Vraag 64: Wat is die vereiste van die vyfde gebod?
Antwoord: Die vyfde gebod vereis die bewys van eer, die uitvoering van opdragte, aan elkeen elke plek en verhouding of hulle bo jou aangestel, onder jou aangestel of gelyk aan jou is.
Vraag 65. Wat word verbied in die vyfde gebod?
Antwoord: Die vyfde gebod verbied die nalaat van, of om enige iets te doen teen die eer en pligte verskuldig aan persone in verskeie plekke en verhoudings.
Inleiding
In die vorige inskrywing het ons na die vyfde gebod gekyk en spesifiek gefokus op die verhouding van ouers en hul kinders. Hierdie gebod gaan egter vêrder as net oor kinders en hul ouers. In die samelewing is dit nou een maal so dat sommige mense meer aansien en gesag as ander het. Sommige is ryk ander is arm, sommige is werkgewers en ander werknemers. Ons het leiers en volgelinge – base en klase. Die vyfde gebod wil ons leer dat ons pligte met respek op alle vlakke van menseverhoudings beoefen moet word. Jakobus leer ons dat elke persoon na die beeld van God geskape is en daarom moet ons oppas wat ons sê van Sy skepsels. Hy praat van mense wat met dieselfde mond God wil eer en hul medemens slegsê. Jakobus 3:9 Daarmee loof ons God en die Vader, en daarmee vervloek ons die mense wat na die gelykenis van God gemaak is. Hoe ons met ander praat en hulle behandel moet respekvol wees. Respek kom elke mens toe, maak nie saak wat sy/haar status of finansiële stand in die samelewing is nie.
Gesag
Die meeste van ons het geen probleem met gesag solank as wat ons voel die persoon wat gesag uitoefen handel volgens ons beste belange of indien ons met die reël of wetgewings saamstem nie. Die probleem kom egter in wanneer daar wette gemaak word waarmee ek nie saamstem nie of wat my benadeel. Wat as die regering korrup is!?
Goddelose regerings
Alle gesag kom van God af. Romeine 13:1 Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel. Glo ons werklik dat alles gesag van God afkom? Wat as hulle goddeloos is? Hoe kan hulle deur God aangestel wees as hulle God nie eers erken of dien nie? Twee leiers kan as voorbeelde gebruik word van goddelose leiers wat in diens van God gestaan het, nl. Nebukadnesar en Kores. Nebukadnesar, die heerser van Babilon, en Kores, die heerser van die Mede en die Perse, word deur die Woord as God se diensknegte beskryf. Jeremia 27:6 En nou het Ék al hierdie lande gegee in die hand van Nebukadnésar, die koning van Babel, my dienaar; ja, selfs die wilde diere van die veld het Ek aan hom gegee om hom te dien. Jesaja 44:28 wat van Kores sê: Hy is my herder, en hy sal alles volbring wat My behaag deurdat hy van Jerusalem sê: Dit moet gebou word, en die tempel moet gegrond word. Dit was nie dat hulle Godvresend was nie. Hulle het afgode aanbid en nie eers verstaan dat hulle in God se diens staan nie. God is soewerein oor alles. Hy is in beheer van alles. So kom daar ook ’n dag waar Hy ’n einde maak aan die heerskappy van ’n heerser en ’n ander een aanstel. Net die volgende vers in Jeremia 27 hierbo genoem sê God: En al die nasies sal hom dien en sy seun en sy seun se seun, totdat die tyd van sy land ook kom, dat dit diensbaar gemaak sal word deur magtige nasies en groot konings. Jeremia 27:7.
Elke leier wat in ‘n gesagsposisie geplaas is, is nie daar omdat mense eerstens vir hom/haar gestem het nie, maar omdat God in Sy almag dit so bestem en beplan het. Elke leier is dus in daardie opsig ’n dienaar van God, of hy/sy dit weet of nie. Romeine 13:4 want hy is ‘n dienaar van God, jou ten goede.
God se dienaars jou ten goede
Hoe begin ek na die persoon in ’n gesagsposisie kyk as ek besef dat dit ’n Godgegewe posisie is wat deur God bestem en gevul is met die persoon wat Hy daarvoor bepaal het? Ek kan dus weet dat God ’n plan het met die persoon wat in daardie posisie geplaas is en dat ek daarúít moet groei en leer. Daarom sê die gedeelte in Romeine dat dit vir my ten goede is. Wat kan ek leer uit my reaksie teenoor ’n persoon wat gesag oor my uitoefen? Glo ek werklik soos die Woord sê dat God alles laat meewerk ten goede? Romeine 8:28 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is. Baie keer kyk ons na goeie leiers asof hulle ons god is en glo dat solank as wat hulle daar is, sal dit met ons goed gaan. Tog vind ons dat hoe ryker ’n land is hoe meer het die mense die persepsie dat hulle sonder God kan klaarkom en dat hulle Hom nie as ’n kruk nodig het nie. In die twintigste eeu het God gewys hoe China, waar Christene onder erge vervolging deurgeloop het, die grootste geestelike groei gehad het. Onder die Romeinse vervolging, waar miljoene gelowiges hulle lewens verloor het, was dit die grootste bloei tydperk van die Kerk. Juis in hierdie tyd waar Christene deur Nero opgehang is teen pale, bestryk is met pik en dan aan die brand gesteek is vir sy partytjies, skryf Petrus aan die gemeente en sê: Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here—of dit die koning is as opperheer, of die goewerneurs as sy gesante (1 Petrus 2:13-15). Nie net dit nie, maar die gelowiges is opgeroep om aan hulle belastings en ander heffings te betaal. Romeine 13:6 Want daarom betaal julle ook belastings; want hulle is dienaars van God wat juis hiermee voortdurend besig is. Juis wanneer dit moeilik is om gesag te gehoorsaam, leer ons dat hierdie nie ons tuiste is nie en sien ons uit na die regverdige en ewige heerskappy van God wat vir ons voorlê.
Respek ’n aksie nie ’n gevoel
Meeste gelowiges wil eerder sê dat as ’n leier korrup is en goddeloos optree teen gelowiges moet ons hom/haar juis nie gehoorsaam nie. Hulle verdien nie ons eer en respek nie. Die Woord leer ons dat selfs al is hierdie persoon wreed of korrup kan ek weet dat God die persoon aangestel het en dat God gelowiges in die algemeen en vir my spesifiek, iets wil leer wat ek op geen ander wyse kon leer nie. Ek leer om my vertroue in die Here te plaas en nie in mense nie. In plaas daarvan om my vertroue te plaas in die materiële dinge is my vertroue in die Een wat oor alles die finale gesag het. Uit my ontsag en respek vir God, volg my gehoorsaamheid aan die gesag wat oor my aangestel is. Dit is ’n daad – nie ’n gevoel nie. So wys ek vir elkeen dat ek uitsien na die Ewige Koninkryk waar God regverdig sal heers.
Alles tot God se verheerliking
As God praat oor die Farao, wat die Israeliete sleg behandel het en wat hulle onderdruk het, vertel Hy ons dat Hy Farao se hart verhard het. Eksodus 4:21 … Maar Ék sal sy hart verhard, sodat hy die volk nie sal laat trek nie. Wat was die rede vir hierdie verharding wat veroorsaak het dat die Israeliete erg vervolg is? Paulus vat dit saam as hy in Romeine 9:17 sê Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde. God wil hê ons as Sy kinders moet Hom verheerlik as dit goed of sleg gaan. Ons moet besef dat daar net een Koninkryk sal bly staan en dit is Syne. Die droom wat Nebukadnesar gehad het illustreer dit baie mooi. Nebukadnesar droom dat daar ’n beeld staan. Die beeld se hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper, sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei. Elke deel verwys na ’n koninkryk wat tot stand sou kom en ‘n heerser wat sou heers vir ’n bepaalde tyd. Die beeld word op die ou end getref deur ’n klip wat ’n groot rots raak wat die hele aarde vul, sonder die hulp van ’n mens, en die beeld verwoes en fynstamp. Daniel verklaar hierdie droom aan koning Nebukadnesar. Hierdie rots verteenwoordig ’n koninkryk wat ewig sal wees. Die rots is Christus en net sy ryk sal ewig wees. As ons ons vertroue in mense en in koninkryke stel gaan ons altyd teleurgesteld wees. Daar is net een koninkryk wat ewig is en waarvan elke gelowige alreeds deel is. Ons ervaar dit alreeds gedeeltelik, maar eendag sal die volledige daarvan ‘n werklikheid word. Die Hemelse Koninkryk, waar God sal Heers vir ewig en altyd.
Openbaring 21:3-5 En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.
