Vraag 86-87 Die oue is verby!

Vraag 86: Wat is geloof in Jesus Christus?

Antwoord: Geloof in Jesus Christus is ’n reddende geloof waardeur ons Jesus ontvang en op Hom alleen kan rus vir ons redding, soos wat hy vryelik aan ons geoffer word in die evangelie.

Vraag 87: Wat is berou tot lewe?

Berou wat tot lewe lei is ’n reddende genade waardeur ’n sondaar, nadat hy waarlik tot ’n sondebesef kom en die genade van God in Jesus verstaan, wegdraai van sy sonde met hartseer en haat en draai na God met ’n besluit van volle inspanning tot nuwe gehoorsaamheid.

Inleiding

Ons hoor baie dat mense sê dat hulle glo in Jesus Christus. Ons hoor baie dat predikers sê “Preek Christus!” Wat beteken dit egter om te sê jy glo in Jesus Christus? Beteken dit jy glo daar was ’n  man met die naam Jesus, m.a.w. jy glo in die historiese Jesus. Glo jy dit wat die evangelies van Hom verklaar, nl. dat Hy God is? Wel, die duiwels glo dit ook! Dit is nie wat ’n  ware kind van God bedoel as hy/sy praat van geloof in Jesus Christus nie. Geloof in Jesus Christus is jou identiteit – dit bepaal wie jy is.

Geloof is ’n geskenk

Geloof wat red is die geloof wat ek ontvang uit genade en nie deur verdienste nie. Die geloof dat Jesus is wie Hy sê Hy is, dat Hy die Een is wat ons sonde kom wegneem en ons totaal kom versoen met God, dat Hy ons Hoëpriester is wat vir ons intree, dat Hy die weg en die waarheid en die Lewe is – dit alles kom van God af en is nie iets wat jy eendag op jy eie besluit om te glo nie. Hy maak ons oë oop vir wie God is, vir wie ons is en vir ons nood vir Verlossing – alles uit genade. Hy het ons redding bewerk deur die kruisdood – uit genade. En om dit alles te kroon kom Hy en gee ons die geskenk van geloof in wat Hy vir ons kom doen het – uit genade. Geloof in Jesus Christus is dan eerstens ’n Reddende Genade.

Hierdie geloof word geplaas in Jesus Christus se werk en ek kan rus in wat Hy vir my bewerk het. Dié  wat die evangelie verkondig het, het duidelik besef dat  as mense to bekering gekom het, dat dit God se werk is/was. Handelinge 11:18  En toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk. Hulle het erken dat dit God is wat bekering tot lewe geskenk het. Soos wat die engel aan Sagaria gesê het, besef elkeen wat deur God vernuwe is: “…Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare. Sagaria 4:6. Dit is dus baie duidelik uit hierdie gedeeltes dat geloof ten tweede ’n Geskenk is.

Ten derde is geloof in Jesus Christus, ’n Rus. Die Bybel is baie duidelik daaroor dat die werk wat Christus aan die kruis gedoen het genoegsaam was – dit is volbring! Ek mag niks byvoeg by die werk wat Hy alreeds gedoen het nie. Dit was die probleem met die Galasiër gemeente. Hulle wou Christus hê en nog steeds aan die besnydenis vashou. Die Kolossense gemeente moes ook vermaan word om nie meer vas te hou aan al die Joodse gebruike nie. Dit is tog verbasend dat “Christene”, met al die direkte vermanings in die Nuwe Testament teen die vermenging van Joodse gebruike, wat in Christus vervul is en met die boodskap van Christus alleen, vandag nog steeds aan hierdie gebruike wil vashou.  Kolossense 2:16-17  Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of Sabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.  Die Christene is doelbewus tussen aanhalingstekens geskryf,  aangesien die Skrif hierdie persone nie as gelowiges sien nie. Die Galasiër brief is die enigste brief van Paulus waar hy nie die gemeente groet as heiliges nie.

Geloof in Jesus Christus is dus vir elke gelowige ‘n geskenk (dis verniet) van reddende genade tot rus.….maar voor ons hierdie rus verkeerd verstaan, soos sommige mense wel doen, kom ons by Vraag 87, nl. Wat is berou tot lewe?

Berou tot lewe

Een van die eienskappe van bekering is wanneer ’n persoon ’n besef het van sy eie sonde teenoor God. Ware berou is die eienskap van bekering wat tot die Ewige Lewe lei. As Petrus op Pinksterdag preek kom die hoorders onder intense berou. Handelinge 2:37  Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders? “Diep in die hart getref” word uitgedruk deur die Griekse woord κατανύσσομαι(katanussomai). Hierdie woord is opgebou uit twee woorde. Die eerste beteken tot onder en die ander woord beteken om deurboor te word. Die woord druk dus ’n intense geestelike pyn uit wat dan gekoppel kan word aan hul vraag oor wat hulle moes doen. Die probleem met baie mense se berou is dat dit ’n berou is soos wat die wêreld dit ook kan ervaar. 2 Korintiërs 7:10  Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood. Dus is daar ’n ware berou en ’n wêreldse berou. Hierdie wêreldse berou word goed geïllustreer deur koning Saul in die Ou Testament en Judas in die Nuwe Testament. Saul word elke keer deur Samuel tereggewys aangaande sy sonde en dan toon hy ’n wêreldse berou. Saul is elke keer bang oor hoe dit sal lyk vir die ander belangrike persone in die volk en wat moontlik kan gebeur as daar nie ’n offer is nie. Hy het nie werklik berou teenoor God vir wat Hy gedoen het nie. Judas, aan die ander kant, storm by die Joodse raad in en bely dat hy ’n onskuldige man verraai het, maar erken nêrens dat Hy teen God gesondig het nie. Daarom gaan Judas nie na die kruis nie, maar na ’n boom waar hy homself gaan ophang. Berou is om te erken dat ek teen God gesondig het en om soos Dawid bely: Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë…” Psalm 51:6 

Nie net is daar berou nie, maar ook ’n haat van my sonde. Net ’n gelowige kan ’n haat hê van die sonde in sy/haar lewe. Die ongelowige is gewoonlik spyt a.g.v. die gevolge of haat wat sonde in hulle lewens veroorsaak het. Hierteenoor staan die gelowige wat sonde haat vir wat dit is, nl. ongehoorsaamheid en die bal van die vuis teen die Lewende God. As Paulus in Romeine sy stryd teen die sonde verduidelik, wys hy daarop dat die sonde wat hy doen, dit is wat hy haat. Romeine 7:15  Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek. Daarmee saamkom ’n wegdraai van die ou lewe. ’n nuwe rigting word ingeslaan en dit word ’n getuienis na die wêreld. 1Tessolonisense 1:9  Want hulle vertel self aangaande ons watter ingang ons by julle gehad het en hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien.” Petrus getuig ook van die verandering wat plaasgevind het by die gelowiges en hoe die wêreld dit vreemd vind dat die gelowiges nie meer leef soos voorheen nie. 1Petrus 4:3-4  Want dit is genoeg dat ons die afgelope lewenstyd die wil van die heidene volbring het deur te wandel in ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgodery. Daarom vind hulle dit vreemd as julle nie saamloop in dieselfde uitgieting van losbandigheid nie, en hulle laster. Daar is ’n nuwe lewe!

Al het die gelowige verlossing ontvang op grond van genade en niks daarvoor gedoen nie, wil die gelowige na wedergeboorte met alles wat in hom/haar is en met totale toewyding die Here gehoorsaam in alles. Baie stop by die gedagte dat ons deur genade gered is en nou kan voortleef soos altyd. Hulle verstaan geloof in Christus en die rus in sy volledige werk verkeerd – of eintlik verstaan hulle dit glad nie. Die ware gelowige bely dat hy hartseer is oor die verlede, dat hy sonde haat en dat sy begeerte nie meer is om soos die wêreld en soos vroeër te lewe nie. Die Skrif roep ook die gelowige op om nou ’n heilige lewe te lei. 1Petrus 1:15-16 Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig. Daarop is die oproep van Johannes die doper as mense wil bekeer dat hulle vrugte sal dra wat wys dat hulle bekeer is. Mattheus 3:8 Dra dan vrugte wat by die bekering pas.

Slot
Kan daar van jou getuig word dat hoe jy gelyk het voor wedergeboorte anders is as hoe jy nou lyk? Het daar dus ’n transformasie plaasgevind? Die verdere vraag is of jy selfs vandag anders lewe as gister. Is daar groei? John Newton wat Amazing Grace geskryf het, het die volgende gesê:
I am not what I ought to be, I am not what I want to be, I am not what I hope to be in another world; but still I am not what I once used to be, and by the grace of God I am what I am”