45. Which is the first commandment?
The first commandment is, Thou shalt have no other gods before me.
46. What is required in the first commandment?
The first commandment requireth us to know and acknowledge God to be the only true God, and our God; and to worship and glorify him accordingly.
Vraag 45,46. Wat is die eerste gebod en wat vereis hierdie gebod van my?
Die eerste gebod is: “Jy mag naas God geen ander gode hê nie.” Die eerste gebod vereis van ons om God te ken en erken as die enigste ware God, as ons God, en om Hom as sodanig te aanbid en verheerlik.
Inleiding
Hierdie gebod kan in twee dele opgedeel word – ’n moet en ’n moenie! Jy moet God aanbid as jou God en jy moenie enige ander god aanbid nie. Dit klink dalk vir baie mense asof dit presies dieselfde sê, maar in elke deel is soveel opgesluit. In Vraag 45 en 46 word die eerste gedeelte van die gebod, nl. dit wat jy MOET doen behandel.
Enigste ware God
Om God te ken en te erken is die wese van die eerste deel van die gebod. God stel Homself bekend as die God wat Israel uit slawerny uitgelei het. Hy verdien dit om vereer en verheerlik te word, want Hy is dit werd. Om te weet dat Hy dit werd is, is dit nodig om Hom te ken. Om Hom te ken is dit nodig om Sy openbaring aan die mens te bestudeer. Die God wat Homself aan ons bekend stel deur die Woord (Vraag 2) en wat ons vrymaak van sonde, is die God wat alle eer en heerlikheid en lof verdien tot in ewigheid. Daar is baie mense wat sal erken dat hulle glo daar is ’n God en dat Hy alles geskep het. Tog is God nie hul God nie! Tog vereer en verheerlik hulle Hom nie en is baie ander dinge belangriker in hul lewe as Hy. Hulle het ook geen probleem as een van Hom praat as Allah en ’n ander as Jahwe nie. Nee, die opdrag is dit – leer My ken, die God van die Woord, en gee my alle eer wat my toekom. Een God – Jahwe! God verklaar aan Moses in Eksodus 34:6 “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding van sonde, maar ek spreek niemand sonder meer vry nie…” Verder lees ons in vers 14 “Julle mag nie ’n ander god vereer nie, want Ek, die Here eis onverdeelde trou aan my. Daarom noem hulle My: ‘Die God wat onverdeelde trou eis’” of soos die ou vertaling dit uitdruk: “…want die HERE se Naam is Jaloers—’n jaloerse God is Hy. “
Jaloerse God
As ons vandag aan die woord “jaloers” dink, dan het dit ’n negatiewe betekenis. Gewoonlik is die persoon wat so ’n karaktereienskap het, iemand wat dit wat ander het begeer, of iemand wat geen sekuriteit in hul verhoudings met mense het nie en die hele tyd bevestiging soek dat mense hom/haar reken of lief het. Dit plaas ’n ongelooflike las op die ander persoon in so ’n verhouding, omdat jy die hele tyd jou liefde moet verklaar, jou emosies moet wys en jou gevoelens moet bevestig. God se jaloers is egter iets heeltemal anders. As ons kyk na wat Hy oor homself verklaar in vers 6, nl. Sy barmhartigheid, genade, lankmoedigheid, liefde en trou, dan pas dit glad nie by ’n persoon wat slegs Sy eie belang soek nie. Nee, God weet dat ons ons ware geluk vind as Hy ons enigste ware skat is en as Hy ons enigste God is. Hy weet dat Hy die enigste Een is wat werklik die soeke in ons siel kan bevredig en daarom is Sy jaloesie nie geskoei op swakheid nie, maar op liefde. God is jaloers lief vir ons. Verder is Sy jaloesie geregverdig, want net Hy is God en net Hy is waardig om aanbid te word. Hy sal nie toelaat dat sy eer met enige iemand of iets anders gedeel word nie. Nie omdat Hy dit van jou nodig het nie, maar omdat jy dit van Hom nodig het. Jy het nodig om Hom te vereer om ten volle gelukkig te wees.
Ons God
In my lewe moet ek bely, en deur my lewe toon, dat daar slegs een God is en dat Hy my God is en dat niks en niemand belangriker as Hy in my lewe is nie. Die lewe van Salomo is ’n ongelooflike tragedie. ’n Man wat begin in sy koningskap met die begeerte na wysheid om die volk te lei. Sy Vader Dawid roep hom op om die Here alleen te dien. 1 Kronieke 28:9 “En jy, my seun Salomo, ken die God van jou vader en dien Hom met ‘n volkome hart en met ‘n gewillige siel, want die HERE deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes. As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind; maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verstoot.” Tog was dit nie baie lank daarna nie en ons vind Salomo plekke vir aanbidding bou vir al sy nuwe vroue uit die verskillende volkere waarmee hy trou.
Ons bewys aan die wêreld dat God, die enigste ware God, die God soos geopenbaar in die Woord, ons God is as ons Hom aanbid soos wat Hy dit vereis. Ons het hierdie aspek aangespreek in Vraag 2 deur te sê dat die reël wat God gegee het hoe ons Hom moet verheerlik en geniet die Woord is, soos vervat in die Ou en Nuwe Testament. Indien jy God, al noem jy Hom dieselfde, op enige ander manier aanbid, maak jy jou skuldig aan afgodery. Hiervan is die verhaal van die Goue kalf in Eksodus 32 ’n uitstekende voorbeeld. Gestel jy sê jy aanbid die God van die Bybel, maar jy aanbid hom deur ’n persoon, bv. Petrus of Maria, of jy aanbid hom deur tot engele te bid of enige ander vorm dan is jy besig met afgodery. Dit is nie meer dieselfde God as die God van die Bybel wat jy aanbid nie.
Ons God stel Homself aan ons voor as ’n Heilige God, ’n God waarvan Sy toorn of straf is oor enige afgode diens. Kol 3:5-6 “Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus en slegte begeertes en gierigheid, wat afgodery is. Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is” Deur ons lewe van gehoorsaamheid sal ons dus duidelik wys of God ons God is.
Aanbid en verheerlik
Daar is ’n tendens vandag waar ons God wil aanbid deur Hom in ‘n soort menslike gedaante voor te stel en Hom dan as ’n besondere mens te vereer. Amper soos my beste, wonderlike vriend. Ons aanbid Jesus as ’n man, in plaas van as God. Hy is nie ’n mens nie, Hy is nie jou maatjie nie. Hy is God! Die Woord sê in Kol 1:15 “Die Seun is die beeld van God, van God wat nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping..” Deur ‘n T-hemp te dra met die slag spreek: “All I need is Coffee and Jesus” op, illustreer hierdie punt perfek. As jy nie die probleem hiermee kan insien nie, verstaan jy nog nie wie God is nie. Hy is ’n regverdig, liefdevol jaloerse God.
Om God te aanbid en te verheerlik is nie net ’n gebed of ’n loflied nie. Dit is ’n lewe! ‘n Lewe van totale afhanklikheid van God, waar Hy jou grootste skat is en Hy die Een is in wie jy jou vreugde vind. So ’n lewe getuig van die aanbidding van die Enigste ware God en sal ’n vreugde en vrede in jou lewe tot gevolg hê. Ondersoek jou hart – wat is jou fokus, wat is jou begeertes, waarvan droom jy en hoop jy en waarop vertrou jy? Wat maak jou gelukkig en opgewonde? Wat is die rede vir jou bestaan? Hoekom staan jy elke oggend op? Soos wat jy God leer ken sal jou begeerte om Hom te aanbid en vereer toeneem. Daarom – bestudeer Sy Woord, spandeer tyd saam met mede gelowiges, dink en droom saam oor ons pad saam met God. Praat oor Hom en wat Hy in jou lewe gedoen het en steeds doen. Spandeer tyd in Sy skepping en sien Hom raak in die wonder daarvan. Praat met Hom, huil voor Hom, sing voor Hom en leef voluit in gehoorsaamheid vir Hom.
Jou skeppingsdoel is om Hom te verheerlik en geniet – verewig! Rom 11:36 “Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.”
