Inleiding
Ons weet almal wat egskeiding is. Dit is wanneer ’n man en vrou wat getroud is, besluit om te skei – dit wil sê – hul huweliksbelofte te verbreek. Hulle kan dit besluit om verskeie redes, maar die Woord is baie duidelik dat God dit verbied. Ons kon nou fokus op egskeiding en wanneer dit dan wel vir die gelowige geoorloof is en al die dinge wat die Skrif daaroor sê, maar ons gaan dit egter nie doen nie, want egskeiding is die simptoom – die uiteinde van ’n huwelik wat nie volgens die standaarde of riglyne van die Skrif uitgeleef word nie. Dit help nie om die simptome te behandel nie, maar wel om die wortel van die kwaad aan te spreek en daarom gaan ons praat oor die huwelik.
Die huwelik
- Verwagtings
Die huwelik kan die wonderlikste tyd van jou lewe wees as dit goed gaan, maar as dit sleg is, kan dit die bitterste tyd van jou lewe wees. Die beeld van die huwelik word ongelukkig vandag deur romantiese flieks bepaal en die idee dat jy iemand gaan ontmoet wat jou vir die res van jou lewe gaan gelukkig maak is ’n mite. Dit klink dalk vreemd om dit so te stel, maar daar is slegs een Persoon wat jou gelukkig kan maak en dit is God. Om daardie las op enige ander persoon te laai is eerstens om van daardie persoon ’n afgod te maak en tweedens is dit ’n ondraagbare las wat op ’n ander se skouers geplaas word.
Ons moet na die huwelik kom met die verwagting dat dit iets Goddeliks is, wat God ingestel het sodat Hy daardeur verheerlik kan word. Daar gaan tye wees wat my man/vrou my gelukkig gaan maak, maar daar gaan ook tye wees wat ek teleurgestel gaan word of wat ek self teleur gaan stel. In die huwelik leer ek om iemand anders bo myself en my eie belang te stel en is die uitgangspunt: “Hoe kan ek dien?” en nie “Hoe kan ek gedien word?” nie.
Ek gee nie om wat die wêreld dink oor die huwelik of hulle formules vir ’n suksesvolle huwelik nie. Die meerderheid van opinies vanuit die wêreld, en veral vanuit Hollywood, is van mense wie se huwelike self in die moeilikheid is of wat alreeds huwelike gehad het wat op ’n egskeiding uitgeloop het.
As ons praat oor die huwelik stel ons ook nie belang in wat die kerk se idee van die huwelik is nie. Ook nie individue in die kerk nie. Die reëls en regulasies van ’n gelukkige huwelik is nie op resepte of ervarings gebou nie, maar op die EEN wat die man en vrou gemaak het en die eerste huwelik ingestel het. Daarom kon Paulus oor die huwelik praat sonder dat hy ooit self getroud was. Dit geld nie net vir die huwelik nie, maar vir enige verhouding. Die Skrif is vir ons die enigste rigtingwyser. Daarom as ek advies wil hê oor die huwelik kan ek die Woord bestudeer of met iemand gaan gesels wat jou vanuit die Skrif as sy/haar fondament sal adviseur.
- Beginpunt
Die belangrikste vereiste vir enige persoon wat wil trou is dat God my beveel om slegs met ’n gelowige te trou. 2Co_6:14 Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? Daar is geen manier om eenheid in ’n familie te hê met twee persone wat in verskillende rigtings trek nie. As ek praat van ’n gelowige praat ek nie van ’n meisie of ou wat kerk toe gaan nie. Daar is muise en geitjies wat elke dag daar woon! Nee, ons praat van iemand wat toegewyd lewe vir God en Hom lief het met sy/haar hele hart, siel en verstand.
Hoeveel egskeidings sou ons kon verhoed as ons as gelowiges net by hierdie standaard wil bly? Ek dink 100%, want ek glo vas dat enige twee gelowiges ’n huwelik kan laat werk. Liefde is ’n werkwoord, nie ’n gevoel nie. Gaan lees gerus 1 Korintiërs 13. As gelowige sal die Heilige Gees ons in staat stel om te doen dit wat God van ons vra – en ons help om te sterf aan onsself. Die eie ek – die een wat so liggeraak is, so gou op sy perdjie is, so gou voel hy kry nie genoeg aandag nie, so onwillig is om te buig na ’n ander se wil. Jy kan nie aan iemand anders iets gee wat jy nie het nie. As jy nie liefde vir God het nie, kan jy nie jou man/vrou met ’n goddelike liefde liefhê nie – jy kan probeer soos jy wil.
God stel die huwelik tussen twee gelowiges in, want hy wil hê dat as Hy dit seën met kinders moet dit ’n huis wees waarin Goddelike kinders grootgemaak word. Maleagi 2:14 En julle vra: Waarom? Omdat die HERE getuie is tussen jou en die vrou van jou jeug aan wie jy ontrou geword het, terwyl sy tog jou metgesel is en die vrou van jou verbond.
- Rolverdeling
Die Skrif is baie duidelik oor die rolle van die man en die vrou binne die huwelik en as ons aan die rolle verander sit ons met individue wat onseker, gefrustreerd en ongelukkig is. Onseker, omdat jy nie weet wat van jou verwag word nie. Gefrustreerd, omdat jy nie duidelike riglyne het nie en die ander een doen nie wat jy verwag hy/sy moet doen nie. Ongelukkig, want jy is deur God gemaak om die grootste geluk te hê in die rol waarvoor hy jou gemaak het. Daarom moet ons begin met die rolle wat God vir die man en vrou in die huwelik gegee het.
Die Man
Na die sondeval sê God vir die man dat hy in die sweet van sy aangesig sal voorsien. Genesis 3:19 In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Die primêre taak van voorsiening lê dus by die man. Hy is die hoof, die beskermer, die voorsiener, die jagter. Die oomblik wat hierdie rol van hom af weggeneem word, word ’n man gefrustreerd. Soms gebeur dit dat ’n man sy werk verloor of dat omstandighede hierdie rol van hom af wegneem. Dit grootste frustrasie is egter as hierdie rol van hom ontneem word, omdat sy vrou die rol oorgeneem het. Hierdie frustrasie kom dan gewoonlik tot uitbarsting teenoor die vrou. In teenstelling is daar min dinge wat ’n man soveel genot verskaf as om vir sy familie te sorg en die rede is dat God Hom so gemaak het.
Die man is verder ook die hoof van die vrou en die Woord leer ons dat die man die hoof is soos Christus. Efesiërs 5:23 Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. Baie vroue sê: “As ek maar net ’n man soos Christus gehad het, dan sal ek my man se hoofskap aanvaar het.” Dit klink mooi, maar is glad nie waar nie. Hoeveel keer in ’n dag leef jy in teenstelling met wat die die Kerk se Hoof, Jesus Christus, ons leer vanuit Sy Woord? Meer spesifiek, dit is Hy wat ook die opdrag gee om jou man as Hoof te eer. Die man moet ’n hoof wees soos Christus, wat sy lewe sal gee vir sy familie en spesifiek vir sy vrou. Hy sal niks of niemand, met die Here se hulp, toelaat om hierdie familie skade aan te doen nie. “Hoof” is so ’n mooi metafoor van die man se taak, want die hoof is bewus van die pyn en seer en nood in elke deel van die liggaam en sy grootste verlange is om met deernis en empatie elke behoefte en probleem op te los en die pyn te verlig. Die man kan dus nie egosentries wees en net bekommerd wees oor sy eie geluk en behoeftes nie.
Die manier waarop hierdie hoofskap uitgevoer word, is altyd in liefde. Efesiërs 5:25-27 Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. As man is my grootste begeerte om my vrou eendag aan die Here terug te gee, meer aan Hom toegewyd en mooier as die dag waarop Hy haar aan my gegee het.
Die Vrou.
Vanaf die skepping van die vrou was haar rol om die man se helper te wees. Genesis 2:18 Ook het die HERE God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ‘n hulp maak wat by hom pas. God het haar gemaak om die man te help met die taak wat God vir hom gegee het. Daarom is die man en vrou so baie keer teenoorgesteldes in hulle persoonlikhede en denke. Dit is sodat hulle mekaar kan aanvul en volledig maak. Die oomblik as hulle mekaar teë gaan en nie die andersheid in mekaar waardeer nie, is die oomblik dat hulle die krag van God in hul span wat mekaar moet aanvul, verloor. Ons kan as ’n span met verkillende perspektiewe ’n beter oplossing of plan bereik. Wat gebeur as ons verskil nadat ons albei kante oorweeg het? Dit is waar die vrou opgeroep word om onderdanig te wees in alles. Efesiers_5:22 Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here.
Onderdanig beteken in die Grieks is ὑποτάσσω(hupotassó). Om jouself onder iemand te rangskik. Die vrou doen dit uit haar eie. Sy hoef nie geforseer of beveel te word nie. Sy doen dit uit vrye wil omdat sy weet dit is die taak wat God vir haar gegee het. Daar is vir ’n man niks moeiliker as om te weet dat hy verkeerd opgetree het of dat hy ’n besluit geneem het in teenstelling met wat sy vrou wou gehad het en dat sy hom nog steeds in liefde eer en respekteer nie. ’n Man is in sy wese iemand wat kan argumenteer en stry en baklei, maar waarteen hy nie kan baklei nie, is sy vrou wat hom eer en respekteer en nie in opstand kom teen sy gesag nie. Hy kan nie teen haar Goddelike, onderdanige liefde baklei nie. Daarom sê die Woord in Petrus vir vroue wat gered is nadat hulle reeds getroud is en nou ongeredde mans het, dat hulle mans gered kan word as hulle godvresend lewe en stilbly. 1Petrus 3:1 Net so moet julle, vroue, aan jul eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue sonder woorde gewin kan word. As jy doen wat God van jou vra in die huwelik, in teenstelling met wat jy mag dink of voel, sal jy werklik gelukkig wees. God weet waarna jy soek, Hy het jou gemaak en Hy sal die bron van jou geluk wees.
Egskeiding
Egskeiding kan alleen plaasvind in ’n ongeredde persoon se lewe. Die rede hiervoor is dat ’n gelowige ’n taak het om altyd te vergewe soos Christus hom/haar vergewe het. Die gelowige weet dat God hom/haar alleenlik kan vergewe as hy/sy ander vergewe. Mattheus 6:15 Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie. As ek dus nie ander persone kan vergewe nie kan God my ook nie vergewe nie. As ons dit nou van toepassing maak in die huwelik van ’n gelowige beteken dit daar kan nooit sprake van egskeiding wees nie, slegs vergifnis wat elke party so desperaat nodig het en gaan hê in die huwelikslewe.
Daar is gevalle waar jy die ander persoon kan toelaat om van jou te skei, maar jy as gelowige word beveel om getrou te bly aan jou huweliksverbond.
Slot
Die huwelik is seker die belangrikste plek waar mens kan leer van God se liefde. ’n Liefde wat verdra en vergewe. ‘n Liefde wat ander se belange eerste stel en waar jy jouself verloor ten koste van ander. ’n Dienende liefde. ’n Liefde wat nie boekhou van die kwaad nie en nie onwelvoeglik handel nie. ’n Liefde wat gemaak is om God te verheerlik en Hom te geniet – verewig.
