Vraag 36 Ware vreugde

Question 36. What are the benefits which in this life do accompany or flow from justification, adoption, and sanctification?

Answer: The benefits which in this life do accompany or flow from justification, adoption, and sanctification, are, assurance of God’s love, peace of conscience, joy in the Holy Ghost, increase of grace, and perseverance therein to the end.

Vraag 36 Wat is die voordele wat in hierdie lewe gepaard gaan met of voort vloei uit regverdiging, aanneming en heiligmaking?

Antwoord: Die voordele wat gepaard gaan met of voort vloei uit regverdiging, aanneming en heiligmaking is die versekering van God se liefde, vrede in my gemoed, vreugde in die Heilige Gees, toename in genade en volharding daarin tot die einde.

Inleiding

Al die inskrywings tot nou tot moet die logiese antwoord op hierdie vraag uitskreeu! As jy weet wat jou skeppings doel is, wie God is, die toestand waarin die sondeval ons gelaat het, die ongelooflike Verlossingsplan, wat dit Christus gekos het en hoe ons nou in Jesus kan wees en word dit waarvoor ons gemaak is, moet die antwoord wees – GELUKKIG!

GELUK is vir my ’n samevatting van al die woorde – versekering van liefde, vrede en vreugde! In die bergpredikasie word ons vertel hoe iemand is wat gelukkig is, of dan wel geseënd is. Alles wat ons met die sondeval verloor het en waarna ons smag word vervul wanneer ons regverdig verklaar word deur Jesus se offer vir my sonde, wanneer ons deur God aangeneem word as Sy kind en deur die Heilige Gees verander word. Ons kan tot God nader, want ons is regverdig. Ons kan Sy liefde ervaar as Sy kinders en deel in ’n wonderlike familie van gelowiges. Ons word toegerus en verander deur die Gees. Ons is geliefd, ons behoort, ons is toegerus, ons is veilig –  ja,  tot die einde. Ons is gelukkig!

Versekering van God se liefde

Watter versekering is daar nie in my lewe van God se liefde vir my as ek dink aan my regverdiging, my aanneming en my heiligmaking nie? Dit is Hy wat al hierdie dinge in my lewe begin het as gevolg van Sy liefde vir my. Ek verstaan dat ek nie geregverdig is uit iets wat ek gedoen het nie, maar wat Hy vir my aan die kruis gedoen het terwyl ek nog sy vyand was. Romeine_5:10  Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is. In my sonde, omdat God sonde haat, was ek onder Sy wraak. Tog het God My in Sy liefde vrygemaak deur Sy Seun se kruisdood. Hoeveel te meer kan ek seker wees, nou dat ek regverdig is voor God, van God se absolute liefde vir my? In alles neem Hy elke keer die inisiatief. Hy is die een wat my aangeneem het terwyl ek in my eie sonde gespartel het en gesê het: ”LEEF.” Israel is so ’n wonderlike voorbeeld van wat met my ook gebeur het. Esegiel 16:6  En Ek het by jou verbygegaan en jou sien spartel in jou bloed; toe het Ek vir jou gesê in jou bloed: Leef! Ja, Ek het vir jou gesê in jou bloed: Leef! Daar was dus niks wonderliks in my dat Hy na My toe gekom het nie. Net Sy liefde kon voor die grondlegging van die wêreld my aanneming beplan het en waar gemaak het in Christus. Die feit dat God my gekies het voor die grondlegging  en dat dit nie my eie “goedheid” was wat gemaak het dat Hy my kies nie, maar Sy genade, moet vir ons die versekering gee dat dit nie iets is wat ons kan verloor nie. God verander nie van gedagte nie. As ‘n aangenome kind hoef ek nooit bang te wees dat Hy my gaan “terug gee” nie. Ek is Syne en ek is duur gekoop. Ek is kosbaar omdat ek Syne is en niks en niemand kan my van Sy liefde skei nie. Rom 8:35 “Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard?” vs38 “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here”

Vrede in my gemoed

  1. Vrede oor my verlossing

Ek kan nie angstig raak oor my verlossing en my kindskap as God die werk begin het nie. As ek die werk begin het en ek het die aanneming gereël, hoe kan ek verseker wees van Sy liefde vir my? Hoe kan ek verseker weet dat ek nie iets kan doen wat Hom ontstel of kwaad maak en dat ek nie meer Sy kind sal wees nie? Nee, ek behoort aan Hom en die kontrak is in Sy naam en nie in myne nie. Daarom, omdat Hy nie kan verander nie, kan die kontrak nooit gewysig of vernietig word nie. Ek is in Sy hande. Johannes 10:29  My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.

  1. Vrede oor my toekoms

God het my lief en Hy is soewerein en in beheer van alles. As ons werklik die gewig van hierdie feit verstaan sal ons nooit weer angstig raak oor enige iets nie. As ouer van drie kinders weet ek wat dit beteken om die beste vir my kinders te wil hê, om hulle gelukkig te sien, om hulle te help om te groei en te word dit waarvoor hulle gemaak is. Ek is egter nie in beheer van alles wat met hulle gaan gebeur in hierdie lewe nie en soos wat hulle ouer word, word dit wat ek vir hulle kan doen al hoe minder. God is egter in beheer van alles en ons is nou aangeneem as sy kinders. Hy weet dat dit waarvoor Hy ons gemaak het, en waarin ons ware geluk sal vind, is om Hom te verheerlik en te geniet. Ek kan vrede hê as Sy kind, dat Hy dit sal bewerkstellig in my lewe. Ek kan vrede hê dat die Heilige Gees sal werk in my lewe, van heiligheid tot heiligheid. Wanneer ek dan geestelike groei in my lewe ervaar, weet ek dit kan net die werk van die Heilige Gees wees. Hiermee sal die Gees in my lewe getuig dat ek aan God behoort en my laat uitroep “Abba Vader” Rom 8:15-16 “….julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is”

Vreugde in die Heilige Gees

Sonde steel ’n gelowige se vreugde. Dit bring afstand tussen my en God en hoewel ek sy kind is bou ek met sonde ’n muur van skuldgevoelens wat maak dat ek sukkel om ’n oop en intieme verhouding met God te hê. Met heiligmaking kom al hoe meer vreugde in my lewe deur die Heilige Gees. Die Heilige Gees kom oortuig my van sonde in my lewe en gee my die wil en die krag om  dit af te lê. Heiligmaking is  dus die aflê van sonde. Elke keer as ek oorwinning oor sonde behaal, vind ek dat vreugde in my lewe toeneem. Dit beteken dat ek nie die Heilige Gees bedroef in my lewe nie en daarom ervaar ek net meer vreugde in die heiligmakingsproses. Ek moet net gehoorsaam wees en my sonde bely en laat staan. Romeine 14:17 sê: “die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees.” Die vreugde en vrede wat ek ervaar kom van binne en is nie as gevolg van iets vleeslik nie. Die wêreld se vreugde en vrede word bepaal deur eksterne dinge, terwyl die gelowige se vreugde en vrede kom van ’n interne realiteit – dat ek aan God behoort en Sy Gees in my woon.

 Toename in genade – tot die einde

Wat beteken ’n toename in genade? Het God nou meer genade vir my as aan die begin? Nee, God se genade was en is van die begin af oneindig groot. Wat dit beteken is dat in hierdie wandeling saam met God, soos wat ek geestelike groei, verstaan ek Sy genade vir my al hoe meer. Dink aan ’n kind wat aangeneem word en die verstaan wat so ’n kind het van hierdie ouers se liefde en die opofferings, reëlings en koste wat dit geverg het om hom/haar aan te neem. Hoe ouer die kind word en as hy/sy self later kinders het, hoe beter verstaan hulle die volheid daarvan.  Jy hoef net een nag deur te gaan sonder om te slaap as gevolg van ’n siek baba om die liefde en opofferings wat jou ouers teenoor jou geopenbaar het te waardeer. As jy dan nog ’n aangenome kind is, wat niks gedoen het om aangeneem te word nie en jy nog verder besef in watter omstandighede jy sou wees indien jou ouers jou nie aangeneem het nie, hoe dankbaar sal jy nie wees nie!? Genade is om ’n geskenk te ontvang wat ek nie verdien nie. My regverdiging, aanneming en heiligmaking is so ’n geskenk. God is my Vader en ek Sy kind al stel ek Hom soms teleur, al val ek en al tree ek soms nie op soos een van Sy kinders nie. Hy hou aan om met my te wandel, daarom erken ek dat Sy genade elke dag in my lewe toeneem.

Die gelowige volhard tot die einde. Ons behoort nooit te twyfel oor ons ewige tuiste nie. My regverdiging is in Christus, my aanneming is in die Vader en my heiligmaking is in die Heilige Gees. Die Drie-eenheid is ten volle betrokke in my lewe en die werk word deur God begin, voortgesit en beëindig. Filippense 1:6  omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Jesus Christus.

 

Die ou Halleluja lied stel dit so mooi:

BLYE VERSEEKRING, JESUS IS MYN,

O, WATTER VREUGDE, HEERLIK EN REIN!

WEDERGEBORE, REIN DEUR SY BLOED,

SMAAK EK SY VREDE IN MY GEMOED.

Lewer kommentaar