Vraag 39: Gehoorsaam My!

 

Q. 39. What is the duty which God requireth of man?

 

A. The duty which God requireth of man, is obedience to his revealed will.

 

Vraag 39: Wat is die verpligting wat God vereis van die mens?

 

Antwoord: Die verpligting wat God vereis van die mens, is gehoorsaamheid aan sy geopenbaarde wil.

 

Inleiding

 

Wie van ons ken die uitdrukking: “My huis, my reëls!”? Ons het dit óf as kinders gehoor óf as ouers al gebruik teenoor ons eie kinders. God se huis – God se reëls! Dit is tog belangrik om op die orde van hierdie uitdrukking te let. Ons is in God se huis – aangeneem. Ons is God se kinders, ons ontvang al die wonderlike voordele in hierdie lewe sowel as in sterwe wat met hierdie aanneming gepaard gaan en nou sê God: “Doen wat ek sê.” Vraag 39 se antwoord kan in twee belangrike dele opgedeel word, nl. ons verpligting en God se geopenbaarde wil.

 

Ons verpligting

 

Ons het geen keuse aangaande God se opdragte nie. Ons is verplig as Sy kinders om dit te gehoorsaam. Oral in God se Woord word ons herinner aan alles wat God se opdragte uitvoer en hoe daar van Sy kinders verwag word om ook so in gehoorsaamheid op te tree. Deuteronomium 29:29 Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet. Daar is baie dinge wat ons nie aan hierdie kant van die ewigheid sal verstaan nie en wat God nie aan ons geopenbaar het nie, maar alles wat Hy aan ons openbaar het, is sodat ons en ons kinders dit sal gehoorsaam. Die belangrikste rede hoekom ons God se geopenbaarde wil moet gehoorsaam is dit  – omdat dit Sy opdrag is, omdat Hy so sê! Ons kan amper net hier stop, want dit behoort vir elke gelowige genoegsaam te wees.

 

Gehoorsaamheid is nie omdat ons gered wil word nie – as Sy kinders is ons alreeds gered. Ook kom gehoorsaamheid nie net gedwonge as gevolg van ’n opdrag nie, maar kom dit uit die gelowige se dankbare hart. Gehoorsaamheid is ’n teken van ons geloof in ’n liefdevolle God, wat in Sy wysheid weet wat die beste vir ons is. Efesiërs 2:10 “Want ons is Sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel”  Dit is ’n teken van ons vertroue in Sy beloftes vir die toekomstige dinge wat ons nie kan sien nie, maar waaraan ons kan vashou. Dit is ’n teken van ons vertroue in Sy beloftes van ’n beloning wat vir elkeen wag wat Sy geopenbaarde wil doen. Efesiërs 6:8 “omdat julle weet dat elkeen vir die goeie wat hy doen, loon van die Here sal ontvang, of hy slaaf is of ’n vryman”  Ons weet hierdie beloning is nie ons redding nie, want dit het ons alreeds in Christus, maar ’n spesifieke beloning vir die goeie werk wat ons vir God se koninkryk op aarde gedoen het. 1 Korintiërs 3:14-15 “As iemand se werk bly staan wat hy daarop gebou het, sal hy loon ontvang; as iemand se werk verbrand word, sal hy skade lei; alhoewel hy self gered sal word, maar soos deur vuur heen.”  Laastens is dit ’n teken van ons liefde vir Hom. Joh. 14:15 “As julle My lief het, sal julle my gebooie bewaar”  en  1 Johannes 5:2-3 Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet en sy gebooie bewaar. Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie. As ons sê dat ons Hom lief het, sal gehoorsaamheid die uitvloeisel wees van hierdie liefde. ’n Belydenis van liefde sonder gehoorsaamheid is soos offers sonder om gehoor te gee aan God se opdragte. ’n Voorbeeld hiervan vind ons by Saul wanneer hy dink dat hy God gelukkig kan maak deur offers te bring al is hy ongehoorsaam aan God se opdragte. Samuel antwoord Hom: Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme. (1Samuel 15:22) Niks is vir God wonderliker as Sy kinders wat in eerbied Hom gehoorsaam, omdat hulle weet dat Hy beter weet as hulle nie.

 

Verder, en miskien verbasend, is ons gehoorsaamheid aan God se opdragte ook vir ons ’n versekering van ons wedergeboorte en redding. Dit klink dalk of hier ’n kontradiksie is, want word ons dan nie deur geloof in Jesus Christus alleen gered nie? Ja, verseker. Die teken van wedergeboorte is egter die inwoning van die Heilige Gees in ons lewe, soos  bespreek is in Vraag 29-32. Die Heilige Gees verander en vernuwe ons en maak ons gewillig en stel ons in staat om te doen dit wat God van ons verlang. As ons nou agterkom dat sondige gedrag wat in die verlede vir ons aanvaarbaar was, nou nie meer is nie en dat ons begin om in gehoorsaamheid op te tree, dui dit op die werking van die Heilige Gees in ons lewe en bevestig dit ons wedergeboorte. Jak 2:18 “Maar iemand sê: ‘Jy het die geloof en ek die werke.’ Toon my jou geloof uit jou werke en ek sal jou uit my werke my geloof toon”

 

God se geopenbaarde wil

 

Daar is niks so verwarrend en selfs vreesaanjaend as jy onseker is van wat van jou in sekere situasies verwag word nie. Vra maar enige nuwe ouers van ’n baba. Daar is geen handleiding vir hierdie klein wonderwerk in jou arms nie – al het vele al probeer om een te skryf. Die gewig en die verantwoordelikheid wat saam met die klein bondeltjie liefde kom, kan enige ouer tot die rand van die afgrond dryf. Veral as jou optrede die verskil kan maak tussen lewe en dood. Daarom is kennis so ongelooflik belangrik. Hoe sal ’n dokter weet wat om in ’n noodgeval te doen as hy/sy geen kennis van die menslike liggaam en medisyne het nie. Hoe moet ons weet hoe ons in hierdie lewe moet optree sonder enige riglyne. God laat ons nie in die duister oor wat Hy van ons verlang nie. Niemand sal eendag kan sê ek het nie geweet nie. Uit sy algemene openbaring (natuur) kan ons weet dat daar ’n God is en daarom se Romeine 1 daar is geen verskoning vir enige persoon nie. Romeine 1:18-21  Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister.” God gee egter aan die gelowige Sy spesifieke openbaring, nl. Sy Woord. Daarom, van die wat die Woord het, sal nog meer vereis word.  Miga 6:8 “Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God? Miga sê God het aan ons bekend gemaak wat goed is. Alles in Sy Woord is goed vir ons. As ek my lewe in gehoorsaamheid op Hom rig, kom ek soos Esegiël agter dat die woorde wat aan my gegee is, as ek dit inneem en gehoorsaam,  soos heuning is in my mond. Esegiël 3:3  en vir my gesê: Mensekind, laat jou buik eet, en vul jou ingewande met hierdie rol wat Ek jou gee. En ek het dit geëet, en dit was in my mond soos heuning so soet.  Ook skrywe die Psalmdigter dat Hy homself sal verlustig in die opdragte van God. Psalm_119:16  Ek sal my verlustig in u insettinge, u woord sal ek nie vergeet nie. Is dit hoe jou lewe lyk? Is God se opdragte jou begeerte en genot?

 

Om egter te weet wat God se wil is, is  dit nodig om die Woord te bestudeer, sodat jy God kan leer ken. Sodat jy kan weet dat Hy liefdevol en wys is en dat Sy wil vir jou die beste is. So baie mense mis in hulle Christelike lewens die vreugde en vrede omdat hulle nie in gehoorsaamheid lewe aan God se geopenbaarde waarheid (SY WOORD) nie. So baie is besig met hulle eie gedagtes en wat vir hulle belangrik is. Ons leer dat geloof kennis en vertroue is. Kennis van God soos wat Hy Homself aan ons openbaar deur Sy Woord (Vraag 2) en Sy reëls vir ons lewe aan ons gee. Vertroue op iets/iemand wat jy nie ken nie is sinneloos. Lees jou Bybel!

 

Ons word ook bemoedig

 

In Hebreërs lees ons van manne en vroue wat aan God gehoorsaam was. Hulle is die mense waarvan die Bybel praat as geloofshelde in Hebreërs 11. Hulle het nie hulle eie gemak gesoek nie, maar het uitgesien na ’n ewige tuiste en het hulself as niks geag nie en het God alles in hul lewens gemaak. Hebreërs 11:36-38 Ander weer het die proef van bespottinge en geselinge deurstaan, ook van boeie en gevangenis. Hulle is gestenig, in stukke gesaag, versoek, deur die swaard vermoor. Hulle het rondgeloop in skaapvelle en in bokvelle; hulle het gebrek gely, hulle is verdruk, mishandeldie wêreld was hulle nie werd nie—hulle het in woestyne rondgedwaal en op berge en in spelonke en skeure in die grond. Hulle het alles deurgegaan in gehoorsaamheid aan God. As jy lewe in ’n wêreld waar die meerderheid nie God se opdragte wil uitvoer nie, sal jy ook vervolging ervaar soos wat ons voorgangers in gehoorsaamheid ervaar het.  

 

Die Heilige Gees stel ons in staat om God se Woord te verstaan en om van binne vernuwe te word om Sy geopenbaarde wil uit te voer. Nou kan  ons, net soos hierdie geloofshelde van ouds, die wedloop hardloop, met kennis en vertroue op die onverganklike heerlikheid saam met Jesus Christus wat nou alreeds en vir ewig vir ons wag.

 

….en nou, “omdat ons ’n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees, want onse God is ’n verterende vuur” Hebr. 12:28-29.