Vraag 66 Ons beloofde land

 

Vraag 66. Wat is die rede wat gekoppel is aan die vyfde gebod?

Antwoord: Die rede wat gekoppel is aan die vyfde gebod, is ’n belofte van ’n lang en voorspoedige lewe (in so verre dit God dien in Sy heerlikheid en vir hulle eie voordeel) vir almal wat sy gebooie gehoorsaam.

Inleiding

Die vyfde gebod sê ons moet ons ouers eer en gehoorsaam. Verder moet ons alle gesag wat oor ons aangestel is gehoorsaam en respekteer in die wete dat dit van God afkom en daarom is dit daar vir ons geestelike beswil. Daar is egter nog ’n verdere belofte verbonde aan die vyfde gebod. ’n Belofte van ’n lang lewe – en nie net ’n lang lewe nie, maar sowaar ’n voorspoedige een daarby!

So, as ek hierdie gebod gehoorsaam gaan ek baie oud word en dit gaan altyd met my goed gaan? Of, kan ek dan die lyn deurtrek en sê dat diegene wat op ’n jong ouderdom sterf nie hierdie gebod nagekom het nie? Dit moet vir elke ware gelowige duidelik wees dat hierdie nie die gevolgtrekking is wat ons uit onderhouding van die vyfde gebod kan maak nie. Die Bybel bevat baie voorbeelde van manne van God wat jonk dood is. Neem die voorbeeld van Johannes die Doper en Stefanus. Wat beteken hierdie belofte dan?

 

Konteks van Israel

Daar is ’n belofte wat bewaarheid word as daar gehoorsaamheid is aan die opdrag. Dit is belangrik dat ons na die konteks van hierdie gedeelte gaan kyk voor ons allerhande onbybelse afleidings maak.  Wat was die land wat God belowe het Hy aan hulle sou gee. Hierdie belofte is aan Abraham gemaak in Genesis 17:8 En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as ‘n ewige besitting; en Ek sal vir hulle ‘n God wees. Al het Abraham nie hierdie grond self ontvang nie was dit ’n belofte van God wat sy nageslag sou ontvang. Handelinge 7:5 En Hy het hom geen erfdeel daarin gegee nie, selfs nie ‘n voetbreed nie, maar Hy het belowe om dit aan hom en sy nageslag ná hom as eiendom te gee, toe hy nog geen kind gehad het nie.

Moses herinner die mense dat hulle hierdie land, Kanaän, ontvang het as ’n belofte van God aan hulle voorvaders. Hy vertel hulle alles wat God van hulle verwag en roep hulle op tot gehoorsaamheid. Deuteronomium 4:1  Luister dan nou, Israel, na die insettinge en die verordeninge wat ek julle leer om te doen, sodat julle mag lewe en inkom en die land wat die HERE, die God van julle vaders, aan julle sal gee, in besit mag neem.

Die land as ’n belofte en die bly daarin was gegee met ’n klousule wat afhanklik was van hulle gehoorsaamheid aan al God se opdragte. Daarom roep Moses die volk op om hierdie opdragte te onderhou en ook aan hulle kinders te leer. Deuteronomium 4:9  Neem jou net in ag en wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak. As hulle God nie sou gehoorsaam nie sou dit die tydperk wat hulle in die land sou bly inkort. Deuteronomium 5:33 In al die weë wat die HERE julle God julle beveel het moet julle wandel, sodat julle kan lewe en dit met julle goed kan gaan en julle die dae kan verleng in die land wat julle in besit sal neem.

Israel het die land Kanaän ontvang as die vervulling van God se belofte aan Abraham. Nou verwag God Israel se gehoorsaamheid aan Hom en Sy gebooie indien hulle hierdie land as hul besitting wil behou – as hulle lank in hierdie beloofde land wil bly moet hulle gehoorsaam wees aan alles wat hul ouers en hul leiers hulle leer, maar meer spesifiek – dit wat hulle geleer word in verband met God en Sy gebooie.

Daarom kon ons uit die gebod aflei  (Sien vorige inskrywing) dat dit nie net gaan oor die gehoorsaamheid van kinders teenoor hulle ouers nie, maar ook dat kinders moet luister na die leiers sowel as hulle eie ouers wat die opdrag ontvang het om hulle te onderrig in die bevele van God. Deuteronomium 6:6-9  En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan. Ook moet jy dit as ‘n teken bind op jou hand, en dit moet as ‘n voorhoofsband tussen jou oë wees. En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrywe. Oor en oor kom die vermaning dat hulle moet bly in wat God hulle geleer het of anders sal die land hulle ook uitspoeg soos met die vorige heiden nasies. Levitikus 18:27-28 Want die mense van die land, wat voor julle gewees het, het al hierdie gruwels gedoen, en die land het onrein geword. Laat die land julle dan nie uitspuug as julle dit verontreinig nie, soos dit die nasie uitgespuug het wat daar voor julle was. 

 

Ongehoorsaamheid

Hoe tragies as jy aan die einde van Josua kom, met alles wat God vir die volk gedoen het, en jy ontdek dat hulle nie gehoorsaam was aan God se opdrag nie. Rigters 2:7 en 10 En die volk het die HERE gedien al die dae van Josua en al die dae van die oudstes wat ná Josua nog in die lewe was, en al die groot werke van die HERE gesien het wat Hy vir Israel gedoen het.  En toe ook daardie hele geslag by hulle vaders versamel is, staan daar ‘n ander geslag ná hulle op wat die HERE en ook die werk wat Hy vir Israel gedoen het, nie geken het nie. Hoe is dit moontlik? Hoe kan dit wees dat jy niks van die groot dinge wat die Here vir jou en jou volk gedoen het aan die volgende geslag oordra nie. Ons vind dieselfde tot in die hoëpriester se huishouding. Ons het alreeds oor Eli se seuns gepraat en oor hulle ongehoorsaamheid. Samuel word deur sy ma by die hoëpriester gelos sodat hy aan die Here toegewy sou wees. Die huis wat die voorbeeld moes wees is sonder enige voorbeeld en sonder enige lering. Die nag waarin God aan Samuel verskyn word daar aan ons vertel ” Samuel het die HERE nog nie geken nie; ook was die woord van die HERE nog nie aan hom geopenbaar nie. 1Samuel 3:7.

Of die kinders van Israel was ongehoorsaam aan die lering van hul ouers en leiers of hul leiers het nagelaat om die kinders in God se wee te leer en te onderrig. Hulle voorbeeld het nie na God gewys as hul God nie en die gevolge was dat die Israeliete die beloofde land verloor het.

 

Wat is die beloofde land vandag?

Die hartseer van die Ou-Testamentiese voorbeelde soos genoem, speel elke dag af in huisgesinne. Kinders van “toegewyde” lidmate en selfs die van predikante en ander leiers in die kerk, word groot sonder enige agting vir God en wat Hy van hulle vra. Kinders en volwassenes het ’n gebrekkige, indien enige, kennis van God se Woord – en selfs waar daar dalk nog kennis is, is daar geen gehoorsaamheid nie.

Dit bring ons by die gehoorsaamheid ook in die gemeenskap van gelowiges. Ons moet gehoorsaam wees aan die wat ons voorgangers is in die Woord. Hebreërs 13:7  Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na en dan Hebreërs 13:17  Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie.

God beloof gelowige ouers en kinders wat aan die lering van Goddelike leiers gehoorsaam is dat hulle lank sal lewe in die land wat God hulle sal gee. Hierdie land is nie grond nie en die voorspoedige lang lewe is nie fisies nie, maar dit is wel, net soos in die geval van Israel, gekoppel aan gehoorsaamheid. Hoe belangrik is dit nie om hierdie opdrag uit te voer nie. As ons gehoorsaam is aan die wat ook gehoorsaam aan die Woord is, sal dit vir ons baie ellende en hartseer spaar. Die Ou-Testamentiese belofte word dus bevestig in die Nuwe Testament, nl. dat as ons ons ouers gehoorsaam ons die land sal beërwe wat God ons belowe het. Hierdie belofte gaan oor ’n beloofde land waarna ons as gelowiges kan uitsien, wat nie met fisiese oë gesien kan word nie. Verder gee God ons die versekering dat as ons in Sy weë bly, ons geestelik voorspoedig sal wees en ons nie sal struikel nie. Die voorspoed van die beloofde land kan ons alreeds ervaar in al die seëninge wat God van die hemel op ons as Sy kinders uitstort en die lengte daarvan is ewig! Efesiërs 1:3  Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus

 

Slot

Kan jy sien dat ouderdom en aardse voorspoed niks te make het met God se belofte in die vyfde gebod nie? Die meerderheid gelowiges wat getrou was aan die Woord in die Nuwe Testament het nie baie lank gelewe nie. Stefanus die diaken is die eerste martelaar. Jakobus wat heel moontlik nog nie eers dertig was nie is met die swaard doodgemaak. Handelinge 12:1 en 2  En omtrent daardie tyd het koning Herodes sy hande geslaan aan sommige uit die gemeente om hulle kwaad aan te doen. En hy het Jakobus, die broer van Johannes, met die swaard omgebring. Maar elkeen van hulle het uitgesien na ’n Hemelse tuiste. Hebreërs 11:14 -16  Want die wat sulke dinge sê, verklaar dat hulle ‘n vaderland soek. En as hulle bly dink het aan dié vaderland waaruit hulle weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer. Maar nou verlang hulle na ‘n beter een, dit is ‘n hemelse. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ‘n stad berei.

Gelowiges – wees gehoorsaam aan God se gebooie, sodat julle verewig mag leef in die land wat Jesus Christus vir ons gaan voorberei het. Johannes 14 :1-3 Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 

 

 

 

 

Lewer kommentaar