Vraag 79-81 Te vrede?!

Vraag 79 Wat is die tiende gebod?

Antwoord: Die Tiende gebod is: Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie. 

Vraag 80 Wat word vereis in die Tiende gebod?

Antwoord: Die tiende gebod vereis dat ons ten volle vergenoegd is met ons eie situasie, met ’n korrekte en vrygewige gesindheid en gees teenoor ons naaste en wat aan hom behoort.

Vraag 81: Wat word verbied deur die tiende gebod? Die tiende gebod verbied ons om enige onvergenoegdheid te hê rakende ons besittings, die begeer van ons naaste se goed en enige onvanpaste  emosie of gevoelens teenoor dit wat aan hom behoort.

Inleiding

Die tiende gebod is ’n gebod teen jaloesie! Daardie bitter smaak in jou mond as jy sien jou buurman bou ’n swembad of ry ’n nuwe kar, jou vriendin het ’n nuwe rok of haar kinders presteer. Hierdie lys kan tot in ewigheid aanhou. Soveel dinge, soveel emosies, soveel begeertes. Dit alles spruit uit ontevredenheid met dit wat jy het, jou eie meerwaardige opinie van jouself wat volgens jou definitief beter verdien en ’n lewensuitkyk wat fokus op die aardse en die tydelike. (Alhoewel ek al tot gehoor het van mense wat jaloers is op iemand se verhouding met die Here). Hoekom is die Here so ernstig daaroor dat jy nie die besittings of enige iets van jou naaste mag begeer nie? Want daar kan geen liefde wees waar jaloesie heers nie – nie liefde teenoor jou naaste nie en ook nie liefde teenoor God wat die voorsiener van elke gawe is nie! Sonder liefde – sonder vreugde – sonder vrede.

Teken van die tye

Om nie te begeer nie is totaal in stryd met die tydsgees van vandag. Alles rondom ons skreeu tot ons om te wil . Elke advertensie se onderliggende tema wil die verbruiker daarvan oortuig dat dit wat geadverteer word absoluut noodsaaklik is vir jou geluk en welstand. Van ’n tandepasta waarsonder jy eenvoudig jou lewe lank geel tande sal hê, tot ’n vakansie van jou drome waarsonder jou lewe eenvoudig net nie die moeite werd is nie. Sosiale media maak dit nog moeiliker waar elkeen sy “perfekte” lewe ten toon stel van waar die persoon op die vliegtuig klim Mauritius toe tot die kerse op die spierwit strande. Ek wil dit ook hê! Ek verdien dit net soveel! Ek het dit nodig! Ek sal nie gelukkig wees daarsonder nie! Die waarheid is egter dat net nadat ek dit gekoop of gekry het, die vonkel verdwyn en ek besef dit was nie regtig nodig nie. Jare later is dit net nog ’n ding wat ’n plek in ’n stoor êrens moet kry of die verskyning op “Gumtree” of op ’n “garage sale” moet maak.

Salomo beskryf dit is ’n gejaag na wind in Prediker 6:9  Die aanskouing met die oë is beter as die geswerf van die begeerte. Ook dit is tevergeefs en ‘n gejaag na wind. Ook lees ons in Pred. 4:4 “Ek het gesien dat al die moeite wat die mens doen vir sukses uit onderlinge afguns kom”  Hier begin die resies wat duisende gesinne vernietig en ’n brandende vuur wat eenvoudig nie geblus kan word nie. Die soeke na nog en nog.

Tevredenheid

In hierdie tyd van “gee my” en “ek wil hê” word die gelowige opgeroep om anders te wees – om tevrede te wees. In Johannes die Doper se tyd het soldate na hom gekom en hom gevra wat God van hulle vereis. Sy antwoord vind ons in Lukas 3:14  En die soldate het hom ook gevra en gesê: En ons, wat moet ons doen? En hy sê vir hulle: Julle moet niemand geweld aandoen of iets afpers nie; en wees tevrede met julle soldy. Soldy beteken salaris. Wees dus tevrede met jou vergoeding. So min mense vandag is tevrede met hulle salarisse. Jy word opgeroep om nog meer te vra en te eis, want jy verdien beter. Hier word die gelowige opgeroep om sy salaris te beskou as iets wonderliks, iets wat hy/sy nie verdien nie en om dankbaar te wees daarvoor. Om ondankbaar te wees oor my salaris beïnvloed my vreugde en vrede. Met my ontevredenheid getuig ek dat ek afhanklik is van my geld en nie van die Een wat my in staat gestel het om ’n werk te verrig nie. Paulus skrywe aan Timoteus om die gemeente te leer om nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom te plaas nie. 1Timoteus 6:17  Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet. Geld is iets wat vandag daar is en môre weg is. Individue wat hulle vertroue in geld plaas sal altyd angstig wees. Dit is baie keer die arm persoon wat die beste kan slaap al is dit waarin en op hy slaap nie die beste is nie. Luiste na die prediker wat sê: Soet is die slaap van die arbeider, of hy min en of hy baie eet; maar die oorversadiging van die ryke laat hom nie toe om te slaap nie. Prediker 5:11 

 Ambisie

As gelowige kan ek nou die vraag vra: “Is ambisie in my werk dan verkeerd?” “Is dit dan verkeerd om daarna te streef om ’n hoër pos te beklee of om my lewensomstandighede te verbeter?” Verseker nie! Die vraag is egter of ek werk omdat ek alle eer aan God wil gee of werk ek omdat ek meer wil hê as ander mense, omdat ek afgunstig is op ander se sukses? Werk ek vir die Here of vir mense? Is ek tevrede met wat ek het en word my beloning vir my werk net gemeet in my salaris of posisie of word dit gemeet aan wat God dink van die manier waarop ek my dagtaak verrig.

Verder – dink mooi hieroor – sal ek dieselfde doen as ek net “vergoeding” van God kry en nie van mense nie? As my beloning kos en klere is, moet ek daarmee tevrede wees. 1Timoteus 6:8  Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees. Dit wil sê as ek kos en klere het, moet ek dankbaar daarvoor wees en tevrede wees. Is ons as mens nog enigsins dankbaar vir ons kos en ons klere of wil ons altyd meer hê. Dit geld vir arm sowel as ryk persone – Paulus skryf in Filippense 4:11 Nie dat ek dit uit gebrek sê nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is.

Familie

Die ontevrede soeke na meer is vernietigend vir die individu en die familie. 1Timoteus 6:10  Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor. Kinders word grootgemaak met ’n verstaan dat die tweede kar en huis en al die besittings belangriker is as om tyd met hulle te spandeer. Baie het dan nog die verskoning en bluf hulleself dat hulle dit vir hulle kinders doen. Niks kan vêrder van die waarheid wees nie. Die ergste wat hiermee saamgaan is dat mense so hard werk dat hulle dit self nie eers kan geniet nie. Partykeer het ons weer nodig om na besittings te kyk soos kinders na sandkastele wat hulle gebou het. Terwyl daar in alle erns gebou word word daar altyd rekening gehou met die tydelikheid van die projek waarmee hulle besig is. Te reg sê Salomo: Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het—en kyk, dit was alles tevergeefs en ‘n gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie. Prediker 2:11.

Wapen teen jaloesie

Ek glo elkeen kan getuig dat hierdie sonde so diep in ons gewortel is en dat ons dit oor en oor voor die kruis moet bring. Hoe kan ons dit ooit oorwin? As kind van die Here gee Hy vir ons die antwoord en die krag. As jou oë gevestig is op die aardse sal jy aards lewe en jaag waarna die wêreld jaag. As jou oë gevestig is op Jesus en die Ewige sal jy vir jou skatte bymekaarmaak waar mot en roes dit nie kan vernietig nie. Mattheus 6:19  Moenie vir julle skatte bymekaarmaak op die aarde, waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel nie.

Die oomblik as ek God se liefde ervaar kan ek dit met ander deel deur vrygewigheid. Nie net roep die 10de gebod my op om tevrede te wees en nie te begeer nie, maar ook om altyd met ’n oop hand te lewe.  Geld en begeerte na meer bring baie keer ’n blindheid daarmee saam. Al wat ek raaksien is my begeertes en wat ek nodig het sonder om die nood van ander raak te sien. Al in die Ou Testament word die volk opgeroep om vir die armes te sorg. As die lande afgeoes word mag hulle nie ’n tweede keer oor die land oes nie, nee dit wat geval het en die trosse wat oorgebly het, is vir die armes. Levitikus 19:10  Jou wingerd moet jy ook nie skoon afoes nie, en die trossies wat van jou wingerd val, nie versamel nie. Vir die arme en die vreemdeling moet jy dit laat oorbly. Ek is die HERE julle God.

Persone wat net vashou aan wat hulle het en nie mededeelsaam is nie mis die grootste vreugde waarvan Paulus getuig as hy met die ouderling van die Efesiër gemeente praat in Handelinge 20:35  Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help en die woorde van die Here Jesus moet onthou, dat Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang. As jy al ooit gegee het, kan jy getuig dat dit waar is. Hoe wonderlik om die vreugde te beleef van ’n dankbare hart.

Een van die magtigste wapens teen jaloesie is om vrygewig te wees. Vrygewig in jou lof, in jou geld en in jou tyd. Gee komplimente waar dit nodig is – dis moeilik om nog jaloers te wees op iemand nadat jy hom/haar gekomplimenteer het op presies dit waaroor jy jaloers sou kon wees. As jy die blydskap saam met iemand kan deel, word jy deel daarvan. Dit klink dalk snaaks, maar as die “son op iemand skyn” – staan nader – en dit sal op jou ook skyn (Ons praat natuurlik hier in die geestelike sin). Om iemand anders wat meer nood het as jy raak te sien, maak jou dankbaar en tevrede met dit wat jy het. Inplaas daarvan om te sien dit wat jy nie het nie, begin jy waardeer dit wat jy het. As jy dan nog daardie persoon kan help – wat ’n vreugde!

Nog ’n praktiese wapen teen ontevredenheid of begeerte is om weg te bly van plekke wat uitsluitlik daarop uit is om hierdie emosie in jou wakker maak. As jy nie die geld het om iets te koop nie, bly weg uit die klerewinkel of die motorfietse vertoonlokaal. 1Johannes 2:16  Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.

Slot

Met oë gevestig op Jesus en die Ewige lewe wat vir ons voorlê, kan ons die stryd teen die sonde oorwin. God het jou lief, Hy sal aan jou gee dit wat jy nodig het om te leef tot Sy eer. Loof hom daarvoor. Loof Hom ook vir dit wat Hy in Sy almag vir jou naaste gegee het om te geniet. Mag ons leef in ’n dankbaar tevredenheid en Hom verheerlik en geniet vir ewig.