Vraag 73-75. Wanneer is steel steel?

Vraag 73: Wat is die agtste gebod? Die agtste gebod is, jy mag nie steel nie.

Vraag 74: Wat word van ons verwag in die agtste gebod? Die agtste gebod verwag dat ons ons eie, asook ander, se uiterlike welvaart en rykdom wettig en op ’n eerlike manier sal bekom en bevorder.

Vraag 75: Wat word verbied in die agtste gebod? Die agtste gebod verbied ons om enige iets onwettig of oneerlik te doen wat ons eie, asook ander se uiterlike welvaart en rykdom  belemmer.

Inleiding

Die agste gebod vereis die wettige verkryging en bevordering van welvaart en besittings van onsself en ander. Jy mag nie iets vat wat nie aan jou behoort nie – nie vir jouself nie en ook nie om vir iemand anders te gee nie. Dit wat jy het, moet jy op ’n wettige eerlike manier bekom en God sien as die gewer van alles. Enige iets wat op enige ander manier bekom is, is diefstal.

Swart en wit

As iets nie die waarheid is nie, dan is dit ’n leuen – nie klein of groot of swart of wit nie. Net eenvoudig ’n leuen. Net so is om iets te vat wat nie aan jou behoort nie, steel. Eenvoudig. As jy dit doen, is jy ’n dief of iemand jou uitvang of nie. Min van ons dink dat ons al ooit hierdie gebod oortree het, omdat ons allerhande verskonings uitgedink het om wat ons vir ons self neem, of hou, te regverdig.

Maak nie saak wat jou verskoning is nie, van ’n Robinwood tot “Ek het nie geweet nie”, steel bly steel. Jy het dalk nog nooit ’n bank beroof nie, maar daar is vele ander maniere van steel. Om net ’n potloot by die werk te vat, ’n papier of iets wat niemand in elk geval ooit gaan gebruik nie word deur God gesien as diefstal. Ons maak maklik verskonings en sê die maatskappy maak in elk geval meer geld uit my as wat hulle my betaal of hulle maak so baie geld, hulle sal dit wat jy vat nie eers mis nie. Die Bybelse standaarde is egter veel hoër. Dit laat my altyd dink aan die verhaal van die seun wat gevang is dat hy sy vriend se potlood by die skool gevat het. Sy pa was dadelik hewig ontsteld en het geskok vir sy seun gesê: ”Jy kon net gevra het, daar is baie potlode by die werk wat ek vir jou kan bring.” Ons lag maklik hiervoor maar dit is ’n realiteit in besighede. Volgens opnames het maatskappye bevind dat 45% van alle diefstal deur mense in die maatskappy gedoen word. Volgens die US Chamber of Commerce sal 75% van werkers in die maatskappy van die maatskappy steel as hulle die geleentheid kry. Hoe hartseer dat ’n hoë persentasie mense wat hulleself as gelowiges identifiseer ook onder hierdie groep sal val.

Om ander se welvaart te verhoed

Baie van vandag se diefstal vind ook plaas in die huise van sogenaamde “goeie mense”. Miljoene rande gaan verlore met die onwettige kopiëring van musiek en die aflaai van musiek waarvoor nie betaal is nie. Flieks word afgelaai en gekyk sonder dat daar op ’n wettige wyse daarvoor betaal is. Hoeveel van jou programmatuur op jou rekenaar is wettig? Baie regverdig hulleself deur te sê die flieks en die musikante maak in elk geval klaar te veel geld. Die ander verskoning is dat almal dit doen! Hier stel die Westminster dit duidelik dat ek nie my naaste se welvaart mag verhinder deur iets wat ek doen nie. In die gelowige se lewe is die: “maar almal doen dit” antwoord die heel slegste een wat jy kan uitdink. Ons word opgeroep om anders as die wêreld te wees. Die skending van kopiereg is diefstal. Nog ’n manier waarop ons steel is om iemand meer te vra vir ’n item as wat dit werklik werd is of minder te gee as wat dit werd is. Spreuke 20:14  Sleg, sleg! sê die koper; maar as hy wegloop, beroem hy hom. Of om iemand uit te buit as hy/sy in ’n noodsituasie is. Omdat jy al persoon is wat iemand op ’n gegewe tydstip kan help, beteken nie jy kan die ander persoon uitbuit nie. Soms jok ons oor die ure wat ons werk of ons gebruik die onkunde van die ander persoon om hom/haar te kul – ek sê ek het ’n sekere materiaal gebruik of ek het ’n nuwe item ingesit, terwyl ek net die ou item reggemaak het. Moet nooit jouself probeer verryk ten koste van ander nie – jy is besig om te steel en die agste gebod te oortree.

Steel van die staat

Jy moet jou belasting aan die staat betaal. As jy dit nie doen nie, steel jy. Dit maak nie saak of hulle nie die dienste lewer soos wat hulle moet nie, of verkeerde besluite neem of korrup is en geld steel nie. Hulle sal aan God verantwoording doen vir hoe hulle in hul gesagsposisie opgetree het. Die opdrag aan jou is om eerlik te wees en nie geld of uiterlike welvaart te bekom deur te steel nie.

Steel van God

Ons lees in die Ou Testament van ’n man met die naam van Agan wat gestenig is omdat hy besittings gevat het wat God gesê het niemand mag neem nie. Israel het Jerigo aangeval en God het die land met sy mense aan Israel gegee. Tog het God hulle belet om enige iets van die goud of silwer of besittings van die mense van Jerigo te neem. Alles moes vernietig word. Agan steel hiervan en die hele volk lei as gevolg van sy sonde. Agan erken in Josua 7:21 wat hy gedoen het “Ek het naamlik een mooi mantel uit Sínear by die buitgoed gesien en twee honderd sikkels silwer en een goudstaaf van vyftig sikkels in gewig, en ek het dit begeer en dit geneem; en kyk, daar lê dit begrawe in die grond binne-in my tent, en die silwer daaronder.Al was die hele Israel onbewus van die misdaad was God bewus daarvan. Al weet niemand van jou sonde nie en selfs al word jy nooit gevang nie, staan jy skuldig voor ’n lewende God. Agan en sy familie en al sy besittings word vernietig.

In die Nuwe Testament lees ons van ’n man en vrou wat ook gedink het dat hulle kon wegkom met dit wat hulle in die geheim gedoen het.  Ananias en Saffira besluit in die geheim om van die geld wat hulle ontvang het met die verkoop van hulle huis terug te hou. Ananias en Saffira was nie verplig om enige deel van die geld vir die kerk te gee nie. Petrus herinner hulle hieraan in Handelinge 5:4  As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God. Hoe tragies dat hy na die gemeente toe gaan met hierdie geld met die gedagte dat niemand weet wat hy en sy vrou beplan het nie. Petrus wys vir Hom en sy vrou, wat later ook haar verskyning sou gemaak het, dat hulle vir die Heilige Gees gelieg het. Nie net het hulle gesteel nie, maar ook gelieg vir die Heilige Gees wat in Petrus en die gemeentes se lewens was. Hulle het selfs gelieg vir die Heilige Gees wat hulle, as gelowiges, bely het in hulle lewens was. Dit wat ek dink in die geheim gedoen word, is altyd in die ope voor ’n lewende God. Hebreërs 4:13  En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.

Konsekwensies

In die Ou Testament is die straf vir iemand wat gesteel het, dat hy/sy dit wat hulle gesteel het moes terugbetaal. Die hoeveelheid wat hulle moes terugbetaal was altyd baie meer as wat hulle gesteel het. Eksodus 22:1  As iemand ‘n bees of ‘n stuk kleinvee steel en dit slag of verkoop, moet hy vyf beeste vir ‘n bees vergoed en vier stuks kleinvee vir ‘n stuk kleinvee. Die dief sou leer dat hy/sy altyd meer verloor as wat gewin is met diefstal. Die persoon sou dan as ’n slaaf verkoop word as hy/sy nie kon betaal wat hulle gesteel het nie. Die hartseer van vandag se stelsel is dat die persone wat nie gesteel het nie moet betaal vir die wat gesteel het. Daar is dus geen etiek van harde werk en restitusie wat gemaak word vir wat die individu verkeerd gedoen het nie. Efesiërs 4:28  Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het.

Ons het ’n waarskuwing in Spreuke. Spreuke 9:17-18  Gesteelde waters is soet, en brood in die geheim geëet, is lekker. Maar hy weet nie dat dáár skimme is, dat haar genooides in die dieptes van die doderyk is nie. Sonde lyk altyd wonderlik en goed maar die dood is opgesluit daarin. Daarom se 1 Korintiërs 6: Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.

Slot

Hoe groter God is in ons lewens is, hoe moeiliker sal ons enige iets doen wat in stryd is met wat Hy ons leer. As ek glo dat God ’n lewende God is wat almagtig is en dat niks van Hom weggesteek kan word nie, sal ek nooit iets skelm in die geheim wil doen nie. As ek besef dat God die gewer van alle goeie dinge, ook materiële dinge is, sal ek my hoop op Hom vestig en my nie wend om oneerlike rykdom te bekom nie.

Wees eerlik in jou handel, moenie iets vat wat nie aan jou behoort nie en moenie die welvaart van iemand anders deur jou aksies verhinder nie.

God is die een wat voorsien.

Lewer kommentaar