Q. 53. Which is the third commandment?
A. The third commandment is, Thou shalt not take the name of the LORD thy God in vain: for the LORD will not hold him guiltless that taketh his name in vain.
Q. 54. What is required in the third commandment?
A. The third commandment requireth the holy and reverent use of God’s names, titles, attributes, ordinances, Word, and works.
Vraag 53. Wat is die derde gebod?
Antw: Die derde gebod is, Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie: want die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.
Vraag 54. Wat word vereis in die derde gebod?
Antw: Die derde gebod vereis die gebruik van God se name, titels, eienskappe, instellings, Woord en werke, met heiligheid en met ontsag.
Die gebruik van God se Naam
Op jou lippe
Ons lewe in ‘n tyd dat God se naam op almal se lippe is – gelowig en ongelowig! Sit maar die televisie aan of gaan fliek en jy sal God se naam verseker hoor – as ’n vloekwoord. Die afkorting OMG word links en regs gebruik as uitroep van verbasing! Wat wel verbasend is, is dat selfs gelowiges dit nie meer sien as die onheilige gebruik van God se naam nie. Dit is – en God haat dit.
In jou lewe
Die onheilige gebruik van God se naam/name gaan egter baie vêrder as net die onheilige uitspreek daarvan. Om te verklaar dat jy ’n kind van God is, is om te verklaar dat jy op ’n sekere manier gaan optree en op ’n sekere manier jou lewe gaan rig en uitleef. Dat jou drome en ideale dieselfde gaan wees as God, jou Vader, s’n. Die van ons wat kinders het, weet dat ons wil hê dat ons kinders ’n positiewe beeld van ons as ouers na die wêreld moet uitdra. Ons het sekere waardes en eienskappe wat ons ons kinders leer sodat hulle ons nie “in die skande steek” by ander mense nie. ’n Eenvoudige voorbeeld is om jou kind van vroeg af te leer om te sê : “dankie” en “asseblief”. Hoeveel te meer is dit belangrik om op te tree as kind van die Here op so ’n wyse dat Hy verheerlik word. Dat ander die begeerte sal hê om Jesus te leer ken en om deel te wees van Sy familie. Die derde gebod vra ons nie net om dit te doen nie, maar gebied ons om dit te doen – anders is ons nie Sy kinders nie.
Die eienskappe van God
Wat beteken dit om God se eienskappe nie met ontsag te hanteer nie? Kom ons kyk na ’n paar van sy eienskappe en hoe ons dit ontheilig.
Hy is die voorsiener. Lewe ons as gelowiges asof Hy die voorsiener is? So baie keer maak ons asof ons die voorsieners is. Asof alles afhang van wie ons is en wat ons gedoen en bereik het. Terwyl Abraham op pad is om sy seun te gaan offer en sy seun hom vra waar die lam is, het Abraham geantwoord: God sal voorsien. Genesis 22:8 Abraham het deur sy lewe ervaar dat dit God se plan is en dat God altyd sorg en voorsien. Daarom word die plek genoem “Jahwe Jireh” God voorsien.
Abraham het met tye sy eie planne probeer beraam om vir homself te sorg, maar elke keer het dit op ’n gemors uitgeloop. Elke keer as ek nie my vertroue in God wil plaas nie en op Hom wil wag nie is ek besig om sy naam ydellik te gebruik. Ek verklaar deur my lewe dat Hy nie werklik is wie Hy sê dat Hy is nie. Hy voorsien die droogte en voorsien die reën. Die gelowige besef dat al twee tydperke goed is en deur God se hand bepaal word. In 1 Kronieke 29:10-13 besing Dawid God se lof soos volg: En Dawid het die HERE geloof voor die oë van die hele vergadering, en Dawid het gesê: U sy geloofd, HERE, God van ons vader Israel van ewigheid tot ewigheid. Aan U, HERE, kom toe die grootheid en die mag en die heerlikheid en die roem en die majesteit, ja, alles in hemel en op aarde; aan U, HERE, kom toe die koningskap en die selfverhoging as Hoof oor alles. En die rykdom en die eer kom van U, en U heers oor alles; en in u hand is krag en mag, en in u hand is dit om alles groot en sterk te maak. En nou, onse God, ons loof U, en ons prys u heerlike Naam.
Hy is soewerein. Hy hou alles in sy hand. Nie een atoom is buite Sy beheer nie. Die gelowige kan sonder vrees die wêreld ingaan wetende dat die God wat hemel en aarde gemaak het regeer oor alles en in beheer is van alles. Geen persoon is buite sy beheer nie en niemand kan iets doen sonder Sy hand wat dit toelaat nie. Gelowiges wat angstig raak oor situasies of omstandighede of wat mense aan hom/haar kan doen gebruik God se naam ydellik. Jesaja sê dit so mooi in Jesaja 41:10 Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.
Die instellings van God
Ons kan die sakrament van die doop, die nagmaal asook die huwelik sien as instellings van God. Dit is Heilig omdat dit nie deur mense nie, maar deur God ingestel is. Kom ons gaan kyk na die nagmaal. Enige iemand wat dit ligtelik maak of grappe daarvan of daaroor maak is besig om God se naam ydellik te gebruik. Hoe baie het ek al gehoor dat mense grappe maak van die nagmaal. Ligtelik daaroor praat asof hulle gaan wyn vat en broodjie eet. Die Korintiër gemeente het die erns van die nagmaal vergeet. Hulle het by die nagmaal te veel geëet en gedrink en glad nie omgegee vir die armes in die gemeente nie, daarom lees ons dat God hulle gestraf het. 1 Korintiërs 11:29-30 Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ‘n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie. Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap. Daarom word hulle opgeroep om erns van die nagmaal te maak. 1Korintiers 11:27-28 Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here. Maar die mens moet homself beproef en só van die brood eet en uit die beker drink. Die nagmaal is die herdenking van die offer van Jesus Christus vir ons sonde. Hoe durf ons daaroor grappies maak!
Die huwelik is sekerlik nog ’n instelling van God. ’n Instelling tussen ‘n man en ’n vrou. Mattheus 19:4-6 En Hy antwoord hulle en sê: Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees; sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees? Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. ’n Heilige eenheid wat vergelyk word met die eenheid van die Seun en sy bruid, die kerk. Om die huwelik heilig te hou vereis dat paartjies moet wag tot die huweliksnag voordat hulle seksueel verkeer, dat hulle mekaar moet liefhê en die rolle in die huwelik moet vervul soos uiteengesit in die Woord. Ons word dikwels as getuies geroep met ons teenwoordigheid by iemand se huweliksbevestiging. Indien ons so ‘n huwelikseremonie bywoon, wetende dat dit nie ingestel word volgens die heilige standaarde van God se Woord nie, gebruik ons God se naam ydellik. Indien ons nie in die huwelik leef soos God se Woord ons vra nie, gebruik ons God se naam ydellik.
Die Woord van God
Woord mag nie aangeraak word nie. Van die begin van die Bybel tot aan die einde daarvan word daar gewaarsku om nie aan Sy Woord te verander nie. Deuteronomium 4:2 Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van die HERE julle God mag onderhou, wat ek julle beveel. En dan aan die einde in Openbaring 22:18-19 Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is. God se Woord is lewend en mag nooit ligtelik opgeneem word nie. Daar word na Jesus, as die tweede persoon van die Drie-eenheid, verwys as die Woord. Net so min soos God sal verander, net so min kan Sy Woord verander. Om te sê dat enige deel van Sy Woord verander het of sal verander, is godslasterlik. Daarom kan ons ook nie by ’n gedeelte in die Woord kom en daarna verwys as minder belangrik nie. Psalm 138:2 sê dit so wonderlik: Ek wil na u heilige tempel toe buig en u Naam roem om u liefde en trou, want U het u Naam en u woord bo alles gestel.
Die werke van God
Sy werke moet verheerlik word. Elke ding wat Hy gemaak het, moet Hy alleen die heerlikheid kry en daarvoor moet Hy grootgemaak word. Elke dag is deur Hom gemaak en is goed en Sy naam moet geprys word vir die dag. Psalm 118:24 Dit is die dag wat die HERE gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees. Juig ons en is ons bly vir elke dag wat God gemaak het? Hy het die dag so bestem en ons as Sy kinders behoort te weet dat die Vader nie foute maak met die werke van Sy hande nie. Hoe is dit moontlik dat ’n gelowige kan murmureer of met ’n lang gesig kan rondloop oor enige dag wat God gemaak het? Ons besef dat Hy nie net verskillende probeerslae gehad het toe Hy geskep het, soos Evolusie ons wil laat dink, nie. O, nee met elke dag wat Hy gemaak het, kon God wat volmaak is sê: “Dit is goed.” Besef ons die implikasie hiervan? Alle mense is gemaak in die beeld van God. Deur mense te verkleineer of sleg te behandel ontheilig jy die werk van God – jy gebruik Sy naam ydellik.
Slot
Ons sien dus as kinders van God op hoeveel terreine ons die derde gebod oortree. Nie net deur ons lippe nie, maar ook deur wat ons doen en NIE doen nie. Kom ons vra die Here om ons opnuut bewus te maak van Sy Naam, Sy instellings, Sy Woord en Sy werke. Dat ons weereens die Heiligheid daarvan sal besef en Hom sal dien met ontsag en vreugde. Om hom te verheerlik en te geniet – vir ewig.
