Vraag 33. Ek is SKOON

33. What is justification?

Answer: Justification is an act of God’s free grace, wherein he pardoneth all our sins, and accepteth us as righteous in his sight, only for the righteousness of Christ imputed to us, and received by faith alone.

Vraag 33: Wat is regverdigheid?

Antwoord: Regverdigheid is ’n aksie van God se vrye genade, waarin Hy al ons sonde vergewe, ons aanvaar as geregtig in sy oë, alleen deur die geregtigheid van Christus wat aan ons oorgedra word  en wat ontvang word alleen deur geloof.

Skuldig, skuldig!

In die vorige inskrywing is ons gewys op die werking van  die Heilige Gees om ons te oortuig van ons ongeregtigheid en komende oordeel. Ons oë word oopgemaak vir die verlore toestand waarin ons is en ons word “lewendig” vir die dood wat vir elkeen sonder Christus wag. Ons kom tot geloof in Jesus Christus as ons Verlosser deur die wonderlike werking van die Heilige Gees in ons lewe en daarna word ons bemagtig en verander om ’n Godvrugtige lewe te lei. Ons is nou vry van die wet en lewe onder beheer van die Gees, MAAR elke kind van die Here is maar al te bewus van sy/haar tekortkominge in vergelyking met die standaard van  ’n  Heilige Almagtige God. Ons besef elke dag hoe vêr ons tekort skiet in die opdrag “Wees Heilig, want ek is heilig. Ons maak dit eenvoudig nie.

Geregverdig

Die ewige dood staar ons almal in die oë en die enigste manier om gevrywaar te wees van die komende oordeel van God is om geregtigheid te besit – om reg te wees voor God. Spreuke 11:4  Goed bring geen voordeel op die dag van die grimmigheid nie, maar geregtigheid red van die dood.  Hoe belangrik is geregtigheid nie. Ons soek en verlang daarna meer as na enige iets anders.  Hoe kan ons, wat elke dag die Here teleurstel en met die sonde deurtrek is van geboorte af ooit by ’n toestand van regverdigheid voor ’n Heilige God kom? As daar in Job staan dat God tot met die heilige engele fout vind, behoort die mens in sak en as te gaan sit en te besef dat daar geen manier tot geregtigheid in ons self is nie. Job 4:18  Kyk, in sy dienaars stel Hy geen vertroue nie, en by sy engele ontdek Hy dwaling. Die profete getuig verder dat ons beste dade soos vuil klere is. Jesaja 64:6  En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed. Dit beteken dat as ek my beste gee en ek probeer regtig hard om iets wonderliks en goed te doen, is dit nie goed genoeg nie. Sy standaard van heiligheid is om so Heilig soos Hy te wees.  Levitikus 11:44  Want Ek is die HERE julle God; toon dan dat julle heilig is en wees heilig, want Ek is heilig; Ons moet met trane sê “onmoontlik Here, ek kan nie!” Ons weet dat om skuldig te wees aan net een van die gebooie beteken om skuldig te staan voor die hele wet. Dit moet baie duidelik wees dat ons met ons eie pogings nie onskuldig voor God kan staan nie. Daarom enige persoon of godsdiens wat leer dat jy geregtigheid uit jouself kan bewerkstellig is dwaas en in stryd met wat die Woord ons leer.

Nie uit verdienste nie, maar uit genade

Die wêreld leer ons baie vroeg: “Niemand kry iets vir niks nie. Jy moet dit verdien. “ God se plan vir sy kinders lyk egter anders. Die totale Verlossingsplan is God se werk. Romeine 8:30 en die wat Hy vantevore verordineer het, dié het Hy ook geroep; en die wat Hy geroep het, dié het Hy ook geregverdig; en die wat Hy geregverdig het, dié het Hy ook verheerlik. Nie net het God beplan wie Hy sou red nie, maar Hy het hulle ook geroep en die wat geroep word, word geregverdig.

Romeine 3:24 lees ons: ” en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is.”  As ons Romeine 3:24 woord vir woord uit die Grieks vertaal sou dit sê: hulle word geregverdig, as ’n geskenk van sy genade deur die betaling van ons vrylating deur Jesus Christus. Ons geregverdigheid is gekoop en betaal aan die kruis! Jesus het die totale bedrag vir die gelowige se vrylating betaal, nie op grond van wat ons gedoen het nie, maar op grond van sy genade. Uit genade is hierdie groot geskenk aan ons gegee.

Dit was alreeds ’n afwagting wat in die Ou Testament geskep is. Jesaja 53:11…deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hy sal hulle skuld dra. Ons kan saam met Dawid getuig, dat iemand wat so sonder verdienste geregverdig word, iemand  is wat geseënd is. Psalm 32:1-2 ‘n Psalm van Dawid; ‘n onderwysing. Welgeluksalig is hy wie se oortreding vergewe, wie se sonde bedek is. Hoe gelukkig kan ons as gelowiges nie wees om deur God vrygemaak te wees nie?

Geloof

Geregtigheid is ’n geskenk en ons ontvang dit deur geloof. Dit is belangrik om te onthou dat die Ou en Nuwe Testamentiese persone op dieselfde wyse geregverdig word. Handelinge 13:38-39  Laat dit dan aan julle bekend wees, broeders, dat deur Hom vergifnis van sondes aan julle verkondig word, en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses nie geregverdig kon word nie.  Baie mense dink dat in die Ou Testament mense regverdig is deur werke en in die Nuwe Testament deur geloof. As Paulus in Romeine die bogenoemde Psalm aanhaal wys hy daarop dat om geseënd te wees op die besnede en onbesnedene is en dat Abraham ’n bewys hiervan is, aangesien Abraham ook geregverdig is deur geloof. Romeine 4:8-9 Welgeluksalig is die man aan wie die Here die sonde nie toereken nie. Hierdie saligspreking dan, sien dit op die besnedenes of ook op die onbesnedenes? Want ons sê: Aan Abraham is die geloof tot geregtigheid gereken. Abraham se verhaal is ’n ongelooflike uitbeelding van God se genade en wandeling met die mens. Abraham het nooit met sy plan na God gekom oor hoe hy ’n groot nasie kan word nie. God kom na Abraham. God maak ’n belofte aan hom. Abraham kan nie eers op sy eie kinders hê nie en God voorsien daarin op ’n ouderdom waar dit vir hom en Sara fisies onmoontlik sou wees.  Die verhaal kan in een woord opgesom word – genade.

Dit is belangrik om dit te besef, sodat niemand mag spog en selfvoldaan wees asof geregtigheid  iets is wat jy self vermag het nie. Regverdiging kom nie deur die wet of deur werke nie, maar deur jou geloof in Jesus Christus te plaas wat in ons plek sonde geword het sodat ons geregtig kan word in Hom. 2Korintiers 5:21  Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.

Daarom word elke individu opgeroep om jou geloof in Jesus Christus te plaas. Om te besef dat ek niks kan doen om myself te regverdig of om ’n lewe van geregtigheid te lewe nie. Ek kan alleen my vertroue plaas in Hom wat sy hele lewe geleef het sonder enige sonde en dus die enigste een was wat ’n lewe van geregtigheid geleef het. Daarna het Hy aan die kruis my straf gedra sodat ek nou in Hom geregverdig is voor die Vader.

Jesus my sukses

As ons nou ons trane van moedeloosheid afvee en opkyk na die kruis van Golgota, sien ons ons Verlosser Jesus Christus, deurboor vir ons oortredinge. Sy sondelose lewe van gehoorsaamheid aan God die Vader, word nou my lewe en my skuldlas word Syne. As God die Vader na my kyk is ek reg met Hom –  vergewe, skoon, vry. As Jesus Petrus se voete in die bo-kamer was en Petrus Jesus hieroor bevraagteken, sê  Jesus dat as jy nie deur Hom gewas word nie, jy nie deel aan Hom kan hê nie. Hierop sê Petrus, “Dan nie net my voete nie, Here, maar my hele liggaam” Jesus wys egter vir Petrus dat dit onnodig is, omdat Hy alreeds deur Jesus gewas is en nou is dit net nodig dat sy voete gewas word. Ons is gewas, ons is skoon, ons is geregverdig en nou? – nou leef ek elke dag onder beheer van die Heilige Gees en as ek val (my voete vuil word) doen ek belydenis en was die Here dit weer skoon.

Gekies, geroep, geregverdig – uit genade in Christus Jesus ons Here!