47. What is forbidden in the first commandment?
The first commandment forbiddeth the denying, or not worshiping and glorifying, the true God as God, and our God; and the giving of that worship and glory to any other, which is due to him alone.
48. What are we specially taught by these words, before me, in the first commandment?
These words, before me, in the first commandment teach us, that God, who seeth all things, taketh notice of, and is much displeased with, the sin of having any other God.
Vraag 47. Wat word verbied in die eerste gebod.
Die eerste gebod verbied die ontkenning of nie aanbidding en verheerliking van God as die enigste ware God, ons God. Dit verbied ons om enige iets te vereer of aanbid, met die eerbied en aanbidding wat Hom alleen toekom.
Vraag 48. Wat word spesifiek geleer deur die woorde, “naas my”, in die eerste gebod?
Hierdie woorde, “naas my”, in die eerste gebod leer ons dat God wat alles sien, die sonde van die aanbidding van ’n ander god opmerk en ‘n misnoeë daarin het.
“Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie…..jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie”
Dis altyd maklik met eerste oogopslag as mens die tien gebooie lees om af te tik: “Nee wat, ek doen dit nie dit nie.” Die realiteit is egter dat baie mense alreeds by die eerste gebod struikel omdat hulle nie die ware God van die Bybel aanbid nie, want hulle het hul eie god opgemaak. Sien ons Hom werklik as die enigste ware God. Ek wonder baie of ons lewens werklik toon dat ons glo daar is ’n almagtige en lewende en alomteenwoordige God.
As ek ’n metafoor kan gebruik. ’n man sit in die veld by ’n vuur wat hy gemaak het. Die vleis wat hy gebraai het lê langs hom. Hy lê agteroor met ’n stuk vleis in sy mond en kyk na die sterre. ’n Vreemdeling kom nader gestap en neem stelling in net langs die man. Hy kyk op en groet die vreemdeling. Hulle begin te gesels. Heel terloops vertel hy die vreemdeling van ’n noue ontkoming wat hy net ’n paar minute terug met ’n leeu gehad het en hoe die leeu hier êrens naby is. Die vreemdeling is geskok, hy kan nie glo dat dit waar kan wees nie. Hoe kan iemand wat bewus is van ’n leeu wat in die omtrek is so rustig vleis eet? Wat is die kans dat hy die man sal glo? Die vreemdeling kom tot die konklusie dat hy net die verhaal opmaak en ignoreer dit. Hy vat van die vleis wat die man hom aanbied en stap weg en word minute later deur die leeu verskeur. Selfs in die Nuwe Testament word God beskryf as ’n verterende vuur. Hebreërs 12:28-29 Daarom, omdat ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Want onse God is ‘n verterende vuur. Besef ek verder dat God se toorn oor afgodery en ongehoorsaamheid is Kol 3:5 ”Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is, waardeur die toorn van God oor die kinders van die ongehoorsaamheid kom” As ons dus glo in die ware God (Die Leeu van Juda) sal ons doodrustig met ’n vleisie (sonde) in die mond lê?
Die realiteit van die eerste gebod is dat ons voor God wandel elke sekonde van die dag. As dit ’n realiteit in jou en my lewe is hoe tree ons op. Hoe hanteer en praat ons oor mense wat deur Hom gemaak is. Jakobus 3:9 Daarmee loof ons God en die Vader, en daarmee vervloek ons die mense wat na die gelykenis van God gemaak is. My handel en wandel voor God is ’n getuienis of van ’n almagtige God voor wie ek elke oomblik wandel of van ’n god wat ek geskep het. My lewe sal die bewys wees van wie ek werklik aanbid.
Verstaan ons werklik voor Wie ons wandel? Kry ongelowiges deur ons dop te hou die indruk dat ons God ’n groot en almagtige en alomteenwoordige God is of lyk Hy soos die afgode van die heidene? Is jou god meer afhanklik van jou as jy van die god. Met ander woorde – jy hou hom “lewendig” deur nou en dan tot hom te bid vir aardse dinge en omdat jy jou gewete wil sus. Die ware God bestaan of jy nou tot hom bid of nie. Amper soos die storie van Peter Pan waar feetjies se bestaan afhanklik is van kinders wat verklaar “Ek glo in feetjies, ek glo in feetjies!” God het jou nie nodig nie. Hy bestaan nie omdat jou gedagtes hom laat “lewe” nie. Nee – Act_17:25 Ook word Hy nie deur mensehande gedien asof Hy aan iets behoefte het nie, omdat Hy self aan almal lewe en asem en alles gee.
Ek en myself
Ongelukkig is die god wat baie mense eintlik wil aanbid maar hulself. As jy jou oë oopmaak na jou gebedjie tot jou selfgemaakte god – wat jy hom ook al wil noem – gaan die wêreld net voort in sy dolle gejaag na niks. As jy die deur toemaak na jou aanbidding van jou afgod is jy weer jou eie baas om te doen soos jy bepaal en verlang en begeer. Jy sien dit onder baie wat bely dat hulle gelowiges is. Dit maak nie saak wat God verklaar het aangaande Homself of wat Hy belowe aan Sy kinders nie, Jy aanvaar net wat jy wil en hoe jy wil hê dat God moet dink en optree teenoor JOU en dan noem jy dit God. Ons sien dit baie met die welvaart teologie en mense wat ’n geloof beoefen waar hulle hul vingers klap en God spring aan die werk in hulle diens. Opdragte word aan Hom gegee, maak gesond, maak ryk, gee my… Die denkbeeldige lamp word gevryf deur ’n paar dinge wat ek sê en doen en dan moet die genie uitspring anders glo ek nie meer nie. Hoe verskil dit van die aanbidding van afgode? Was die gebed wat Jesus ons geleer het nie, laat U wil geskied nie? Het Jesus nie in Getsémané, terwyl Hy benoud was oor wat vir Hom voorgelê het, gesê: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil –Mattheus 26:39” nie?
Jou getuienis
Is dit wat die wêreld ervaar as hulle jou aanbidding sien? Onthou aanbidding is nie lofprysing op ’n Sondagmôre nie. Aanbidding is elke dag van jou lewe. Elke aspek van jou lewe, van werk tot ontspanning en soveel meer is deel van jou aanbidding en dra ek en jy as gelowiges ’n getuienis van die realiteit van die God wat ons aanbid.
Hy is die ware God is daarom moet ek uitvind wat Hy wil hê en wat Hy begeer van my en is ek genoodsaak om te doen wat Hy van my vra. Omdat Hy God is, kan ek nie Sy bevele verontagsaam nie. Dit is soos ’n persoon wat voor ’n trok wat teen 120km/h ry in spring en sê dat hy/sy die trok gaan stop. Jy kan dink jy kan dit doen en opreg glo jy kan en jy kan selfs dit doen, maar daar sal niks van jou oorbly nie. Jou geloof, wat kennis en vertroue is, moet in die Waarheid wees. In die ware God soos wat Hy hom aan ons openbaar deur die Skrif en deur Sy Seun, Jesus Christus.
Jou aanbidding
Ons het in die vorige inskrywing gepraat oor presies wat jou aanbidding van die ware God behels. Die aanbidding wat Hy werd is en wat Hy as jaloerse God van jou vra. Afgode aanbidding is om enige iets/iemand toe te laat om die eer wat God toekom van Hom te ontneem. Ek kan ’n lys maak, maak elkeen van ons weet wat daardie afgod in jou lewe is. Die eie Ek, geld, sekuriteit, my man/vrou, my kinders, my beroep, my aansien, my telefoon, die internet, vriende, seks, losbandigheid, my liggaam/voorkoms, kos, diere, sport, ens. ens. Iets waaraan jy dalk nie dink nie is om te besef dat selfs deur jou te bekommer oor dinge ’n vorm van afgod aanbidding kan wees. Jy vertrou nie dat die ware God wat alles weet en sien, die mag besit om jou te beskerm en te help nie en die beste vir jou lewe weet nie. Jy laat toe dat vrees vir die toekoms God van eer ontneem wat Hom toekom.
Godsbeeld
Kan jy sien hoe belangrik dit is om God te aanbid soos wat Hy homself aan ons openbaar. Sonder twyfel, met ’n vaste vertroue dat wie Hy is en wat Hy sê die waarheid is. Jak 1:6 ”Maar hy moet in geloof bid, sonder om te twyfel, want hy wat twyfel is soos ’n golf van die see wat deur die wind wind gedrywe en voortgesleep word”
As die God van die Bybel vir jou ’n realiteit in jou lewe is, as jy ’n verhouding het met Hom en verstaan Wie Hy is en wie jy is, sal die versoeking om enige iets anders bo Hom te stel vervaag soos mis voor die son. Jy sal Hom dien en Hom alleen dien met vrees en ontsag, wetende dat jy voor Hom wandel elke sekonde van die dag. Dat Hy wat jou eerste liefgehad het en in wie jy alleen jou geluk kan vind, liefdevol jaloers is op Sy verhouding met jou. Jy is duur gekoop.
Hy is jou God. Die Ware God. Die Enigste God. Die Almagtige God. Die Een wat jou lief het. Aanbid Hom alleen!
