Vraag 82: Is enige mens daartoe in staat om God se Wet volkome na te kom?
Antw: Geen mens is sedert die sondeval, daartoe in staat om die Wet van God volkome na te kom nie, maar breek dit daagliks in gedagte, woord en daad;
Vraag 83: Is alle oortredings van die wet ewe sondig?
Antw: Sommige sondes is as gevolg van hul aard en omstandighede in die oë van God meer sondig as ander
Vraag 84: Wat verdien elke sonde?
Antw: Alhoewel sommige sondes erger gestraf sal word as ander, verdien elke sonde die wraak en vloek van God, in hierdie lewe sowel as die die lewe hierna.
Totaal verlore
Daar is net geen manier vir die mens na die sondeval om God se gebooie volmaak na te kom nie. Nadat God die aarde met die vloed gestraf het, het God gesê: …Ek sal die aarde verder nie meer vervloek ter wille van die mens nie, want die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af. En Ek sal verder nie meer al die lewende wesens tref soos Ek gedoen het nie. Genesis 8:21. Dit word bevestig deur Dawid in Psalm 51 waar hy sy sonde voor God bely en getuig “…in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang. Psalm 51:7. Die mens se grootste probleem is dat ons die gedagte het dat ons nie so sleg is nie. Ons verwys dikwels na ongelowiges as goeie mense en dat dit onregverdig is dat so ’n goeie persoon hel toe gaan. Hierdie getuienis is natuurlik teen wat die Skrif vir ons leer van elke individu. Luister na die beskrywing wat die Woord gee van elke persoon wat nie gered is nie. Romeine 3:11-18 Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. Hulle keel is ‘n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is onder hulle lippe. Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hulle paaie, en die weg van vrede ken hulle nie. Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie. Die Bybel draai nie doekies aangaande ons gevalle toestand nie. Ons moet duidelik onderskei tussen hoe ‘n persoon vir ander mense lyk en hoe ‘n persoon in God se oë lyk. Ons kan nog wel dink dat iemand goed is omdat hy/sy sekere goeie dinge doen, die feit is dat in God se oë is daar, sonder Christus, niemand regverdig nie. Die gif van adders is onder ons lippe. Wat kom nie uit die mens se mond nie? Hoe maklik praat ons sleg van ander en skinder ons van mekaar? Die wêreld het ook geen soeke na God nie. Die rede is dat hulle arrogant is en nie God wil aanbid as God en Hom eerste stel in hul lewens nie. Hulle dink dat hulle beter as God weet en wil hul eie besluite neem. Die wêreld het ook geen vrees vir God nie. As hulle God gevrees het, sou hulle op hulle knieë voor Hom neergeval het en gesmeek het dat Hy hulle nie sou uitwis nie. Hulle sou hulle sondes bely het en Christus se versoening met albei hande aangegryp het. Die rede hoekom die wêreld dit nie doen nie is omdat die wêreld nie die idee het dat hulle werklik so sleg is soos wat die Bybel getuig dat hulle is nie. Vra maar vandag iemand op straat of hy/sy dink hulle gaan hemel toe? Die antwoord is omtrent altyd: “Ja, want ek is ’n goeie mens” of “Ek is nie so sleg nie” Die wêreld het die idee dat hulle goeie goed doen terwyl die Bybel getuig dat niemand wat in die wêreld is goeie goed doen nie. Jesaja 64:6 En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind. Elke daad wat die wêreld dink dat jy doen wat goed is sê die Woord is besoedeld. Elke sogenaamde goeie daad is besmet met my eie begeertes en soeke na eer en gedagtes van selfvoldaanheid sonder die soeke om God te eer.
Wag so bietjie….beteken dit dat iemand wat sorg vir arm mense en uitreik na minderbevoorregtes nie ’n goeie mens is nie? So persoon is verseker ’n beter persoon as die moordenaar of verkragter in die tronk!? Ja, verseker is daar prysenswaardige optrede onder alle mense, gelowig en ongelowig en kan ek dit in menslike terme bestempel as goed. As ons egter vanuit die Bybel se perspektief kyk en besef dat die mens so deurtrek is van sonde, dat God wat kan sien daar waar ek en jy nie kan nie, weet ons dat elke mens se beste dade besmet is met sonde.
Self as gelowiges kan ons getuig hoe maklik die goeie wat ek doen deurtrek is met verkeerde motiewe. Kom ons kyk na ’n praktiese voorbeeld. Die oomblik as ek selfvoldaan dink: “Dit was nou ’n goeie daad wat ek verrig het!”, is ek skuldig aan hoogmoed. Of as ek dink: “Sjoe, dit was nou mooi nederig van my!” Mag ek dan nou nooit dink iets is goed nie? Net soos enige persoon sal besef dat daar dinge is wat goed is en ander is wat sleg is, kan jy dit weet en dink, maar met die wete dat wie en wat jy is, genade is en dat God alleen die eer moet kry en nooit jy nie.
Die gelowige is ook bewus dat hy/sy daagliks na God toe moet nader en vra vir vergifnis vir die duisende kere waar my gedagtes en woorde en dade in stryd was met God se opdrag vir my lewe. Daarom kan die gelowige getuig dat dit enkel en alleen deur die kruis van Golgota moontlik gemaak is dat ek volmaak in Christus is. Deur sy dood het daar vir my genesing gekom. Jesaja 53:5 Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
Daar is nie groot en klein sondes nie………..of is daar?
Nog ’n gedagte wat baie het, is dat alle sonde dieselfde is voor God. Dit is iets wat meeste gelowiges dink, maar is in stryd met wat die Woord ons leer. Ons kan begin deur te kyk na die straf wat God gegee het vir die oortreding van Sy gebooie. Elke sonde se straf was nie dieselfde nie. Vir sekere sondes het God die dood as straf bepaal en vir ander kon ’n offer gebring word. Hieruit kan ons duidelik sien dat die sondes nie dieselfde was vir God nie. In Esegiël wys God vir Esegiël die sondes wat sy volk doen. Nadat Hy vir hom die sondes wys sê hy vir Esegiël dat Hy hom nog groter sondes sal wys wat die volk doen. Esegiël 8:15 En Hy sê vir my: Het jy dit gesien, mensekind? Jy sal nog ander gruwels, groter as hierdie, sien. Die sondes wat God aan Esegiël getoon het, was almal vir Hom ’n gruwel, maar daar was sondes wat in God se oë groter gruwels was as ander.
As ons na die Nuwe Testament toe gaan sien ons dit nog meer duidelik. Jesus vertel die mense dat hoe meer hulle weet hoe erger gaan hulle geoordeel word. Hoe meer lig jy ontvang het in jou lewe hoe groter verantwoording gaan jy eendag daarvoor moet doen. Mattheus 11:20-24 Toe het Hy die stede waarin die meeste van sy kragtige dade plaasgevind het, begin verwyt, omdat hulle hul nie bekeer het nie: Wee jou, Górasin, wee jou, Betsáida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hul lankal in sak en as bekeer het. Maar Ek sê vir julle, dit sal vir Tirus en Sidon verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir julle. En jy, Kapérnaüm, wat tot die hemel toe verhoog is, jy sal tot die doderyk toe neergestoot word; want as in Sodom die kragtige dade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy bly staan het tot vandag toe. Maar Ek sê vir julle dat dit vir die land van Sodom verdraagliker sal wees in die oordeelsdag as vir jou. Volgens hierdie gedeelte gaan Sodom, Tirus en Sidon se straf ligter wees as die van Gorasin, Betsaida en Kapernaim. Die laasgenoemde dorpe het Jesus gehoor preek in hulle dorpe en nogsteeds het hulle nie geluister en hulle bekeer nie. Aangesien hulle die evangelie gehoor het en tog nie geluister het nie, sal hulle oordeel eendag baie erger wees as die volke wat God uitgewis het en wat nie dieselfde kennis gehad het nie. Kyk ook na die volgende aanhaling uit Lukas wat dit bevestig: En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word; maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word. En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis. Lukas 12:47-48.
As Jesus voor Pilatus staan en na die sonde van Judas verwys, sê hy vir Pilatus dat Judas se sonde groter is as syne. Johannes 19:11 Jesus antwoord: U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u oorlewer, groter sonde.
Alle sonde verdien God se straf
Tog is die Bybel duidelik dat enige sonde my skuldig maak voor God en dus die ewige dood verdien. Al staan ek net skuldig voor een gebod is ek skuldig omdat ek ongehoorsaam was aan God se opdrag. Jakobus 2:10-11 Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy ‘n oortreder van die wet geword. Die hele wêreld staan dus skuldig voor God en verdien die ewige hel. Daarom is die boodskap van die Kruis vir die gelowige die Krag van God al is dit dwaasheid vir die wêreld, want hierin is ons verlossing bewerkstellig van die ewige dood. 1Korintiërs 1:18 Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.
Slot
Die mens is in ’n gevalle toestand, totaal bederf vir die goeie. Selfs al wil ons God se gebooie nakom, wat mense sonder Christus nie wil nie, kan ons nie. Ek kan ’n goeie lewe probeer lei en ja, dit kan beteken dat my straf nie so erg gaan wees soos iemand anders s’n nie, maar die straf vir ons almal is die ewige dood. In God se oë is daar nie ’n weegskaal waar my “goeie” dade die “slegtes” uitkanselleer nie. Hoewel baie mense vandag van hierdie punt wil wegskram, is dit wat die Bybel ons van die mens se toestand leer. Die mens het geval, is verlore en vervloek. Maar nee, daar is ’n dierbare kruis, waar Christus my vloek gedra het en waar ek nou in Hom regverdig verklaar word. Saam met Jesus Christus kan ons nou opstaan, is ons gevind en geseënd. Nou kan ons vry van die vloek van die wet uit Jesus se oorwinning leef, as kinders van God onder die wet van Christus.
Dankie, Jesus!
