Vraag 67: Wat is die sesde gebod.
Antwoord: Die sesde gebod is, Jy mag nie doodslaan nie.
Vraag 68: Wat word vereis in die sesde gebod?
Antwoord: Die sesde gebod vereis alle wettige pogings om lewe te bewaar en die lewe van ander.
Vraag 69: Wat word verbied in die sesde gebod?
Antwoord: Die sesde gebod verbied die neem van jou eie lewe, van jou naaste sonder oorsaak, of wat ook al daarmee verband hou.
Inleiding
Moord – om iemand se lewe op ’n onnatuurlike manier te neem. Elke lewe is kosbaar en God verbied die neem van iemand se lewe. Ons het vandag allerhande maniere gevind om die woord moord te versag sodat dit nie meer so kras op die oor klink nie. Aborsie van ’n baba word toegedraai in “reg tot keuse” of die “abortering van ’n fetus”. Dit is moord. So ook om jou eie lewe te neem – al sal die Afrikaanse speltoetser outomaties die woord selfmoord verander na selfdood. Die woord genadedood laat dit selfs na iets genadig klink asof dit iets is wat aan God toegeskryf sou kon word. Dit is moord. In hierdie inskrywing gaan jy definitief gekonfronteer word met jou siening oor lewe – is die lewe van ander vir jou kosbaar en selfs heilig.
Aborsie – Massamoord van die 21ste eeu
Op wetenskaplike vlak is daar eenstemmigheid dat lewe begin by bevrugting. Alreeds by bevrugting bevat die embrio die volle potensiaal om tot ’n volwaardige mens te ontwikkel. Om hierdie ontwikkeling op enige stadium vroegtydig onnatuurlik te beëindig is moord. Net soos wat jy nie meer mens is op 15 jarige ouderdom as op 3 jarige ouderdom nie, is jy ook nie meer mens op 1 maand as op 40 weke nie – en so kan ons teruggaan tot by bevrugting. Ons het wel verskillende benamings vir die mens op verskillende fases van ontwikkeling of ouderdom nl. embrio, fetus, baba, kleuter, tiener, jong volwassene, middeljarige en bejaarde. Almal is egter mense en hul lewens is kosbaar. Vir die gelowige is dit belangrik om die mens te sien as siel, gees en vlees. Elke komponent is deel van die individu vandat lewe begin. Daar is nie ’n magiese oomblik waarin die gees en die siel in die vlees kom nie. As ons na die verhaal van Johannes die Doper kyk leer ons hoe volkome die klein mensie in die moederskoot is. Johannes die Doper is gevul met die Heilige Gees van geboorte af. Lukas 1:15 want hy sal groot wees voor die Here. En wyn en sterk drank sal hy nooit drink nie, en hy sal vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af. Maria is swanger deur die Heilige Gees en gaan kuier vir Elisabet wat swanger is met Johannes. Lukas die dokter, soos net ’n dokter kan, beskrywe wat plaasgevind het toe Elisabet die stem van Maria hoor. En toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in haar skoot opgespring; en Elisabet is vervul met die Heilige Gees en het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die vrug van jou skoot! Lukas 1:41-42. Aangesien Johannes die Doper vervul is met die Heilige Gees spring hy op met die hoor van Maria se stem, maar nie net dit nie, Elisabet getuig ook dat die vrug van Maria se skoot geseënd is. Die lewe wat in Maria gewek is, is alreeds geseënd. Ja, die vrug is Jesus, maar dit kon alleen beskryf word as geseënd as daar ’n verstaan was van die lewe wat daar is. Die psalmdigter vertel ons dat elke individu wonderlik gevorm is in die moederskoot. Psalm 139:13-15 Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. Ek loof U, omdat ek so vreeslik wonderbaar is; wonderbaar is u werke! En my siel weet dit alte goed. My gebeente was vir U nie verborge toe ek in die geheim gemaak is nie, kunstig geweef in die dieptes van die aarde. Daar is geen per ongeluk of foute nie, net ’n God wat presies weet wat Hy doen.
Aborsie het een van die brandpunte in die politieke arena geword en is een van die hoogs gedebatteerde onderwerpe in die Westerse samelewing. Die mens, en veral dan die vrou, se regte word geplaas teenoor die lewe van ’n kind. Die slagspreuk van baie feministe ten gunste van aborsie is: “My liggaam, my keuse” Hierdie keuse is egter nie oor jou eie liggaam nie, maar oor die liggaam en lewe van ’n ander. Wanneer ’n vrou swanger raak a.g.v. verkragting word hierdie probleem vir baie ’n grys area. Die trauma vir enige vrou wat verkrag is, is ongelooflik. As daar dan nog ’n swangerskap volg, voel baie dat ’n aborsie dan geregverdig is. As jy egter die persoon wat hierdie argument in ’n debat ten gunste van aborsie gebruik vra of hy/sy dan teen aborsie op enige ander gronde is, dan is die antwoord egter gewoonlik ook nee. Die argument word dus net gebruik om alle aborsie te regverdig.
Ons kan net so min die afskuwelike daad van die man wat die vrou verkrag op ’n onskuldige baba plaas as wat ons ‘n moordenaar se kind kan vonnis. Een verkeerde daad kan nooit reggemaak word deur ’n tweede verkeerde daad nie. Die verkragter moet gevonnis word, maar die lewe wat daaruit voortspruit, bly nog steeds ’n lewe wat God geskep het. Net so min as wat ons na ’n buite-egtelike baba kan kyk as minder mens, kan ons na ’n baba kyk wat deur ’n daad van verkragting ontstaan het as minderwaardig. Elke lewe is kosbaar en mag nie deur pille of op enige ander manier beëindig word nie.
Die wonderlike is hoeveel vroue, baie selfs ongelowig, getuig dat die kind wat gebore is uit die verkragting vir hulle, nie net rede vir lewe gegee het nie, maar ook gehelp het met vergifnis. Kan ons as gelowiges na ’n slegte gebeurtenis kyk en saam met Woord getuig dat: En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Romeine 8:28 ? Die gelowige word opgeroep om op te staan vir elke individu wat deur die samelewing uitgebuit word of wat nie vir hom/haarself kan opstaan nie. Dit geld vir die weduwee en die wese, die arm persoon en die baba in die moederskoot.
Selfdood/Genadedood/Eufenasia
Die vraag word vandag gevra of jy jou eie lewe mag beëindig as jy ervaar dat jou lewe nie meer vir jou sin maak nie. Hierdie daad is deur die eeue gesien as selfmoord. Die oorsprong van hierdie vraag, net soos in die geval van aborsie gaan oor die lewensverwagting en of kwaliteit van die persoon se lewe. Hoe kan jy lewe klassifiseer in hierdie kategorie. Kry ‘n mens trappe van vergelyking waar dit kom by die beskrywing van lewe. Dit is net so belaglik soos dood, doder, doodste! Op grond waarvan sal ek iemand se kwantiteit of kwaliteit van lewe meet. Hoe die persoon oor sy eie lewe voel? Vandag voel ek alles in die lewe is vir my te veel en more voel ek dalk weer beter. Of hoeveel ‘n persoon tot die samelewing kan bydra? Tog sekerlik nie! Dit is sekerlik die mees absurde manier om oor die lewe te praat. Job kon in die tyd waarin hy alles verloor en erge pyn gehad het die wonderlikste leerskool deurgaan aangaande wie hierdie God is wat hy aanbid. Daar is niks soos pyn en hartseer om my die ware betekenis van die lewe te leer nie. Die lewe stop nie na hierdie tydperk op aarde nie – om die waarheid te sê dan begin die lewe eers in sy volheid. Daar is meer aan die mens as vlees en bloed en dus meer aan die individu as net die wat jy sien of ervaar. Die ware lewe wat binne my klop kan nie met oë gesien word nie. Daarom mag lewe of sterwe slegs deur God bepaal word.
Ek besef maar terdeë dat daar nog so baie oor hierdie onderwerpe gesê kan word, maar hierdie is nie ‘n in diepte ondersoek na selfmoord of eufenasia nie. Die debat strek veel verder as die strekking van hierdie blog as onderwerpe soos die kunsmatige aan die lewe hou met ventilators ens. ook nog in oënskou geneem word. Die onderliggende basis van al hierdie debatte moet egter God se standaard wees en nie die mens se gevoelens oor lewe nie.
Jy mag nie doodslaan nie
Die neem van ’n lewe word ten sterkste veroordeel in die Bybel. Gen 9:6 Hy wat die bloed van ‘n mens vergiet, sy bloed sal deur die mens vergiet word; want God het die mens na sy beeld gemaak. Die Bybel wys daarop dat daar kere kan wees wat ’n lewe geneem word, waar dit nie met voorbedagte rade plaasgevind het nie. In Israel was daar asiel stede waarheen die persoon wat iemand per abuis vermoor kon vlug. Hier sou die persoon kon bly sonder vrees tot die dood van die hoëpriester. By die dood van die hoëpriester kon die persoon weer veilig terugkeer na sy eie woonplek. Net so het ons ook ’n regstelsel waar moordsake ondersoek word en persone gevonnis word in ooreenstemming met die oortreding. Die oplegging en voltrekking van hierdie vonnis is ‘n gesag wat deur God aan die regering van die land gegee word. Die swaard behoort aan die regering en dit is nie vir my en jou om daarmee in te meng nie.
Jy dink dalk by jouself dat hierdie alles baie interessant is, maar eintlik nie op jou van toepassing is nie. Dalk in so verre jy ‘n opinie daaroor kan uitspreek, maar niks verder nie. Min van ons het enige gedagte dat die sesde gebod een is wat ons oortree. Moord is een van daardie sondes waaraan ons sekerlik nie skuldig is nie – of so redeneer ons. Jesus gaan egter vêrder as Hy ons leer dat dit nie net die fisiese daad van moord is wat ons skuldig maak voor Hom nie, maar selfs die gedagte van haat. Mattheus 5:22 Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur. Of 1 Johannes 3:15 wat sê: Elkeen wat sy broeder haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie. Die sesde gebod kom ewe skielik, kyk in ons harte, en verklaar ons almal skuldig! Moordenaars! Na watter asielstad toe kan ons vlug? Hoe kan ons die bloed van ons harte afwas? Dit laat ons besef dat elkeen van ons vergifnis nodig het. Dit skep by ons die angstigheid om te bid vir ons eie vergifnis maar ook om die te vergewe wat teen ons gesondig het. Mattheüs 6:12 en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe.
Wie kan enige iets lewendig maak? Alle lewe is afkomstig van God en daarom kosbaar en die belangrikste – in Sy hande en nie in jou en myne nie.
