Vraag 90 Lees jou Bybel bid elke dag!

Vraag 90: Hoe moet die Woord van God gelees word, sodat dit effektief kan word tot redding?

Antwoord: Ons moet die Woord van God bestudeer met ywer, voorbereiding en gebed, ons moet dit ontvang in geloof en liefde, dit vaslê in ons harte en uitleef in ons lewens, sodat dit effektief kan word tot redding.

Inleiding

Ons het gesien dat die Woord van God een van die voordele is wat vir ons as gelowiges gegee word wat ongelowiges nie het nie. Soos baie dinge kom die voordele daarvan eers in werking die oomblik as jy dit gebruik. Jy kan aan ‘n fantastiese gym behoort, as jy nie gaan nie sal jy geen voordeel daaruit kry nie. As jy verder elke keer voor jy gaan jouself ooreet aan gemors kos, jou tyd mors terwyl jy daar is met nuttelose oefeninge en as jy daar uitstap nie ‘n gesonde leefstyl leef nie, gaan die gym jou niks baat nie – al het jy die goue of self platinum pakket!

Bestudeer

Die oomblik as baie mense die woord “bestudeer” hoor, is dit asof hulle toeslaan. Dit klink darem te veel na studeer en werk. En ja, gedeeltelik is dit waar. Niks in die lewe wat die moeite werd is word verkry sonder moeite nie. Die bestudeer van die Bybel moet egter ook nie net ’n gewoonte word nie, maar iets wat met ywer, voorbereiding en gebed aangepak word.

 Ywer – Soms is die ywer nie daar nie en is dit nodig dat ons herinner word aan die voorreg wat ons eerstens het om die Woord van God tot ons beskikking te hê. Ons bestudeer dit nie om slimmer as ander te wees nie, maar om God beter te leer ken en sodoende nader aan Hom te kom. Die Woord moet vir ons wees soos wat ’n liefdesbrief  van ons geliefde vir ons is. Ons kan tog sekerlik nie wag om te lees wat hy/sy vir ons wil sê nie, om te hoor hoe lief hy/sy ons het en hoe hulle verlang om by ons te wees nie. Waarvan hulle hou en waaroor hulle droom – van ons toekoms saam. Dit maak my opgewonde en ywerig om die Woord te lees.

Voorbereiding – Wanneer ons stiltetyd hou – met ander woorde – wanneer ons die Woord van God bestudeer op ’n stil plek waar ek en God alleen is – kom ek met ’n verwagting. Ek berei myself voor deur die wêreld se gejaag agter te laat en stil te word. Vir baie mense is dit die moeilikste plek om te wees – fisies en geestelik. Die Woord sê – wees stil en weet dat ek God is. In die gejaagde wêreld van musiek en TV en mense en selfone en die ge”peep” van WhatsApp boodskappe wat deurkom is dit moeilik om stil te word. Dit is presies wat die duiwel wil hê. Solank as wat die wêreld in jou ore en gees sing kan jy God se stem nie hoor nie. Kry ’n tyd van die dag en laat dit bekend word dat dit jou stiltetyd tyd is. Sit jou selfoon vêr weg. Sit die TV af. Maak vir jouself ’n koppie koffie of tee en as dit koud is maak jouself toe met ’n kombers. Berei jouself voor vir hierdie spesiale tyd van alleen wees met God se Woord. Dit sal iets word waarna jy met ywer uitsien elke dag. Hou ’n pen en notaboekie byderhand en soos wat jy God se Woord lees, skryf neer dit wat vir jou uitstaan, waaroor jy vrae het en dit wat jy nie verstaan nie.

Bid- Gebed is deel van hierdie wonderlike verhouding wat jy met God kan hê. Jy kan met Hom praat. Vra die Here voor jy Sy woord oopmaak om met jou te praat deur Sy woord. Daar is ook die verlange om in die gebed my begeerte uit te spreek dat ek nie net dit wat God van my vra sal doen nie, maar die woord van God as iets wonderliks sal aanskou. Psalm 119:18  Open my oë, dat ek kan sien die wonders uit u wet. As jy iets spesifiek het waarmee jy worstel, vra dat Hy vir jou die antwoord uit Sy woord sal gee. Vra vir helderheid van verstand, begrip, geloof en kalmte. Soos wat jy sekere gedeeltes lees, bid as iets jou tref. Vra die Heilige Gees om die Woord vir jou oop te breek en lewend te maak.

Ek moet ook vir God vra om my gewillig te maak om sy opdragte uit te voer. Al is daar by my die ywer om te doen wat God vra, weet ek dat ek dit alleenlik in Sy krag kan doen. Filippense 4:13  Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee. God se Woord is wonderlik, dit maak jou opgewonde, dit bring jou in verwondering oor die wysheid, almag, grootheid en liefde van die Een wat wil hê dat ons as Sy kinders Hom Vader moet noem.

Ontvang

Daarom aanvaar en ontvang  ek God se Woord in liefde en nie as ’n klomp reëls wat ek moet nakom nie, maar as van ‘n Liefdevolle God wat die beste vir my in gedagte het as Hy sy bepalings en getuienisse met my as ’n blote mens wil deel. Daarom kan ek vra vir ‘n smagting  na Sy Woord wat is soos ’n pasgebore baba wat na melk smag. Sonder dat die baba daarvan bewus is word dit waarna hy/sy verlang ook dit wat hom/haar voed en laat groei. 1Petrus 2:1-2 Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery; en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei.

Die Heilige Gees sal die Woord vir jou oopmaak en lewend maak indien jy reddende geloof het in Jesus Christus. Vir die kind van die Here is dit nie moeilik om dit te ontvang in geloof en liefde nie. Elke woord in die Bybel is bedoel om gelowiges se geloof te versterk en die liefde wat God vir ons het te bevestig. Ontvang dit en maak dit die fondasie van jou lewe. Die Woord is ’n geskenk van God aan jou – ek aanvaar God se Woord dus in geloof met die wete dat Hy God is en alles weet en verstaan en regeer oor alles. Ek het nie bewyse nodig voor ek in gehoorsaamheid optree nie, nee omdat God iets gesê het, is dit vir die gelowige genoegsaam.

Bêre in ons hart

God se Woord word gebêre in my hart. Ek dink daaraan en herinner myself gereeld aan sy beloftes en opdragte. Hoe meer ek oor God se Woord dink en daaroor gesels, hoe meer vorm dit my en raak dit die denke van my lewe. Dit versterk my, sodat ek nie teen die Here sondig nie. Psalm 119:11  Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie. Óf God se Woord bepaal my gedagtes óf dit wat in die wêreld is, sal my gedagtes bepaal. Dit hang alles af waarmee  ek my gedagtes voer in my geestelike lewe. As ek my gedagtes voer met die wêreldse denke sal ek nie staande kan bly teen die aanvalle van die Satan nie. As ek dink soos die wêreld sal ek ook praat soos die wêreld en word soos die wêreld. Kollosense 3:1-2  As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.

Leef dit uit

Die lees van die Bybel moet nooit net nog ’n gewoonte word, waarin die Woord geen inpak in my lewe het nie. Die Bybel moet met ywer nagekom word. God roep die volk op in die Ou Testament om nie Hom op die proef te stel met hulle ongehoorsaamheid nie, maar Sy opdragte met ywer uit te voer. Deuteronomium 6:16-18  Julle mag die HERE julle God nie versoek soos julle Hom by Massa versoek het nie. Julle moet die gebooie van die HERE julle God en sy getuienisse en sy insettinge wat Hy jou beveel het, ywerig onderhou. En jy moet doen wat reg en goed is in die oë van die HERE, dat dit met jou goed kan gaan en jy kan inkom en in besit neem die goeie land wat die HERE aan jou vaders met ‘n eed beloof het.  As jy onder die geklank van die Woord kom en verstaan wat God verlang in jou lewe moet jy sonder enige huiwering onmiddellik God se opdragte nakom en dit navolg. Baie keer hoor ons die Woord en ons kom onder die indruk van dinge wat ons moet verander of regmaak in ons lewens net om uit te stap en niks daaraan te doen nie. Luister na hoe Jakobus sulke mense beskryf: ”Want as iemand ‘n hoorder van die woord is en nie ‘n dader nie, dié is soos ‘n man wat sy natuurlike gesig in ‘n spieël sien; want hy sien homself en gaan weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het.” Jakobus 1:23-24. God roep ons op om Sy opdragte sorgvuldig uit te voer en nie net Sy woord aan te hoor nie. ’n Persoon wat ’n dader is word beskryf in die volgende vers in Jakobus as iemand wat gelukkig sal wees in wat hy/sy doen dit. Die dader van God se Woord is altyd iemand wat ten spyte van wat rondom hom/haar aangaan en die aanvalle van die wêreld, nog steeds gelukkig is. Die gehoorsaamheid van God se opdragte maak die mens gelukkig. Dit is so teenstrydig met wat die wêreld en baie in die kerk dink. Mense dink dat as hulle aan God gehoorsaam is en doen wat Hy van hulle verlang, hulle ongelukkig sal wees en dat God eintlik maar net ons vreugde wil steel met wat Hy van ons verwag. Die oomblik wat jy begin om met ywer God se opdragte uit te voer, sal jy saam met die Psalmdigter kan getuig: Groter vreugde het U in my hart gegee as wanneer hulle koring en hulle mos oorvloedig is. Psalm4:8.

Slot

Met die bestudeer van die Woord het jy stil geword in die teenwoordigheid van die lewende God. Die Heilige Gees het die Woord vir jou oopgebreek en duidelik gemaak wat God van jou verlang en as jy nou die Bybel toemaak en die besige, raserige, wêreld betree, wees gehoorsaam. Moenie die vlam laat doodwaai deur die eerste koue en ongelowige woorde wat jy hoor nie. Die Woord wat jy nou gebêre het in jou hart, sal die lig vir jou wees in elke storm wat vandag oor jou pad gaan kom. As daar sonde in jou lewe is waaroor die Woord jou aangespreek het en jy is dalk diep gesny deur die tweekantige swaard, wees gehoorsaam. Maak reg, laat staan en begin leef dit waartoe die Woord jou opgeroep het. Vandag.