospitaal is, maar nie die hospitaal self is nie. Baie keer is dit presies wat gebeur met die sakramente. In plaas daarvan om die wonderlike betekenis van die sakramente en hoe bevoorreg ons is dat ons dit uit God se hand ontvang het, te bespreek, is ons vasgevang met die adiaphora (nie-essensieel). Is dit belangrik dat dit Jordaan water of reënwater of kraanwater is? Is dit belangrik dat jy drie keer of een keer onder die water gedruk word? Is dit belangrik of jy die water oor sprinkel of oorgooi? Kan ek appelsap gebruik vir die nagmaal of moet dit wyn wees en as dit wyn is hoe soet of suur moet dit wees? Baie van hierdie verskille het kerke deur die eeue verdeel. Kan jy sien hoe belaglik hierdie redenasies is?

Wat beteken die sakramente

Die gebruik van die sakramente is nie ’n bewys dat jy gered is nie. Dit is baie belangrik om na hierdie woorde van Paulus te luister as hy die twee konsepte van doop en wat geëet en gedrink is in die woestyn as voorbeelde gebruik van mense wat, al het hulle dit gedoen, nog steeds gesterf het in die woestyn. 1Korintiers 10:1-5  Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. Daarom kan die sakramente nooit ’n teken word van iemand se redding nie.

Die belangrike van die Sakramente is dat Christus sy gemeente hiermee geseën het en dat ons dit kan gebruik in geloof en met die werking van die Heilige Gees in ons lewens. Die essensiële is dat dit God is wat werk. 1Co 3:7  So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei.

Tekens van die nuwe verbond

Die twee sakramente in die Woord wat God aan Sy kinders gegee het, is die doop en die nagmaal. Die doop neem die plek in van die besnydenis. Dit kan maklik verduidelik word. Wat was die teken van die geloof in die Ou Testament. Romeine4:11  En hy het die teken van die besnydenis ontvang as ‘n seël van die geregtigheid van die geloof toe hy nog nie besny was nie; dat hy die vader sou wees van almal wat glo terwyl hulle onbesnede is, sodat ook aan hulle die geregtigheid toegereken sou word. Wat is die teken geloof wat die gelowige in die Nuwe Testament ontvang. Kolossense 2:12  omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het. Dit is wonderlik hoe in Kolossense hierdie gedagte vir ons verduidelik word. Lees die hele gedeelte van Kolossense 2 van vers 9 tot vers 15. Kolossense 2:9-15 Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag; in wie julle ook besny is met ‘n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus, omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het. En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael, nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het. 

Net so is die Pasga vervang met die Nagmaal. Jesus het die aand waarop die Pasga gevier is die tekens nuwe betekenis gegee. Die Pasga het die Jode laat terugdink aan die dag wat God hulle van slawerny verlos het en hoe die bloed van die lam die oudste seuns se lewens gespaar het as die bloed teen die deurkosyn gesmeer is. Jesus is die vervulling van elke deel van die Pasga en waarna die Pasga verwys het. Hy is die lam. Johannes 1:36  en toe hy Jesus sien wandel, sê hy: Dáár is die Lam van God! Deur sy bloed het daar verlossing gekom. Hy het ons verlos van slawerny en in Hom het ons die belofte van die beloofde land. 1Petrus 1:18-19  omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos.

Slot

Hoe wonderlik dat God vir ons hierdie tekens as ’n fisiese versterking gegee het vir ons geloof. Deur die gebruik van hierdie Sakramente word ons herinner aan God se werk en kan ons op ’n sigbare manier die werk van Christus in ons gedagtes na vore roep.  Hierdie is nie net nog ’n ritueel in die kerk wat ons ligtelik kan opneem nie, maar is ’n seëning deur Jesus Christus self ingestel om ons te versterk in ons geloof. Sonder ’n verhouding met Jesus is dit leeg, maar as gelowige is dit ’n bron van versterking en versekering van ons voordele as Sy mede-erfgename. ’n Erfenis wat deur Hom alleen moontlik gemaak is.