Q. 55. What is forbidden in the third commandment?
A. The third commandment forbiddeth all profaning or abusing of anything whereby God maketh himself known.
Q. 56. What is the reason annexed to the third commandment?
A. The reason annexed to the third commandment is, that however the breakers of this commandment may escape punishment from men, yet the Lord our God will not suffer them to escape his righteous judgment.
Vraag 55. Wat word verbied in die derde gebod?
Antwoord: Die derde gebod word alle lastering of die misbruik van enige iets waardeur God Homself aan ons geopenbaar het, verbied.
Vraag 56. Wat is die rede wat aangeheg word aan die derde gebod?
Antwoord: Die rede wat aangeheg word by die derde gebod is dat al spring hulle die straf van mense vry, sal die Here ons God hulle nie sy regverdige oordeel laat vryspring nie.
Inleiding
In die vorige inskrywing het ons gekyk na die derde gebod en spesifiek die vereiste dat die gebruik van God se name, titels, eienskappe, instellings, Woord en werke, met heiligheid en met ontsag moet wees. (Sien Vraag 53-54) Jy mag dalk hierdie Vraag lees en wonder hoe dit dan verskil van die vorige inskrywing. Hier handel dit egter oor die manier waarop God homself aan die mens openbaar. As ons dink aan die maniere waarop God aan ons geopenbaar word, is dit deur Sy Woord en die Heilige Gees. Indien ons die Woord laster, m.a.w. ons sê enige iets daarin is onwaar, oortree ons die Derde gebod. Hierdie stelling is so gelaai dat dit onmoontlik is om die totaliteit daarvan te bespreek. Die belangrikste is egter die feit dat God homself aan die mens openbaar as die Waarheid. As ons dink aan die term “Waarheid” dan is dit sekerlik een van die terme wat vandag die meeste misbruik of belaster word. Vandag is daar nie meer Waarheid (absoluut) nie, daar is jou waarheid, my waarheid, die populêre waarheid, die alternatiewe waarheid en so kan ons aangaan. Die waarheid is in wat ek glo, wat ek sê, hoe ek optree en as wie ek myself voorstel. Indien jy in enige hiervan vals is, belaster jy God as enigste bron van Waarheid.
God is Waarheid
Hoe wonderlik vir ons as gelowiges om die besef te hê dat God se Woord die absolute waarheid is en ons letterlik God op Sy woord kan neem. Wat God sê, word bevestig as waar en betroubaar omdat wie Hy is dit bevestig. Hy is Waarheid! Hebreërs vertel die gelowiges dat hulle seker kan wees van hul verlossing omdat dit bevestig word met twee onveranderlikes, nl. die belofte en die eed. Hebreërs 6:17-18 Daarom het God, omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename van die belofte die onveranderlikheid van sy raad wou toon, dit met ‘n eed gewaarborg; sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê. Hoe wonderlik is hierdie gedeelte nie. Nie net het God belowe nie, maar Hy het ook dit met ’n eed bevestig. Sy beloftes bly in Hom ja en amen. 2 Korintiërs 1:20 Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons. Nie net dit nie, maar Hy sweer ook ’n eed in Sy eie naam wat nie gebreek kan word nie. Alles is vas en seker in Hom.
Wandel in die Waarheid
Net soos Hy betroubaar is in wat Hy verklaar deur Sy Woord en ons sekerheid het dat niks van Sy beloftes sal verander nie, net so roep Hy ons op om as Sy kinders ook so in die waarheid te wandel. As ons Sy naam dra moet ons ook deur ons spraak soos Hy klink. As ek as Sy kind praat moet elke woord wat uit my mond kom die waarheid spreek. Mattheus 5:37 Maar laat julle woord wees: Ja ja, nee nee. Wat meer as dit is, is uit die Bose.
Beloftes vir mense
Om in die waarheid te lewe beteken ook om nie ligsinnige beloftes te maak, terwyl ons vergeet ons is nie eers in beheer van die kleinste dinge in ons lewens nie. Lukas 12:25-26 En wie onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? As julle dan selfs nie die geringste kan doen nie, waarom kwel julle jul oor die ander dinge?
Ons ken nie eers die hoeveelheid dae wat ons gaan leef nie. 1Petrus 1:24-25 Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is. Nie een van ons weet wat môre of oormôre kan gebeur nie. Daarom is ons as mens arrogant om te leef en te beplan asof alles afhanklik is van onsself. Jakobus 4:15 In plaas dat julle sê: As die Here wil en ons lewe, dan sal ons dit of dat doen. Daarom is die gelowige iemand wat vashou aan God en Sy beloftes en lewe met die besef dat ek afhanklik is van Hom in alles.
Beloftes aan God
Jefta een van die Rigters se verhaal wys hoe ernstig dit is om ’n belofte te maak. Hy maak ’n belofte dat as God hom veilig terugbring na die oorlog hy aan God die eerste ding wat Hom ontmoet as hy terugkeer aan God sou offer. Rigters 11:30 En Jefta het aan die HERE ‘n gelofte gedoen en gesê: As U werklik die kinders van Ammon in my hand gee, dan sal wat uitkom, wat uit die deure van my huis uitkom my tegemoet, as ek in vrede terugkom van die kinders van Ammon, aan die HERE behoort, en ek sal dit as ‘n brandoffer bring. As hy terugkom is die eerste wat hom ontmoet sy enigste dogter. As hy haar aan die Here sou offer sou dit beteken dat hy geen kinders deur haar sou ontvang nie, sy sou aan God behoort en met geen man mag trou nie. Dit sou beteken dat Jefta geen nageslag sou hê nie. Wat maak jy met so ’n belofte wat jy gemaak het? Jefta doen wat hy aan God belowe het, ’n eienskap van ’n man van God. Die psalmdigter vertel ons dat so ’n persoon mag in die teenwoordigheid van God wandel. Psalm 15:1-2 en 4 ‘n Psalm van Dawid. HERE, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg? Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen, en wat met sy hart die waarheid spreek; in wie se oë die verworpene veragtelik is, maar hy eer die wat die HERE vrees; al het hy gesweer tot sy skade, hy verander nie.
In die geheim
Integriteit kan sekerlik gedefinieer word as iemand wat te alle tye is dit wat hy/sy sê hy/sy is. As ons dus voorgee om iets te wees wat ons nie is nie, is ons vals en is ons besig om God se naam te ontheilig. Kom ons maak dit prakties. Is jy eerbaar? As jy sê jy kom ‘n sekere tyd, kan ek jou daardie tyd verwag? As jy vir jou kinders sê jy gaan daar wees, is jy daar? Kan mense jou op jou woord vat en jou vertrou? Is jou vriendelikheid en glimlag opreg? Is jou vriendskappe opreg of gebaseer op eie belang? Kan jou man/vrou jou in jul huwelik vertrou? Is jy eerlik in jou besigheid en met jou belasting? Is jou lofprysing opreg? Is jou lewe daar waar niemand jou sien nie, dieselfde as in die openbaar of gee jy voor om iets te wees wat jy nie is nie? Is die man/vrou wat Sondag in die kerk sit dieselfde een wat Saterdagaand voor die televisie sit of alleen die internet “surf”? Omdat ons God se Naam oor ons dra, moet ons in waarheid leef, anders is ons besig om Sy Naam te ontheilig. Levitikus 19:12 En julle mag nie vals sweer by my Naam en so die Naam van jou God ontheilig nie. Ek is die HERE.
Alles kom aan die lig
Vraag 56 maak dit baie duidelik en ek dink nie veel bespreking is hier nodig nie. Jy mag dalk mense flous, jy mag dalk selfs jouself flous, maar alles kom aan die lig. Ons mag dalk nou ons valsheid wegsteek en die straf van mense vryspring, maar God wat die harte van mense ken sal jou straf. Lukas 12:2-3 En daar is niks bedek wat nie geopenbaar sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie. Daarom, alles wat julle in die donker gesê het, sal in die lig gehoor word; en wat julle in die oor gepraat het in die binnekamers, sal op die dakke verkondig word. Die laaste punt word die mens gewaarsku dat daar ’n straf is vir elke persoon wat God se naam ydellik gebruik.
Slot
God is Waarheid – leef as sy kind in Waarheid!
