Q. 40. What did God at first reveal to man for the rule of his obedience?
A. The rule which God at first revealed to man for his obedience, was the moral law.
Q. 41. Wherein is the moral law summarily comprehended?
A. The moral law is summarily comprehended in the Ten Commandments.
Vraag 40: Wat het God ten eerste aan die mens geopenbaar as die reël vir sy gehoorsaamheid?
Antwoord: Die reël wat God ten eerste aan die mens geopenbaar het om te gehoorsaam, was die morele wet.
Vraag 41: Waarin is hierdie morele wet opsommend saamgevat?
Antwoord: Die morele wet is opsommend saamgevat in die Tien Gebooie
Die mens
Elke mens is gemaak as ’n morele wese. Dit is een van die eienskappe wat ons onderskei van diere. Ons kan onderskei tussen reg en verkeerd sonder dat enige iemand ons daaroor hoef in te lig. Die meeste mense sal dadelik vir jou sê dit is verkeerd om iemand seer te maak, van iemand te steel, om te jok, om dronk te word, om te skinder en so kan ons nog baie ander dinge opnoem. Ook kan hulle vir jou sê dat dit goed is om iemand te help, om iemand lief te hê, om kinders te versorg, om die wat swak is te help, om die natuur te respekteer, ens. Selfs mense wat sekere sondes regverdig sal glad nie daarvan hou as mense dit teenoor hulle doen nie. ‘n Dief sal kan regverdig hoekom hy steel, maar sal baie ongelukkig wees as iemand van hom steel. Iemand wat nie ’n probleem het om van ander te skinder nie sal glad nie daarvan hou as iemand van hom/haar skinder nie. Hierdie morele wet is tydloos en is in elkeen se hart geskryf deur die Een wat die mens geskape het. Dit wys dat ons deur God gekodeer is en nie maar net a.g.v. natuurlike seleksie ontstaan het nie. Ons elkeen weet wat reg en verkeerd is. Ons het ‘n gewete.
Hierdie bewussyn van wat reg en verkeerd is en wat ons lewens beïnvloed verduidelik Paulus in Romeine. Romeine 2:14-15 Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself ‘n wet, al het hulle geen wet nie; omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig.
Die morele wet bevat die beginsels van regverdigheid, genade, eerlikheid, respek, seksuele verhoudings en riglyne vir die huwelik. God wat die mens gemaak het, weet waarteen om ons te waarsku – wat vir ons goed is en wat sleg. Die persoon wat sy eie pad wil loop en nie God in gehoorsaamheid wil volg nie sal ontevrede en ongelukkig wees.
Weet u hoekom so baie, selfs ongelowiges, sukkel met skuld gevoelens oor verkeerde dinge wat hulle gedoen het of steeds doen? Dit is omdat die mens se gewete hom/haar aankla volgens die morele wet van God wat in hul hart geskryf staan. Hierdie skuldgevoelens kan lei tot selfdood, depressie en allerlei sielkundige siektes. Selfdood neigings onder homoseksuele mense is drie keer so hoog as onder heteroseksuele mense. Van trans-seksuele mense word gesê dat tussen 30-45% al selfdood probeer pleeg het. By jongmense wat ongetroud is en seksueel aktief is, is die depressie gevalle tot 3 keer meer onder meisies en 2 keer meer by seuns. Dit sal interessant wees om die jongmens wat gehoorsaam aan God se morele wet leef, te vergelyk met die wat ongehoorsaam is. Wat sal die statistiek wees rakende selfdood en depressie getalle? Kan jy verstaan hoekom die psalmdigter in Psalm 119:14 sê: Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord. Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie. Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie. Lofwaardig is U, o HERE! Leer my u insettinge! Ek het met my lippe vertel al die verordeninge van u mond. Ek is vrolik in die weg van u getuienisse soos oor allerhande rykdom.
Ek dink baie mense kan getuig van die negatiewe effek wat volharding in sonde in hul lewe het of gehad het. Voordat hulle dit bely en dit laat staan het veroorsaak dit altyd fisiese sowel as psigiese pyn.
Die Wet
Dit is belangrik om te onderskei tussen verskillende wette. In elke samelewing kry ons spesifieke wette waaraan die burgers van die land gehoorsaam moet wees. Hierdie wette is tydsgebonde en word bepaal deur die spesifieke kultuur en omstandighede van ’n land. Dit is siviele wette, bv. aan watter kant van die pad jy moet ry, belasting wat jy moet betaal, hoeveel water jy mag gebruik, ens. Dan kry ons seremoniële wette. Hierdie wette is van toepassing op die spesifieke manier waarop God wou hê die Jode Hom moes aanbid. Die meeste hiervan is vervul met die koms van Jesus Christus, maar dit sal in volgende vrae hanteer word. Die belangrikste is egter die Morele Wet van God. Hierdie wet word deur God aan die mens openbaar as Sy wil, hoe Hy wil hê sy kinders moet leef om Hom gelukkig te maak. Die Morele wet word as opsomming vir ons gegee in die Tien gebooie
God het hierdie gebooie gegee by die berg Sinai terwyl die volk in die woestyn was. Hy het dit nie gegee as ’n goeie idee waarvolgens die volk kon lewe as hulle wou nie – dit was nie Sy voorstel nie, maar Sy opdrag. Deuteronomium 4:13: Toe het Hy aan julle sy verbond verkondig wat Hy julle beveel het om te doen, die tien woorde, en dit op twee kliptafels geskrywe.
Om te onderskei tussen Siviele, Seremoniële en Morele Wette, kan as reël gekyk word watter wette in die Nuwe Testament bevestig word. Die Morele Wet van God is altyd bindend en oorbrug tyd. Daar is wel mense wat die wet van God nietig probeer verklaar in die lig daarvan dat Christus ons vrygemaak het van die wet(antinomian). Hulle wil die wet van God verwerp, verswak en verander. Ons weet ons word nie deur die wet gered nie, maar deur Christus. Hoekom is die wet dan nog enigsins belangrik?
Eerstens: Dit dien as ’n spieël van God se heiligheid en ons ongeregtigheid. In die wet sien ons God se standaard en in ons poging en hopeloosheid om dit na te kom, die noodsaaklikheid vir ’n Verlosser. Hierdie Verlosser wat ons vind in Jesus Christus. Dit dryf ons na Jesus en na die kruis, waarsonder ons nooit aan God se standaard sal kan voldoen nie.
Tweedens: Dit is ’n remskoen teen die bose. Dit weerhou mense daarvan om die verkeerde te doen, al is dit nie voldoende nie. Vir die ongelowige is die morele wet in sy hart tog ook ’n riglyn van wat om te doen of nie te doen nie.
Derdens: Vir die gelowige is dit ’n openbaring van wat vir God gelukkig maak, hoe Hy wil hê Sy kinders moet leef. Uit dankbaarheid en liefde is dit die riglyn waarvolgens ons ons lewens lei en inrig. Dit is die lig op ons pad en die lamp vir ons voet. Dit weerhou ons van versoeking en verkeerde keuses.
Die Tien Gebooie is dus slegs ’n opsomming van God se begeerte en bevel vir ons lewens. Ons gaan in die volgende vra in diepte kyk na elke gebod en wat die opsomming van ons vra.
Slot
Ongehoorsaamheid aan die Tien Gebooie het die Israeliete duur te staan gekom en hulle het baie verloor en baie skade gely, selfs lewensverlies, a.g.v. hulle ongehoorsaamheid. Vandag is hierdie nog steeds ’n realiteit – selfs in mense se lewens wat nie bekommerd is oor God se opdragte of selfs nie in God glo nie. Ons is skepsels, gekodeer met ons Skepper se Morele Wet in ons hart en Sy kinders met Sy Morele Wet in Sy Woord, opgesom in die Tien Gebooie.
God is ’n persoonlike God wat in ’n verhouding met elkeen van sy kinders wil staan. Hierdie gebooie maak Hom gelukkig, maar ook vir jou. So vervul jy jou Skeppingsdoel, nl. om God te verheerlik en kan jy Hom geniet – vir ewig!
