Vraag 88-89 Die Woord alleen!

Vraag 88:  Wat is die uiterlike en gewone maniere waardeur  Christus vir ons die voordele van verlossing gee?

Antw: Die uiterlike en gewone maniere waardeur Christus vir ons die voordele van ons redding gee, is veral die Woord, die sakramente en gebed. Hierdie dinge word effektief gemaak in die verlossing van die uitverkorenes

 Vraag 89: Hoe is die Woord van God effektief gemaak tot redding

Antw: Die Gees van God maak die lees, maar veral die preek van die Woord, ’n effektiewe manier om sondaars te oortuig en te bekeer en om hulle op te bou in heiligheid en rus, deur geloof, tot redding

Inleiding

As gevolg van my verlossing deur geloof in Jesus Christus, my Here, het ek sekere dinge wat ongelowige mense nie het nie. Behalwe dit wat innerlik in my lewe gebeur is daar sekere dinge wat Christus vir my gee as gevolg van my redding wat vir ’n ongelowige geen betekenis het nie.  Daar is natuurlik baie dinge wat net van toepassing is op gelowiges, waarvan die belangrikste is dat ons nie meer staan onder die toorn van God nie en nou deel is van God se familie. Hierdie vraag wil egter praat oor die uiterlike en gewone dinge wat almal kan sien en selfs in kan meedoen, maar wat slegs ’n voordeel inhou vir ’n gelowige. Dit is duidelik dat enige iemand die Woord kan lees, die sakramente kan gebruik en kan bid tot God, maar dit het slegs betekenis vir gelowiges en is effektief vir die verlossing van die uitverkorenes. Hierdie vraag is drieledig en verwys na die Woord, die sakramente en gebed. Ons gaan nou vêrder na vraag 89 kyk wat spesifiek handel oor die Woord.

Die Woord is effektief

Wat is die mees effektiewe manier om mense te bedien sodat hulle gered kan word? Ons ervaar vandag dat daar ’n magdom opinies is wat die mees effektiewe manier is om mense by die Here en dan verlossing uit te bring. Kerke het programme en metodes wat hulle glo mense sal intrek en ontvanklik sal maak vir die boodskap van Jesus Christus. Daar is kerke wat selfs ontslae raak van die podium waarby die prediker staan, omdat hulle glo dat die prediking nie meer die mees effektiewe metode is om mense te bereik nie. Hulle rede is dat mense vandag so gewoond is aan televisie en om vermaak te word dat ons meer gebruik moet maak van die visuele. Ons praat vandag van “Soeker-vriendelike-kerke” en hoewel daar sekerlik iets te sê is daarvoor om alle mense welkom te laat voel, is die Bybel duidelik daaroor dat daar niemand is wat soekend is nie. Romeine 3:11  Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Indien jy in jou lewe ervaar dat jy soekend is, is dit die Heilige Gees wat alreeds besig is om in jou lewe te werk. Indien dit die waarheid is, sal die lengte en tyd van die diens, die tipe banke waarop jy moet sit en die kleredrag van die prediker geen verskil maak nie. Jy kom vir een rede kerk toe en dit is om die Woord van God onverdraaid en duidelik te hoor.

As verlossing van mense van ons afhang sou dit miskien nie so ’n slegte idee gewees het om ons eie planne en idees te gebruik nie. Dit wat ons alreeds ontdek het uit die bestudering van die Skrif aan die hand van die Westminster belydenis, is dat God die werk verrig om sondaars tot wedergeboorte te bring. Filippense vertel ons dat Hy die goeie werk in ons begin het. Filippense 1:6  omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het Daarom moet ons gaan kyk in Sy Woord wat die instrumente is wat God gebruik in hierdie Verlossingsplan. In die volgende paar weke gaan ons stilstaan by elkeen van hierdie instrumente nl. Die Woord, die Sakramente en Gebed.

Die Woord in prediking

Elkeen van ons as gelowiges word opgeroep om Sy Woord uit te dra in die wêreld. In Romeine sê Paulus hoe wonderlik dit klink as hierdie boodskap uitgaan. Rom_10:15  En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig! Hoe fantasties is dit nie dat God ons deel gemaak het van Sy plan waardeur mense gered word nie. Hy kon engele gebruik het vir hierdie diens, maar Hy het die mens ingesluit by Sy plan.

Baie probeer om die Woord aan te pas of “ ligter” te maak vir die hoorder asof dit weereens van ons afhang om mense tot wedergeboorte te bring. As gelowige moet ek bewus wees dat die Woord wat ek verkondig vir die wêreld vir hulle absolute dwaasheid gaan wees. 1Co_1:18  Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.  Elke Sondag vind daar die mees dwase ding plaas in die wêreld se oë. ’n Man gaan agter die podium  staan en lees en preek vanuit die Woord soos wat God dit aan die mens openbaar het. Dit is in stryd met alles wat ’n denkende persoon sou sê mense sal laat verander. Paulus skryf hiervan in Korintiërs as sê: Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red. 1 Korintiërs 1:21. Dit is dus duidelik dat God se besluit is dat daar deur die eenvoudige oordrag van Sy Woord, deur eenvoudige mense, die grootste wonderwerk sal laat plaasvind, nl. dat geestelike dooie mense lewendig sal word.

Die beeld van Esegiël in die Ou Testament wat deur God geroep word om te preek tot doodsbeendere illustreer die werking van prediking. In Esegiël 37 bring God Esegiël na ’n laagte vol bene van dooie mense. God roep Esegiël om vir hierdie beendere te preek. Esegiël 37:4  Daarop sê Hy vir my: Profeteer oor hierdie bene en sê vir hulle: Dor bene, hoor die woord van die HERE! Hoe dwaas is dit! Wat kan gebeur met dooie bene. En tog, as hy begin preek kom bene bymekaar, senings en dan vel oor hulle. Ten laaste kom daar gees (lewe) en hulle word lewendig. Dit is wat elkeen van ons doen as ons voor familie, vriende, kollegas of ander ongelowiges staan en die Woord met hulle deel. Ons verstaan terdeë ons gebrokenheid en die doodsheid van dié voor wie ons staan, maar te midde hiervan is ons bewus dat dit God se werk is om lewendig te maak en dat Hy gekies het om dit te doen deur mense soos ek en jy. Ons besef dat die resultate, van mense se lewens wat verander word, nie in ons gesetel is nie. God besluit om Jeremia te gebruik as prediker en min mense se lewens word verander, al was hy getrou. Dan kyk ons weer na Jona, die “nie-so-getroue” prediker, waardeur God besluit om ’n groot stad tot inkeer te bring.

Die Woord is genoegsaam

Die Woord  is genoegsaam en ons het niks daarby nodig nie. 2 Timoteus 3:16  Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. Die Woord is dus volledig en genoegsaam om gelowiges te lei tot geestelike volwassenheid. Ons kom as gelowiges soos babas in die Koninkryk en met die Woord word ons gevoed, van melk tot vaste kos, sodat ons as manne en vroue kan opgroei. Dit is ook verder belangrik om die eerste deel van hierdie vers te onderstreep. Die woord ingegee is die woord vir blaas. God het die Skrif geblaas. Dit is ’n skeppingsdaad en daarom moet ons weet dat ons nie ligtelik daarmee kan omgaan of grappe kan maak oor die Woord wat Heilig is nie. Dit is nie ’n mens wat dit uitgedink het nie. 2Pe 1:21  want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek. Die Woord moet altyd deur ons met ontsag hanteer word, want dit is nie mense se woord nie, maar God se Woord. Die Woord is lewend.

Die Heilige Gees is die persoon in die Drie-Eenheid wat die Woord aan ons openbaar en dit lewend maak. Vir die gelowige breek Hy die Woord oop en wys en leer hom hoe om dit van toepassing te maak in elke omstandigheid. Geen program of vermaak of visuele hulpmiddel kan met die Heilige Gees kompeteer nie. Sonder Hom is die Woord dood en onverstaanbaar. Jy kan die beste orator wees en mense kan aan jou lippe hang, sonder die Heilige Gees is jou prediking dood en sonder enige betekenis. Jy kan so vaal en vervelig wees soos ’n ham en kaas toebroodjie, terwyl die Heilige Gees die Woord wat deur jou gespreek word kragtig gebruik. Die Woord is kragtig.

Slot

As gelowiges kan ons met dankbaarheid die Woord as geskenk van God aanvaar as die handleiding waardeur ons ons lewe kan rig. Deur die Woord kry ons die voordeel van ons Verlossing in Jesus Christus deurdat ons God kan leer ken en ons lewe daarvolgens kan inrig. Die Woord is die lamp vir ons voet en die lig op ons pad na die Ewige Lewe.

Lees dit, preek dit, leef dit.