52. What are the reasons annexed to the second commandment?
The reasons annexed to the second commandment are, God’s sovereignty over us, his propriety in us, and the zeal he hath to his own worship.
Vraag 52. Wat is die redes verbonde aan die tweede gebod
Die redes verbonde aan die tweede gebod is God se soewerein oor ons, Sy streng morele standaarde vir ons en die ywer wat Hy het vir Sy eie aanbidding
Sy soewereiniteit oor ons
Ons as gelowiges besef terdeë God se soewereiniteit oor alles in ons lewens. Ons kan niks in ons lewens as per toeval of as per ongeluk beskou nie. Ek weet dat elke deel van my liggaam, van kop tot toon, deur Hom gevorm is en presies so gevorm is soos Hy dit wou gehad het. Die Psalmdigter gebruik die woord “weef” as hy verduidelik hoe God hom gemaak het. Psalm 139:13 Want U het my niere gevorm, my in my moeder se skoot geweef. Dit beeld die presisie uit van elke deel wat deur Hom gemaak is. Job vertel hoe God hom gemaak het: Job 10:11 Met vel en vlees het U my beklee, en met beendere en senings het U my deurvleg. Hierdie God wat my so presies gemaak het, elke been en elke sening is in beheer van elke deel van my. Verder sê Job dat die lewe ‘’n guns van Hom af” is. Hy sê verder dat sy lewe iets is wat God nie net aan hom gegee het nie, maar wat God ook bewaar. Job 10:12 Die lewe, ja, guns het U aan my bewys, en u sorg het my gees bewaak. Elke dag in my lewe kan ek God dank dat ek kan leef en dat Hy die oorsprong en die bron van my lewe is. Ek erken dus my afhanklikheid van Hom elke dag van my lewe.
Tog is dit nie net in Sy vorming van my en die lewe wat Hy aan my gegee het dat ek Sy soewereiniteit ervaar en bely nie. Ek besef dat ek nie een sekonde langer as wat Hy bepaal het, sal lewe nie. Job 14:5 As dan sy dae vasgestel is, die getal van sy maande by U is, U vir hom grense gestel het waar hy nie oor kan gaan nie. Die God wat ek aanbid is in beheer van elke dag van my lewe en ek sal nie sterf voor die dag wat Hy bepaal het nie. Job 12:10 In wie se hand die siel is van alles wat leef, en die gees van alle menslike vlees. Nie net maak dit die gelowige vreesloos nie, maar bring ons ook in aanbidding voor die grootte God voor wie ons leef en van wie ons ten volle afhanklik is.
Hy is verder ook soewerein oor alles wat in my lewe gebeur. Josef kon bely dat selfs met sy broers se wrede daad teenoor hom, God nog steeds in beheer was en nie net-net in beheer was nie, maar dit ook gebruik het om uit te voer dit wat Hy beplan het. Gen 50:20 Want júlle het wel kwaad teen my bedink, maar God het dit ten goede gedink om te doen soos dit vandag is, om ‘n groot volk in die lewe te hou. Ons weet dus as gelowiges dat die God wat ons aanbid alles (die goeie en die slegte) sal laat uitwerk ten goede vir ons wat Hom lief het. Romeine 8:20. Wat anders kan iemand wat dit verstaan doen, as om voor hierdie Almagtige God neer te val en Hom alleen te aanbid met elke deel van sy/haar wese?
Sy streng morele standaarde vir ons
God beskou ons wat Hom gehoorsaam as Sy eiendom. Eksodus 19:5 As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. Die Hebreeuse woord wat vertaal is as eiendom beteken sy skat of juweel. Ons behoort aan Hom en nie aan onsself nie. Deur die Ou Testament wys Hy na Israel as Sy bruid. Jesaja 54:5 Want jou Maker is jou Man; HERE van die leërskare is sy Naam; en die Heilige van Israel is jou Verlosser. Hy sal die God van die hele aarde genoem word. God maak dit baie duidelik vir Israel dat hulle Sy bruid is en dat hulle, hulleself rein moet hou vir Hom. Hoe baie keer het Israel nie hierin geval nie. Hulle het gehunker agter ander dinge aan wat hulle belangriker geag het as vir Hom. Die Nuwe Testament maak dit duidelik dat die Kerk die bruid van Christus is wat deur Sy bloed gekoop is. Ons lewens behoort dus nie aan onsself nie, maar aan Hom. 1Korintiers 6:20 Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort. Soos enige man wil hê dat sy bruid mooi en rein moet bly, so is dit God se begeerte vir ons. Sy standaard vir ons is “Wees Heilig, want Ek is Heilig” Omdat ons Sy eiendom is, moet ons Sy eienaarskap reflekteer. Daarom is dit belangrik dat ons Sy gebooie sal gehoorsaam en so aan die wêreld sal toon hoe iemand wat ’n kind van die Here is lyk. As ons hierdie standaarde laat daal sal ons later net soos die wêreld lyk – vuil en lelik. Dit is nie wat God van Sy bruid wil nie. Ons is kosbaar, ons is Syne!
Omdat ons Sy bruid is, is Hy jaloers op ons met ’n goddelike jaloersheid. Hy het gereeld vir Israel gewaarsku dat hulle getrou aan Hom moes bly en dat Hy verdien het om alles van hulle te vra. Was Hy ooit ontrou aan hulle? Het Hy nie vir hulle elke dag gesorg en was Hy nie vir hulle goed nie. Hoe is dit moontlik dat ’n volk wat so oorlaai is met hartlikheid en liefde van ’n grootte God, Hom kon verloën om elke hoek en draai. Tog as ons na Israel kyk kan ons nie anders nie, as om onsself as Sy nuwe volk, wat opgebou is uit elke stam en volk en nasie, te vra of ons nie ook dieselfde doen nie. Is ons skaam vir Hom? Skaam vir ons Bruidegom? Ons sit so maklik ons hand oor die ring aan ons vinger sodat niemand kan weet ek behoort aan Hom nie. Hoeveel mense weet van jou liefde vir die Bruidegom? Is jy skaam om te lewe soos wat Hy in Sy Woord van jou vra? Bang om te sê wat jy glo en om te bely dat jy elke jota en tittel van die Skrif glo en dat jou begeerte is om dit te leef? Mattheus 10:33 Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.
Ek behoort aan Hom en ek wil my in alles mooimaak en versier soos dit vir Hom aangenaam en heerlik is. Ek leef nie meer vir myself of om myself te behaag nie, maar ek leef vir die Een wat my alles geskenk het aan wie ek behoort. Filippense 3:7-8 Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry
Die ywer vir Sy eie aanbidding
God maak dit baie duidelik dat die rede waarvoor ons geskep is, is om Hom te verheerlik (Vraag 1) Ons verheerlik Hom deur Hom te gehoorsaam en te aanbid volgens sy voorskrifte. Hy is Heilig! Hy is dit waardig om aanbid te word – Hy alleen. Indien ons enige iets anders toelaat om hierdie ere posisie in ons lewe oor te neem, sal ons ons skeppingsdoel mis en ongelukkig wees. God se ywer vir Sy aanbidding is nie omdat Hy ons aanbidding nodig het nie, maar omdat ons Sy Majesteit oor ons lewens nodig het. Ons het Hom as enigste God in ons lewe nodig. Ons het nodig om Hom te aanbid, vir ons eie beswil. Dit klink dalk of ons dan vir God aanbid vir selfsugtige redes? Glad nie, dit is net eenvoudig hoe God ons gemaak het. Almal aanbid iets – maar net God se kinders aanbid die waarheid en kan daarom gelukkig wees.
Slot
God is soewerein oor jou lewe, Hy het jou Sy eiendom gemaak en daarom moet jy Sy eienaarskap reflekteer deur die standaarde te gehoorsaam soos wat Hy bepaal het. Om Hom te aanbid is ware geluk! Ons is gemaak tot Sy glorie, gevorm na Sy beeld en in Sy soewereiniteit geanker. Sy bruid!
