Vraag 34-35. Ek lyk anders!

34. What is adoption?

Answer: Adoption is an act of God’s free grace, whereby we are received into the number, and have a right to all the privileges, of the sons of God.

35. What is sanctification?

Answer: Sanctification is the work of God’s free grace, whereby we are renewed in the whole man after the image of God, and are enabled more and more to die unto sin, and live unto righteousness.

Vraag 34: Wat is aanneming?

Antwoord: Aanneming is die werk van God se vrye genade, waardeur ons deel word van die getal en  die reg verkry tot al die voorregte, as seuns van God.

Vraag 35: Wat is heiligmaking?

Antwoord: Heiligmaking is die werk van God se genade, waardeur ons vernuwe word in ons hele wese na die beeld van God en in staat gestel word om meer en meer te sterwe vir die sonde en te lewe vir geregtigheid.

Weggooikind

Hy staan voor jou – netjies, goedgemanierd en selfversekerd. Met ’n stewige handdruk en ’n glimlag groet hy jou op jou naam. Jy besef dat hierdie vir jou ’n totale vreemdeling is, tog verseker hy jou daarvan dat julle mekaar goed ken. Jou brein werk oortyd soos jy in die argiewe rondkrap na ’n naam, ’n herinnering, maar nee – daar is niks. Miskien in sy blou oë wil-wil daar ’n beeld opkom. Jy moet jou kop verleë skud: “Jammer, maar ek onthou jou nie”

Hy is nie verbaas nie: “Toemaar, dis nie vreemd nie. Ek het baie verander…” Hy vertel jou dat hy die arm seuntjie is wat in jou straat grootgeword het – net twee huise van julle s’n.  Hy het by sy ouma grootgeword (jy dink nie jy het ooit iets van sy ouers af geweet nie) en sy was sieklik en geld was skaars. Jy onthou skielik die vuil en verwaarloosde seuntjie. Hy het maar so op die straat grootgeword, want hy was net in sy ouma se pad.  Hiermee saam het die straat se manier van praat en doen ook gekom en niemand het juis vir hom tyd gehad nie. Jy onthou so vaag weg dat sy ouma oorlede is, maar  wat daarna van hom geword het, kan jy nie onthou nie. Kan dit werklik dieselfde persoon wees as hierdie selfversekerde en goedgemanierde jongman wat hier voor jou staan? Hy vertel jou dat hy aangeneem is deur ’n ryk boer en sy vrou en op hul plaas grootgeword het. Hy vertel jou met entoesiasme van sy nuwe lewe op die plaas en hoe hy dit geniet om te plant en sy vee te versorg, alles wat sy pa hom geleer het.

Aangeneem

Wat ’n verskil maak aanneming nie in die lewe van die kind wat aangeneem word nie!? ’n Kind wat grootword met ouers wat hom/haar lief het en net die beste vir hul kind wil hê. Die gelowige se verhouding met God word geïllustreer in die Skrif met die van ’n familie. Ons het ’n ouer broer wat vir ons deur sy kruisdood geregverdig het. ’n Vader wat ons aangeneem het. Ons versorg soos ’n vader in elke opsig – van om ons te tug (Hebreërs 12:5-6  En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem.) tot die voorsiening in alles wat tot ons geestelike opbou sal geskied. (Mattheus 7:11  As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!)

As ons praat van aanneming behoort ons onmiddellik te besef dat dit hier gaan oor genade. Geen kind wat aangeneem word speel ’n rol in die aannemings proses nie. Dit is die ouers wat beplan en reëlings tref en alles in plek kry vir die aanneming. Die kind is nie eers bewus  van wat agter die skerms plaasgevind het  voor hy/sy aangeneem is nie. Efesiërs 1:4-6  soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil, tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde. Wat se ongelooflike bewys van Sy genade aan ons wat gered is!

In die Romeinse kultuur het die aanneming van ’n kind behels dat  jy mede-erfgenaam word van alles wat jou nuwe pa besit. Dit is dieselfde met die gelowige. Nie net ontvang ons ’n nuwe lewe in Christus en word ons deel van die wonderlikste familie nie, nee, die Bybel vertel ons dat ons ook mede-erfgename word. Mede-erfgename van wie? Saam met wie gaan ons erf? Romeine 8:17  en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word. Ons gaan saam met Christus erf! Net soos Hy gaan ons ook verheerlik word.  Hy is die voorbeeld van wat ons ook gaan ontvang. Jesus vertel sy apostels dat hulle ook eendag op twaalf trone gaan sit. “Hoe is dit moontlik!?”, behoort die gelowige onmiddellik uit te roep. Net deur die genade van God en nie uit verdienste nie. Ons is God se kinders!

Nuut gemaak

Ek wil teruggaan na die illustrasie wat ek in die begin gebruik het. My Vader wat my aanneem los my nie in die toestand wat Hy my gekry het nie. Voor Hy my aangeneem het, was ek vuil van die sonde. Ek was leeg en alleen. Die verhaal van die verlore seun illustreer dit wonderlik. ’n Vader wat sy seun omhels terwyl die reuk van vark nog om hom moes gehang het. Hy roep sy slawe om vir hom nuwe klere aan te trek. Hy gee vir hom skoene aan sy voete (wat uitbeeld dat hy nie meer ’n slaaf is nie) en sit ’n ring aan sy vinger om te sê: “Jy is  ’n erfgenaam van my.” Dit is ook die illustrasie van wat met jou en my as gelowiges gebeur het. Die oomblik wat Hy ons aanneem begin Hy ons vorm na die beeld van Sy Seun. Romeine 8:29  Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders. Ek is sy kind. Ek bly nou by my Vader of, soos die Bybel ons leer, die Vader en die Seun en die Heilige Gees kom maak woning in my. Ek het nou ’n nuwe naam. Ek is ’n kind van die Allerhoogste God. My Vader leer my nuwe dinge en hoe meer ek Sy liefde vir my leer ken hoe meer verander en vernuwe dit my. My Pa se belangstellings word my belangstellings. Sy vreugde word my vreugde. Ek wil met alles in my lewe die Een wat my so lief het gelukkig maak. Hierdie verandering en vernuwing word deur die Bybel beskryf as heiligmaking.

Baie mense hou glad nie van hierdie woord nie. Hulle dink dit sal al hulle vreugde steel om heilig te lewe. Dit is waar, as jy ’n ongelowige is, sal dit die mees verskriklike ding wees om te probeer heilig lewe. Tog as jy ’n aangenome kind is van die een wat Heilig is en wat jou so lief het word heiligheid jou grootste begeerte. Nou haat jy die sondes waarvoor jy voorheen so lief was. Paulus stel dit soos volg: Romeine 7:22  Want ek verlustig my in die wet van God na die innerlike mens. Hy skryf verder dat hy baie keer vind  dat hy dinge doen wat hy haat. Romeine 7:19  Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek. Paulus se begeerte was nou om die goeie te doen. Die dinge wat God wil hê ons moet doen, is ons begeerte. Dit beteken nie dat ek volmaak is nie, ja ek struikel, maar ek haat dit dat ek struikel voor sonde. Ek haat dit dat ek val. Ek loop nie meer in vuil klere rond en praat soos ek voorheen gepraat het nie. 2 Korintiërs 5:17  Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.

Die Heilige Gees

Ons is geroep, gered en nou word ons vernuwe deur die Heilige Gees. Elke dag, soos ons wandel met God en luister na Sy Stem in Sy Woord, soos ons ons voetstappe rig op die pad wat Hy vir ons wys en met elke daad van gehoorsaamheid, neem ons meer en meer toe in die beeld van Jesus en tree ons meer en meer op soos Hy. Ons is alreeds kinders van God en alreeds geregverdig, hieraan hoef ons nie te twyfel nie, maar as gevolg van ons kindskap word ons nou verander en vernuwe deur die Gees. Dit is onmoontlik om as kinders van ’n Heilige God dieselfde te bly as voordat ons deur Hom aangeneem is.

Beeld van die Vader

Soos ek ouer word sien ek dikwels in myself my pa –  ’n gesigsuitdrukking, ’n handgebaar, hoe ek loop, dinge wat ek sê….. As kind van my Vader in die Hemel, hoop ek en streef ek daarna om dieselfde te sê as ek nou na myself kyk. Die beeld wat ons van ons Vader het, is die beeld wat Sy Seun Jesus Christus vir ons kom wys het. Ons sterwe elke dag meer en meer vir die sonde en die verkeerde dinge. Daar is ’n proses waarmee God besig is in my lewe.

Elke kind van die Here moet met oortuiging kan verklaar: “Ek is ‘n nuwe mens, die oue is verby.” Ons kan terugkyk na ons dag van aanneming en sê dat al lyk ons nog nie soos ons moet nie, lyk ons nie meer soos gister nie.

Dankie, Vader vir my aanneming. Dankie, dat U dit in U groot genade moontlik gemaak het dat ek myself U kind kan noem! Dankie, dat U die werk wat U in my begin het, sal klaarmaak en dat ek eendag as mede-erfgenaam, saam met Christus, verewig by U sal wees.