Vraag 85. Vry van die wraak!

 

Vraag 85: Wat verwag God van ons, sodat ons Sy wraak en vloek as gevolg van ons sonde,  kan ontvlug

Antwoord: Om die wraak en vloek van God as gevolg van ons sonde te ontvlug, verwag God van ons geloof in ons Here Jesus Christus en berou wat lei tot lewe, waarmee saam ons toegewyd die uiterlike sakramente wat Christus ons gegee het as voordeel van ons redding, moet gebruik.

Inleiding

In die vorige inskrywing het ons gesien dat geen mens die wet van God volkome kan onderhou en sodoende kan ontvlug van Sy wraak en vloek nie. Ons het egter ook afgesluit met die gedagte dat God ons nie in hierdie verlore toestand sonder hoop gelos het nie. Hierdie week se vraag is dan die antwoord op verlede week se hopelose toestand van sonde. Die hoop van redding deur geloof in ons Here Jesus Christus.

 

Die pad na Verlossing

  • Christus alleen:

Hoe kom ons vry van God se wraak en vloek van die sonde? Dit moet die vraag wees wat in ’n persoon se hart lewe as hy/sy verstaan wie hulle is en wie God is. God se vereiste is dat ons ons vertroue op Christus alleen moet plaas en om ons te bekeer. Dit is duidelik dat ek nie my vertroue in enige iets wat ek gedoen het, kan plaas nie. Paulus vertel in Filippense dat as daar iemand is wat vertroue kon plaas in wat hy bereik het, is dit hy. Hy noem dan al die dinge wat hy bereik het en waarin hy kan roem en sê dan dat hy alles as waardeloos beskou en prysgegee het om Christus as wins te verkry. Verder vertel hy dat die geregtigheid wat hy ontvang het nie uit die onderhouding van die wet is nie, maar in geloof in Christus. Filippense 3:8-9  Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof.  Dit is nooit Christus plus iets anders nie. Die gelowige besef redding is ten volle die werk van Christus en niks wat ek kan of gaan doen, kan dit bewerk nie. Daarom is daar geen rede tot roem in my eie lewe nie. Efesiers 2:8-9  Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Geloof kan ons vertaal as vertroue – om my totale gewig te plaas en te laat rus op Christus. Dit is wat dit beteken om te glo. Petrus en die ander dissipels se visvangs illustreer hierdie gedagte so mooi. Jesus sê vir Petrus gaan gooi jou net uit en jy sal visvang. Hierop antwoord Petrus dat hulle die hele nag hard gewerk het en tog niks gevang het nie. En dan kom hierdie woorde van Petrus wat geloof (vertroue) illustreer: “… maar op u woord sal ek die net laat sak.” Lukas 5:5.

 

  • Kom tot bekering

Deur die Ou Testament is daar ’n oproep van die profete dat die mense hulle moes bekeer. Die woord in die Hebreeus (die taal waarin meeste van die Ou Testament ingeskryf is) is keer terug. Johannes die Doper se eerste boodskap aan die mense van Israel is: “Bekeer julle!”. Mat 3:1-2  In daardie dae het Johannes die Doper opgetree en in die woestyn van Judéa gepreek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom. Hulle het gedink hulle is die volk van God en behoort aan God. Hulle is die uitverkorenes. Hoekom sou hulle tot inkeer moes kom? Tog is Jesus se eerste boodskap ook Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie. Markus 1:15. Na Jesus se hemelvaart en met die uitstorting van die heilige Gees op Pinksterdag is Petrus se boodskap aan al hierdie mense wat na Jerusalem gekom het vir die fees “Bekeer julle …” Handelinge 2:38. Die Griekse Woord is metanoia en beteken om jou denke te verander. Hierdie denke vernuwing lei tot ’n nuwe lewe. Ek dink nie meer soos die wêreld nie. Ek besef dat God se wraak oor my is en dat ek alleen deur Christus se versoening aan die kruis vry kan kom van hierdie wraak. Ek wil nie meer vir myself lewe en dinge op my eie manier doen nie. Ek verlange om aan God gehoorsaam te wees en te doen waartoe sy Woord my oproep. Hierdie is alles deel van wat gebeur as ek tot inkeer kom. Daar vind dus ’n 180 grade draai in my lewe plaas.

 

  • Die doop

As Petrus die boodskap bring dat hulle hul moet bekeer om Pinksterdag vertel hy die mense verder wat dit is wat hulle sal ontvang by bekering. Handelinge 2:38  En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Die doop is dus ’n uiterlike getuienis van die wedergeboorte wat plaasgevind het. Die doop laat my dink dat net soos die volk vir Moses uit slawerny gevolg het ons ook so vir Christus gevolg het. Ons het deur die Rooi see getrek en die wêreld, met alles daarin wat ons as slawe vasgehou het, agtergelaat. Elke keer as ek die doop sien besef ek dat daar ’n sterwe in my lewe plaasgevind het. 1Korintiers 10:1  Want ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see. Ek het gesterf vir die wêreld en die dinge van die wêreld en opgestaan saam met Christus. Daarom vergelyk Petrus die doop met wat plaasgevind het met Noag in die ark. Die water het alles tot niet gemaak, behalwe vir Noag en sy gesin wat bewaar is in die ark. Net so is die doop die teken dat alles vir ons vernietig word in die wêreld en dat ons in Christus (die ark) bewaar word en uitstap in ’n nuwe lewe. 1Petrus 3:20-21 …Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is; waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ‘n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ‘n bede tot God om ‘n goeie gewete—deur die opstanding van Jesus Christus .

 

  • Die nagmaal

Net so word die nagmaal ook ’n uiterlike simbool van ons redding. Ons word herinner aan Jesus se kruisdood vir ons waardeur ons versoen is met God. Ons word ook herinner daaraan dat as daar enige ander manier was om vry te kom van die wraak van God, Sy seun nie deur die vloek van die kruis sou gaan nie. Daar is dus ’n dankbaarheid elke keer as ons die nagmaal gebruik.

 

Die wedergeboorte en dit wat daarmee saamgaan is nie afhanklik van fisiese doop nie, want ander sou die man langs Jesus aan die kruis ook gedoop moes word en die nagmaal moes gebruik voor hy die geestelike realiteit van verlossing  kon ontvang. Nee, die uiterlike teken van die doop sowel as die nagmaal versterk die gelowige se geloof elke keer as hy/sy dit sien plaasvind of met die nagmaal daarvan gebruik. 1Co 11:24-25  en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.

 

Die moet vir enige iemand duidelik wees dat hierdie sakramente geen betekenis het sonder geloof in Jesus Christus nie. Die oomblik as enige van die sakramente verhef word tot meer as  die uiterlike tekens van verlossing, tot iets wat noodsaaklik is vir verlossing, het ons geloof in Jesus Christus, ons Here, as enigste redding verloor. Hierdie twee sigbare sakramente is vir ons as gelowiges gegee om ons te verstrek in ons geestelike groei.

 

Slot

Die pad na verlossing, begin met ’n besef van wie God is. Dit is dan ook waar die Westminster Confession begin. Daarna moet die mens besef wie hy/sy is. Ons gevalle toestand van absolute verlorenheid en die wraak van God wat op ons rus. Die standaard van God, soos gegee in die Tien Gebooie, bevestig hierdie vereiste waaraan ons nooit kan voldoen nie. Dit bring ons by berou, die berou wat lei tot die lewe, want dit bring ons by die kruis van Jesus waar die wraak vir ons sonde gedra is. Die Heilige Gees skenk aan ons die gawe van geloof in Jesus Christus as ons Here en wedergeboorte vind plaas. So begin ’n daaglikse bekering om my lewe en denke te rig volgens die Gees, waarmee ek nou gedoop, is se leiding.

‘n Lewe van dankbaarheid, ’n lewe van oorwinning, ’n lewe van vertroue en ’n ewige hoop!

 

 

 

 

 

 

Lewer kommentaar