Vraag 38: Heerlike vreugde!

Question 38. What benefits do believers receive from Christ at the resurrection?

Answer: At the resurrection, believers, being raised up in glory, shall be openly acknowledged and acquitted in the day of judgment, and made perfectly blessed in the full enjoying of God to all eternity.

Vraag 38:  Watter voordele ontvang die gelowige van Christus by die opstanding?

Antwoord: By die opstanding sal gelowiges, opgewek in heerlikheid, openlik erken en vrygespreek word op die dag van oordeel en sal hulle ten volle geseën word in die volledige genieting van God vir ewig en altyd.

In heerlikheid

Wat beteken die woord heerlikheid?  Wat beteken glorie? Wat is die oortreffende, mens wil amper sê oortreffendste trap van heerlikheid! As ons dink aan glorie en heerlikheid sien ons die helderheid van die son, die skitter van duisend sterre teen ‘n pikswart nag. Ons hoor die slag van weerlig en die gerommel van die donderstorm. Oortreffende trap,  majestueus, groots, helder, kragtig, oorverdowend, onbeskryflik – glorieryk!

As mens kan ons dit nie beskryf nie, maar dit is wat vir elke gelowige wag met die opstanding. Hierdie heerlikheid kan ons met ons beperkte verstand en kennis nie ten volle verstaan nie. Ons lees wel van persone in die Bybel wat hierdie heerlikheid reflekteer as ons dink aan Moses se gesig wat gegloei het nadat hy in God se teenwoordigheid was. Ons lees ook van die verheerliking op die berg dat Elia en Moses wat aan Jesus verskyn het gekom het in heerlikheid. Lukas 9:31  Hulle het in heerlikheid verskyn en van sy uitgang gespreek wat Hy in Jerusalem sou volbring. Hoe sal ons lyk as ons ten volle in hierdie heerlikheid ingaan?  Hoe kan ons verstaan wat 1 Johannes 3:2 sê: Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is?  Ons kan dit probeer verduidelik aan die hand van die glans van die maan a.g.v. die helderheid van die son. God is die son en ons die maan en ons gaan sy glorie weerkaats. Maar daar is meer as dit. In Korintiërs verduidelik Paulus aan die gemeente wat met ons liggame sal gebeur as Christus ons kom haal. 1Co 15:42-43  So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid; daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag. Ons sal totaal verander word in ’n oogwink en dit wat ons dan sal wees kan nie vergelyk word met wat ons hier is nie, net so min soos jy ’n koringaar met ’n saadkorreltjie kan vergelyk. In Openbaring probeer Johannes vir ons hierdie heerlikheid en die glorie van die hemel en alles daarin beskryf, maar in aardse terme is dit moeilik, omdat die taal van ’n mens gekoppel is aan sy verstaan van dinge rondom hom/haar. So is die paaie van goud en elke poorte bestaan uit een groot pêrel. Behalwe die simboliek van die artikels word hierdeur vir ons aangetoon dat die beste van wat ons hier het nie vergelyk kan word met wat ons in die Hemel sal sien en ontvang nie. Hoe verduidelik ek vir iemand wat kleurblind is die kleure van die reënboog? Of vir iemand wat doof is die klanke van ’n simfonieorkes. Heerlikheid is ’n woord wat ons gebruik vir dit wat ons nie kan beskryf of ten volle verstaan nie.

 Herken en erken

As ons in die Hemel kom, sal God openlik verklaar dat Hy ons ken en dat ons aan Hom behoort. Die teendeel word beskryf in Lukas 9:26 Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en van die heilige engele. Hierdie teks vertel ons dat in teenstelling met die wat nie Jesus bely het terwyl hulle op aarde gelewe het nie, sal ons wat Hom bely het ook deur Hom bely word voor Sy Vader. In Hebreërs word vertel van die mense wat bereid was om te ly ter wille van God, omdat hulle na ’n beter tuiste verlang het. Hebreërs 11:16  Maar nou verlang hulle na ‘n beter een, dit is ‘n hemelse. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ‘n stad berei. Jim Elliot wat alles verlaat het om sendingwerk in Ecuador onder die Indiane te gaan doen, het die volgende gesê: Hy is geen dwaas wat opgee wat hy nie aan kan vashou nie om te ontvang dit wat hy nie kan verloor nie. Hoe sleg is dit nie om by ’n vreemde plek te kom waar niemand jou herken nie. In die Hemel sal dit nie so wees nie. Nie net sal jy herken word nie, maar jy sal ook erken word. Jesus wat sal uitroep: “ Ek ken jou –  jy behoort aan My.”

Vrygespreek

Openbaring_20:12  En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. In die Hemel sal daar twee boeke wees . As jy ongered is, sal al jou dade in ’n boek staan, alles wat jy deur jou lewe gedoen het. Wat ’n vreesaanjaende oomblik sal dit nie vir die ongeredde persoon wees nie. Elke daad wat jy deur jou hele lewe gedoen het, is bekend aan Hom en opgeskryf. Vir die gelowige sal daar geen soortgelyke vrees wees nie. Ons name sal in ’n ander boek geskryf wees –  die Boek van die Lewe. Geen van ons dade sal opgeskryf wees nie, want ons is skoon gewas in die bloed van die Lam en al ons ongeregtigheid is uitgewis. Dit is soos met die verlore seun wat huis toe gekom het. Daar word nie gevra dat hy sy lewe tussen die prostitute en die varke aan sy pa sal verduidelik nie. Nee Hy bely en word vergewe en ’n nuwe kleed word vir hom aangetrek. Vir die ongelowige egter Openbaring 20:15  En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp

Vry om God te geniet – verewig!

Dan sal ons vir ewig saam met God lewe in al die seëninge wat ons van Hom en in Hom sal ontvang. Watter vreugde sal daar nie wees nie.!? Kyk hoe wonderlik stel Psalm 16 van vers 9 tot 11 dit : Daarom is my hart bly en my eer juig; ook sal my vlees in veiligheid woon; want U sal my siel aan die doderyk nie oorgee nie; U sal nie toelaat dat u gunsgenoot verderwing sien nie. U sal my die pad van die lewe bekend maak; versadiging van vreugde is voor u aangesig, lieflikhede in u regterhand, vir ewig. Psalm 16 vers 10 wys eerstens na Christus maar ook na ons wat op grond van Sy oorwinning oor die dood ook die oorwinning sal smaak. Vers 11 sê die versadiging van vreugde is voor U aangesig. Hoe mooi is dit nie gestel nie. My vreugde word ten volle bevredig as ek voor Hom gaan wees. Daar gaan niks meer wees wat ek sal wil hê as ek by Hom is nie.

Die spreekwoord sê “Alle goeie dinge kom op ‘n end” en “na lekker lag kom lekker huil”. Ons wens partykeer ons kan vashou aan sekere tye wat vir ons heerlik is en soveel genot verskaf,  maar alles kom op ‘n einde. Nee, nie meer nie!  Die volkome, volmaakte, perfekte, heerlike en glorieryke vreugde waarvoor ons geskape is, gaan ons nou by God ervaar, omdat ons deel van Hom gaan wees.

 

…..en dit gaan aanhou tot in Ewigheid.