Vraag 70-72 Ek wil rein wees!

Vraag 70: Wat is die sewende gebod? Die sewende gebod is, jy mag nie egbreek pleeg nie.

Vraag 71: Wat word vereis deur die sewende gebod? Die sewende gebod vereis die preservering van ons eie asook ons naaste se kuisheid van hart, spraak en gedrag

Vraag 72: Wat verbied die sewende gebod? Die sewende gebod verbied alle onkuise gedagtes, woorde en aksies

Inleiding

Vir baie mense gaan die sewende gebod slegs oor die huwelik. So as ek nie in ’n huwelik is nie kan ek maar verby lees. Die Kerk deur al die eeue het egter besef dat owerspel oor baie meer gaan as net die huwelik – dit gaan oor kuisheid van hart, spraak en gedrag. Die woord “kuisheid” bring by baie die beeld op van ’n non – toegemaak van kop tot tone. In Engels sou ons praat van “prim en proper”. Die negatiewe beeld is wêrelds en as kinders van die Here moet die woord kuisheid jou laat dink aan die reinheid van ’n maagdelike bruid. Afgesonder vir haar bruidegom – beeldskoon en onbevlek. Dit is waarna die Christen in sy lewe moet strewe na woord en daad.  Egbreek begin in jou gedagtes en selfs ’n ongetroude persoon kan egbreek pleeg deur in sy gedagtes, spraak en gedrag onkuis te wees. Egbreek en owerspel is sinonieme.

My gedagtes.

Owerspel begin lank voor die daad van owerspel plaasvind. Jesus stel dit duidelik as Hy sê: Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het. Mattheus 5:28. Die geveg begin alreeds in jou gedagtes. Dit is waar die wapens uitgehaal moet word en die oorwinning behaal moet word.  Dit is baie moeiliker om ’n oorlog te begin as die vyand al klaar in my stad is, as om dit te begin as die vyand op die horison is, of as ek ’n boodskap ontvang dat die vyand van plan is om my aan te val. Die oorlog moet begin lank voor ek na ’n meisie of seun kyk en haar/hom seksueel begeer. Die vraag wat gevra moet word, is: “Waarmee is ek besig om my gedagtes te voed?  Voed ek myself met die voedsel van God se Woord of voedsel van die wêreld. Net soos die voedsel wat jy eet jou gesondheid en jou liggaam beïnvloed net so beïnvloed die geestelike of wêreldse dinge waarmee jy jouself besig hou jou gedagtes. God wat die mens gemaak het weet binne watter grense ons moet bly om ons te help om hierdie oorlog te wen. Ongelukkig het gelowiges in hierdie area vêr weg gedwaal van die grense wat God in Sy Woord vir ons bepaal het.

Grense

Kom ons neem ’n paar tekste en besin goed daaroor. Kom ons begin by ’n teks wat sê wat ons nie moet doen nie en dan eindig ons by ’n teks wat ons leer waarop ons gedagtes moet wees. Efesiërs 5:10-12  En beproef wat die Here welbehaaglik is; en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer. Want wat in die geheim deur hulle gedoen word, is skandelik selfs om te noem. Dit is altyd vir my interessant dat die oomblik as jy die teks aanhaal mense begin sê dat jy nou nie moet wetties raak nie. So miskien moet ons dalk eers sê wat wetties is. Iemand is “wetties” as hy/sy enige iets wat die Woord ons nie leer nie, ’n riglyn en vereiste maak om ’n gelowige te wees. Ons is egter hier besig om ’n teks te neem binne die konteks waarin dit staan en onsself dan af te vra wat dit is wat God wil hê ons moet doen. Die eerste deel van die teks sê dat die eerste vraag wat ons moet vra, oor enige iets wat ons doen, is of dit God gelukkig (welbehaaglik) maak as ek dit doen. Wat sê die Woord vir my? Kyk weer na Efesiërs 5. Hou geen gemeenskap met die onvrugbare werke nie. Ek mag nooit deel wees aan enige iets wat die goddelose wêreld wil doen wat in stryd met die Woord is nie. Die oomblik as ek verneem dat persone dinge wat ek weet verkeerd is, wil doen, moet ek my mond oopmaak en dit bestraf. Sodoende sal hulle jou ook nooit uitnooi na hulle verkeerde praktyke nie, want hulle gaan duidelik weet hoe jy daaroor voel.  Moet nooit skroom om duidelik standpunt in te neem nie. Die gedeelte in Efesiërs gaan vêrder en sê ek mag nie eers praat oor die verkeerde dinge wat mense in die geheim doen nie. Ek mag dus op geen manier deel hê daaraan nie. Dit moet vir jou nou al baie duidelik wees dat baie  boeke en flieks/DVD’s uit die gelowige se versameling moet verdwyn. Ek moet, voor ek enige iets doen, vir die Here vra: “Here sal dit U gelukkig maak as ek hierdie boek lees, hierdie program kyk of met hierdie vriend of vriendin uitgaan?” Die Gees sal die antwoord bevestig in my lewe. Maak onmiddellik die besluit en moet nooit ’n kompromie aangaan oor dit wat reg of verkeerd is nie.

Wat as ek twyfel? Paulus praat oor die gelowige wat versigtig moet wees dat hy ander gelowiges nie laat struikel nie en sê in Romeine 14:23 Maar hy wat twyfel as hy eet, is veroordeel, omdat dit nie uit die geloof is nie; en alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde. Die oomblik as jy twyfel of iets God gelukkig gaan maak of nie leer die Bybel ons dat jy dit dan nie moet doen nie. Dit is so eenvoudig soos dit.

Dan kom ons by die gedeelte wat ons vertel waarop ons wel ons gedagtes moet rig. Filippense 4:8  Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit. Kan ek eerlik sê dat ek hierdie vers deel maak van my lewe en die Here vra om deur sy Gees my te help om na hierdie dinge te streef in my geestelike lewe? Die mooi dinge in die lewe is dit waarop my fokus moet wees. Dit wat my geestelik opbou en versterk. As hierdie dinge nie jou begeerte is nie moet jy jouself afvra of jy werklik nuut gemaak is. Selfs toe Paulus in Romeine vertel van die stryd van die vlees teen die gees se hy in Romeine 7:19  Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. Paulus se dus dat as ons nuut gemaak is, wil ons die goeie doen. Ja, ons faal, maar dit moet ons begeerte wees. As ek nie eers die begeerte het om te doen wat God van my vra in Sy Woord nie, kan ek myself nie sy kind noem nie. Dit klink dalk baie hard, maar die Heilige Gees belowe dat Hy my denke sal vernuwe en gewillig maak om God se wil te doen. As ek dit dus nie eers die begeerte het om Sy wil te doen nie, moet die vraag ontstaan of ek werklik die Heilige Gees het.

 

Oorlog

Om kuis te wees is vir elke persoon ’n oorlog. Ons weet dat daar soms gedagtes by jou opkom wat jy net eenvoudig wonder: “Waar kom dit nou vandaan?” Ons sal hierdie kant van die ewigheid altyd daarmee worstel. God gee egter vir ons die wapens en die strategie om hierdie oorlog te wen. Ek wil dit in ’n paar punte opsom

  1. Vermy – moet niks in jou lewe toelaat wat vir God onaanvaarbaar is nie. Al lyk dit vir jou hoe onskuldig. Selfs die sepie waarna jy so graag kyk of die strokies verhaaltjies wat jy so lekker voor lag. Los liewer dit waaroor jy twyfel. So verminder jy die versoeking en sorg dat die vyand buite die stadspoorte bly.
  2. Neem duidelik standpunt in. As jy eenmaal jou nek uitgesteek het vir ’n saak raak dit deel van jou en is jy altyd bewus van hoe ander jou daaroor dophou of beoordeel.
  3. Voed jouself met goeie voedsel / moenie honger ly nie. As jy ’n paar dae nie geëet het nie en iemand sit ’n stuk sjokolade koek voor jou sal dit baie moeiliker vir jou wees om nee te sê. Soveel meer in ons geestelike lewens. Lees jou Bybel, bid elke dag……
  4. Word deel van ’n geloofsgemeenskap. ’n Klomp houtstompe brand lekkerder en warmer as ’n enkele stomp wat eenkant lê. Die atleet voltooi die resies beter met ’n skare wat hom/haar aanmoedig. Vra iemand om jou aanspreeklik te hou.
  5. Weet waar jou krag vandaan kom. Moet nooit dink jy is sterk genoeg nie. 1 Korintiërs 10:12  Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. Geen versoeking het julle aangegryp behalwe ‘n menslike nie.  Ons as gelowiges moet maar gereeld die voetpad van Josef inslaan en alles agterlaat sodat my vlees nie ingee vir seksuele sondes nie. 
  6. God is getrou. 1Korintiers 10:13 gaan vêrder sê: maar God is getrou, wat nie sal toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; maar Hy sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit sal kan verdra.God gee altyd vir my die uitkoms en die waarborg dat ek dit in Hom en deur Hom kan oorwin.

Slot

Ons gedagtes is ongelooflik kragtig. Ons verbeelding kan sprokies optower en die duiwel kan die grootste leuen verander deur ’n pragtige suiker lagie van tydelike plesier. Hou jou gedagtes skoon! Moenie ander se rommel daarin toelaat nie. Die Engelse spreekwoord sê: “You must keep an open mind”, maar dit geld verseker nie as dit by die opdragte van die Here kom nie. Daar maak jy seker dat niks inkom behalwe wat HY daar wil hê nie, want ongelukkig is dit wat in jou gedagtes aangaan nie iets wat jy geheim kan hou nie. Jy is vroegtydig gewaarsku – die oorlog is ’n werklikheid – wees te alle tye gereed.

 

Ons sal volgende week ’n volledige bespreking van die huwelik hê.