Vraag 43-44: ‘n Bevryde Slaaf

Q. 43. What is the preface to the Ten Commandments?
A. The preface to the Ten Commandments is in these words, I am the LORD thy God, which have brought thee out of the land of Egypt, out of the house of bondage
Q. 44. What doth the preface to the Ten Commandments teach us?
A. The preface to the Ten Commandments teacheth us, that because God is the Lord, and our God, and Redeemer, therefore we are bound to keep all his commandments.
Vraag43: Wat is die inleiding tot die Tien Gebooie?
Antwoord: Die inleiding tot die Tien Gebooie is hierdie woorde, Ek is die Here jou God, wat jou uit Egipteland uit die huis van slawerny uitgelei het.
Vraag 44: Wat leer die inleiding tot die Tien Gebooie ons?
Antwoord: Die inleiding tot die Tien Gebooie leer ons, dat omdat God die Here is en ons God en Verlosser, daarom is ons verplig om al sy gebooie te gehoorsaam.

Inleiding
Die morele wet is saamgevat in die Tien Gebooie en die Tien Gebooie is weer saamgevat in twee omvattende opdragte nl. liefde vir God en liefde vir ons naaste. Hierdie opsomming word in Vraag 42 bespreek en ons gaan daarna terugkeer nadat ons Vraag 43 en 44 bespreek het. Die rede hiervoor sal uit die lees van die inskrywing duidelik word.
Voorwoord
Die meeste nie-fiksie boeke het ’n voorwoord. ’n Gedeelte wat vir jou sê waaroor die boek handel en wat die skrywer deur die skrywe van die boek wou bereik. Baie mense lees nie die voorwoord nie en gaan sommer dadelik na die inhoud. Dit is ’n fout, want belangrike inligting word in die voorwoord vir ons weergegee. Baie keer word die outoriteit van die skrywer om oor die spesifieke onderwerp te skryf aan ons duidelik gemaak. Ons weet nou – hierdie is nie sommer net iemand wat niks weet se opinie nie. Met die skryf van die Tien Gebooie is daar ook ’n voorwoord. ’n Woord van die Skrywer om te sê wie Hy is en waarom Hy dit geskryf het. God maak dit duidelik Wie dit is wat hierdie opdrag gee. Ek is die Here. Ek is jou God. Ek het jou gered van slawerny.
Die Here jou God
Die Israeliete word gered en bevry uit slawerny in Egipte. Hulle ervaar God se reddende regterhand en bevryding van die juk wat op hulle was. Hulle ontvang kos en water deur God se voorsiening – manna uit die hemel en water uit ’n rots. Drie maande na hulle bevryding van slawerny kom hulle in Sinai aan. Hier ontvang hulle dan die Tien Gebooie. God vertel en wys hulle eers wie Hy is voor Hy hulle vertel wat Hy van hulle verwag. Hy word hul God. Hy maak hulle sy volk. Hy vertel hulle ook wat hulle was, nl. slawe van Egipte. Dit was God se inisiatief om na hulle te kom en Moses te stuur om hulle uit te lei na die beloofde land. Hulle het niks vir hulle redding gedoen nie. Hoe behoort hierdie mense te voel oor so ’n Verlosser. Watter dankbaarheid behoort nie uit hulle binneste te vloei teenoor God nie. In Egipte het God aan die Israeliete sy mag gewys deur sy wonderwerke en ook sy liefde in die feit dat Hy hulle Sy volk gemaak het en hulle as sodanig help en versorg.
Die wet kom na die bevryding. “Ek is God se kind en daarom moet en wil ek Sy opdrag gehoorsaam.” Dit wat God van ons verwag volg uit ’n lewe van dankbaarheid.
In die Nuwe Testament is dit dieselfde. Ons word eers bevry van slawerny van sonde deur die bloed van Jesus Christus voor ons te staan kom by hoe God wil hê dat sy kinders moet leef. As ons die brief aan die Efesiërs as ’n voorbeeld kan gebruik. Die eerste drie hoofstukke vertel Paulus die gemeente wat God gedoen het in hulle lewens en dat dit beplan is voor die grondlegging van die wêreld. Hy vertel hulle dat alles wat hulle ontvang het genade is en dat hulle daarom geen rede tot roem in hulleself het nie. In hoofstuk drie word vertel dat die heidene deel is van hierdie belofte en verbond. Dan kom hfst. 4 wat begin met: “Ek vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is’’(Efesiërs 4:1) Hoofstuk 4-6 vertel die gemeente dan hoe hulle behoort te lewe in elke faset van hul lewe.
Die oomblik dat jy verstaan wat met jou gebeur het en in watter toestand jy was voor jou redding is daar ontsaglike groot waardering en dankbaarheid teenoor Hom wat die verandering bewerk het. As Jesus by Saggeüs aan huis gaan gebeur daar iets by hierdie maaltyd. Saggeüs se dankbare hart vir dit wat hy ervaar maak dat hy verklaar in Lukas 19:8 Maar Saggeüs het gaan staan en aan die Here gesê: Here, kyk, die helfte van my goed gee ek vir die armes; en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug. Die vrou by die put in Johannes 4 hardloop opgewonde na haar dorp om hulle te gaan roep om ook die opgewondenheid wat sy ervaar te kom beleef. Mense wat hulle verlossing verstaan van die slawerny van sonde kan nie anders as om te vra: “Here wat kan ek doen om dankie te sê” nie. 2 Korintiërs 5:14 Want die liefde van Christus dring ons, omdat ons van oordeel is, dat as een vir almal gesterf het, hulle dan almal gesterf het; en Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is.
Ons, nog meer as die Ou-Testamentiese volk, behoort te verstaan dat ons duur gekoop is 1 Korintiërs 6:20 Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.
‘n Opdrag
Die tien gebooie gebooie wil ons ook leer dat ons nie ’n keuse het of ons die gebooie wil nakom of nie. Ek kan nie as gelowige sê ek is nou vry van slawerny so ek kan nou maar lewe soos ek wil nie. Ek behoort nou aan ’n nuwe eienaar. Die Here is my God. Oral in die Skrif word ons geleer dat die profete en die kinders van die Here sy diensknegte is. Rom_14:8 Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. Die dag as jy vrygekoop word behoort jy aan Jesus Christus. Die vorige slawedrywer was wreed en ongevoelig. Ons nuwe eienaar vertel ons in Mattheus 11:29-30 Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig. Die sonde het ons seergemaak en al ons vreugde en vrede gesteel. Die vreugde wat ons in God moes hê. Ons was stukkend en gewond soos die Jood in die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Jesus Christus is ons Barmhartige Samaritaan wat ons nie net versorg nie, maar ook al die skuld van verlede en toekoms by die hotel betaal het.

Die woord slaaf het ’n baie negatiewe betekenis vir die meeste mense. “Ek is niemand se slaaf nie – ek is my eie mens” is die kreet van ons tyd. “Ek laat my nie voorsê wat ek mag en nie mag doen nie” is nog ’n manier waarop uiting gegee word aan die feit dat mense nie God se gebooie wil gehoorsaam nie. Ongelukkig bly jy dan vasgevang as slaaf van die sonde. Jy sal iemand dien in jou lewe. Romeine 6:19-21 Ek spreek menslikerwys ter wille van die swakheid van julle vlees; want net soos julle jul lede diensbaar gestel het aan die onreinheid en wetteloosheid om wetteloos te wees, so moet julle nou jul lede diensbaar stel aan die geregtigheid tot heiligmaking. Want toe julle diensknegte was van die sonde, was julle vry van die geregtigheid. Watter vrug dan het julle toe gehad van die dinge waaroor julle jul nou skaam? Want die uiteinde daarvan is die dood.

Slot
Voordat ons nou kom by die opsomming van die Tien gebooie soos Jesus dit sê in Mattheus 22:37-39 En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself, leer die Here ons drie dinge, nl.
1) Wie Hy is – God,
2) Wie ons was – slawe van die sonde (Egipte)
3) Wat Hy vir ons kom doen het – bevry van sonde (Egipte)
Met hierdie inligting word die opdrag maklik en die las lig, want dit vloei vanuit ’n ontsag en liefde en dankbaarheid teenoor Hom wat ons nou Vader kan noem en vir die Een wat dit bewerk het – ons Verlosser Jesus Christus.