Vraag 76: Wat is die negende gebod? Antwoord: Die negende gebod is, jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie.
Vraag 77: Wat word vereis deur die negende gebod? Antwoord: Die negende gebod vereis die handhawing en bevordering van die waarheid tussen mense, van ons eie en ons naaste se goeie naam, veral in die aflegging van getuienis.
Vraag 78. Wat word verbied in die negende gebod? Antwoord: Die negende gebod verbied alles wat nadelig tot die waarheid of wat skadelik vir ons eie, of ons naaste se goeie naam, is.
Inleiding
Die gebod se eerste implikasie is dat as ek enige getuienis lewer van my naaste moet dit altyd eerlik wees. Ek mag nie jok nie. Ons ken die uitdrukking: “elke saak het twee kante: jou kant, sy kant en dan het ons die waarheid” Dit word so half tong-in-die-kies gesê, omdat mense gewoonlik ’n saak verdraai om homself te bevoordeel of in ’n beter lig te plaas. Vir ’n gemeenskap om goed te funksioneer is dit nodig dat geregtigheid geskied en dit is dus noodsaaklik dat daar altyd volgens die waarheid gehandel word. Hoe kan ons seker wees van die waarheid as mense bereid is om oor ander te lieg? Ons sien die gevolge van valse getuies in ie Bybel as ons lees van Nabot se wingerd in Konings. Nabot verloor sy lewe omdat Isebel mense betaal het om hom valslik te beskuldig dat hy God gelaster het. Ons vind dieselfde waar die Joodse Raad Jesus voor Pilates bring en valse getuies kry sodat Pilatus Hom skuldig kan bevind. Valse getuies kan iemand sy lewe kos. Dit is ernstig – dit is sonde.
Bevooroordeeld
Van vroeg af het God dit duidelik gemaak dat Hy van elke persoon in die volk verwag om, as hulle ’n saak teen iemand hanteer, dit te doen aan die hand van twee of meer getuies. Hierdie getuies moes die waarheid getuig, ongeag die finansiële stand of status van die persoon teen wie die saak aanhangig gemaak is. Ek mag nie iemand bevoordeel omdat hy/sy ryk is ten koste van die arm man/vrou nie. Eksodus 23:6 Jy mag die reg van jou arm mense in hulle regsaak nie verdraai nie. Net so min mag jy die arm persoon bevoordeel in ’n saak omdat hy/sy arm is. Eksodus 23:3 Ook mag jy die geringe nie voortrek in sy regsaak nie.
Die meerderheid se opinie of getuienis mag ook nooit my getuienis teen ’n persoon beïnvloed nie. Ek mag alleenlik dit sê wat die waarheid is. Eksodus 23:2 … En jy mag in ‘n regsaak geen getuienis aflê agter die meerderheid aan om die reg te verdraai nie. Dit is hartseer dat die waarheid vandag moet buig voor status, geld en populariteit. Die waarheid mag nie buig vir enige iets of iemand nie. Of mense nou van my gaan hou of nie, of iemand die lewe vir my kan moeilik maak of makliker, of ek my werk of invloed kan verloor of bevorder word – dit alles is irrelevant as dit kom by eerlike getuienis lewer.
Die 9de gebod roep my op om, ongeag die omstandighede, die waarheid te getuig omtrent enige saak indien ek daartoe opgeroep word. Ek mag nooit iemand se optrede regverdig (indien dit verkeerd is) of verhoog net op grond van die persoon se omstandighede of finansiële stand nie. ’n Voorbeeld hiervan sou wees om ’n arm persoon wat steel van ’n ryk persoon se optrede te verskoon, omdat ek deernis het met sy omstandighede.
Leef in waarheid met mekaar
Nie net word ek gevra om die waarheid oor iemand te getuig nie, maar ek word ook opgeroep om aan my naaste die waarheid te vertel in alle omstandighede. Sagaria 8:16 Dit is die dinge wat julle moet doen: Spreek die waarheid met mekaar; beoefen waarheid en ‘n regspraak van vrede in julle poorte! Ek moet die waarheid spreek met my naaste. Baie keer sal ons eerder agter ons naaste van hom/haar skinder, terwyl ons voor hulle voorgee dat alles reg is. In Psalm 15 word die vraag gevra wie in die Here se woning kan vertoef of wie op sy heilige berg mag woon. Vers drie vertel ons van een van die eienskappe van ’n persoon wat hierdie voorreg het. Psalm 15:3 wat nie rondgaan met laster op sy tong nie, sy vriend geen kwaad doen en geen smaadrede uitspreek teen sy naaste nie. Wat ek van mense voor hulle sê is wie ek is. Hiermee wil die Bybel nie vir jou “Carte Blanche” gee om onbeskof te wees, mense sleg te behandel of om hulle sleg te sê en jou self te regverdig deur te sê dat jy maar net eerlik is nie. ’n Voorbeeld hiervan is as jy vir ’n persoon vertel dat sy nuwe haarstyl hom/haar nie pas nie terwyl niemand jou opinie gevra het nie. Eerlikheid geskied altyd in liefde en liefde vir die waarheid. Ons hoor baie die woorde: “Ek is ’n reguit persoon” Daar is egter ’n baie dun lyn tussen reguit wees en sommer net onbeskof wees. As jou opinie gevra word – gee dit in liefde, indien nie – en jou stilswye sal niemand skade doen nie – bly liewer stil. As jy nie iets goeds kan sê nie – bly stil. As jou opinie gevra word en jy kan nie anders as om iets te sê nie – wees eerlik en dan in liefde. Ons maak hierdie soms so ingewikkeld terwyl dit eintlik ’n eenvoudige beginsel is. ’n Vorm van respek teenoor ander is om hulle te vertrou dat hulle die waarheid kan hanteer.
Beskerm mekaar
Daar kom ’n slegte vrou by ’n ete aan en sy stap verby almal na waar Jesus sit. Sy huil op sy voete en droog dit af met haar hare. Dan salf sy Hom met baie duur salf. Simon die Fariseër wat Jesus uitgenooi het, wil die “waarheid” van hierdie vrou bekend maak. Lukas 7:39 Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: Hy, as Hy ‘n profeet was, sou geweet het wie en watter soort vrou dit is wat Hom aanraak; want sy is ’n sondares. Niemand het Simon se getuienis van haar gevra nie. Sy opinie, al was dit die waarheid, was ongevraagd aangesien niemand gevra het dat daar getuienis gelewer moes word nie.
As ek iets van iemand sê sal dit nooit iets wees wat afbrekend is, tensy ek gevra word om getuienis te lewer tussen twee persone nie. Enige iets wat ek wel van ’n persoon sê sal altyd die volle waarheid wees sonder enige vleitaal. 3 Johannes 1:12 Van Demetrius is deur almal getuienis gegee en deur die waarheid self; en ons getuig ook, en julle weet dat ons getuienis waar is.
Net soos wat ek nie dinge mag sê van ander wat nie waar is nie, mag ek nie stilbly indien ek iets vertel word van iemand wat ek weet nie waar is nie. Dan word ek deur die Here opgeroep om my naaste se goeie naam te beskerm deur die feite reg te stel en die ware getuienis oor die persoon af te lê. Ek kan nie, maar net stilbly om die vrede te bewaar of om myself te beskerm nie.
Doen aan ander…..
Hoe graag wil ek hê dat mense sal opstaan vir my as ander valse gerugte van my versprei. Hoe waardeer ek dit as ek verneem dat iemand ’n saak reggestel het waar iemand valse stories oor my versprei het of waar hulle net vir sensasie dele van ‘n verhaal uitgelos het. Jesus sê in Mattheus 7:12 Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen; want dit is die wet en die profete. Die wet kan saamgevat word in liefde tot God en liefde vir ons naaste. As ek my naaste lief het soos myself verstaan ons baie maklik die 9de gebod en wat presies God van my vra.
As ek dus wonder oor wat ek moet sê of doen vra ek myself eerste af: “Wat is die waarheid? Wat vra die 9de gebod van my” – om te alle tye die waarheid te praat in my getuienis omtrent my naaste, om in waarheid met my naaste te wandel en om my naaste se goeie naam te beskerm indien valse getuienis dit wil vernietig.
