Question 37. What benefits do believers receive from Christ at death?
Answer: The souls of believers are at their death made perfect in holiness, and do immediately pass into glory; and their bodies, being still united to Christ, do rest in their graves, till the resurrection.
Vraag 37 Wat is die voordele wat gelowiges ontvang van Christus by die dood?
Antwoord: Die siele van die gelowiges word by hulle dood volmaak gemaak in heiligheid, word onmiddellik opgeneem in heerlikheid; en hulle liggame, wat verenig is met Christus, rus in die graf tot die opstanding.
Inleiding
Ons het in die vorige inskrywing gefokus op die voordele wat die gelowige in die lewe ontvang as gevolg van die feit dat hy/sy aangeneem word as kind van God. Ons weet egter, en word ook gedurig daaraan herinner, dat hierdie lewe in vergelyking met die ewigheid van korte duur is. Dit is dan ook die tema van baie preke dat ons nie moet fokus op die “hier en nou” nie, maar op wat hierna kom, nl. die ewige lewe. Ons lees in die Bybel die verhaal van die ryk dwaas wat sy skure volgemaak het, selfvoldaan dat hy veilig en versorg is en dan verloor hy in daardie selfde nag sy lewe. Die Bybel praat ook in Mattheus oor die nutteloosheid daarvan as jy die wêreld gewen het, maar aan jou siel skade gely het. Mattheus 16:26 Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel? As ons nou weet wat die voordele in hierdie lewe – wat van korte duur is – inhou om ’n kind van God te wees, wat is die voordele as ek sterwe?
Die dood
Dit is die een waarheid wat niemand kan wegredeneer nie. Ons kan room aansmeer, pille drink en ons liggame laat vries vir die dag as daar dalk ‘n geneesmiddel vir die siekte waaraan jy gesterf het gevind word, maar die feit staan soos ’n paal bo water – ons almal gaan dood – fisies in elk geval. Elkeen van ons is egter sekerlik bewus daarvan dat ons meer is as net ons liggaam. Ons het ’n siel.
Die menslike siel/gees
As God Adam skep, skep Hy hom as liggaam en siel. Genesis 2:7 En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword. Die liggaam het dus geen lewe sonder die siel nie. Die Bybel gebruik siel en gees verwisselend en dit kan as sinonieme gebruik word. Hebreërs bevestig dit as dit in Hebreërs 4:12 sê: “Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.” Gewrigte en murg is deel van ons fisiese net soos siel en gees deel is van die psigiese. As kinders van God word ons vernuwe na gees en siel om meer en meer aan Christus se beeld gelyk te word. Hier praat ons nie van ons liggaamlike beeld nie, maar van ons siel – dit wat ons gedagtes en wese en lewe is. Ons gaan nie fisies soos Jesus lyk nie, ons gaan in ons gees verander word deurdat dieselfde Gees wat in Hom woon ook nou in ons as gelowiges woon. Ons het alreeds vir mekaar in die vorige vraag vertel dat ons ’n proses van heiligmaking ondergaan. Terwyl ons lewe is daar ’n konstante stryd tussen ons vlees (dit wat ons in ons sondige natuur wil hê) en die geestelike dinge (dit wat die Heilige Gees in ons wil bewerkstellig.) Ons erken dat ons nooit op aarde ten volle sonder sonde sal wees nie. Daar sal altyd die stryd wees tussen die gees en die vlees. Romeine 7:15 Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek.
Voordelig om te sterwe
Ons het alreeds gehoor van al die voordele wat ons as God se kinders in die lewe ontvang, maar wat ons in die sterwe ontvang is nog soveel meer. Die dood is nie meer iets wat ek as gelowige hoef te vrees nie, maar iets waarna ek kan uitsien as die dag waarop ek verheerlik gaan word en volkome vry sal wees van sonde. As ons sterwe sal ons siel totaal heilig gemaak word en vry wees van alle sondes, selfs die sondige begeertes sal nie meer daar wees nie. Geen gedagte wat in stryd met God se wil is, sal meer in ons gedagtes opkom nie. Watter heerlike vooruitsig op die gelowige wat smag om ten volle gelyk te word aan ons Verlosser. Romeine 8:29 Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders.
Wat gebeur as ek sterf?
Hoeveel boeke is nie al oor hierdie onderwerp geskryf nie!? Mense wat hemel/hel toe is en dan terugkom om jou daarvan te kom vertel. Dit Bybel vertel geen sulke stories nie en dit is die enigste bron van gesag wat ons aanvaar. Wat ons wel verseker kan weet is dat gelowiges onmiddellik met ons afsterwe by God sal wees. Ons siel sal nooit sterwe nie, net ons fisiese liggame is verganklik. Die oomblik as ons ons laaste asem uitblaas sal ons by God wees. Daarom kon Jesus vir die man langs Hom aan die kruis gesê het: “Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” Lukas 23:43 En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde vanuit die Skrif om hierdie standpunt te bevestig. Jesus op die berg van verheerliking is in gesprek met Elia en Moses oor Sy pad na Jerusalem. Mattheus 17:3 En kyk, daar verskyn aan hulle Moses en Elia in gesprek met Hom. Dus leef Moses en Elia al is hulle liggaamlik al jare lank dood. Aan die Sadduseërs wat nie in die opstandig geglo het nie, bewys Jesus vanuit die Skrif dat daar wel ’n opstanding is. Mattheus 22:32 Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? God is nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes. Is – so Hy is dit nogsteeds. Nog ’n voorbeeld is die verhaal van Lasarus en die rykman. Hierdie is nie ’n gelykenis nie en ons sien dit deur te let op twee dinge: 1. Met elke gelykenis word gesê dat dit ’n gelykenis is, maar hier word dit nie gedoen nie en 2. een van die karakters in die verhaal het ’n naam, iets wat in geen gelykenis gedoen word nie. In hierdie verhaal vind ons dat as Lasarus sterwe, hy saam met Abraham is en dat as die rykman sterwe, hy in die plek van smarte en lyding is. Paulus bevestig hierdie gedagte ook in 2 Korintiërs 5:8 Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon en in Filippense 1:23 Want ek word van weerskante gedring: ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste. Die oomblik as ons liggaamlik sterf, is ons gees teenwoordig by God.
Wat gebeur met ons liggaam? Enige iemand wat bietjie biologiese kennis het weet wat gebeur as iets doodgaan. Dit verrot. Dit vergaan. Op die dag wat Jesus finaal terug kom om Sy bruid te kom haal, sal ons verheerlikte liggame ontvang. Dus al is ons siel in die Hemel is ons liggame in die graf. Die Bybel leer ons dat ons liggame rus. Daniel 12:2 En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik. Dit word ook bevestig deur die Nuwe Testament waarvan Johannes 5:28-29 ’n voorbeeld is: ”Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ‘n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.”
Ons weet nie verseker hoe hierdie liggaam sal lyk nie, maar as ons na Christus kyk na Sy opstanding illustreer dit vir ons hoe ons liggame gaan wees. Hy kon eet, hulle kon aan Hom vat, Hy kon deur die mure beweeg en aan hulle verskyn. Dit sal glad nie vergelyk kan word met die liggame wat ons nou het nie. Lees 1 Korintiërs 15 van vers 35. Hier volg een van die verse 1 Korintiërs 15:40 En daar is hemelse liggame en aardse liggame; maar die heerlikheid van die hemelse is anders as dié van die aardse.
Opgeneem in heerlikheid
Ons het gelees van Jesus se vernedering, sy gestalte as slaaf en sy lyding tydens sy aardse lewe. As God se kinders en mede-erfgename van Christus sal ons ook hierdie lyding op aarde ervaar. Ons ervaar dit van die wêreld wat nie wil glo nie, maar ook in ons lewe a.g.v. die stryd tussen ons vlees en ons gees. MAAR, die dag as ons sterwe word ons in wese opgeneem in heerlikheid. Ja, ons sal nuut wees:
Die Heer droog al die trane af,
verby is droefheid, dood.
ja, pyn en smart wyk uit die hart –
ons moeite, angs en nood.
“kyk, ek maak alles nuut,” sê God.
“laat hom wat dors het, kom.
en hy sal vind, hy is My kind,
ek is ‘n God vir hom !”
Oorwinnaars, sal ons alles erf
en drink uit die fontein
van lewenswater, heerlik, rein.
en God sal oor ons skyn.

Wat ‘n wonderlike vooruitsig! Dankie vir die pragtige blog.
LikeLike