28. Where in consisteth Christ’s exaltation?
Answer: Christ’s exaltation consisteth in his rising again from the dead on the third day, in ascending up into heaven, in sitting at the right hand of God the Father, and in coming to judge the world at the last day.
Waaruit bestaan Christus se verheerliking?
Christus se verheerliking bestaan uit Sy opstanding uit die dood op die derde dag, in Sy opvaar na die Hemel, Sy sit aan die regterhand van die Vader en in Sy wederkoms om die wêreld te oordeel op die laaste dag.
Na vernedering volg verheerliking
In die vorige inskrywings is in diepte gekyk na Christus se vernedering. Hoe Hy homself verneder het deur in die gestalte van ‘n slaaf aan mense gelyk te word, hoe Hy gebore in ‘n stal, Sy lewe in diens van ander en sy dood aan die vloekhout – die uiterste vernedering tot redding vir jou en my. Sy gehoorsaamheid aan die Vader tot die dood toe.
Hy was gehoorsaam, het Homself verneder en DAAROM volg die verheerliking soos belowe deur die Vader. Hy word opgewek, vaar op na die hemel, verkry die Naam bo alle name en gaan sit aan die regterhand van God, van waar Hy sal kom om te oordeel. Hy heers – Hy is Koning. Hy is Here!
Dit was al in die Ou Testament duidelik dat die Messias wat sou kom eers sou ly en verneder word en daarna verheerlik sou word. Dit is dan ook hierdie verheerliking waarna Christus uitgesien het en waarvan Hebreërs 12:2 verwys “Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins en Hy sit nou aan die regterhand van God”
Stappe van verheerliking
- Opstanding uit die dood en hemelvaart
Die Messias se opstanding en oorwinning oor die dood word alreeds in die Ou-Testament voorspel en Petrus verduidelik dit so mooi aan die skare op Pinksterdag in Handelinge 2. Petrus verklaar “God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies”
Die Christelike geloof staan of val by die leë graf. Sonder Jesus se opstanding is ons geloof en God se beloftes leeg. Die opstanding verklaar Jesus as die Seun van God. Romeine 1:4 en na die Gees van heiligheid met krag verklaar is as die Seun van God deur die opstanding uit die dode, Jesus Christus, onse Here. Die opstanding verklaar die Skrif betroubaar. 1Korintiers 15:4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte. Gebeurtenisse in die Ou-Testament wys heen na die drie dae wat Jesus in die graf sou wees bv. Jona se tydperk van drie dae in die vis se maag (Mattheus 12:40) en Abraham wat vir drie dae met Isak stap na die berg Morea om hom te gaan offer. Sy opstanding verklaar die oorwinning oor die dood en die vermorseling van Satan se kop, wat alreeds in Genesis voorspel is.
Hoeveel mense het nie al probeer om die leë graf weg te redeneer nie net om te erken dat die bewyse vir die opstanding net te oorweldigend is. 1Co 15:4-6 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte; en dat Hy aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf. Daarna het Hy verskyn aan oor die vyf honderd broeders tegelyk, waarvan die meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap het.
Die bewys dat Hy waarlik opgestaan en aan sy dissipels verskyn het, kan duidelik gesien word in die lewe van sy broers en dissipels. Jakobus, Jesus se broer, wat skepties was oor Jesus se lewe word getransformeer deur hierdie gebeure. Jakobus en die res van die familie het gedink Jesus is mal. Markus 3:21 Toe sy mense dit hoor, gaan hulle uit om Hom in die hande te kry; want hulle het gesê: Hy is buite sy sinne. Na Jesus se hemelvaart word Jakobus die leier van die kerk in Jerusalem. Net so is Paulus, die vervolger van die kerk, se lewe getransformeer deur sy ontmoeting met die lewende Here op pad na Damaskus. Die opstanding het veroorsaak dat die kerk ook geen vrees vir die dood gehad het nie en bereid was om vir hierdie evangelie gemartel te word en doodgemaak te word.
Jesus se hemelvaart het voor die apostels se oë plaasgevind. Hulle was getuies dat Hy opgevaar het en belowe het dat Hy sou terugkom. Hiervan getuig die engele ook wat aan hulle verskyn het terwyl hulle Jesus sien opvaar. Handeling 1:11 … Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het. Sy hemelvaart is Sy triomftog en die oploop na sy kroning as Here oor alles. Efesiërs 4:8 Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem en gawes aan die mense gegee. Paulus neem hierdie aanhaling uit die Psalms en wys dat dit na Christus verwys. Die Psalm waarna verwys word, is Psalm 68:19. U het opgeklim na die hoogte, U het gevangenes weggevoer, U het geskenke geneem onder die mense; ja, ook wederstrewiges om daar te woon, o HERE God!
- Sit aan die Regterhand van God
Efesiërs 1:19-22 beskryf die kroning van Jesus as regeerder, as heerser en as Here! “En Hom in die Hemel aan die regterhand laat sit het: hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat mag kom. Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom boweal verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul”
Die sit aan die regterhand van God die Vader is ’n vervulling van die profesie in die Ou Testament. Handelinge 2:34 Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie, maar hy self sê: Die Here het gespreek tot my Here: Sit aan my regterhand. Die plek aan die regterhand van die Koning was ’n teken van iemand wat mede regeerder is en gelyk is aan die koning. ’n voorbeeld hiervan vind ons as Salomo sy ma, Batseba, aan sy regterhand laat sit. 1 Konings 2:19 Toe Batseba dan ingaan na koning Salomo om met hom oor Adonai te spreek, het die koning opgestaan om haar te ontmoet en voor haar gebuig; daarna het hy op sy troon gaan sit en vir die moeder van die koning ‘n stoel laat neersit, en sy het aan sy regterhand plaas geneem. Salomo buig voor haar in eerbewys en dan ontvang sy ook die ere posisie aan sy regterhand.
Jesus wat sit aan die regterhand van God dui ook op Jesus se goddelikheid. ’n Bewys dat hierdie gedeelte aantoon dat Hy God is vind ons by die reaksie van die Joodse raad as Stefanus voor hulle teregstaan en getuig: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan. Handelinge 7:56. Hulle verstaan wat dit beteken dat Jesus aan die regterhand van die Vader sit en daarom reageer hulle volgens Handelinge 7:57: “hulle het met ‘n groot stem geskreeu en hulle ore toegestop en soos een man op hom aangestorm.” Hulle gryp dan vir Stefanus en stenig hom, want volgens hulle is dit wat hy gesê het godslasterlik. Vir die Jode was dit dus duidelik dat om Jesus aan die regterhand van die Vader te laat sit is om Jesus gelyk te maak met die Vader.
- Sy Wederkoms
Jesus sal ook verheerlik word met Sy wederkoms. ’n Dag soos geen ander nie. Wanneer Hy weer kom, sal Hy kom in ’n triomftog as Koning en Heerser. Openbaring 19 vertel van hierdie dag wanneer Hy sal terugkom en sal ry op ’n wit perd. Sy oë sal wees soos ’n vuurvlam wat die teken is dat Hy sal kom om te oordeel, die Een wat alles weet en alles kan sien. Hy sal baie krone dra, die Griekse woord wat heerserskrone beteken. As die mense wat nie aan Hom behoort nie Hom sien sal hulle neerval en elke knie sal buig en elke tong bely dat Jesus die Here is volgens Filippense 2:11. Hierdie dag sal ’n dag van oordeel wees volgens Openbaring. Openbaring 14 vertel dat Hy sy skerp sekel sal insteek in die wingerdstok. Hierdie oes sal ingegooi word in die parskuip van God se toorn. Openbaring 14:19-20 En die engel het sy sekel oor die aarde laat gaan en die wingerdstok van die aarde afgeoes en dit gegooi in die groot parskuip van die grimmigheid van God. En die parskuip is buitekant die stad getrap, en bloed het uit die parskuip gekom tot aan die tooms van die perde, twee honderd myl ver.
Hoe vreesaanjaend sal dit nie wees vir die wat Hom nie verheerlik het in hulle lewens nie. Hulle sal geoordeel word en vir ewig in die Hel brand weg van die aangesig van die Een wat hulle nie wou eer nie.
God verhoog
God het Jesus verhoog en verheerlik. Die vraag ontstaan nou seker: “ Hoe kan Jesus wat alreeds God is, verhoog word deur God. Is Hy dan nie alreeds God nie?” Die antwoord is dat die Man/God Jesus, die tweede persoon van die die Drie-eenheid, Sy rol in die verlossingsplan in gehoorsaamheid aan God die Vader voltooi het en dat Hy daarom deur die Vader verhoog is en ’n nuwe Naam gegee is.
Filippense 2:9 “Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig en elke tong sou erken: “Jesus Christus is die Here!” tot eer van God die Vader”
Hierdie Naam is die enigste naam wat aan ons gegee is waardeur ons verlos kan word. Dit is nie die Naam Jesus nie, maar die Naam Here Jesus. Slegs deur te erken dat Jesus die Here is, dat Hy die koning is, dat Hy regeer en in beheer is van elke mag en gesag sal ons die ewige lewe beërwe – sal ons saam met Hom verheerlik word deur die Vader, as mede-erfgename.
Om saam met Christus te erf moet ons net soos Hy bereid wees om onsself te verneder deur onsself minder te laat word en Hom meer. Ons moet bereid wees om net soos Hy te ly en ander te dien. Mattheus 23:11-12 Maar die grootste van julle moet jul dienaar wees. Wie homself verhoog, sal verneder word, en wie homself verneder, sal verhoog word. Ons lees dieselfde in Lukas 14:11. Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en wat homself verneder, sal verhoog word.
Om jouself te verneder is meer as net om bereid te wees om ander hoër as jy jouself te ag. Dit is om leeg te word van jouself en toe te laat dat God jou vul. Om te besef wie jy is en wie God is.
As die son deur die venster skyn word die kleinste stoffie in sy strale sigbaar. Ons sal verheerlik word deur die glorie van Jesus Christus wat deur ons sal skyn tot in ewigheid. Ons verhoging sal wees om so gevul te wees met Sy heerlikheid dat ons deel van Hom sal wees.
Ons weet dat die lyding wat ons nou moet verduur nie kan opweeg teen die heerlikheid wat daar op ons wag nie. Die heerlikheid wat ons kan sien in die verheerliking van Jesus Christus ons Here!
