29. How are we made partakers of the redemption purchased by Christ?
30. How doth the Spirit apply to us the redemption purchased by Christ?
31. What is effectual calling?
32. What benefits do they that are effectually called partake of in this life?
29)We are made partakers of the redemption purchased by Christ, by the effectual application of it to us by his Holy Spirit. 30) The Spirit applieth to us the redemption purchased by Christ, by working faith in us, and thereby uniting us to Christ in our effectual calling. 31) Effectual calling is the work of God’s Spirit, whereby, convincing us of our sin and misery, enlightening our minds in the knowledge of Christ, and renewing our wills, he doth persuade and enable us to embrace Jesus Christ, freely offered to us in the gospel. 32) They that are effectually called do in this life partake of justification, adoption, and sanctification, and the several benefits which in this life do either accompany or flow from them.
Vraag 29: Hoe word ons deelnemers aan die verlossing wat betaal is deur Christus?
30: Hoe maak die Gees die verlossing wat deur Christus gekoop is, in ons van toepassing?
31: Hoe word ons effektief geroep om na God te nader?
32: Waaraan word diegene wat effektief deur die Gees tot God geroep word deelagtig
29) Ons word deelnemers aan die verlossing betaal deur Christus, deur die effektiewe oordraging daarvan op ons deur Sy Heilige Gees. 30) Die Heilige Gees maak die verlossing wat deur Jesus Christus vir ons gekoop is van toepassing in ons lewens deur geloof in ons te wek en ons sodoende met Christus te verenig deur Sy effektiewe roeping. 31) Effektiewe roeping is die werk van die Heilige Gees, waardeur Hy ons oortuig van ons sonde en ons verstand verhelder tot kennis van Christus, waardeur ons wil vernuwe word en ons oortuig en die vermoë gee word om Jesus Christus te aanvaar soos wat Hy aan ons voorgehou word in die evangelie. 32) Die wat effektief geroep word, word in hierdie lewe geregverdig, aangeneem en heilig gemaak en ervaar al die voordele in hierdie lewe wat uit hierdie aspekte voortspruit
Die Heilig Gees – Derde persoon van die Drie-Eenheid
God Drie-Enig het in Sy raadsplan ’n verlossingsplan bewerk vir die mensdom. God die Vader het gekies, die Seun het in gehoorsaamheid die verlossing bewerk en nou – nou kom die Heilig Gees en maak hierdie verlossingsplan ’n realiteit in ons lewens. Jesus word verheerlik deur van ons af weggeneem te word met die belofte dat Hy iemand in sy plek sal stuur.
Verlos van die wet en oordeel
Die dag van uitstorting van die Heilige Gees korreleer met die dag in die Ou Testament waarop die fees van die weke deur die Jode gevier word, nl. Shavuot. Op hierdie dag herdenk die Jode die ontvangs van die wet. Die ooreenkomste tussen die uitstorting van die Heilige Gees en Shavuot is merkwaardig. Moses het opgegaan teen die berg om die wet te ontvang. Volgens Eksodus 19 en 20 is hierdie dae gekenmerk deur wonders en tekens uit die hemel. Net so was daar ook tekens en wonders in die bokamer waar die dissipels bymekaar was. Op die dag waarop Moses van die berg afgekom het, was die mense besig om voor die kalf wat hulle gemaak het te dans. Moses het die Leviete opgeroep om tussen die mense in te gaan en hulle dood te maak en daardie dag het drieduisend mense gesterf. Eksodus 32:28 En die seuns van Levi het gehandel volgens die woord van Moses, en daar het van die volk op dié dag omtrent drie duisend man geval. In Handelinge, met die uitstorting van die Heilige Gees, het Petrus saam met die ander apostels die evangelie verkondig en ongeveer drie duisend het tot bekering gekom. Handelinge 2:41 Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drie duisend siele toegebring. As ons aan die wet dink, dink ons onmiddellik aan oordeel – as ons aan Christus se koms en die uitstorting van die Heilige Gees dink – dink ons egter aan God se genade. Die ontvang van die Heilige Gees is dus ‘n die teken van verlossing en nie oordeel nie. Romeine 8:2 Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood.
Effektiewe Roeping
Daar is ’n eksterne oproep op ons lewens. Die Woord verkondig dat ons in sonde vasgevang is en verwyder is van God. Deur die Ou- en Nuwe Testament word mense opgeroep om hulle te bekeer. Johannes die Doper verskyn op die toneel en die eerste woorde wat hy verkondig is bekeer julle. Jesus sê vir die skare dat Hy nie gekom het om regverdiges te roep nie, maar sondaars. Iemand wat dink dat hy/sy regverdig is, sal nooit die boodskap aanvaar nie. Die boodskap is vir sondaars. As almal sondaars is, hoekom aanvaar almal dan nie hierdie boodskap nie? Die Gees moet die boodskap internaliseer. Die Westminster belydenis verklaar in ooreenstemming met die Skrif dat ons passief is in hierdie gebeurtenis. Jesus leer vir Nikodemus dat hierdie proses alleen deur wedergeboorte plaasvind en dat die agent die Heilige Gees is wat soos die wind waai waar Hy wil. Johannes 3:8 Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is. Al wat ons waarneem is die resultaat van die vernuwing van die Gees in ’n persoon se lewe. Dus is hierdie gebeurtenis nie uit ons self of uit ons geregtigheid nie, maar enkel en alleen op grond van Sy genade. Titus 3:4-6 Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het— nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees wat Hy ryklik uitgestort het op ons deur Jesus Christus, ons Verlosser.
Wedergeboorte
Die Gees oortuig die mens van sy sonde en verlorenheid en maak ons oë oop vir die heerlikheid van Jesus Christus as Verlosser uit hierdie toestand. Vir die eerste keer, deur die krag van die Heilige Gees, word ons lewendig gemaak vir alles wat geestelik is. Romeine 8:11 En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon. Wanneer ons deur die roeping van die Heilige Gees, lewend gemaak word vir wie Christus is, word ons deur Hom aangetrek soos ‘n mot na die lig. Dieselfde lig waarvan ons vroeër weggedeins het, omdat dit ons sonde aan die lig gebring het, is nou vir ons ’n aantrekkingskrag wat ons nie kan weerstaan nie. As ek Christus sien kan ek nie anders as om Hom te aanvaar as my Verlosser nie. My geloof in Hom is ’n geskenk uit genade.
Regverdig, aangeneem, heilig!
Met my geestesoë oopgemaak deur die Heilige Gees tot geloof in Christus, word ek nou regverdig verklaar deur die verlossing wat Christus vir my bewerk het en word ek aangeneem as kind van God! Ons het nou die Heilige Gees in ons lewens wat die bewys is van ons aanneming deur God. 2 Korintiërs 1:22 wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het. ’n verhaal in die Ou Testament wat hierdie woord onderpand goed illustreer is die verhaal van Juda wat vir Tamar vertel dat hy vir haar ’n boklam sal stuur. As bewys daarvan dat sy die boklam sal kry gee hy vir haar sy seëlring en kierie. Die seëlring en kierie was die versekering/onderpand van wat sy sou ontvang. Die Heilige Gees is die bewys en versekering dat ons aan God behoort en aangenome kinders van Hom is. Rom 8:15 Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Ons weet verseker dat ons aan Hom behoort en daar is nou geen twyfel of onsekerheid meer nie.
Wat volg hieruit is ‘n lewe van gehoorsaamheid aan die Gees wat lewe gee, vrygemaak van die wet van sonde en oordeel. Die Heilige Gees kom maak woning in ons en verander ons wil na dié van Christus. Ons wil nou in gehoorsaamheid aan Hom lewe. Filippense 2:13 want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae. My begeertes is vernuwe en verander. Nou dat ek nuut gemaak is smag ek en is my begeertes na Hom en om Hom te verheerlik. Dit is die Heilige Gees se werking in my lewe. Hierdie proses is ’n lewenslange proses van heiligmaking en ek word dag na dag vernuwe om meer soos my Verlosser te lyk. 2 Korintiërs 4:16 Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. Baie keer het mense die idee dat om ‘n Christen te wees moeilik is, omdat ek die hele tyd dinge waarvan ek hou moet opgee, sodat ek in gehoorsaamheid die dinge kan doen waarvan ek eintlik nie hou nie. Nee! Die Heilige Gees verander my sodat die dinge wat Christus van my vra, die dinge is wat ek wil en kan doen. In ons wandel met God kan ons nou terugkyk na ons ou lewe en sien hoe die Here deur die Heilige Gees ons verander het. Ons besef dat dit slegs deur Sy krag is dat ons die pad kan stap. Niks is vir my meer kosbaar as dit nie. En daarom 2 Timoteus 1:14 “Bewaar jou goeie pand deur die Heilige Gees wat in ons woon.” Daarom lewe ek elke dag in gehoorsaamheid aan Hom en wil ek Hom nie bedroef nie. Efesiërs 4:30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.
Net soos wat die inwoning en werking van die Heilige Gees in ons lewens ’n pand is wat ons verseker van ons verlossing, net so moet dit duidelik wees dat ons nie kan bely dat die Heilige Gees is ons lewens werk en dat Hy ons nuut gemaak het indien daar geen pad van heiligmaking in ons lewens is nie.
Verseël
Die Heilige Gees kom maak ons wat dood was in die wet en sonde, lewend! Ons sien met geestesoë ons Verlosser deurboor vir ons sonde en kan nie ander as om Hom te verheerlik as Here nie. Die naam van Jesus word Here Jesus waardeur ons geregverdig word, geheilig word, aangeneem word! Omdat Hy die werk in my begin het weet ek verseker dat Hy nooit sal ophou met Sy werk in my nie. Die Gees is die seël van my kindskap. Efesiërs 1:13 in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte. Dieselfde Gees wat ons wederbaar en dooies lewendig maak is dieselfde Gees wat elke dag in ons lewens werk en ons verander van heiligheid na heiligheid, sodat ons eendag, as bruid van Christus, die belofte van ’n ewige lewe saam met Hom sal ontvang!

So mooi uiteengesit. Wonderlike waarhede. Baie dankie.
LikeLike