Vraag 42. Die opsomming

42. What is the sum of the Ten Commandments?

The sum of the Ten Commandments is, to love the Lord our God with all our heart, with all our soul, with all our strength, and with all our mind; and our neighbor as ourselves.

Vraag 42: Wat is die opsomming van die Tien gebooie?

Antwoord: Die opsomming van die Tien gebooie is, om die Here jou God lief te met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en jou naaste soos jouself.

 

Inleiding

Liefde! Wat is dit? Die tema van menige boeke, liedere, flieks, gedigte…die smagting van elke hart, die hunkering van elke siel, die oplossing vir die wêreld se probleme –

Die Opdrag van God……julle moet My en mekaar liefhê!

Die bron

God is die bron van ware liefde. Hy kom na die mens om ons eerste, terwyl ons nog sondaars is, lief te hê. Maar die vraag is nog steeds – wat is ware liefde? Party mense dink dit is ’n gevoel. Tog is dit interessant dat die gedeelte, wat so baie mense ken oor die liefde, nl. 1 Korintiërs 13, wys dat die liefde ’n daad is en nie eerstens ’n gevoel nie. Al die woorde  wat die liefde beskryf is werkwoorde, nl. dit  wat ek doen en nie doen nie. Liefde is die plek waar jy jouself oorgee aan God en Hy jou vul met Sy Gees, sodat jy Hom en ander hoër as jouself sal ag. Die plek waar jy onder leiding van die Gees ander se geluk en welsyn bo jou eie stel.  Hierdie liefde is alleenlik moontlik omdat God dit binne ons bereik geplaas het. Indien jy nie die Gees van God het nie kan jy Hom en ander nie liefhê nie! Jou liefde vir God sal oorvloei en sigbaar word in jou liefde vir jou naaste.

Die opdrag

Hierdie is die samevatting van God se gebooie. Wat ons eerstens moet opmerk is dat as ons sê ons hoef nie meer die gebooie na te kom nie, het die opsomming van die tien gebooie ook geen waarde nie. En tog sal ons moet bely dat die hele Bybel se opdragte saamgevat kan word in hierdie opsomming. Jakobus stel dit so: Jakobus 2:10  Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. As ons verder kyk na Galasiërs, waar Paulus juis besig is om die wet te bespreek en dat ons nie meer deur die wet geoordeel gaan word nie, maar nou vrygemaak is deur Christus, vind ons in Gal 5:6 “Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan” Dit is dus duidelik, dat God ons beveel om Hom lief te hê en as dit waar is in ons lewe SAL dit oorgaan tot dade van gehoorsaamheid aan God se wil. Sy wil soos geopenbaar in Sy Woord. Sy wil wat sê : “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself!”

Die ontvanger

Hierdie twee gedagtes die liefde vir God en die liefde vir die naaste wat dááruit voortvloei  is onlosmaaklik deel van mekaar. As ek die eerste liefde het, sal die liefde wat geopenbaar word uit die tweede duidelik sigbaar wees. Johannes se eerste brief lê baie klem op hierdie gedagte dat as ek die een het, moet ek die ander een ook hê. 1 Johannes 4:20  As iemand sê: Ek het God lief—en sy broeder haat, is hy ‘n leuenaar; want wie sy broeder wat hy gesien het, nie lief het nie, hoe kan hy God liefhê wat hy nie gesien het nie? Kan jy dus sê dat jy die Here lief het met alles wat in jou binneste is, maar jy het nie jou broer en suster in die Here lief nie? Ons belydenis dat ons God lief het is baie keer maar net lippediens wat leeg is. Ons sê ons het Hom lief maar soos Jakobus sê  gebruik ons ons tonge om God te loof en met dieselfde tonge vervloek ons mense wat na Sy beeld gemaak is. Jakobus 3:9 Daarmee loof ons God en die Vader, en daarmee vervloek ons die mense wat na die gelykenis van God gemaak is. Ook sê Gal 5:14-15 “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Maar julle byt en verskeur mekaar: pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.” As ons bely dat ons die Here lief het, moet ons alle mense lief hê maak nie saak van watter volk of nasie die persoon is nie. Hiervan is die Barmhartige Samaritaan so ’n ongelooflike goeie voorbeeld. Die vraag van wie my naaste is word baie duidelik – almal. Ja, ook my vyande!

As jy gedink het dat jou liefde net moet wees vir “goeie” mense, vertel die Bybel ons dat ek tot my vyande moet liefhê. Mattheus 5:44  Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg. Die gelowige verstaan dat, net soos Christus my lief gehad het terwyl ek ’n vyand van Hom was, ek ook opgeroep word om my vyande lief te hê. Romeine 5:10  Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is. My liefde vir my vyande vloei uit ’n dankbare hart vir die Een wat my as Sy vyand lief gehad het en Sy lewe vir my gegee het.

Die spieël

Liefde vir ons naaste dien as ’n spieël waarin ons liefde vir God weerspieël word. As ons by die liefde van die naaste begin kan ons ook afleidings maak van ’n persoon se liefde vir God. 1 Johannes 2:3-4  En hieraan weet ons dat ons Hom ken: as ons sy gebooie bewaar. Hy wat sê: Ek ken Hom, en sy gebooie nie bewaar nie, is ‘n leuenaar en in hom is die waarheid nie. As ek na jou dade kyk sal ek jou liefde vir God sien. As ek sien hoe jy jou naaste hanteer sal ek weet wat jy dink van God en in watter mate jy God lief het. 1 Johannes 3:17  Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom? Hoe kan ek my mede broer en suster sien swaar kry en ek word nie geraak om my hand in my eie boesem te steek en hierdie persoon te versorg nie. Ons sê so maklik : “Ag Here seën daardie persoon”, terwyl God ons wil gebruik om tot seën vir daardie persoon te wees. God wil ons wat sy kinders is gebruik om Sy liefde aan ’n gebroke wêreld te openbaar. Dit doen ons op baie maniere. Van sommige maniere hou mense en van sommige nie. God is egter die bron van liefde en ons baseer ons uitleef van liefde op hoe Hy ons lei en leer, deur Sy Woord en Gees.

Die riglyn

Die beste manier om sekerlik vir iemand te wys dat jy hom/haar lief het  is om die Blye Boodskap van Verlossing met hulle te deel. Om iemand van Jesus Christus te vertel is sekerlik die belangrikste in ons uitleef van liefde vir ons naaste. Ons kan kos en klere voorsien, maar as ons die boodskap van Verlossing uitlaat is dit maar net ’n humanitêre poging sonder ware liefde. Verder gaan hierdie liefde oor in versorging en vermaning. Gal 6:1 “Broers as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ’n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom. Dra mekaar se laste en gee op die manier uitvoering aan die wet van Christus”  Ons lees ook van God se liefde as Hy sy kinders tug in Hebr 12:6 “want die Here tug hom wat Hy lief het”  Die ware liefde dring dus mense om Jesus Christus te leer ken en om in Sy weë te wandel.

Die slot

Liefde is ’n opdrag, soms is dit maklik, soms bitter swaar. Die bron is egter God self en deur Sy Gees sal Hy jou help ons te doen wat Hy vra. Dan word dit die gevoel! Die wonder waaroor almal skryf en sing en lees.

God is liefde – juig ons harte en bedink wat liefde doen………….

Lewer kommentaar